Ek begin my reis na drie epiese toebroodjiebestemmings op ‘n baguette. Alhoewel baguettes die simbool van Franse bakkerye en stylvolle piekniekmandjies, is ons nie oppad Parys toe nie, maar wel na Saigon / Ho Chi Minh in Viëtnam.
Dit was wel voorheen ‘n Franse kolonie, met die Franse nalatingskap as oral te sien in die argitektuur tot die kos. Baguette word gebruik vir hul bánh mì, ‘n weergawe wat ligter en brosser is as die Franse stammoeder, weens die gebruik van rysmeel saam met koringmeel.
Die kombinasie van die brood se vulsellae – vleis, kraakvars slaaibestanddele en soet-suur-sout smake gee dit ikoonstatus onder toebroodjie-aficionados.
Mens kan net met verwondering kyk hoe bahn mi toebroodjies met monastiese toewyding aanmekaar gesit word by die straatstalletjies – in ‘n spesifieke orde, laag na laag na laag. Elke laag dien ‘n doel en niks word afgerammel nie.
My weergawe is baie vereenvoudig, maar gee ‘n idee van die oneindigende moontlikhede. Vir ‘n titsel multi-kulturele kos-diplomasie vervang ek bv. die varkvleis en ham van die klassieke weergawe met boerewors frikkadelle (ek rol bloot bolletjies met die worsvleis en braai dit in ‘n pan). Die geure van koljander in die worsvleis pas baie goed by die soetsuur wortel- en daikonradys-slaai* waarsonder bánh mì nie gesien wil word nie. Die klassieke varkfrikkadelle is egter baie lekker en ek gee die resep daarvoor.
BAHN MI MET BOEREWORS-OF VARKFRIKKIES
Wortel-radysslaai-laag
Maak eers die wortel-radysslaai-laag sodat dit kan staan terwyl jy die frikkadelle maak. Hierdie lig-gepiekelde soetsuur slaaitjie (do chua) word tradisioneel met daikon, ‘n Oosterse radyssterse radys) gemaak. Jy kan dit vervang met gewone radys of raap. Komkommer werk ook, maar het nie die krakerigheid wat mens soek in hierdie toebroodjie nie. Sit dan liefs repe komkommer apart op jou bahn mi.
[Probeer gerus die daikon – dit het nie ‘n skerp smaak nie en word in Japan word dit as ‘n palet-verfrisser gebruik]
- 2 medium geelwortels, in stokkies gesny (julienne)
- 250 daikon of radys, in stokkies
- 30 ml suiker
- 2,5 ml sout
- 45 ryswynasyn of appelasyn (‘cider vinegar’)
- 10 ml sesamolie
Meng die geelwortels en radys in ‘n bak. Roer die res van die bestanddele by en laat staan ‘n uur.
Vietnamese varkvleis-frikkies (genoeg vir 4 ruim porsies)
- 400 g gemaalde varkvleis
- 30 ml gekapte kruie
- 1 gekapte sprietui
- 3 gemaalde knoffelhuisies
- 15 ml vissous,
- 10 ml ‘hot sauce’ soos Sriracha of paar spatsels tabasco
- 10 ml suiker
- Sout en peper
- 15 ml mielieblom
- Olie vir braai
Meng die varkmaalvleis met die kruie, sprietui, gemaalde knoffel, vissous, die ‘hot’ sous, suiker, sout en peper. Voeg mielieblom by en vorm klein frikkadelle. Verkoel 20-30 minute en braai in ‘n bietjie olie tot gaar en bruin.
Sit jou bánh mì aanmekaar:
Sny die baguette in 4 stukke, en smeer die brood binne met mayonnaise, gegeur met Sriracha of tabasco. Verdeel die gaar frikkadelle en die wortel-daikonslaai tussen die 4 stukke baguette. Rond af met gesnyde brandrissies (opsioneel) en koljanderblare of met basielkruid en kruisement.
Wenke:
- Maak die baguette effe warm vir ‘n ekstra bros sensasie.
- Die klassieke weergawe word as volg aanmekaar gesit, maar jy kan dit varieer met wat jy het, dalk oorskiet-rotisseriehoender? Bobotie? Koue skaapboud? Selfs patee het ‘n plek.
- Bahn mi kan ook sonder vleis bedien word.
- Die eg-klassieke bahn-mi word so gestapel (foto-bron: internet)
- Foto en stilering: Ian en Errieda du Toit
- Houtbord: Wilandi Esterhuysen
Leave a Reply