Pofomelet uit Prins Albert en Appelkoospoffertjies uit my onthouspens

25 Jan

Dennhof collage met pofomelet

{WONDERWOLK VAN ‘N OMELET}

Ek het tot ‘n paar dae gelede gedink ek kan ‘n omelet maak – ‘n redelike goeie een – tot ek met die moeder van alle omelette kennis gemaak het by ‘n gastehuis in die hartjie van die Karoo. Dit was tydens ‘n kosbesoek aan Prins Albert en ons by Dennehof Karoo Gastehuis oorgeslaap het.

Die vorige aand al het Mark en Paul, reisgenote, vertel dat ek nie moet uitmis op brekfis nie, want die omelet is glo legendaries. Toe die kelner trots die pofomelet voor my neersit het ek eers in oooo’s en aaaaa’s uitgebars voor ek aan die eet kon kom.  Dis nie ‘n omelet nie, eerder ‘n wonderwolk. ‘n Geelbruin jas wat uit sy nate uit bars van die wolk wat uit hom uitbeur.

Die Karoo-mense deel mos graag en sommer in die stap terug kar toe vertel Ria Steyn, eienaar-kok, hoe om die wonderwolk aan mekaar te slaan. Die eerste oggend terug by die huis moes ek dit net probeer: en het weer verstom gestaan vir die manjifiekheid van my vroegoggend-skepping. Maar dis spog met ‘n ander man se kalwers. Dankie Dennehof dat julle my omelet-horison verbreed het.

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk' soos ek dit gedoop het

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk’ soos ek dit gedoop het

DENNEHOF SE POFOMELET

Ek doop hierdie omelet ‘Dennehof se Wonderwolk’. 

Skei twee eiers, klits die eierwit goed styf, klits die eiergeel (ek gooi  1 eetlepel kraanwater by). Geur eiergeel met sout en peper. Smelt botter in die pan, gooi die geklitste eierwit in die pan en giet dan die geklitste eiergeel bo-oor. Net dit – jy roer nie, jy staan net in verwondering hoe die eiergeel sy lê kry onder die wolk van eierwit in. Bak dit tot goudbruin onder en die eierwit gestol maar nog wolkerig. Gooi jou omelet-vulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan tot op jou mooiste brekfis bordjie.

{POFFERTJIES UIT MY ONTHOUSPENS}

Die laaste ryp appelkose het my so uitdagend gelê en loer: “Maak iets lekkers met ons.”  Ek het die somer reeds ‘n Midde-Oosterse jogurt- en appelkooskoek gemaak, maar het nie veel bestanddele in die huis gehad vir fency goed nie.  Dis toe wat ek dink aan my ma wat altyd so woeps-waps vrugtepoffertjies aanmekaar kon slaan al was daar net ‘n appel of piesang in die die vrugtebak oor.

appelkose op hul eie

My ryp appelkose is in my ma se poffertjie-beslag gedoop en goudbruin gebraai – en omdat die hart van die poffertjies so soetsuur van die appelkose was, het ek nie net die kaneelsuiker nader getrek nie, maar ook esdoringstroop wat ek met ‘n paar druppels lemoenbloeiselwater gegeur het….. net om die surigheid te tem.

poffertjies mooi

 Appelkose hou ook van spesery soos kardomom en word baie gevlei deur amandelgeure. Marsepein en appelkose klink vir my na ‘n forever-after paartjie; nie iets wat my ma saam met haar vrugtepoffertjies sal bedien nie, maar sy het ‘n avontuurlike dogter grootgemaak.

 VRUGTEPOFFERTJIES

Die beslag kan gebruik word om stukkies vrugte in te doop. Bedien dit tradisioneel of maak ‘n eksotiese stropie.

120 g  (250 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

Knippie sout

25 ml suiker

1 eier, geklits

75 ml melk of bietjie meer

12,5 ml gesmelte botter

Vrugte van jou keuse: soos appel, appelkoos, perske, pynappel, piesang,

Metode:

Sny die vrugte van jou keuse in gerieflike stukke gesny. Sprinkel suurlemoensap oor vrugtestukke wat kan verkleur, soos appel en piesang) – ek het appelkose in kwarte gesny.

Sif droë bestanddele saam en maak met die eier, melk en botter tot ‘n glad beslag aan.

Voeg nog ‘n bietjie melk by as dit te styf is. Moenie te slap maak nie, anders sal die poffertjies nie fatsoen hou nie.

Verhit olie in kastrol. Gebruik ‘n vurk en doop voorbereide vrugtestukke in doopbeslag, dreineer effe. Braai in warm olie (170°C) tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Strooi kaneelsuiker of strooisuiker oor. Loperige heuning of esdoringstroop, gegeur met ‘n paar druppels lemoenwater is ook lekker, veral met ‘n surerige vrug.

Kontakdetails: Dennehof Karoo Gastehuis

Tel 023 5411 227

http://www.dennehof.co.za

10 Responses to “Pofomelet uit Prins Albert en Appelkoospoffertjies uit my onthouspens”

  1. Anel Potgieter January 28, 2013 at 3:05 pm #

    Stom geslaan – nog nooit gehoor van die metode nie – dit lyk wonderwolk-heerlik! En ek praat nie eers van die poffertjies nie!

    • huiskok January 30, 2013 at 10:00 pm #

      Ek het behoorlik op ‘n soektog gegaan om die oorsprong hiervan te kry, maar helaas. Dis eintlik so logies – ons is egter so gewoond om altyd eierwit in te vou! Dis die ideale resep vir die vinnige dramatiese brekfis gereg. Ian en ek maak dit ook vir middagete en sny dan net ‘n paar tamaties wat op die vensterbak ryp word vir ‘n slaai (en bietjie kleur)

  2. flippenblog January 26, 2013 at 5:09 pm #

    Nou le ek die goed en lees terwyl ek juis in n gastehuis is. Wonder hoe hulle sal voel as en opslag in hulle kombuis intrek en begin poffers maak. Kwylend.

    • huiskok January 26, 2013 at 5:39 pm #

      Funny! Ek het nou by jou blog ook gaan inloer en gaan lekker kuier daar!

  3. Smitswinkel in die Klein Karoo January 25, 2013 at 7:31 pm #

    Dit lyk BAIE lekker – ek gaan dit sommer nou probeer!

    • huiskok January 26, 2013 at 5:40 pm #

      Hoop jou omelet pof vir jou soos ‘n pou!

  4. notsoskinnycook January 25, 2013 at 11:51 am #

    Goeiste maar die wolke-omelet lyk al te heerlik… sou nooit self daaraan gedink het om dit so te maak nie… kan nie wag om dit ook te probeer nie. Die poffertjies lyk ook al te verleidelik…

    • huiskok January 25, 2013 at 1:02 pm #

      laat weet onmiddellik wanneer jy dit self probeer het – net so lekker vir ‘n middagete.

  5. nina January 25, 2013 at 9:24 am #

    So bly jy is terug….. die pof omelet lyk verruklik, maar o weee, daai poffertjies sal Eva twee keer laat kyk na daai verlydelike verbode vrug!!!

    • huiskok January 25, 2013 at 10:19 am #

      Hi Nina, kyk – ek ploeg met ‘n ander vroue se kalwers by my huismense met daai omelet. Is die poffertjies te krom en skeef vir Eva?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: