Tag Archives: pastei

Huiskok se vrugteslaaipaai – Aarbei, bessie en basiliekruidpastei

28 Jan

As die lewe jou vrugte gee, maak vrugteslaai, of beter selfs – ‘n landelike vrugteslaaipaai. ‘n Paai met ‘n bedwelmende parfuum en surrealisties mooi.

skreeupienk mooi

Somer is juis so ‘n seisoen van oorvloed. Aangevuur deur my huidige bakobsessie wil ek net van alles iets maak wat kan oond toe. Ek stuur my nie aan die hitte nie; trek net die kombuisskuifdeure wyd oop sodat die briesie my kan afkoel. ‘n Resep vir ‘n gebakte aarbei-pastei trek my aandag. In my yskas is daar juis vars aarbeie, bloubessies en klein swart vytjies wat ek vir ontbyt aanhou. In die vrugtebak op die eetkamertafel is daar ‘n paar ryp pruime en nektariens wat ook deel van die slaai-paai kan word.surreal vragte in bak

In ritme met die somer vra vars vrugte die groen smaak van vars kruie, eerder as die hartliker, warmer speseryegeure van kaneel en naeltjies. Om by die idee van die vrugteslaai-paai te bly word basielkruid, balsemiek-asyn en swartpeper die geurmiddels. Basielkruid is veral lief vir perskes, appelkose, bloubessies. Ander kruie en vrugte wat dik pelle is: druiwe of aarbeie met roosmaryn; kruisement met frambose; tiemie met perske. surreal pastei half close up top shot

AARBEI, BLOUBESSIE EN BASIELKRUIDPASTEI

Deeg:

1k (225g) yskoue ongesoute botter in klein blokkies gesny

½ k (125 ml) volroommelk, gemeng met 1 E appelasyn (koud) + ekstra 15 -20 ml indien nodig

3 k (340g) meel (koud)

1 E mielieblom

2 E (30 ml) suiker

1 ½ t sout

Sif die meel, mielieblom, suiker en sout saam in ‘n koue bak, voeg die koue blokkies botter by en sny dit by die meel in tot dit soos ertjies lyk. Ek gebruik eerder ‘n deegsnyer as my vingerpunte wat die botter sal laat smelt. Sprinkel net genoeg van die melk-met-asyn oor die meel om dit aan te klam. (As die deeg nog te droog is, voeg nog vloeistof lepel op ‘n slag by tot die konsistensie reg is. Druk dit met ‘n vurk aanmekaar MAAR MOENIE dit knie nie. Vou in kleefplastiek toe en laat rus in die yskas (minstens 1 uur).

*Die deeg kan ook in ‘n voedselverwerker gemaak word.

Voorverhit die oond tot 220C en rol solank die een helfte van die deeg in ‘n sirkel uit sowat 28 cm deursnit, voer die tertpan uit en plaas in die yskas. , bedek met kleefplastiek.

Nou maak jy die ‘slaai’ vir die vulsel:

In ‘n mengbak meng sowat 7 koppies vrugte soos aarbeie, bloubessies, vye, nektariens of pruime, opgesny, en gooi 12 opgekapte basielkruidblare, 3 E balsemiekasyn en skil van 1 suurlemoen.

In ‘n aparte bak meng ¾ k suiker, ¼ k mielieblom, 1 t varsgemaalde swartpeper en ‘n ¼ t sout.  Net voor jy die vulsel in die tertpan skep, tip die vrugte daarby in en meng sommer met die hande deur.

Smeer die rand van die kors met ‘n eierwas (1 eier gemeng met  ¼ k water) of met melk.  Skep die vulsel in. Rol nou die ander helfte van die deeg uit op ‘n meelgestrooide oppervlakte en sny in 6 breë stroke, plaas dit in ‘n weefpatroon (of hoe jy verkies) oor die vrugtevulsel.

Vou die oorhang deegstukke om, en crimp ‘n mooi sierrand. Bestryk nou die deeg met eierwas, strooi bruinsuiker oor.  Sit die tertbak op ‘n oondrak wat enige souse wat uitborrel kan opvang. Bak die eerste 30 minute by 220C, verminder die hitte na 180C en bak ‘n verdere 30 tot 40 minute tot die kors goudbruin is en deurgebak wees; en die sous verdik het. ‘n Goeie aanduiding is dat die stroop in die middel sal borrel, dan’s dit reg.

Laat afkoel vir minstens ‘n uur. Dit kan teen kamertemperatuur of effe louwarm geniet word. Dit hou ‘n week in die yskas of tot 2 maande in die vrieskas.

Up close and personal met 'n vrugteslaaipaai

Up close and personal met ‘n vrugteslaaipaai

 Vir inspirasie, lees First Prize Pies, deur Allison Kave wat ‘n ‘pie-shop’ het in New York.

Bees, bier en gortpot met lemoengremolata

7 Jun

Hierdie stowegereg is so souserig en diep-behaaglik dat die Sop-familie dit wil aanneem as hul eie. Maar nee wat, die beesvleis-, bier- en gortpot maak homself groot; jy gee hom aandag aan die begin en verder sorg die pot vir homself in die oond.

aaaaa IMG_8551 resize in bord mooier resized

Ek het dit aanvanklik begin maak toe ons na ‘n werksprojek  heelwat ‘craft’ bier in die yskas gehad het. Nie ‘n groot bierdrinkers nie, behalwe op ‘n baie warm dag of dalk om die braaivleisvuur,  het ek dit eerder vir kosmaak begin gebruik. Ek moet byvoeg dat daar nou gereeld ‘n ‘swig’ van die bier gevat word tussen die kosmaak deur….

Met dié dat ons die bief-, bier- en gortpot nou omtrent weekliks maak, wissel ek die beessnitte af, soms met kortrib, soms met beesstert, of ‘n kombinasie daarvan. Soms kom daar ‘n bietjie groente by (tamatie en ertjies) as ek kleur in die pot soek. Ek wissel selfs die tipe bier af – ale, lager, milk stout – altyd met sukses. Kortom, dis ‘n never a dull moment tipe resep: daar’s altyd ‘n variasie op die tema.

aaaaa biefpastei MG_7328 SmallBly daar oor van die gereg, pluis ek die vleis van die bene af,  gooi ‘n degie oor en voila: bees- en bier pastei.

Dit kort nie juis bykosse nie – dalk net ‘n slaaitjie vir voor of na die tyd (Ek’s maar langtand vir slaai in die winter.) ‘n Vorige keer het ek murgpampoentjies in olyfolie gebraai en met goeie asyn besprinkel. Gisteraand weer het ek blomkool opgesny, gegeur met sout, peper en paprike; en dit in ‘n warm oond gerooster. Daarna parmesaankaas oorgerasper en onder die gloeiende element laat smelt.

As jy , soos ek, baie goeie 30 jaar-oue sjerrieasyn op Prins Albert se markie gekoop het, sprinkel jy ‘n paar druppels daarvan oor as jy dit opdien.

Hier is die basiese resep, wat jy self kan varieer. Solank jy minstens 3 ure het vir die beesstert om sag te kook nie, gaan die beloning groot wees. Dis ook ideaal vir die prutpot (slow cooker of crockpot).

Bees-, bier- en gortpot

6 porsies

 1 beesstert, oortollige vet afgesny

1 kg kortrib, opgesny in korter stukke

Sout en peper

Olie vir verbruining van vleis en uie

2 groot uie, opgekap

3 knoffelhuisies, gekap

3 medium wortels, geskil en opgesny soos jy van jou wortels hou (of jy kan 2 koppies bevrore gemengde groente bygooi as die gereg halfpad gaar is)

2 steranys (opsioneel – vervang met 6 korrels wonderpeper)

2 blikkies bier

500 ml biefekstrak +ekstra indien nodig

375 ml gort (pearl barley)

30 ml goeie asyn soos sjerrieasyn (as jy net gewone asyn het, net 10 ml)

Pietersielie, gekap

Vir Lemoen-gremolata: Meng skil van 2 lemoene, 2 baie fyn gekapte of gerasperde knoffel en 125 ml gekapte pietersielie.

Metode

Verhit oond tot 160°C. Geur die vleis baie goed met sout en peper. Verhit 2 E olie in oondvaste kastrol en braai die vleis alkante bruin. Skep uit en hou eenkant. Braai die uie liggies, gooi die knoffel, steranys en wortelstukke by en soteer sowat 4 minute. Skep die vleis terug, gooi bier en beesaftreksel by, sit deksel op en bak in die oond vir 90 minute.

Gooi die gort by, roer deur en voeg nog beesaftreksel (of bier as jy het) by indien dit te droog is (die gort het vloeistof nodig om sag te raak). Gooi die asyn by. Bak nog 90 minute tot die vleis van die bene afval. Hou net dop dat daar genoeg vloeistof is – en vul aan met bier, vleisekstrak of selfs bietjie water. Moenie te veel deurroer nie, want jy wil nie gortpap maak nie! Proe en geur na smaak.

Sit die kasserol-bak sommer op die tafel en laat jou huismense vir hulself in diep bakkies opskep. Strooi die gremolata oor.

IMG_7291 Small

Ek maak sommer ‘n groot pot vol en omskep wat oorbly in mini  bees-, bier en gortpasteitjies; haal net die beentjies vooraf uit.

%d bloggers like this: