Tag Archives: nostalgie

Marmalade Kersfeesbrood en Food Lover’s Market kompetisie

21 Nov

 

“Ek bring vir jou ‘n Kersfeesbrood en ‘n sonneblom uit Bethlehem”, sê my vriend Hannes van my sonnige vrugtekoekteebroodjie.

So beier die klokke en trek die Kersfees-elwe hul rooi  voorskote aan.

.

 

Ek trek weer saam met Food Lover’s Market die rooi emmertjie met hul luukse feestelike gemengde koekvrugte nader. Soos elke jaar het ek voor die Krismiskoek-kruispad gekom om te besluit watter styl en watse resep dit gaan wees:

  • Die tradisionele roete neem of afdraai na iets nuuts?
  • ‘n Beskonke of ‘n nugter koek?
  • Familieresep of iets trendy met gin of kombucha?
  • ‘n Kerktannie resep of iets raw en vegan uit ‘n moderne bakbybel?
  • Luuks en oordadig of iets eenvoudig en beskeie?
  • Iets diep en donker of goud en blond? Iets Latyns-Amerikaans soos Torte Navidad uit Venezuela, ryp gemaak op rum? Of ‘n drie-bestanddele vrugtekoek wat so ‘n Pinterest-darling is?
  • Geborduur met glansvrugte, stroperige gemmerstukke en blink robyne kersies? Of ‘n alledaagse, vriendelike vrugtekoekbroodjie wat met botter, tee en simpatie (en ekstra marmalade) ‘n teenvoeter is vir  die bittersoet van ‘n jaar.

Food Lovers Market het my geinspireer met die tema ‘om Kersfees huis toe te bring onder die Afrika Hemel’. Ek vertolk dit met die geel van sonneblomme, ‘n oranje-en-geel delikate doilie van my Ma Inez en die sitrusgeure van die lemoenboorde uit haar Clanwilliam-grootwordjare; sultana se goud en bruinsuiker se amber. Alles kleure van gasvryheid en warm mense wat sal hou van ‘n  ‘Kom-drink-by-my-Tee’ vrugtekoekteebroodjie.

Dis ‘n Plain Jane sonder slimstories en kreatiewe kinkels. En juis daarom kies ek vanjaar dit. ‘n Koek wat jy maak sommer net omdat dit lekker is om te lewe. ‘n Herinnering dat vieringskoeke nie net vir high days en holidays is nie. Haal vandág jou beste teekoppies uit. Draai vandág die deksel af van daardie flessie duur marmalade wat jy te jammer is om te eet. Maak ‘n blompot vol sonneblomme, nooi iemand oor wat dalk alleen en verlore voel en eet koek.

Dis so ‘n maklike koekbrood dat dit al jou verskonings wegneem om nie iets feestelik te bak nie. Als word in een bak aangemaak, geen rypmaak en maande se voer met drank nie, geen peperduur bestanddeke nie, geen geweek of opsny van vrugte nie.

Dis so ekonomies, so maklik, jy bak hom vanoggend en vanmiddag kan jy eet en uitdeel. Jy’t nie ‘n deftige Bundtpan nodig vir hierdie feestelike vrugtekoekbroodjie nie, ‘n broodpan doen die ding. Hierdie resep is genoeg vir twee koekbroodjies: een is vir jou en die buurvrou, die ander een gee jy weg. Eet dit met goeie botter, goeie tee en goeie geselskap.

Ek gee onderaan die resep inligting oor die groot #FoodLoversMarket Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.

Marmalade-Kersfeesbrood

700 g Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix

100 g glanskersies, liggies In meel gedompel en afgeskud

250 g botter, kamertemperatuur

6 groot eiers

120 ml vars lemoensap of melk

60 ml goeie marmalade of konfyt van jou keuse

250 g sagte bruinsuiker

500 g bruismeel

20 ml gemengde speserye

2,5 ml sout

Fyngerasperde skil van 1 groot lemoen

  1. Voorverhit die oond tot 170°C of 150°C waaieroond. Stel jou oondrak net onder die middelste rak. Spuit 2 broodpannetjies met kleefvrye sproei, voer uit met bakpapier sodat die lang kante oorhang. Dit maak dit makliker om later die koekbroodjie uit te lig.
  2. Plaas die botter, eiers, lemoensap of melk, konfyt, suiker, bruismeel, gemengde speserye, sout en fyngerasperde skil in die bak van die staanmenger of voedselverwerker. (Ek gebruik die K-hegstuk van my Kenwood). Meng goed deur sonder om te oormeng, en skraap die kante halfpad.
  3. Voeg die koekvrugtemengsel en glanskersies by en meng dit met ‘n houtlepel deur die beslag. Verdeel die beslag tussen die twee panne, maak dit mooi gelyk bo en tik elke pan 5 keer op die werkoppervlak. Trek ‘n streep met ‘n mes deur die bokant, dit kan help dat dit nie met ‘n bult rys nie (hoewel ‘n heuweltjie my nie pla met iets so informeel soos hierdie tee-dingetjie nie.
  4. Bak vir 80 minute. Steek nou ‘n toetspen (my ma het ‘n dun breinaald gebruik) in die middel en as dit skoon uitkom is dit gaar. Indien nog nie deurgaar nie, bak nog 10 minute en toets weer. Herhaal tot gaar.
  5. Haal uit die oond, laat staan 15 minute en keer uit op ‘n draadrak. Borsel marmalade oor die bokant.
  6. Bêre In ‘n lugdigte houer en hou die bakpapier aan tot jy dit gaan sny. Dit kan ook in kleefvrye plastiek of waspapier toegedra word, maar net nie foelie nie. Die teebroodjie is op sy lekkerste na twee dae, maar wie wil wag om fees te vier as jy vandag al iemand wat tee en simpatie ndig het kan bederf?

Wenke: hierdie vrugtekoekbroodjie is ‘n lekker spanningsvrye storie, wat nie soveel drukpunte het soos ‘n swaarder, vrugtebelaaide tradisionele vrugtekoek gewoonlik het nie. So niks van ‘n toedraaiery van jou pan met lae bruinpapier of koerantpapier nie. Wat jy wel moet dophou is dat dit nie te donker bak aan die bokant nie.

  • plaas jou oondrak een verstelling onder die middelrak.
  • ruil die panne na 50 minute om en roteer ook dat die voorkante na agter wys.
  • bedek liggies met bakpapier of foelie as dit te vinnig bruin word.
  • as jy ligter kante verkies voer die pan met twee lae bakpapier uit.
  • die baasbakkers plaas ook gewoonlik ‘n bakkie water in die oond; die stoom help teen brand en uitdroog.

Ek gebruik Food Lover’s Market se legendariese Luxury festive cake mix in die  rooi emmertjie wat al vir 25 jaar ‘n Kerstyd-instelling is. Dis gerieflik, want die koekvrugte is alles klaar opgesny en gemeng. Dis ekonomies (R79. 99 per kg) en is eksklusief tot hul takke landwyd.

Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.

Die prys is ‘n lieflike houtkrat vol Food Lovers Market produkte met baktoerusting soos die legendariese rooi emmertjie, so ook heerlike feestelike gebak en Kerslekkernye. Die wenner kry ook ‘n mengbak, handklitser én ‘n Bundtpan.

Skryf in deur hierdie skakel te volg 

https://foodloversmarket.co.za/win/

Resep en stilering: Errieda du Toit

Fotograaf: Ian Du Toit

Sagopoeding met steranys aka ‘Fritz se Gunsteling’

6 Sep

Sagopoeding. Die woord gaan een van twee dinge doen:

-of jy gaan hand op die hart verlang na jou ouma en jou ouma se ouma; na die goeie ou dae en blommerige poedingbakkies;

-of al daai nare herinneringe van jou koshuisdae gaan oor jou spoel met die sjarme van die skool-boelie.

Ek bak sagopoeding op ‘n lenterige  Sondag

Gelukkig val my sago-ervaring in die aangename nostalgie-kamp, selfs al het my ouer broers my probeer treiter  met hul krete:  “Padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!” (my familie noem my steeds op my Piekies-bynaam). Hierdie strategie om  my uit te gross het nooit gewerk nie, en het my – die suikerbekkie van die gesin – eerder harder laat klou aan my poedingporsie.

Met goeie rede, want sagopoeding soos my ma dit gemaak het was  iets wat uit die winterhemele neergesak het. Die meringue bolaag was die sneeu uit een van my Europese kinderboeke.

Wat vir my broers soos paddaeiers gelyk het, het vir my nes pêrels gelyk. Dan die sweempies kaneel en soet-surerige appelkooskonfyt.

As jy dink sagopoeding is ‘n kook-rompslomp; dat die sago oornag geweek moet word;  dat die melk maklik aanbrand en en en…. ontspan. Dis ‘n eenvoudige poeding,  selfs ‘n kind kan dit doen. Nooi hulle kombuis toe en laat hulle ook verwonderd staan terwyl die wit korrels miniatuur deurskynende albastertjies raak, met hier en daar ‘n korrel wat dwars trek en ‘n stippeltjie wit in die middel behou.

Jy hoef ook nie skeppend te raak met dinge soos klappermelk en ander eksotiese bestanddele nie; die ou manier van doen is perfek.  As  jy soos ek steranys by alles wil gooi, doen dit.  Jy kan dit in individuele koppies bak (soos ek met die karringmelk-poeding gemaak het). Of bedien dit met allerhande eksotiese strope en rome (sien onder vir ‘n paar idees). Of volstaan met die oumense se manier van doen.

Sagopoeding-maak is okkasie genoeg om ‘n blom-geborduurde lap  van my ouma uit die linnekas te gaan haal.  Ouma Gerrieda het blommetjierokke gedra, mooi ou borsspelde met pêreltjies  en kantsakdoekies voor by haar boesem ingedruk.

Dis een van daai poedings wat ‘n instelling is – die jaar mag nie verbygaan sonder sagopoeding nie. Vanjaar het die dag gekom op ‘n Sondag in die vroeë lente. Ek het oranje ranonkels, perses,  bottergeel  freesias en fyn loof  in eierkelkies gerangskik en saam op die poedingtafel uitgestal. Elkeen skep self op.

Terwyl ek met die skeplepel staan verwag ek enige oomblik dat een van my broers om die hoek van die eetkamer op my gaan afpyl….”Piekies eet padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!”

“Piekies eet paddaeiers”, het my broers gejil in ons jongdae om my af te sit sodat hulle meer sagopoeding het om te eet.

Fritz se Gunsteling – Sagopoeding met Steranys

Oorgenoeg vir 4 porsies en seconds ook. Maar hoekom ‘Fritz se Gunsteling’? Wel, ek het dit in drie kleiner bakkies gebak – een was bedoel vir die bure wat toe nie die dag by die huis was nie. Toe nooi ons  vir Fritz Brand, die man agter http://www.realmencancook.co.za om vir hom ‘n bak soet poeding te kom haal. Ons raak aan  die kuier om daai sago en kort voor lank word ‘n diep  band gesmee; sommer so half taai van die appelkoosjam. “Sommige breek brood; ons breek sagopoeding.” sê ek.

1 k sago (die klein korreltjies, nie tapioka nie – dit maak dalk die kinders bang)

Kaneelstokkie

3 kardomonpeule, opsioneel

2 steranys, opsioneel

4 koppies volroommelk (afgeroomde melk ook okay)

125 ml suiker (bruinsuiker kan ook interessant wees)

30 ml botter

Knippie sout

3 eiergele, liggies geklits

2 eierwitte, styfgeklits tot dit puntjies vorm

Appelkooskonfyt om te stip

Fyn kaneel (opsioneel)

Vir meringue

5 eierwitte

160 ml strooisuiker

Knippie sout

Metode

Verhit die oond tot 180°C. Kook die sago, melk en speserye saam oor lae hitte terwyl jy roer tot die korrels deurskynend is.  Verwyder die speserye. Roer suiker, botter en knippie sout by. Roer ‘n paar lepels van die warm mengsel by die geklitste eiergele (dit  voorkom ‘scramble’ eiers!). Haal kastrol van die hitte af en roer die eiergeelmengsel  by. Vou nou die styfgeklitste eierwit by die mengsel in (nie almal doen dit so nie – ek verkies dit om die mengsel minder ‘taai’ en meer pofferig te maak).

Skep in ‘n gesmeerde bak. Stippel met appelkooskonfyt.  Strooi kaneel oor.

Maak die meringue: Klits eierwit tot dit puntjies vorm, klits suiker bietjie vir bietjie by en knippie sout. Stapel meringue bo-op die sago en bak sowat 25 minute tot die vla gestol is en die meringue goudbruin is

Die poeding kan ook koud bedien word. Dan is dit baie lekker met ‘n vrugtestroop of coulis.

Wegbreek van tradisie

Koue somer-Sagopoeding van ‘n Finse webwerf. – ek hou van die inmaakflessie. http://www.dinmat.no

Alhoewel ek van my sagopoeding ou-skool hou, het ons soveel makliker toegang tot ‘n verskeidenheid bestanddele dat mens die geleentheid moet gebruik om ons kostradisie te verryk en rond te speel met smake.

  • Bedien met gestoofde gemengde droëvrugte (ook lekker koud)
  • Wissel die speserye af met Chinese 5-speserymengsel.
  • Drup gemmerstroop oor voor die meringue-laag opgesit word.
  • Wissel die appelkooskonfyt af met frambooskonfyt, suurlemoenmarmalade of appelliefiekonfyt (iets suurs is die lekkerste).
  • Kook  gedroogte nartjieskil saam met die sago en die melk – veral lekker in die winter.
  • Kook sultanas saam met die melk en die sago; bestrooi met gekapte kasjoeneute  of geroosterde amandelvlokkies of pistasieneute.
  • Lente-idee: Vir ‘n Persiese noot, roer ‘n paar druppels rooswater of lemoenekstrak by die melkmengsel (gebruik spaarsamig anders kan dit oorweldigend wees); dien op met versuikerde roosblare.
  • Somer-idee: skep die koue sagovlamengsel versigtig in klein Consul-glasflessies om individuele poedings te maak, giet ‘n lagie gesmelte bessiekonfyt oor  en bedek met Italiaanse meringue. As jy ‘n blaasvlam het, verbruin die meringue daarmee.
  • As jy jou sagopoeding modepop wil maak bak dit in cupcake vormpies – goeie idee van Huisgenoot.

    sagopoeding hoofbestanddele

     

%d bloggers like this: