Tag Archives: omelet

Klits-Kuier met eier: die groot omelet-makietie (wen ‘n goudgeel klitser)

11 Oct

In die week nooi ek kosvriende op ‘n nippertjie: “Kom maak omelette saam met my!” Ek bel sommer; geen fêncy uitnodigings en formaliteite nie. En, voeg ek by, dis ‘n soort-van bring-en-kook-saam gedoente… ek gee die eiers en jy bring jou vulsel. Bring ook jou eie pan as jy kan, myne is maar dun en krom gekook na al die jare.

groep pic Eggs  4 S

Die gaste vir my omelet-makietie is Nic van Wyk (Diemersdal-sjef en Kokkedoor-bekende), Anél Potgieter (bekroonde blogger van ‘Life is a Zoo Biscuit en ‘all-round’ fantastiese maltrap, flambojante mens) en my ou pêl-so-groot-soos-’n-ysbeer Fritz Brand, wat manne op sy blog Realmencancook agter die stoof kry.

Die kuier het wel ‘n bymotief. Vrydag is dit Wêreld Eierdag, en ‘n lieflike verskoning vir my as eier-aktivis (‘eggtivist’) om die saak van eiers vir ons kombuis, ons gesondheid en ons beursie te stel.

As jy eiers in die huis het, het jy die begin van ‘n lekker kuier. ‘n Omelet sê aan jou vriende: ‘dankie, in jou geselskap kan ek net myself wees.’ ‘n Lekker omelet is kulinêre ‘old money’ – ‘n gereg wat weelde ken, maar dit nie aan die groot klok hang nie (souffles is meer die uithaal-en-wys onthaaldis).

Elizabeth David, die Britse kosskrywer beskryf hoe om ‘n ete rondom ‘n omelet en ‘n glas wyn te beplan.  ‘Begin dalk’, raai sy aan, ‘met ‘n snytjie tuisgemaakte patee en ‘n paar olywe. Agterna ‘n vars slaai met ‘n stuk lekker romerige ryp kaas of sommer net vars vye en aarbeie.’ Daarom is my kombuis nooit sonder minstens ‘n dosyn eiers en koue wyn nie.

aaa eiers

Maar kyk, daar is omelette en daar is o.m.e.l.e.t.t.e – soos Omelet Molière wat ek juis uit David se skrywes geleer maak het: om ‘n eetlepel fyngerasperde parmesaan en peper saam met drie eiers te klits; ‘n pan warm te maak en die vlam op te draai wanneer ‘jy ‘n eetlepel botter ingesit het; dan word die eiermengsel ingegeooi net voor die babbelende botter begin bruin word. Dan ‘n eetlepel Gruyère en ‘n lepel room by.

Ek dwaal af. Terug by die omelet-partie. Ek het ‘n paar dosyn eiers gekoop, party vir tafelversiering saam met goudgeel rose en krisante wat ek in eierkelkies gesit het. Borde op ‘n stapel gepak en wyn in die yskas. Fritz is die eerste gas, met bestanddele vir sy nuutskepping – ‘n hibried tussen ‘n omelet en spaghetti carbonara . Slim kind, hy bring sy eie mengbakke en klitser saam.  Sy geheime wapen is ‘n tipe bacon van varkwange – ‘n Italiaanse rariteit – wat hy bros braai soos kaiings. So vinnig soos hy sy ‘carbonette’ (of is dit omenara?) optower, so vinnig moet hy nog maak. Ja, ‘real men can cook an omelette’, bewys Fritz.

aaa collage fritz

Sikloon Anel warrel my kombuis in, gekneus deur ‘n blou Maandag. Soos sy klits aan haar peer-en-brandewyn soetomelet raak haar glimlag net breër.  Die pere prut praterig in die bruin botter, dan gooi sy die geklitste eier by. Ek hou my asem op toe sy die brandewyn oorgooi. Dan volg die drama van vlamme en die verrassing van ‘n soet omelette saam met die soutigheid van die botter. You rock, Anella.

aa anel collage

My uitdaging aan sjef Nic was om vir ons ‘n sjeffie-omelet te kom maak. Dit doen hy so casual soos net hy kan wees. ‘n ‘King & Queen Omelette’ met truffelolie en sampioenstof . “Op sy lekkerste met sjampanje”, vertel hy en vou die romerige omelet meesterlik om en om. Drup-drup die truffelolie, strooi-strooi die fyngekapte grasuitjies, en rond af met die sampioenpoeier wat hy in die oond gedroog en toe fyngemaal het. Umami, mmmm.  Anel swymel, ek probeer skelm meer as my deel inskep. Fritz lek sy lippe en sy vingers af.

aaa collage nic

Toe is dit my beurt. Ek haal my beste partie-truuk uit – die wonderwolk-omelet wat ek by Ria Steyn van Prins Albert geleer het. Die tegniek wat die angel uit omelet-maak haal is dat die styfgeklopte eierwit nie by die eiergeel ingevou word nie, maar eerste in die pan gegooi word. Dan volg die eiergeel – en die geheim is dat jy niks roer nie. Staan net in verwondering en kyk  hoe die eiergeel sy lê kry onder die wolk van eierwit.

Al die gepof  vra ‘n eenvoudige aanslag. Net kaas, soos die Franse omelette au fromage.

“Jislaaik, kyk hoe pof hy. Maak jy Baked Alaska?”, spot-vra Fritz en doop summier my pof-poging Die Omelaska!

aaa collage erried

KAAS-OMELASKA

 Dit vra net eiers, botter, neutmuskaat en gerasperde kaas. En omdat ek van rooi op die bord hou ‘n trossie tamaties-aan-tak wat ek skrikgemaak het in ‘n riffelpan.

2-eier omelet per persoon

 Bestanddele:

 2 eiers

Sout en peper na smaak

Gerasperde neutmuskaat

Stewige klontjie botter (nie margarien nie)

Gerasperde kaas

Skei die eiers. Klits die eierwitte tot dit stywe punte vorm. Gooi 15 ml kraanwater by die eiergeel in ‘n bakkie en klits tot skuimerig. Geur met sout en peper. Smelt botter in ‘n medium pan tot dit net begin sis en raas, gooi eierwit in pan en giet geklitste eiergeel bo-oor. Moenie roer nie. Bak tot goudbruin onder en die eierwit geset maar nog wolkerig. As jy wil kan jy die omelet met pan en al vir ‘n minuut onder die roosterelement plaas om die bokant hitte te gee. Gooi die omelet-vulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan.

KONINKLIKE OMELET, TRUFFELOLIE EN SAMPIOEN-STOF

Hierdie omelet van Sjef Nic Van Wyk is ‘n ware ‘rags to riches’ storie; ‘n alledaagse eier wat as adellike gekroon word. Eiers is so bekostigbaar dat jy maar bietjie kan belê in ‘n klein botteltjie truffelolie.

*Nic maak die sampioenstof van cepsampioene se skilletjies wat oornag in die oond uitgedroog en dan fyngemaal word – jy kan klaargedroogte ceps koop en self fyn maal.

4 eiers

30 ml melk

10 g botter

Sout en witpeper

25 g kaas soos Huguenot of ligte gruyere

1 ml of ‘n paar druppels wit truffel-olie

Grasuie, gekap

Sampioene-stof*

Kilts die eiers, melk, sout en peper saam.  Verhit ‘n kleefvrye 20 cm pan (nie te warm nie), smelt die botter en giet die geklitse eiers in die pan. Roer baie effens van buite af binne toe. Kook 2 minute, gooi die kaas en sampioenstof oor en plaas in ‘n warm oond vir nog 2 minute. Die eier met nog romerig-loperig wees. Haal uit, strooi grasuie oor en ‘n paar druppels truffelolie. Vou die omelette toe, gly uit op die bord en bedruip met nog ‘n paar druppels van die truffelolie. Rond af met die grasuie en bedien.

WEN ‘n KENWOOD KMix handmenger met komplimente van die Suid-Afrikaanse eierboereKenwood

Drie Huiskok Glanskok-luisteraars kan elk ‘n lieflike goudgeel Kenwood Trimix (met drie aanhegsels) ter waarde van R1 000  wen. Dankie aan die eierboere van Suid-Afrika wat dit geskenk het sodat ons Wereld Eierdag kan vier.

Om in te skryf:  Stuur jou naam en kontakbesonderhede, tsaam met jou antwoord op die kompetisievraag aan my e-pos errieda@edtpr.co.za . Dui in die onderwerplyn aan ‘RSG/Huiskok Wereldeierdag-kompetisie’. (Net een inskrywing per persoon)

Kompetisievraag: Noem een rede hoekom die Huiskok van eiers hou. (Lees hieronder vir leidrade)

Sluitingsdatum: Saterdag, 12 Oktober om 20h00

Hoekom Die Huiskok van eiers hou:

 – om elke dag ‘n eier te eet is gesond – en medici stem saam. Daardie ou opvattings oor eiers is  hersien en ek kan na hartelus ‘n eier ‘n dag eet.

– Ek verkies om my Vit D op ‘n natuurlike wyse in te kry. Eiers help bou spiere, sterk bene en tande.

– Ek begin my dag met ‘n gekookte eier – dis vinnig, voedsaam en hou my vir langer vol as koolhidrate.

– Eiers is goed vir oog-gesondheid, want dit bevat die anti-oksidante lutein en zeaxhantin.

– Dit is baie goed vir Ma Inez, nou 85, om daagliks eiers te eet, want dit bekamp spierverlies wat met veroudering saamgaan. Eet jou eiers, moedertjie.

– Eiers is uitstekend vir swanger vroue: Die cholien in eiers help voorkom geboorte-defekte en bevorder breinontwikkeling.

Vir meer inligting oor Wêreld Eierdag of eiers besoek www.worldeggday.com of www.sapoultry.co.za

DANKIE AAN ROXY LAKER VIR DIE FOTO’S

Pofomelet uit Prins Albert en Appelkoospoffertjies uit my onthouspens

25 Jan

Dennhof collage met pofomelet

{WONDERWOLK VAN ‘N OMELET}

Ek het tot ‘n paar dae gelede gedink ek kan ‘n omelet maak – ‘n redelike goeie een – tot ek met die moeder van alle omelette kennis gemaak het by ‘n gastehuis in die hartjie van die Karoo. Dit was tydens ‘n kosbesoek aan Prins Albert en ons by Dennehof Karoo Gastehuis oorgeslaap het.

Die vorige aand al het Mark en Paul, reisgenote, vertel dat ek nie moet uitmis op brekfis nie, want die omelet is glo legendaries. Toe die kelner trots die pofomelet voor my neersit het ek eers in oooo’s en aaaaa’s uitgebars voor ek aan die eet kon kom.  Dis nie ‘n omelet nie, eerder ‘n wonderwolk. ‘n Geelbruin jas wat uit sy nate uit bars van die wolk wat uit hom uitbeur.

Die Karoo-mense deel mos graag en sommer in die stap terug kar toe vertel Ria Steyn, eienaar-kok, hoe om die wonderwolk aan mekaar te slaan. Die eerste oggend terug by die huis moes ek dit net probeer: en het weer verstom gestaan vir die manjifiekheid van my vroegoggend-skepping. Maar dis spog met ‘n ander man se kalwers. Dankie Dennehof dat julle my omelet-horison verbreed het.

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk' soos ek dit gedoop het

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk’ soos ek dit gedoop het

DENNEHOF SE POFOMELET

Ek doop hierdie omelet ‘Dennehof se Wonderwolk’. 

Skei twee eiers, klits die eierwit goed styf, klits die eiergeel (ek gooi  1 eetlepel kraanwater by). Geur eiergeel met sout en peper. Smelt botter in die pan, gooi die geklitste eierwit in die pan en giet dan die geklitste eiergeel bo-oor. Net dit – jy roer nie, jy staan net in verwondering hoe die eiergeel sy lê kry onder die wolk van eierwit in. Bak dit tot goudbruin onder en die eierwit gestol maar nog wolkerig. Gooi jou omelet-vulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan tot op jou mooiste brekfis bordjie.

{POFFERTJIES UIT MY ONTHOUSPENS}

Die laaste ryp appelkose het my so uitdagend gelê en loer: “Maak iets lekkers met ons.”  Ek het die somer reeds ‘n Midde-Oosterse jogurt- en appelkooskoek gemaak, maar het nie veel bestanddele in die huis gehad vir fency goed nie.  Dis toe wat ek dink aan my ma wat altyd so woeps-waps vrugtepoffertjies aanmekaar kon slaan al was daar net ‘n appel of piesang in die die vrugtebak oor.

appelkose op hul eie

My ryp appelkose is in my ma se poffertjie-beslag gedoop en goudbruin gebraai – en omdat die hart van die poffertjies so soetsuur van die appelkose was, het ek nie net die kaneelsuiker nader getrek nie, maar ook esdoringstroop wat ek met ‘n paar druppels lemoenbloeiselwater gegeur het….. net om die surigheid te tem.

poffertjies mooi

 Appelkose hou ook van spesery soos kardomom en word baie gevlei deur amandelgeure. Marsepein en appelkose klink vir my na ‘n forever-after paartjie; nie iets wat my ma saam met haar vrugtepoffertjies sal bedien nie, maar sy het ‘n avontuurlike dogter grootgemaak.

 VRUGTEPOFFERTJIES

Die beslag kan gebruik word om stukkies vrugte in te doop. Bedien dit tradisioneel of maak ‘n eksotiese stropie.

120 g  (250 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

Knippie sout

25 ml suiker

1 eier, geklits

75 ml melk of bietjie meer

12,5 ml gesmelte botter

Vrugte van jou keuse: soos appel, appelkoos, perske, pynappel, piesang,

Metode:

Sny die vrugte van jou keuse in gerieflike stukke gesny. Sprinkel suurlemoensap oor vrugtestukke wat kan verkleur, soos appel en piesang) – ek het appelkose in kwarte gesny.

Sif droë bestanddele saam en maak met die eier, melk en botter tot ‘n glad beslag aan.

Voeg nog ‘n bietjie melk by as dit te styf is. Moenie te slap maak nie, anders sal die poffertjies nie fatsoen hou nie.

Verhit olie in kastrol. Gebruik ‘n vurk en doop voorbereide vrugtestukke in doopbeslag, dreineer effe. Braai in warm olie (170°C) tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Strooi kaneelsuiker of strooisuiker oor. Loperige heuning of esdoringstroop, gegeur met ‘n paar druppels lemoenwater is ook lekker, veral met ‘n surerige vrug.

Kontakdetails: Dennehof Karoo Gastehuis

Tel 023 5411 227

http://www.dennehof.co.za

%d bloggers like this: