Varktjops en die verlore vrou
Gekrummelde varktjops….laat ek my eerste hap vat van daai krakerige kors en ek is weer 18 jaar oud in die eetsaal van Minerva-koshuis op Stellenbosch. Dit was Donderdagaande op die spyskaart, met ‘n heel-aangename appelsous daarby. Ek en my vraat-vriendinne het daai aande nooit ‘n maaltyd gemis nie, selfs nie eers vir ‘n ‘date’ met ‘n rugbyspeler nie.
Daar’s wel ‘n hartseergeit aan die varktjop-herinnering. Dit laat my terugdink aan ‘n meisie in ons koshuis – baie talentvol, báie slim, maar ‘n ‘odd-ball’. Eksentriek, outannie-rokke met kantkragies, lang vlegsel of boksterte en skoolskoene. Al het ons nie sielkundige geswot nie, was dit duidelik uit haar vreemde gedrag (in die eetsaal veral) dat hierdie arme meisie ‘issues’ het. Sy het na ete van tafel na tafel gedrentel en oorskietkos bymekaar gemaak, of sommer daar gestaan en eet uit ander se borde. Ons was almal jammer vir haar, maar dit was makliker om haar te ignoreer as om te probeer help.
Dit was veral Donderdagaande se varktjops wat haar laat talm het, lank na die ander uit die eetkamer is. Half-geëete varktjops van ander se borde is een na die ander verslind met ‘n ver weg glimlag op haar gesig. Ek sou jare daarna hoor dat sy ‘n einde aan haar lewe gemaak het, laat in haar dertigs.
Oor varktjops wou ek daarna nooit veel van ‘n storie maak nie. Braai dit, eet dit. Klaar.
Maar toe op ‘n dag vertel my liewe Anita vriendin-en-kollega hoe sy haar varktjoppies maak deur dit eers goed oraloor met Dijon mosterd te smeer voor sy dit in die eier doop en dan in krummels. Met die eerste probeerslag proe dit so heerlik anders as die hartseer-varktjops wat my aan die verlore koshuismeisie laat dink, dat my varktjops nou altyd eers ‘n goeie smeersel mosterd kry.
Ek looi ook die krummels goed met speserye, soos gerookte paprika, komyn, fyn koljander en ‘n knippie naeltjie. Soms hou ek die geurmiddels net by sout en peper, maar gooi dan ‘n ¾ koppie gerasperde parmesaan by die broodkrummels.
As daar vars salie in die groentetuin is braai ek dit bros om bo-op die tjops te bedien.
In plaas van die eintlik-te-soet koshuis-appelsous maak ek ‘n kraakvars slaai van appel en vinkel, met ‘n loperige mayonnaise-slaaisous. (Vriendin Anita sit die varktjops voor met roerbraai-rooikool, ‘n goeie idee wat ek nog sal probeer. )
Die tjops en hul krummeljasse met die mosterd-voerings word minstens 40 minute in die yskas gelos, sodat die geure ontwikkel, maar veral ook dat die krummellaag beter vasklou tydens die braaiproses.
Dan haal ek my geliefde koperpan uit. Dis ‘n tamaai paella-pan sodat ek op een slag die tjoppe kan saambraai. Ek tel nie die minute wat dit aan elke kant bros en goudbraai braai nie. Jy voel dit sommer: die tjops moet stewig voel, nie meegee soos ‘n medium steak nie.
Maar jy wil ook nie die tjops doodbraai nie; die ou mense het mens onnodig bang gepraat oor varkvleis.
Al wat ek verder op die tafel wil hê is witbrood en appelkooskonfyt – soos altyd in die koshuis waar die alleen-vrou gewandel het.
Ek luister altyd met ‘n water-mond na jul heerlike geregte!!! As dit maklik klink, maak ek dit graag en as dit vir my te moeilik klink, bêre ek dit maar verweg in my gedagtes….tot eendag.
Hou baie van jou blog….kan toor met blomme maar nie so goed met kos nie. Maar ek kan goeie kos baie waardeer veral as ek dit nie self moes maak nie.
Dankie, Alida. En ons kokke is maar te bly daar is ‘n waarderende gehoor. Ek kan weer nie blomme rangskik nie, maar geniet ‘n mooi bos blomme.
Ek het ook al ‘n post geskryf oor die Neelsie se lekker krummel vaktjops wat so groot was dat al die ander kos bo-op gelaai was…..Ken jou nostalgie. Lekker!
ek gaan nou onmiddellik die post van jou soek. Dankie, Nina.
As jy sien wat ek nou gaan doen met my tuisgemaakte appelsous en vark “rump” kry ek 0 uit 10. Toe gedog laat ek maar die beste een hier loer en dit probeer namaak vlgkeer. Ek is mal vir wat ek hier lees oor jou resep, klink wonderlik vir ‘n man wat graag lekker tuis wil eet.
Jou vark rump en Tuisgemaakte appels ous Klink heerlik vir my. Hoop jy geniet my weergawe.