Hierdie stowegereg is so souserig en diep-behaaglik dat die Sop-familie dit wil aanneem as hul eie. Maar nee wat, die beesvleis-, bier- en gortpot maak homself groot; jy gee hom aandag aan die begin en verder sorg die pot vir homself in die oond.
Ek het dit aanvanklik begin maak toe ons na ‘n werksprojek heelwat ‘craft’ bier in die yskas gehad het. Nie ‘n groot bierdrinkers nie, behalwe op ‘n baie warm dag of dalk om die braaivleisvuur, het ek dit eerder vir kosmaak begin gebruik. Ek moet byvoeg dat daar nou gereeld ‘n ‘swig’ van die bier gevat word tussen die kosmaak deur….
Met dié dat ons die bief-, bier- en gortpot nou omtrent weekliks maak, wissel ek die beessnitte af, soms met kortrib, soms met beesstert, of ‘n kombinasie daarvan. Soms kom daar ‘n bietjie groente by (tamatie en ertjies) as ek kleur in die pot soek. Ek wissel selfs die tipe bier af – ale, lager, milk stout – altyd met sukses. Kortom, dis ‘n never a dull moment tipe resep: daar’s altyd ‘n variasie op die tema.
Bly daar oor van die gereg, pluis ek die vleis van die bene af, gooi ‘n degie oor en voila: bees- en bier pastei.
Dit kort nie juis bykosse nie – dalk net ‘n slaaitjie vir voor of na die tyd (Ek’s maar langtand vir slaai in die winter.) ‘n Vorige keer het ek murgpampoentjies in olyfolie gebraai en met goeie asyn besprinkel. Gisteraand weer het ek blomkool opgesny, gegeur met sout, peper en paprike; en dit in ‘n warm oond gerooster. Daarna parmesaankaas oorgerasper en onder die gloeiende element laat smelt.
As jy , soos ek, baie goeie 30 jaar-oue sjerrieasyn op Prins Albert se markie gekoop het, sprinkel jy ‘n paar druppels daarvan oor as jy dit opdien.
Hier is die basiese resep, wat jy self kan varieer. Solank jy minstens 3 ure het vir die beesstert om sag te kook nie, gaan die beloning groot wees. Dis ook ideaal vir die prutpot (slow cooker of crockpot).
Bees-, bier- en gortpot
6 porsies
1 beesstert, oortollige vet afgesny
1 kg kortrib, opgesny in korter stukke
Sout en peper
Olie vir verbruining van vleis en uie
2 groot uie, opgekap
3 knoffelhuisies, gekap
3 medium wortels, geskil en opgesny soos jy van jou wortels hou (of jy kan 2 koppies bevrore gemengde groente bygooi as die gereg halfpad gaar is)
2 steranys (opsioneel – vervang met 6 korrels wonderpeper)
2 blikkies bier
500 ml biefekstrak +ekstra indien nodig
375 ml gort (pearl barley)
30 ml goeie asyn soos sjerrieasyn (as jy net gewone asyn het, net 10 ml)
Pietersielie, gekap
Vir Lemoen-gremolata: Meng skil van 2 lemoene, 2 baie fyn gekapte of gerasperde knoffel en 125 ml gekapte pietersielie.
Metode
Verhit oond tot 160°C. Geur die vleis baie goed met sout en peper. Verhit 2 E olie in oondvaste kastrol en braai die vleis alkante bruin. Skep uit en hou eenkant. Braai die uie liggies, gooi die knoffel, steranys en wortelstukke by en soteer sowat 4 minute. Skep die vleis terug, gooi bier en beesaftreksel by, sit deksel op en bak in die oond vir 90 minute.
Gooi die gort by, roer deur en voeg nog beesaftreksel (of bier as jy het) by indien dit te droog is (die gort het vloeistof nodig om sag te raak). Gooi die asyn by. Bak nog 90 minute tot die vleis van die bene afval. Hou net dop dat daar genoeg vloeistof is – en vul aan met bier, vleisekstrak of selfs bietjie water. Moenie te veel deurroer nie, want jy wil nie gortpap maak nie! Proe en geur na smaak.
Sit die kasserol-bak sommer op die tafel en laat jou huismense vir hulself in diep bakkies opskep. Strooi die gremolata oor.
Ek maak sommer ‘n groot pot vol en omskep wat oorbly in mini bees-, bier en gortpasteitjies; haal net die beentjies vooraf uit.
Mmmmm Hierdie ene gaan ek traai.
Dit was een van die heerlikste winter geregte wat ek nog geeet het. Dankie!
En jy een van die beste kuiergaste!
Jinne dit lyk lekker. Winters kos. Sommer so lepel vol uit die yskas ook. Watwou!
Ek stem! Een lepel stew, een lepel koue sagopoeding, een lepel stew …..