“Ek bring vir jou ‘n Kersfeesbrood en ‘n sonneblom uit Bethlehem”, sê my vriend Hannes van my sonnige vrugtekoekteebroodjie.
So beier die klokke en trek die Kersfees-elwe hul rooi voorskote aan.
Ek trek weer saam met Food Lover’s Market die rooi emmertjie met hul luukse feestelike gemengde koekvrugte nader. Soos elke jaar het ek voor die Krismiskoek-kruispad gekom om te besluit watter styl en watse resep dit gaan wees:
- Die tradisionele roete neem of afdraai na iets nuuts?
- ‘n Beskonke of ‘n nugter koek?
- Familieresep of iets trendy met gin of kombucha?
- ‘n Kerktannie resep of iets raw en vegan uit ‘n moderne bakbybel?
- Luuks en oordadig of iets eenvoudig en beskeie?
- Iets diep en donker of goud en blond? Iets Latyns-Amerikaans soos Torte Navidad uit Venezuela, ryp gemaak op rum? Of ‘n drie-bestanddele vrugtekoek wat so ‘n Pinterest-darling is?
- Geborduur met glansvrugte, stroperige gemmerstukke en blink robyne kersies? Of ‘n alledaagse, vriendelike vrugtekoekbroodjie wat met botter, tee en simpatie (en ekstra marmalade) ‘n teenvoeter is vir die bittersoet van ‘n jaar.
Food Lovers Market het my geinspireer met die tema ‘om Kersfees huis toe te bring onder die Afrika Hemel’. Ek vertolk dit met die geel van sonneblomme, ‘n oranje-en-geel delikate doilie van my Ma Inez en die sitrusgeure van die lemoenboorde uit haar Clanwilliam-grootwordjare; sultana se goud en bruinsuiker se amber. Alles kleure van gasvryheid en warm mense wat sal hou van ‘n ‘Kom-drink-by-my-Tee’ vrugtekoekteebroodjie.
Dis ‘n Plain Jane sonder slimstories en kreatiewe kinkels. En juis daarom kies ek vanjaar dit. ‘n Koek wat jy maak sommer net omdat dit lekker is om te lewe. ‘n Herinnering dat vieringskoeke nie net vir high days en holidays is nie. Haal vandág jou beste teekoppies uit. Draai vandág die deksel af van daardie flessie duur marmalade wat jy te jammer is om te eet. Maak ‘n blompot vol sonneblomme, nooi iemand oor wat dalk alleen en verlore voel en eet koek.
Dis so ‘n maklike koekbrood dat dit al jou verskonings wegneem om nie iets feestelik te bak nie. Als word in een bak aangemaak, geen rypmaak en maande se voer met drank nie, geen peperduur bestanddeke nie, geen geweek of opsny van vrugte nie.
Dis so ekonomies, so maklik, jy bak hom vanoggend en vanmiddag kan jy eet en uitdeel. Jy’t nie ‘n deftige Bundtpan nodig vir hierdie feestelike vrugtekoekbroodjie nie, ‘n broodpan doen die ding. Hierdie resep is genoeg vir twee koekbroodjies: een is vir jou en die buurvrou, die ander een gee jy weg. Eet dit met goeie botter, goeie tee en goeie geselskap.
Ek gee onderaan die resep inligting oor die groot #FoodLoversMarket Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.
Marmalade-Kersfeesbrood
700 g Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix
100 g glanskersies, liggies In meel gedompel en afgeskud
250 g botter, kamertemperatuur
6 groot eiers
120 ml vars lemoensap of melk
60 ml goeie marmalade of konfyt van jou keuse
250 g sagte bruinsuiker
500 g bruismeel
20 ml gemengde speserye
2,5 ml sout
Fyngerasperde skil van 1 groot lemoen
- Voorverhit die oond tot 170°C of 150°C waaieroond. Stel jou oondrak net onder die middelste rak. Spuit 2 broodpannetjies met kleefvrye sproei, voer uit met bakpapier sodat die lang kante oorhang. Dit maak dit makliker om later die koekbroodjie uit te lig.
- Plaas die botter, eiers, lemoensap of melk, konfyt, suiker, bruismeel, gemengde speserye, sout en fyngerasperde skil in die bak van die staanmenger of voedselverwerker. (Ek gebruik die K-hegstuk van my Kenwood). Meng goed deur sonder om te oormeng, en skraap die kante halfpad.
- Voeg die koekvrugtemengsel en glanskersies by en meng dit met ‘n houtlepel deur die beslag. Verdeel die beslag tussen die twee panne, maak dit mooi gelyk bo en tik elke pan 5 keer op die werkoppervlak. Trek ‘n streep met ‘n mes deur die bokant, dit kan help dat dit nie met ‘n bult rys nie (hoewel ‘n heuweltjie my nie pla met iets so informeel soos hierdie tee-dingetjie nie.
- Bak vir 80 minute. Steek nou ‘n toetspen (my ma het ‘n dun breinaald gebruik) in die middel en as dit skoon uitkom is dit gaar. Indien nog nie deurgaar nie, bak nog 10 minute en toets weer. Herhaal tot gaar.
- Haal uit die oond, laat staan 15 minute en keer uit op ‘n draadrak. Borsel marmalade oor die bokant.
- Bêre In ‘n lugdigte houer en hou die bakpapier aan tot jy dit gaan sny. Dit kan ook in kleefvrye plastiek of waspapier toegedra word, maar net nie foelie nie. Die teebroodjie is op sy lekkerste na twee dae, maar wie wil wag om fees te vier as jy vandag al iemand wat tee en simpatie ndig het kan bederf?
Wenke: hierdie vrugtekoekbroodjie is ‘n lekker spanningsvrye storie, wat nie soveel drukpunte het soos ‘n swaarder, vrugtebelaaide tradisionele vrugtekoek gewoonlik het nie. So niks van ‘n toedraaiery van jou pan met lae bruinpapier of koerantpapier nie. Wat jy wel moet dophou is dat dit nie te donker bak aan die bokant nie.
- plaas jou oondrak een verstelling onder die middelrak.
- ruil die panne na 50 minute om en roteer ook dat die voorkante na agter wys.
- bedek liggies met bakpapier of foelie as dit te vinnig bruin word.
- as jy ligter kante verkies voer die pan met twee lae bakpapier uit.
- die baasbakkers plaas ook gewoonlik ‘n bakkie water in die oond; die stoom help teen brand en uitdroog.
Ek gebruik Food Lover’s Market se legendariese Luxury festive cake mix in die rooi emmertjie wat al vir 25 jaar ‘n Kerstyd-instelling is. Dis gerieflik, want die koekvrugte is alles klaar opgesny en gemeng. Dis ekonomies (R79. 99 per kg) en is eksklusief tot hul takke landwyd.
Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.
Die prys is ‘n lieflike houtkrat vol Food Lovers Market produkte met baktoerusting soos die legendariese rooi emmertjie, so ook heerlike feestelike gebak en Kerslekkernye. Die wenner kry ook ‘n mengbak, handklitser én ‘n Bundtpan.
Skryf in deur hierdie skakel te volg
https://foodloversmarket.co.za/win/
Resep en stilering: Errieda du Toit
Fotograaf: Ian Du Toit
Lyk baie lekker, Errieda! Hoekom moet mens dit nie in tinfoelie toedraai nie?
Die vrugte kan reageer met die foelie. Veral as jy vrugtekoek rypmaak moet jy eers kleefplastiek gebruik en dan die foelie.