Tag Archives: sampioene

Sampioene op roosterbrood, Rugby-kyk en eet op jou skoot

16 Aug

Vandag se Sondagkosstorie is ‘n annerste storie, een wat eintlik nie vra vir oorvertel nie.

image

Dis ‘n geval van opgewarmde winkel-lasagne, raap-en-skraap snipper-tamatie- en kropslaaislaai. Die kleinskrif op die foeliebak beweer dit voed 4, my alie. Toe die aanwysings- baktyd verby is, bibber die winkel-homemade dis nog onder die dun, bleek, uitgewaste witsous-kombers. Ek gee nog 10 minute en draai die oond warmer, en hoop vir ‘n kleurtjie.

Om my gewete te stil kry die slap skeppe gekoopte lasagne ‘n ordentlike buurman van Portabellini sampioene op goeie brood.

 

Ma Inez, gewoond aan eksotiese Sondagreise uit my hand gee die spulletjie een kyk en dring aan op haar gewone winkelbrood-toebroodjies lig gesmeer met Rama of iets dergeliks erg. En ‘n Bakkie joghurt. Dit gee Annamie vir haar op Ma se skinkbord met haar Eie gehekelde groen lappie.

Want sien, ons eet nie aan tafel vandag nie. Ek kook nie, dek nie tafel nie, want Ma, Ian en Annamie kyk rugby. Eet op hulle skote voor die TV.

So gaan dit by Huiskok. Verkies jy eerder om etenstyd rugby te kyk en op jou skoot te eet, kry jy by my kamma-lasagne, en as jy gelukkig is ‘n sny goeie brood.

Ek wonder vlugtig wie speel téén wie, en gaan sit net buite die grense van hul luide cheers vir een of ander blink manoeuvre van hul span. Ek wonder waar my ma haar liefde vir die Heilige R gekry het, en waar ek myne verloor het.

image

Portabellini sampioene op goeie brood
Bedien 4

1 houer portobellini sampioene, halveer
30 ml botter
15 ml olie ( Ek hou van Olive Pride se saadolie-olyfolie versnit)
2 knoffelhuisies, gekneus
100 ml room, of suurroom
Sout, peper, neutmuskaat
Bediening: Goeie brood, sprinkel pietersielie, suurlemoenskyf

Metode
Verhit botter en olie in die pan tot dit sis, voeg knoffel by. Haal knoffel uit sodra dit goudbruin is. Braai die sampioene bruin, voeg room by, roer deur en geur. Skep op sny vars of geroosterde brood, strooi pietersielie oor en bedien met skyfie suurlemoen.

Vincisgrassi …. Prins Watsenaam se sampioen-lasagne

20 Apr

Herfs is ‘n baie bedagsame seisoen – die matige dae en onhitsige nagte berei my voor vir die geniepsige koue maande wag kom. Dis asof die somerklere hulself wegpak en die winterkomberse op eie stoom op die bed beland – ‘for in case’.  Ek kom ook agter dat die tamaai dikboomkastrolle en die kasserolbakke hulself na die voorkant van die kas maneuver met die woorde … “toe, toe slaaibakke – dis julle beurt om in die donker hoekies te gaan staan”.

Dis mos die lewe. Nora, 'n Italiaans-mal blogger se pragtige foto van vincisgrassi laat my sommer nou die kospotte nader trek. Besoek haar blog by enchantingitaly.blogspot.com

In hierdie dae raak ek belustig vir gesellige kos. Dalk nog nie die dik potte ertjiesop en ander ribbekas-vetmakers nie, maar kos wat die belofte inhou van troos teen komende triestigheid. Daarom maak ek my reg om hierdie naweek iets pastarig, iets souserig, iets gesmelte kaserig te maak. Dis eintlik jammer dat lasagne, daai liefling van die 70’s huispartytjie, te alledaags geword vir die seremonie om as my eerste amptelike ‘winterskos’ op my tafel te verskyn.

Gelukkig is daar ‘n ander Italiaanse gelaagde pastagereg wat my opgewonde maak – ‘n verlangse nefie van lasagne uit die Marche streek – ook met lae pasta, witsous en kaas, maar in plaas van die maalvleis-ragu word sampioene (vars en gedroogtes), asook hoenderlewertjies en spek gebruik.

'n Weergawe van Vincisgrassi op die Italiaanse blog Rosemarie & Thyme. Geen elke-dag se maalvleismengsel in sig nie maar wel proscuitto. Ons maak dit met hoenderlewers en spek.

Hierdie troonopvolger van lasagne word ‘Vincisgrassi’ genoem.Die pastagereg en sy naam het ‘n interessante herkoms. Dis blykbaar deur die Italianers vernoem na ‘n Oostenrykse Prins Windisch-Graetz wat doerie tyd in die gebied gebly het om die Oostenrykse troepe te lei. Of die Italianers voetjie gesleep het by hom weet ek nie, maar iemand dra toe ‘n gereg aan hom op en  mettertyd veritaliaans Windisch-Graetz toe na vincisgrassi.  Amper iets soos ‘wintersgrassie’, maar kom ons noem dit sommer Prins Watsenaam se lasagne.

Dis ryk en romerig en ek sou reken vir ‘n spesiale bederf op ‘n koue naweeksaand – en nie vir elke dag nie; anders pak die wintervetjies te gou aan. En moenie skrik vir die droë porcini nie – mens kry dit deesdae by al wat deli of plaasmark is. Dis ook nie doodsake as jy nie die duurder parmasaan regdeur wil gebruik nie – vervang dit met ‘n ander lekker geurige kaas (veral wit cheddar werk goed), maar strooi liefs steeds parmasaan op die boonste laag.

  • Het jy truffle-olie? Gooi ‘n paar druppels oor net voor opdiening. As jy nie het nie is dit heeltemal oukei. Ons het nie almal die bankbalans van ‘n Prins Watsenaam nie.

Resep vir Vincisgrassi – herdoop deur Huiskok na Prinse Watsenaam se sampioen-lasagne

4 tot 6 porsies

Bestanddele

25 g gedroogte porcini sampioene

500 g lasagne velle

½ k botter

¾ k meelblom

1 liter melk

400g gemengde vars sampioene

Olyfolie vir braai

1 pak ontbytspek, opgekap (as jy in die pound seats is kan jy pancetta of prosciutto gebruik)

500 g hoenderlewertjies, opgesny

2 fyngekapte knoffelhuisies

½ t neutmuskaat

Stewige knippie kaneel

1 E tamatiesmeer

¼ koppie halfdroog sjerrie (opsioneel, maar darem maar so lekker – die Italianers gebruin vin santo)

200 ml room

3 E gekapte pietersielie

Sout en swart peper

150 g gerasperde parmesaankaas (of pecorino, grana padano wat ligter op die beursie is, of selfs ‘n mengsel van mozzarella en lekker verouderde cheddar)

Metode

Plaas gedroogte porcini in ‘n bak en bedek met kokende water. Laat staan vir ‘n uur.

Voorverhit die oond tot 200ºC.

Maak ‘n béchamel of te wel witsous: Smelt botter en voeg meelblom by, kook vir 2 minute terwyl jy roer. Voeg nou 1 l baie warm melk bietjie vir bietjie by terwyl jy dit fluks roer of klits.  (Wenk: om die witsous geuriger te maak kan jy ‘n lourierblaar by die melk gooi terwyl jy dit kook.)

Verhit ‘n bietjie olie in ‘n pan en braai vars sampioene saam met knoffel, neutmuskaat en kaneel tot gaar. Voeg die gekapte ontbytspek en opgekapte hoenderlewertjies by en braai liggies. Roer tamatiesmeer en sjerrie by.

Voeg die witsous by, roer die geweekte porcini sampioene ook by saam met ‘n bietjie van die weekvloeistof. Nou volg die room en gekapte pietersielie. Laat weer opkook. Geur met sout en peper.

Berei die lasagne-velle voor: as dit vars gemaak is hoef jy dit nie nie kook nie, maar die klaargekoopte droë pastavelle kook jy in soutwater tot net-gaar voor dit in die bak gepak word, anders word dit nie gaar in die relatief kort baktyd nie.

Nou begin die laagpakkery: Gebruik eerder ‘n kleiner oondbak sodat jou lae nie te vlak is nie. Bedek die boom van gesmeerde oondvaste bak met ‘n laag van die pastavelle. Smeer ‘n laag van die geurige hoenderlewer-witsous oor die pasta, stip met botter en strooi ‘n lagie parmesaankaas oor. Herhaal die proses en eindig met ‘n laag sous en parmesaan.

Bak vir 20-25 minute tot lekker borrelend en deurgaar.

%d bloggers like this: