Tag Archives: mosterd

Buurvrou se wildsboudjie en stoweperskes

3 Sep

Een van die mooiste kosgebruike is die karmenaadjie: die boere het met slagdag ‘n slopie vol vleis na die buurplaas gestuur – lekker stuk beesrib, wors, en so meer. Die dag wanneer die bure  slag stuur hulle weer ‘n karmenaadjie terug. So word die oorvloed versprei. Die goeie buurmanskap-simbool het natuurlik ontstaan in tye voor verkoeling met baie vleis om te verwerk en te bewaar.

Buurvrou se appelkoosboudjie met gestoofde perskes en koring. Net dit.

Nou die dag ervaar ek ook ‘n stukkie van hierdie mooi gebaar uit jaar toet. ‘n Gawe vrou uit my buurt laai ‘n karmenaadjie af met wildsvleis: Springbokboud en lekker baie bene wat ek kan afkook vir rafeltjievleis-pastei. Kosbaar vir hierdie voorstedeling. In die gees van goeie buurmanskap laai Sarina Viljoen die weldoener sommer twee boude af – vir my vriendin en kollega Anita Franken ook een. Anita verdien dit want sy’s ook ‘n buurvrou wie se waarde ver bo dié van korale geskat word. As sy nie self vir jou kos aandra nie, dra sy ‘n resep aan.

Met ons goeie buurtskap-boudjies is die vraag nou – hoe om dit gaar te maak? Óf die Italiaanse manier met kersies en jenewerbessies waarmee Elizabeth David my so honger geskryf het; óf Springbokboud met portsous wat ene Klein-Karoo sal smaak.

Ek oorweeg selfs ‘n Kreoolse boud in ‘n sous gegeur met tamatie puree, neutmuskaat, fyn komyn, brandewyn, bietjie port en baie piesangs. Die idee van die baie piesangs is net te piesangrig vir my. Wederhelf mor toe ek die meriete van soetsuur-Springbok roerbraai met sesameolie, sojasous, sjerrie en bruinsuiker opper. Dan eerder wildsblokkies-op-‘n-stokkie gegeur met borrie, klappermelk, rissies, tamaryn, sitroengras en grondboontjiebotter.

Ek tob oor die moontlike troumaats vir my boud: gemmer, koljander, steranys, tiemie, naeltjies, neutmuskaat, peperkorrels, wonderpeper,  knoffel, lourierblaar en basiliekruid. Appelkooskonfyt tot appeljellie en kweperjellie. Ek kan rondspeel met bruin asyn of wit,  vrugtesap, droё witwyn, olyfolie, sesame olie, sojasous, bruinsuiker, port, korente, pruime, droё appelkosies, vrugteblatjang of bessies.

Anita is uitgesproke oor watter resep sy gaan gebruik. Sy wik en weeg nie. Sê net: “soms is die beproefde weë die ware en regte weg. Niks eksoties of uitspattig nie. So na aan boerekos soos kan kom.” Bykosse ook nie vol fieterjasies nie. Springbokboud gestop met ’n vetjie en ‘n vruggie,  ure-lank in die oond gebak, is al klaar kos vir ‘n koning.

Anita en ek takel die wildsboudjie saam.

Anita en ek takel die wildsboudjie saam.

En daar tref die lus vir wildsvleis voorgesit net met ‘n bak koring, vleissous in Ouma se erfbekertjie en gestoofde perskes my. En iewers ‘n skeppie kweperjellie. Buurvrou, jou resep vir gestopte Springbokboud met appelkoos-marinade sal dit wees.

Maar eers ‘n paar basiese riglyne:

Wanneer dit by die gaarmaak kom, onthou dat wildsvleis van nature ‘n maer vleis is. Geen marmering vind plaas nie en daar is min geleentheid vir vetreserwes om op te bou. Voorkom droë boudjies so:

*  Moenie oorgaar maak nie. Dis veilig om die sagter snitte liggaar of medium te bedien.

*  Sny altyd teen die grein sodat op kort weefsels gekou word. Dit verhoog die persepsie van sappigheid.

*  Bardeer met spek om uitdroging te voorkom. Netvet is ideaal vir snitte wat vir ‘n korter tyd gaargemaak word.

*  Lardeer met spek, knoffel of jong groente.

Algemene wenk vir gaarmaaktyd:

Laat 15 – 20 minutes in ‘n voorverhitte oond toe teen 160°C per 500g plus ‘n verdere 15 – 20 minutes. Die vleis is gaar wanneer die vleissappe helder is.

Die volgende tipe marinade kan gebruik word:

1. ‘n Mengsel met hoë suurinhoud, wat help met die afbreek van proteiene

2. ‘n Mengsel met vars pynappelsap of gemmer wat ensieme bevat om die   kollageen af te breek wat die weefsels aanmekaar hou.

3. Karringmelk of room wat melksure bevat om die bindweefsel af te breek en die vleis sappiger laat.

Vir jong vleis is ‘n marinade nie altyd nodig nie, omdat dit die delikate smaak kan oorheers.

Vele hande ...

Vele hande …

Buurvrou se gestopte Springbokboud

Die  lardering met gerookte spek gee die boudjie bietjie vet aan die vleis en ‘n lekker geur aan die appelkoserige vleissous.

 1 Springbokboud

200 g Gerookte repiespek om boud mee te stop

Sultanas of rosyntjies, vir stop

250 ml witwynasyn

5 ml fyn koljander

30 ml sojasous

10 ml bruinsuiker

80 ml olyfolie

2,5 ml fyn naeltjies

5 ml mosterd

125 ml blatjang

½ pakkie gedroogte appelkosies

Sny die repies spek in die helfte. Rol op en plaas dit in ‘n mengsel van sout, peper en bietjie olyfolie.  Maak diep kepe aan beide kante van die boud, druk ‘n rolletjie spek en ‘n sultana in elke snit. Plaas boudjie in ‘n geskikte bak om te marineer. Meng die res van die marinade-bestanddele saam en giet dit oor die boud. Bedek dit en plaas in die yskas vir 12 uur. Draai van tyd tot tyd die boud om.

Nou vir die gaarmaak. Daar’s twee opsies:

Die boudjie het nog so 2 uur om te gaan. Gooi so nou en dan die vleissous oor of draai om.

Die boudjie het nog so 2 uur om te gaan. Gooi so nou en dan die vleissous oor of draai om.

Voorverhit die oond tot 180ºC. Plaas die vleis in ‘n oondvaste bak en giet die marinade oor die vleis, tesame met 500 ml water. Bak vir 1 uur en verlaag oondhitte na 160ºC. Bak nog 2 – 3 uur, bedruip gereeld met die marinade. Bak die laaste halfuur sonder deksel om te verbruin. OF

Voorverhit die oond tot 120°C. Plaas die vleis in ‘n oondvaste bak en giet die marinade oor die vleis, tesame met 500 ml water. Bak 7-8 ure met deksel op tot die vleis begin loskom van die been. Bak die laaste 30 minute sonder deksel sodat die vleis verbruin. Laat die boud in die louoond rus voor die gesny word.

Sous: Plaas nou jou eie stempel op die sous. Gooi muskadel of port by, jewenerbessies as jy wil, sout en peper, kweperjellie, selfs bietjie suurroom.  Die balans tussen suur, soet en sout is hier jou uitdaging. Om die sous te verdik vryf gelyke hoeveelhede botter by meelblom in en klits dit by die sous in en kook deur.

(Resep aangepas uit Camdeboo Karoo Wildsvleis).

 

Die perskes het ek gestowe in heuningtee (of rooibos) met kaneelstok en nartjieskil. Vir soetighed bietjie esdoringstroop.

Die perskes het ek gestowe in heuningtee (of rooibos) met kaneelstok en nartjieskil. Vir soetighed bietjie esdoringstroop.

Boud en bykossies uit ‘n ander se mond.

Ek moet ook hierdie mooi storie met jou deel wat Marietjie Koekemoer Swanepoel my vertel:

“My ouma het droëvrugte (perske en pruimedant) oornag in portwater laat week. Met ‘n kaneelstok en gedroogte lemoenskil (haar huis was nooit daarsonder, altyd iewers in die komuis gehang) daarby. Die vog het sy die volgende dag van die vrugte afgegooi en gebruik om die Springbokboud in te kook. Sy het die vetgeswelde vrugte dan opgekook in van die portwater en ‘n teelepel vlapoeier by gemeng. Die vrugte is bedien as bygereg, nie as nagereg.

Die boud self is vooraf marineer in karringmelk en gestop met ui, spek en ‘n rosyn. Met die oondtoegaan is hy moederlik ingevryf met geskroeide koljander, witpeper, sout en ‘n titsel naeltjie. Repe spek is oor die boud drapeer. Stadige hitte, stadige gaarmaakproses, deksel op. Die laaste 10 minute voor uithaaltyd, het sy geklopte appelkooskonfyt oor die boud gesmeer en bedruip met vars room wat vanoggend geskei is van die melk in die melkkamer. (ons Karookinners het jare gepraat van die ‘séperaterkamer’). Sy het dan die oondrooster op hoog gestel en die eindproduk (10 minute ge-oondrooster) het nooit as te nimmer teleurgestel. Die pansouse is omskep in die lekkerste sous denkbaar. Ons het daai pan uitgelek met die wysvinger saam.”

aaa ipad boudfoto mooi

  MET DANK AAN SARINA VILJOEN VIR DIE KOS-GESKENK. LANK LEWE DIE KARMENAADJIE EN MEDEDEELSAAMHEID.

Kedgeree, kitsery en verlang na Zanzibar

13 Aug

Doedelsakspelende troepe uit Skotland. Downton Abbey. My ma se kombuis. Britse kolonies. Die Raj se kitchiri. ‘n Speserywoud in Zanzibar en ‘n kleurvolle mark in Stonetown.  Kedgeree. Kitsery en kerrie-eiers. Kokkedoor.  Haddock. Eikehout-gerookte stokvis uit ons eie waters. Basmati-rys.

Hoe op aarde kom al hierdie inspirasies op een aand in my skottel?

Dubbeldoor van onthou: die kedgeree EN die kerrie-eiers van my ma met 'n groot skeut Zanzibar-kosreis-herinneringe. Die Ardmore kleibak met sy vissie-dekorasie is 'n verdere band met Afrika.

Dubbeldoor van onthou: die kedgeree EN die kerrie-eiers van my ma met ‘n groot skeut Zanzibar-kosreis-herinneringe. Die Ardmore kleibak met sy vissie-dekorasie is ‘n verdere band met Afrika.

Ek het onlangs ‘n lewens-veranderende kosreis na Zanzibar kon meemaak saam met twee Kokkedore, Marius Uys van Discover Zanzibar en Johnny Hamman, Kinkelkok-wenner. Van die goed wat my bybly is die vars borrie, kokosneute en al wat spesery is wat oral op die markte te sien is.  Ek het ook ‘n speserywoud besoek wat my koorsig gelaat het van opwinding. Onvermydelik sou hierdie sins-bedwelmende ervaring sy invloed op my kosmaak laat.  Vandaar dat my weergawe van kedgeree (kitsery, ook khichari of kitcherie) wat ek al vir jare maak na Zanzibar met ‘n wavrag meer smaak bedeel word.

Rys, speserye, vis. Saam maak dit 'n gereg wat my aan kinderdae laat dink.

Hier is my ‘standaard’-kedgeree voor my Discover Zanzibar-kosreis.

Die reis van kedgeree, kedjeree, kitsery tot in ons koskultuur, en tot my Ma se kombuis, is ‘n interessante een; sy ware herkoms nie sonder misterie nie. Dit word algemeen aanvaar dat die gereg in Victoriaanse tye van Indië na die Britse ontbyttafels gebring is deur kolonialiste wat terug huis toe is. Dit het vermoedelik sy wortels in khichri, ‘n gereg van speserygegeurde lensies (of boontjies) en rys wat al sedert die 13de eeu in Indië gemaak word. Hierdie oer-ouer van kitsery was sonder vis en sonder eiers. Dis die Britte wat hierdie byvoegings gemaak het.

As jy die periode-televisiereeks Downton Abbey met ‘n valkoog dopgehou het soos ek, sou jy ook die oomblik wat die kok Mrs Patmore die skottel met kedgeree vir die lakei oorhandig (om op te neem na Lord en Lady Grantham en die jong dames), as ‘n wow-moment vir die ontbytgereg beskou. Oh, so British. As ‘n ontbytgereg het dit in die era voor verkoeling baie sin gemaak. Vis en rys wat oorgebly het van die vorige aand se ete is vindingryk omskep in ‘n ontbytgereg wat – terloops – ook as ‘n goeie babalaas-kuur beskou word.

Doedelsak in die pot

Daar’s egter ‘n ander teorie dat kedgeree eintlik oorspronklik ‘n Skotse gereg is wat deur Skotse troepe Indië toe geneem is tydens die Britse Raj-era. Daar is dit kwansuis aangepas deur  Indiese kokke wat dit meer woema gegee het, want die Skotse weergawe was maar valerig. Interessant, toe ek  Kook en Geniet van SJA De Villiers se kedgeree/kitsery-resep bekyk, is dit asof die Skotte self die resep verskaf het voor hulle voet aan wal in Indië gesit het, want daar is nie  ‘n greintjie kerrie of borrie nie:  net gestoomde vis, gaar rys, bietjie botter, hardgekookte eiers en sout en peper.

‘n Beskrywing uit die Woordeboek van die Afrikaanse taal lui: “Gereg van gekookte vis en rys dikw. oorskietvis en -rys, gebind met eiers, gew. piramidevormig opgestapel i/d skottel en opgedien met blatjangsous of ander geurmiddels.”  Dit verklap nie die ware sjarme van die ‘koloniaal-Victoriaanse’  lig-gekerriede weergawe nie., alhoewel die piramidevorm klink asof dit bedien kon word in Agatha Christie se Death on the Nile!

Die kleure en parfuum van borrie, Cartwright se kerriepoeier, gemmer en mosterdsade wat opwalm uit ‘n keurige kedgeree is genoeg om as ontbytgereg die dag op baie goeie voet te begin. As aandkos verdien dit ook ‘high praise, old chap.”

Kedgeree vir die Queen en die First Lady 

Gekerriede kedgeree loop ook sy pad met ons Kaapse kookkuns.  ‘n Knipsel uit die Pittsburgh Press (1977) verskaf ‘n  resep vir kreef kedgeree en beskryf dit as ‘A South African Kedgeree to put before your own king or queen”.  Gemaak met rys, uie, bietjie room, kerriepoeier en hardgekookte eier, is daar ook kreefstert bygevoeg. Die artikel verduidelik die Kaap se bande met die VOC en hoe speseryhandelaars Oos-Indiese resepte na die Kaap gebring het – en dat die Kapenaars kedgeree gemaak het met enige vis of seekos wat beskikbaar was.  Waar in Merry Olde England kedgeree dikwels met oorskietvis gemaak is, het ons hier aan die Kaap kreef en snoek ingespan, wat in die vroeër jare beide volop was.  Die gewildheid van rys en vis in ons skottels word bevestig met geregte soos smoorsnoek op rys en natuurlik ook breyanis.  Dis natuurlik ook nou al allemans-kennis dat Michelle Obama met haar besoek aan die Kaap gesmul het aan kedgeree by The Kitchen in Woodstock.

Outyds raak weer sexy

Het so ‘n uit-die-mode-gereg moderne bestaansreg? Ek dink so – en selfs dat dit ‘n sexy gereg is. Die voorbereiding daarvan het my in vervoering. Daar’s die sagte prut van die vis en die vlok daarvan, met ‘n subtiele rokerigheid wat jou uidaag. Daar’s die gaarmaak van die geurige  basmatirys, die braai van die uie en die afmeet van die kerrie.  Ek geniet selfs die afdop van die eiers, terwyl ek wonder of ek dit nie dalk te kort (of te lank) gekook het nie.  Maar die lekkerste is die oomblik wat die gevlokte vis versoen word met die geurige rys – dan maak dit nie saak of ek ‘n doedelsak, God Save the Queen, Downton Abbey se temamusiek of ‘n konsertina in die agtergrond hoor nie – al wat saak maak is dat die geurige gereg  sy pad na my kombuis toe gevind het.

Hier het ek die speserye en gestoeerde uie deur die gaar rys geroer, maar maak ook soms 'n kerriesous vir die eiers en skep dit bo-op vir 'n twee-in-een onthougereg.

Voor-Zanzibar.  Die gaar rys en gevlokte vis word ingeroer by uie wat met speserye gebraai is.

Soveel variasies

Eke huis het sy variasie – lensies kan by die rys gevoeg word, so ook sultanas. Snoek, pleks van skelvis,  is besonder lekker en eg-Kaaps.  Ek bly weg van die neon-oranje kamma-skelvis wat eintlik niks anders as  kunsmatig-gekleurde stokvis is nie. Maar vars gerookte stokvis is heerlik, soos die van Ocean Jewels in die Kaap.

Nog dinge is opsioneel – sommige kokke voeg room by kedgeree. Daar is selfs ‘Wet kedgeree” wat met witsous gemaak word.  Jy kan tamatie bysit. Pietersielie. Brandrissie. Jy kan die rys  met die vis se posjeervloeistof kook. Soms bedien ek dit met ‘n jogurt-bysousie en koljanderblare, ander kere daarsonder. Die een ding waarsonder ‘n kedgeree kaal gaan voel is die gekookte eier. Jy besluit self of jy dit in kwarte of ringe sny, dit fyn kap of deur ‘n sif druk. Jy kan selfs ewe modieus die eier loperig sag kook of posjeer.

'Kerrie-eier kedgeree'. Bak deur Ardmore Ceramics.

‘Kerrie-eier kedgeree’. Bak deur Ardmore Ceramics.

HUISKOK KEDGEREE MET ‘N KLAP VAN ZANZIBAR

Smake en kleure van my Zanzibar-trippie helder die kitsery wat ek by my ma leer maak het verder op. In Zanzibar het ek vars borrie van die plant af in ‘n speserywoud kon ervaar. Dit lyk soos piepklein gemmerwortel, maar vlek anders as gemmer mens se hande goudgeel! Die vars borrie word baie in hul kookkuns gebruik, so ook klappermelk. Ek het ook grootgeword met kerrie-eiers en daarom is hierdie gereg eintlik ‘n dubbeldoor van 2 onthougeregte bekinkel. Doen moeite en rook jou eie stokvis as jy dit nie klaargerook in die hande kan kry nie. 

3 eiers

Vir rys: 2 koppies basmati rys  (Ek gebruik Spekko); 2 kardomompeule; 5 ml borrie; 15 ml botter; 40 ml sultanas

600g vis – gerookte, ongekleurde stokvis of gerookte snoek ook gebruik

Genoeg melk of water om vis te kan bedek

1 ui, fyngekap

Botter of olie vir braai

25 ml matige kerriepoeier, soos Cartwrights of Raja

1 t vars gerasperde gemmer

5 ml fyn komyn

10 ml mosterdsaad

80 ml klapperroom of 125 ml klappermelk

Skil en sap van 1 suurlemoen of lemmetjie

Garnering:  2 tamaties, pitte verwyder en fyngekap; Vars koljander (of pietersielie indien verkies), gekap

Metode:

  • Kook die eiers vir 8 minute, koel dit af en laat eenkant.
  • Kook die vis liggies in genoeg melk of water om dit te bedek. Sowat 8 minute. Laat afkoel en vlok die vis. Verwyder vel en grate.
  • Kook die rys in soutwater waarby borrie, kardomom en botter gevoeg is.
  • In ‘n groot braaipan, braai die uie en gemmer vir sowat 5 minute tot dit begin verbruin en voeg dan die kerriepoeier, komyn en mosterdsade sade  by.  Kook sowat 2 minute. Voe die klapperroom by, die orige melk waarin die vis geprut het, skil en sap van die suurlemoen en prut tot dit verdik, sowat 7 minute.  Skep sous uit.
  • Skil eiers en sny in kwarte. Gooi die kerriesous oor die eiers.
  • Sit dit rys, visvlokkies en fyngekapte tamatie in die pan, en roer saggies deur. Laat goed warm word. Skep rys met die gevlokte vis en tamatie in opskepskottel, rangskik eiers in kerriesous bo-op. Rond of met vars koljander. Bedien warm.

    Kos-ervaring. Kook op die strand. Zanzibar.

    Kos-ervaring. Kook op die strand. Zanzibar.

Marius Uys bied pasgemaakte pakette vir kosentoesiaste na Zanzibar. Besoek Discover Zanzibar by www.discoverzanzibar.co.za 

Julie van Ocean Jewels

Julie van Ocean Jewels

  • ‘n Spesiale dankie aan Julie Carter van Ocean Jewels Fresh Fish & Seafood www.oceanjewels.co.za vir die gerookte stokvismootjies. My kosvriende het my van haar vertel en dit was so ‘n plesier om haar gister te kon ontmoet. Julie is toegewyd tot die varsste seekos en volhoubare praktyke. Hulle lewer ook af in die Kaapse skiereiland. Kyk uit vir die Ocean Jewels Deli in Woodstock en by die Neighbourgoods Market. Kontak Julie by 083 582 0829 of oceanjewelsfish@gmail.com

 

 

 

 

Gekrummelde varktjops en die verlore vrou

30 Sep

Varktjops en die verlore vrou


Gekrummelde varktjops….laat ek my eerste hap vat van daai krakerige kors en ek is weer 18 jaar oud in die eetsaal van Minerva-koshuis op Stellenbosch.  Dit was Donderdagaande op die spyskaart, met ‘n heel-aangename appelsous daarby.  Ek en my vraat-vriendinne het daai aande nooit ‘n maaltyd gemis nie, selfs nie eers vir ‘n ‘date’ met ‘n rugbyspeler nie.

Daar’s wel ‘n hartseergeit aan die varktjop-herinnering. Dit laat my terugdink aan ‘n meisie in ons koshuis – baie talentvol, báie slim, maar ‘n ‘odd-ball’.  Eksentriek, outannie-rokke met kantkragies,  lang vlegsel of boksterte en skoolskoene. Al het ons nie sielkundige geswot nie, was dit duidelik uit haar vreemde gedrag (in die eetsaal veral) dat hierdie arme meisie ‘issues’ het. Sy het na ete van tafel na tafel gedrentel en oorskietkos bymekaar gemaak, of sommer daar gestaan en eet uit ander se borde.  Ons was almal jammer vir haar, maar dit was makliker om haar te ignoreer as om te probeer help.

Dit was veral Donderdagaande se varktjops wat haar laat talm het, lank na die ander uit die eetkamer is. Half-geëete varktjops van ander se borde is een na die ander verslind met ‘n ver weg glimlag op haar gesig.  Ek sou jare daarna hoor dat sy ‘n einde aan haar lewe gemaak het, laat in haar dertigs.

Oor varktjops wou ek daarna nooit veel van ‘n storie maak nie.  Braai dit, eet dit. Klaar.

Maar toe op ‘n dag vertel my liewe Anita vriendin-en-kollega hoe sy haar varktjoppies maak deur dit eers goed oraloor met Dijon mosterd te smeer voor sy dit in die eier doop en dan in krummels. Met die eerste probeerslag proe dit so heerlik anders as die hartseer-varktjops wat my aan die verlore koshuismeisie laat dink, dat my varktjops nou altyd eers ‘n goeie smeersel mosterd kry.

Ek looi ook die krummels goed met speserye, soos gerookte paprika, komyn, fyn koljander en ‘n knippie naeltjie.  Soms hou ek die geurmiddels net by sout en peper, maar gooi dan ‘n ¾ koppie gerasperde parmesaan by die broodkrummels.

As daar vars salie in die groentetuin is braai ek dit bros om bo-op die tjops te bedien.

In plaas van die eintlik-te-soet koshuis-appelsous maak ek ‘n kraakvars slaai van appel en vinkel, met ‘n loperige mayonnaise-slaaisous. (Vriendin Anita sit die varktjops voor met roerbraai-rooikool, ‘n goeie idee wat ek nog sal probeer. )

Die tjops en hul krummeljasse met die mosterd-voerings word minstens 40 minute in die yskas gelos, sodat die geure ontwikkel, maar veral ook dat die krummellaag beter vasklou tydens die braaiproses.

Dan haal ek my geliefde koperpan uit. Dis ‘n tamaai paella-pan sodat ek op een slag die tjoppe kan saambraai.  Ek tel nie die minute wat dit aan elke kant bros en goudbraai braai nie. Jy voel dit sommer: die tjops moet stewig voel, nie meegee soos ‘n medium steak nie.

Maar jy wil ook nie die tjops doodbraai nie; die ou mense het mens onnodig bang gepraat oor varkvleis.

Al wat ek verder op die tafel wil hê is witbrood en appelkooskonfyt – soos altyd in die koshuis waar die alleen-vrou gewandel het.

%d bloggers like this: