Tag Archives: mayonnaise

Toebroodjiebestemming 1: Vietnamese bahn mi met boerewors-frikkadelle

22 Oct

Ek begin my reis na drie epiese toebroodjiebestemmings op ‘n baguette. Alhoewel baguettes die simbool van Franse bakkerye en stylvolle piekniekmandjies, is ons nie oppad Parys toe nie, maar wel na Saigon / Ho Chi Minh in Viëtnam.

aa-bahn-mi-top-shot-rsDit was wel voorheen ‘n Franse kolonie, met die Franse nalatingskap as oral te sien in die  argitektuur tot die kos. Baguette word gebruik vir hul bánh mì, ‘n weergawe wat ligter en brosser is as die Franse stammoeder, weens die gebruik van rysmeel saam met koringmeel.

Die kombinasie van die brood se vulsellae – vleis,  kraakvars slaaibestanddele en soet-suur-sout smake gee dit ikoonstatus onder toebroodjie-aficionados.

Mens kan net met verwondering kyk hoe bahn mi toebroodjies met monastiese toewyding aanmekaar gesit word by die straatstalletjies – in ‘n spesifieke orde, laag na laag na laag. Elke laag dien ‘n doel en niks word afgerammel nie.

My weergawe is baie vereenvoudig, maar gee ‘n idee van die oneindigende moontlikhede. Vir ‘n titsel multi-kulturele kos-diplomasie vervang ek bv. die varkvleis en ham van die klassieke weergawe met boerewors frikkadelle (ek rol bloot bolletjies met die worsvleis en braai dit in ‘n pan). Die geure van koljander in die worsvleis pas baie goed by die soetsuur wortel- en daikonradys-slaai* waarsonder bánh mì nie gesien wil word nie. Die klassieke varkfrikkadelle is egter baie lekker en ek gee die resep daarvoor.

edit-0142-bahn-miBAHN MI MET BOEREWORS-OF VARKFRIKKIES

Wortel-radysslaai-laag

Maak eers die wortel-radysslaai-laag sodat dit kan staan terwyl jy die frikkadelle maak.  Hierdie lig-gepiekelde soetsuur slaaitjie (do chua) word tradisioneel met daikon, ‘n Oosterse radyssterse radys) gemaak. Jy kan dit vervang met gewone radys of raap. Komkommer werk ook, maar het nie die krakerigheid wat mens soek in hierdie toebroodjie nie. Sit dan liefs repe komkommer apart op jou bahn mi.

[Probeer gerus die daikon – dit het nie ‘n skerp smaak nie en word in Japan word dit as ‘n palet-verfrisser gebruik]

  •  2 medium geelwortels, in stokkies gesny (julienne)
  • 250 daikon of radys, in stokkies
  • 30 ml suiker
  • 2,5 ml sout
  • 45 ryswynasyn of appelasyn (‘cider vinegar’)
  • 10 ml sesamolie

Meng die geelwortels en radys in ‘n bak. Roer die res van die bestanddele by en laat staan ‘n uur.

Vietnamese varkvleis-frikkies (genoeg vir 4 ruim porsies)

  • 400 g gemaalde varkvleis
  • 30 ml gekapte kruie
  • 1 gekapte sprietui
  • 3 gemaalde knoffelhuisies
  • 15 ml vissous,
  • 10 ml ‘hot sauce’ soos Sriracha of paar spatsels tabasco
  • 10 ml suiker
  • Sout en peper
  • 15 ml mielieblom
  • Olie vir braai

Meng die varkmaalvleis met die kruie, sprietui, gemaalde knoffel, vissous, die ‘hot’ sous, suiker, sout en peper. Voeg mielieblom by en vorm klein frikkadelle. Verkoel 20-30 minute en braai in ‘n bietjie olie tot gaar en bruin.

Sit jou bánh mì aanmekaar:

Sny die baguette in 4 stukke, en smeer die brood binne met mayonnaise, gegeur met Sriracha of tabasco. Verdeel die gaar frikkadelle en die wortel-daikonslaai tussen die 4 stukke baguette. Rond af met gesnyde brandrissies (opsioneel) en koljanderblare of met basielkruid en kruisement.

Wenke:

  • Maak die baguette effe warm vir ‘n ekstra bros sensasie.
  • Die klassieke weergawe word as volg aanmekaar gesit, maar jy kan dit varieer met wat jy het, dalk oorskiet-rotisseriehoender? Bobotie? Koue skaapboud? Selfs patee het ‘n plek.
  • Bahn mi kan ook sonder vleis bedien word.
  • Die eg-klassieke bahn-mi word so gestapel (foto-bron: internet)aa-bahn-mi-tradisioneel
  • Foto en stilering: Ian en Errieda du Toit
  • Houtbord: Wilandi Esterhuysen

Babagroente stowe sop met rouille op roosterbrood

12 Jul

Die skilder Cezanne was heel profeties toe hy gesê het: “Die dag gaan kom wat ‘n enkele, geelwortel die geboorte van ‘n revolusie gaan inlei.”aaa compilation

Ek en Ian (slaafkok soos hy homself noem) is op ‘n kosavontuur om te kyk hoe weelderig en opwindend ons gesond-eet kan maak. Toe ons gister deur die rakke van Woolies stap kon ek my verkyk aan die groenterak, want al die groente is nog behoorlik in hul babaskoene – van vinkelbolle tot eiervrug; van preie tot pragtige klein worteltjies, pronkerig met stronk en al. Waar’s die dae wat al miniatuurgroente baba-aartappeltjies en petit pois was … en dalk nog ‘n mieliestronkie.

Ja, dis so, die groentebedding is deesdae die in-ding op die kosfront en die wêreld deur is sjefs besig om groot naam te maak met hul groente-skeppings. Daar voor die winkelrak het ek my so vergaap aan die babas van die groenteryk dat ons daar en dan besluit het die beplande bouillabaisse, ‘n Provençaalse vissop word ‘n Niqoise-styl groente sop-cum-stowegereg. Geen vis nie, net die mooiste, lekkerste babagroentes in die heerlikse saffraan-en spesery gegeurde bad. En so koop ek sommer twee mooi blou sopbakkies, so blou soos die lug in die Provence van my verbeelding.

spesial blou bordjies vir 'n spesiale gereg.

spesiale blou bordjies vir ‘n spesiale gereg.

 {Terloops die woord bouillabaisse kom van die werkwoorde bolhi (om te kook) en abaissar (om hitte verminder, dus prut) en dis die proses wat ook met hierdie groente-weergawe gevolg word. As jy wil kan jy wel aan die einde stukkies gaar vis in die pot sit, maar dan is die groentetjies nie meer koning nie.}

 En natuurlik, dis nie Provençaals sonder die rouille-bedekte skyfies geroosterde baguette nie. Rouille is die Franse woord  vir ‘roes’, wat ‘n baie goeie beskrywing is vir die kleur wat die speserye aan die sous gee. Jy kan seker mayo koop, knoffel en rooipeper bysit en dit rouille noem, maar dis om jouself te ontneem van die beste. En hoe sê daai L’Oreal advertensie …. ‘because I’m worth it.’  

ai die babas is mooi!

ai die babas is mooi!

Provençaalse babagroente stowegereg met rouille (‘spicy’ knoffelmayo)

 Vir groentestowe:

60 ml olyfolie

12 baba-aartappels in die helfte gesny (nie geskil)

6 baba-uitjies, geskil en in kwarte gesny

4 jong preie, punte afgesny, goed gewas en in ringe gesny

2 vet knoffelhuisies, gekneus

1 rooi brandrissie, pitte verwyder en opgekap of 3 ml droë rissievlokkies

5 ml kerriepoeier

750 ml goeie hoender- of groenteaftreksel

Stewige knypie saffraandrade

3 stroke lemoenskil

4 takkies tiemie

Sout en peper

3-4 klein vinkelbolle, in lengte gesny

8 klein tamaties, soos Rosa-tamaties, in kwarte

Om te bedien: snytjies geroosterde baguette

 Verhit olie in pan en soteer die aartappels, uie en preie vir 15 minute. Skud die pan nou en dan dat die groente nie vassit nie. Voeg kerriepoeier, knoffel en rissie by en soteer nog ‘n minuut of wat. Voeg 500 ml van die aftreksel by. Gooi die saffraan, lemoenskil, tiemie, orige aftreksel, sout en peper by en laat prut vir nog  10 minute of tot aartappeltjies sag is, maar nie stukkend gekook nie. Voeg die vinkel en tamatie by en prut nog 10 minute. Nou’s die sop reg.

Die naam Rouille is afglei van die Franse woord vir 'roes', soos die kleur van die sous.

Die naam Rouille is afgelei van die Franse woord vir ‘roes’, soos die kleur van die sous.

 Vir die rouille:

 Bietjie growwe sout

2-3 knoffelhuisies, grof gekap

2 eiergele

150 ml olyfolie

10 ml tamatiepasta

Suurlemoensap na smaak

2,5 ml rooipeper (cayenne pepper)

Maal knoffel en sout saam in stamper en vysel. Meng die eiergele by en dan begin die sports: terwyl jy die heeltyd meng met ‘n whisk of ‘n elektriese handklitser voeg die olie DRUPPEL vir DRUPPEL by en klein bietjie sout en peper. Die mengsel sal nou verdik. Maar ernstig nou: moenie nog olie bysit voor elke drupel olie behoorlik ingemeng is nie. Sodra al die olie by is en die mengsel lekker dik is, roer die tamatiepasta, rooipeper, suurlemoensap en sout+peper na smaak by. As jy wil kan die fyn gerasperde skil van 1 lemoen ook bygeroer word.

Om te bedien: Verdeel die groentestowe in 4 sopbakkies en plaas ‘n geroosterde snytjie baguette met ‘n stewige skeppie van die rouille bo-op. Speel mooi Franse straatkafee-musiek en verbeel jou jy is in Provence!

 *Die resep is aangepas uit Diana Henry se “Food from Plenty,” een van die allergunstelinge in my kookboekversameling.

 

%d bloggers like this: