Tag Archives: Sauvignon Blanc

Fattoush en tabouleh sonweer-slaaie uit die Midde-Ooste

28 Sep

Slaaireëls is gemaak om by te hou, maar ook om te breek.

Dit het al ‘n ritueel geword by die du Toits om die alfresco-seisoen in te wy met Slaai-Sondag, ‘n gesellige kuier op die stoep met die tafel krakende onder al die varsheid.

Vanjaar het ‘n lente-geskenkpak van Mynhardt Joubert en Cathedral Cellar uit die Paarl dit vir my maklik gemaak om te besluit watter slaai die hoofrol gaan speel by hierdie simboliese seisoenwisseling. Saam met sy resep vir Fattoush, die beroemde Lebanese kapslaai, het Mynhardt ook al die bestanddele daarvoor voorsien, en selfs ‘n bottel Sauvignon Blanc om saam met dit te geniet.

My nuuskierigheid was geprikkel dat Mynhardt alle konvensies oor fattoush so moeiteloos verbreek. Nie net verander hy die tradisionele broodslaai in ‘n slaai wat in wese ‘n rysslaai nie, hy voeg ook pangebraaide hoenderborsies by.

Die lente is egter ‘n tyd vir transformasie en ‘n nuwe begin. Hoekom dan nie ook nuut kyk na kosreëls nie? Die resultaat was ‘n slaai wat sy plek as hoofmaal volstaan. Die bruinrys gee ‘n genoeglike neuterigheid aan die slaai, terwyl die pangebraaide hoender dit van bykos-slaai bevorder na groot kokkedoor van die lentetafel. Doen gerus die moeite om die Midde-Oosterse spesery sumac in die hande te kry, want die lieflike sumac-olyfolie-knoffel marinade waarmee die hoenderstukke bestryk word en die rys mee aangeklam word, is die x-faktor van hierdie gereg.

Al die ander eienskappe wat fattoush so geliefd maak is steeds daar – die krakerigheid van die komkommer, soetrissie en ui, die aangename sitroengeure, die weelde van goeie olyfolie, peperige radys en sappige tamatie. Dit alles word gekroon met die varsheid van kruisement en pietersielie.

‘n Lebanese slaai waarmee jy egter nie torring sonder om ‘n kos-oorlog te ontketen nie, is tabouleh, een van die land se nasionale geregte. Ek het in 1985 al daarmee kennis gemaak deur Lannice Snyman se kookboek Fine Dining in South Africa, waar sy tabouleh beskryf het as ‘n “tantalizing and exotic salad to delight friends and family.”

Haar weergawe van die Midde-Oosterse slaai word egter met rou, geweekte stampkoring gemaak eerder as met burghul waarop Kamal Mouzawak, Lebanese kampvegter vir tradisie-egte tabouleh aandring. “Tabouleh is die smaak van Lebanon, die smaak van die son en van die lewe. Daar is net een manier om tabouleh te maak en dis die regte manier”, verkondig hy.

Kamal het selfs die Tien Gebooie van Tabouleh saamgestel, so sterk voel die nasie oor hierdie erfenisslaai en nasionale simbool. Die onveranderlike reels sluit in dat geen tabouleh  sonder pietersielie gemaak word nie, en dan slegs die platblaartipe;

Hy skryf selfs voor hoe die pietersielie gekap moet word – sorgvuldig met die hand, nooit onverskillig nie en vinnig genoeg sodat dat dit nie verkleur nie. Net burghul word gebruik, geen ander graan nie. Couscous veral is ‘n vreemdelinge  wat nie in tabouleh hoort nie. “Daar is ook nie ‘n plek vir ‘n garnaal, of vis of enigiets van ‘n dier in tabouleh nie”, betoog hy.

Hy dring ook aan op groen slaaiuie of wittes, maar nooit die meer gematigde rooi uie nie. Dis natuurlik ook ‘n doodsonde om ‘n ander olie as olyfolie te gebruik.

Bruinrys Fattoush

Anders as die tradisionele fattoush wat met stukkies geroosterde pitabrood gemaak word, span hierdie weergawe bruinrys is. Kyk uit vir sumac by deli’s en spesialiteitswinkels.

Bedien 4-6

500 ml rou Spekko bruinrys

3 knoffelhuisies, gerasper

45 ml Willowcreek Persian Lime olyfolie

30 ml sumac

4 hoender- borsfilette – kyk uit vir Country Chick

500 ml gekapte tamatie

Handvol vars radyse, opgesny en verkoel in yswater

Komkommer, opgesny

1 rooi ui, gekap of in dun ringetjies

1 soetrissie, opgesny

Vars kruisement, opgekap

Platblaar-pietersielie, opgekap

Sap en skil van 2 suurlemoene

Sap van 2 nartjies

Ekstra olyfolie

250 ml granaatpitte (opsioneel)

Kook die rys volgens aanwysings op die pakkie. (Ek kook dit in die drukpot). Meng die knoffel, Willowcreek Persian Lime olyfolie en sumac saam. Giet die helfte van die mengsel oor die rys terwyl dit afkoel.

Verhit ‘n pan oor matige hitte. Smeer die hoenderfilette met die res van die olie- en sumac-mengsel en panbraai tot goudbruin en deurgaar, sowat 6 minute aan ‘n kant. Hou eenkant om af te koel.

Kombineer die tamaties, radyse, komkommer, rooi ui, soetrissie, kruisement, pietersielie, sap en skil van suurlemoen, nartjiesap en ‘n bietjie olyfolie in ‘n mengbak, meng deur. Geur na smaak.

Skep die rys op ‘n opdienbord met die res van die slaaibestanddele en die hoender bo-op. Garneer met die granaatpitte en nog vars kruie. Bedien met verkilde Cathedral Cellar Sauvignon Blanc.

Tien Gebooie Tabouleh

Bedien 4 – 6

1 klein bossie (75 g) kruisement

2 bossies, (300 g) pietersielie

1 groot tamatie

2 medium slaaiuie

125 ml fyn burghul

Sout en peper

Sap van 2 suurlemoene

60 ml olyfolie

Romaine of wit koolblare, of beter nog – jong, teer wingerdblare

Om voor te sit: Fyngekapte groen brandrissie en pitabrood

Stroop die kruisementblare van die stammetjies af. Was die pietersielie, kruisement, tamatie en uie en laat droog word. Vir ‘n minder krakerige burghul-weergawe, was en dreineer die burghul en week dit in ‘n bietjie water. Sny die tamatie in blokkies en voeg by die burghul. Kap die pietersielie fyn, dan die kruisement, en meng dit met die burghul en tamatie.

Kap die uie fyn, vryf dit met sout en peper en voeg dan die res van die bestanddele by.

 Maak die tabouleh klam met die suurlemoensap, olyfolie en sout na smaak. Die tabouleh moet sappig wees maar nie in vloeistof verdrink nie. Dit moet vars wees, na die suur kant toe. Bedien met die blare. 

Wenk: As jy rerig nie burghul in die hande kry nie, vervang dit met rou stampkoring wat ‘n uur vooraf in koue water geweek is.

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

Hummus met sumac en Willowcreek Persian Lime olyfolie.
  • Errieda du Toit is ‘n televisie-produksievervaardiger, skrywer van tien kookboeke, en wenner van die Food XX-toekenning in die kategorie Kos-ikoon. Volg haar blog Huiskok.com

Hoender Piccata ‘n Italiaans-Amerikaanse Classic

8 Feb

Die Verenigde State se hoenderroem strek verder as Southern Fried Chicken, hoender nuggets en buffalo wings. Die Italiaans-Amerikaanse kosskatkis verdien meer erkenning. 

Die diep-geurige Hoender piccata is een van die klassieke geregte wat in elke haastige huiskok se resep-opus hoort. Dié maklike pangereg word gemaak van delikate dungeslaande kotelette van ontbeende hoenderborsies in ‘n suurlemoen-, botter en witwynsous met hope vars pietersielie. Dit word besonders gemaak deur ‘n rojale byvoeging van pikante, souterige kappertjiesade wat die gereg afrond soos ‘n uitroepteken aan die einde van ‘n sin.

Dié gereg het in Amerika ontstaan onder immigrante uit Sicilië wat deel van die groot diaspora was. (My oupa Esposto was ook ‘n immigrant uit Italie, maar het eerder sy pad na die Suidpunt van Afrika gevind). ‘Piccata’ verwys waarskynlik na die Franse ‘piqué’ of piquant wat ‘skerp’ beteken, en hier deur die suurlemoen en intense soutigheid van die kappertjiesaad bygedra word.

Hoender Francese is nog ‘n Italiaans-Amerikaanse gereg wat sterk familietrekke met Hoender Picatta deel. Die uitstaande kenmerk is die pikante suurlemoensous wat met botter en witwyn getem word. Die ander verskil is dat waar die sag-gehamerde hoenderstukke vir Picatta net met meel bedek word, doop jy dit vir die Francese-variasie ook in geklitste eier voor dit gebraai word. Hoender Francese – in die Franse styl – ontbreek egter die waagmoed en pittigheid van die sout kappertjiesaad, wat dit net te subtiel na my smaak maak.

Hoender Parmigiana, of kortweg sommer net Chicken Parm soos dit in die Amerikaanse volksmond bekend staan, is ‘n ander klassieke Amerikaanse gereg wat die hongerverlange van Italiaanse immigrante moes sus. Hoewel nie outentiek-Italiaans nie, is dit ‘n afstammeling van die Sicilaanse melanzane alla Parmigiana wat met skywe eiervrug gemaak word. Met vleis wat baie meer volop en bekostigbaar in Amerika as in hul geboorteland was, het hoender, varkvleis gou die plek van die eiervrug ingeneem.

Hiervoor word hoenderfilette dungemoker, in geklitste eier en dan in krummels gedoop, waarna dit ‘n tweede keer in die eier en krummels gedoop word. Dit word dan goudbruin gebraai, niks meer as 2 minute aan ‘n kant nie. Die krummel-filette word onder in ‘n kasserolbak gepak, ‘n geurige marinarasous oorgegiet, parmesaan en mozzarellakaas oorgerasper en in die oond gebak tot die kaas borrel. Al die lekkerte van Italiaanse kos in een hap.

Hoender Piccata

Bedien 4

4 ontbeende hoenderborsies sonder vel

Sap en skil van 1 suurlemoen

125 ml koekmeel

30 ml olyfolie

45 ml botter

250 ml hoenderaftreksel

250 ml witwyn

2 knoffelhuisies, gemaal

30 ml kappertjiesaad, gedreineer

Gekapte vars pietersielie

Sout en peper

Lintpasta, soos fettucini  of linguine,vir opdiening

Maak so:

Roer die suurlemoensap- en skil, hoenderaftreksel, witwyn en kappertjiesaad saam in ‘n bakkie en hou eenkant. 

Halveer die hoenderborsies sodat jy 4 filette het. Plaas dit in ‘n ziplock-sakkie, of tussen 2 velle kleefplastiek of waspapier. Gebruik ‘n rolstok, of gladde kant van ‘n vleishamer, of die kant van ‘n kleinbordjie om dit plat te slaan (sowat 6 – 12 mm). Die kuns is om die vleis net hard genoeg te hamer om dit egalig dun te maak, sonder om dit in flarde te moker.  Dit versag die vleis en verseker dat dit eweredig gaar word. 

(Onthou om die pasta te kook terwyl die hoender gaargemaak word). 

Geur die vleis aan beide kante met sout en peper. Plaas die meel in ‘n platbord en trek die hoenderfilette deur die meel .  

Verhit die olyfolie en botter in ‘n groot pan tot dit sis en braai dan die hoenderstukke mooi goudbruin en deurgaar, sowat 2 minute aan ‘n kant, afhangende van die dikte van die vleis. Verwyder uit die pan en hou eenkant.

Soteer die knoffel sowat 30 sekondes tot dit geurig is. Voeg die mengsel van die suurlemoensap, wyn, aftreksel en kappertjiesaad by en skraap die bodem goed om alle lekker stukkies  op die bodem los te maak. Kook die sous liggies af vir sowat 4 minute terwyl jy dit dan en wan deurklits.

Plaas die hoenderstukke terug in die sous, strooi die pietersielie oor en skep dit bo-op pasta. Bedien dit met suurlemoenwiggies en broccoli of jong groenbone.

In die glas: Sauvignon Blanc, Chardonnay of Rosé.

Hoender Piccata se Siciliaanse nefie

‘n Piccata-variasie wat die Siciliaanse mafia op hul eie turf aanvat, neem die pikante note ‘n paar stappe verder. Hoender Picatta alla Siciliana span saam met die suurlemoen en kappertjiesaad ook ander intense smaakmakers in waarvoor die meer geharde suidelike streek van Italië bekend is: swart olywe, tamatie, rooi brandrissies en vinkel.

Hiervoor verhit jy 60 ml olyfolie in ‘n pan, voeg 8 hoenderdye by met die velkant na onder by, tesame met 2 opgesnyde rooi brandrissies en 2 opgesnyde knoffelhuisies. Braai vir 3 minute tot die hoender goudbruin is en roer 180 g gehalveerde kersietamaties, 60 ml elk kappertjiesaad, 60 ml gekapte swart olywe, 30 ml vinkeltakkies of kruisement by. Voeg 250 ml droë rosé by, laat dit opkook terwyl jy aangebrande stukkies loskrap en sodra die vog amper weggekook het, voeg 250 ml water by, bedek en laat saggies prut vir 25 minute. Haal die deksel af, roer nog 30 ml gekapte vinkelblare of kruisement by en kook vir ‘n verdere 15 minute tot die hoender gaar is en die sous meestal weggekook het.

Gerookte snoekpatee met appelliefiekonfyt trou met Sauvignon Blanc

27 Sep

 

Louisa Greeff van Durbanville Hills The Eatery

Louisa Greeff van Durbanville Hills The Eatery

As kos ‘n somer-fling soek is daar nie ‘n lekkerder vrymaat as Sauvignon Blanc nie. Dis ‘n wyn so eie aan somer  dat die Durbanville Wynvallei  ‘n fees – Die Seisoen van Sauvignon – hou om die seisoen van somer-kos en wyn aan te kondig. Die fees word volgende naweek op 11 plase in die Durbanville Wynvallei gehou.

Sauvignon Blanc laat my altyd dink aan heerlike gerookte forel of salmslaaie, oesters, garnale, gerookte hoender –  enigiets wat daardie vars appelliefiesmake, groen appel en tropiese vrug smake komplimenteer. Moet ook nie ‘n soetdingetjie onderskat as dit by hierdie gewilde wyn kom nie – soos appel pannacotta of  ‘n granadilla-parfait.

Ek het ‘n spesiale resep afgebedel met ‘n Suid-Afrikaanse smakie wat ‘n heerlike voorhappie is saam met Sauvignon Blanc uit die Durbanville Vallei. Dis gerookte snoekpatee  met ‘n appelliefie-konfyt bolaag wat Sjef Louisa Greeff van Durbanville Hills se restaurant gemaak het.

Haar kos het my betower. Sy vertel haar kreatiwiteit is gestimuleer deur die appelliefie-note in die 2013 oesjaar Sauvignon Blancs van Durbanville Hills, Klein Roosboom en Hilllcrest. Beter vrymaats kon haar gerookte snoek patee met appelliefie-jellie; asook haar ander southappie  – ‘n Springbok sosatie met hollandaise; vanileje risotto met ‘n appelliefdie- en peper concasse – nie kry nie. my ander gunsteling is haar bros, krakerige een-hap pecorino mille feuille met eiervrug-piekel (die resep hiervoor word ook verskaf).

Jammer kosvriende, ek het ‘n tegniese probleem om foto’s op te laai. Dit geniet aandag. Gebruik jou verbeelding intussen!

SJEF LOUISA GREEFF SE GEROOKTE SNOEKPATEE MET APPELLIEFIEKONFYT

4 voorgereg-porsies

1 heel gerookte snoek, grate verwyder en gevlok

½ ui, fyngekap

2 cm vars gemmer, fyngekap

5 ml elk vars dille, fyngekap

5 ml vars pietersielie

250 ml suurroom

Sout en peper na smaak

5 ml suurlemoensap

Appelliefie-konfyt:

1 bakkie appelliefies

80 ml suiker

80 ml water

Metode:

Voeg appelliefies, suiker en water in ‘n dubbelkastrol en kook 10 minute tot sag en stroperig. Laat afkoel.

Voeg die snoek en die res van die bestanddele in ‘n versapper en meng tot glad. Geur met sout en peper en suurlemoensap. Bedien in klein bakkies of glasies met ‘n lagie appelliefiekonfyt bo-op en rond af met ‘n broodstokkie of bruschetta.

Veral lekker met die volgende Sauvignon Blancs:

*Durbanville Hills Sauvignon Blanc 2013

*Klein Roosboom Sauvignon Blanc 2013

*Hillcrest Sauvignon Blanc 2013

BONUSRESEP:

Sjef Ian Bergh se gerookte forel-, ricotta en sitrusslaai met vanieljeslaaisous vry na Sauvignon Blanc hierdie somer. Foto Fritz Brand

Sjef Ian Bergh se gerookte forel-, ricotta en sitrusslaai met vanieljeslaaisous vry na Sauvignon Blanc hierdie somer. Foto Fritz Brand

Gerookte  forel met ricotta, lemoen, pomelo, slaaiblare en lemmetjie-vanielje-slaaisous

Sjef Ian Bergh van De Grendel Restaurant se forelslaai met sy sitrussmake en interessante vanielje slaaisous vry na De Grendel en Altydgedacht se nuwe oesjaar Sauvignon Blancs.

Bestanddele (per porsie)

100g gerookte forel

4 lemoenwiggies, velletjies afgetrek

4 pomelowiggies, velletjies afgetrek

2 bossies gemengde slaaiblare

2 E ricotta, gekrummel

Vir die slaaisous

1 E vars lemmetjiesap

2 E fyn olyfolie

Stewige mespunt vanieljesaad

Metode

Meng die lemmetjiesap, vanielje en lofolie saam en hou eenkant. Kombineer die res van die bestanddele in ‘n mooi bak en bedruip met die slaaisous

WENK: Kyk uit in die Burger se Naweek bylae vir heerlike somerrresepte wat met of sonder Sauvignon  Blanc geniet kan word.

Nog ‘n bonusresep van Sjef Louisa Greeff wat ‘n baie lekker kaas-en nagereg gang kan wees of bedien as skemerhappie:

Pecorino Mille Feuille with Aubergine pickle

Filo pastry, cut into 5x5cm pieces (12 blocks per serving)

200g Pecorino cheese, finely grated

Butter, melted

1½ kg aubergines/brinjals cut into 1x1cm blocks
4cm ginger, finely chopped
2 garlic cloves, finely chopped

1 onion, sliced
pinch of chilli powder
1 tbsp. of turmeric powder
1½ tbsp. roasted and powdered coriander seeds
2 tbsp. black mustard seeds
1 cup sugar
pinch of salt
1¼ cup vinegar
1 tbsp. vegetable oil

 

Method:

–         Dry fry the chilli powder, turmeric, coriander and mustard seeds for 3 minutes.  Take it off the heat.

–         Fry the aubergines, onion, ginger and garlic in a pan with oil and add the fried spice mixture.

–         Pour in the vinegar and the sugar.

–         Cook for 20 minutes.  Add the salt at the end.

–         Put the mixture into sterilized glass jars and seal tight.

–         Smear the filo blocks with butter and place 3 on top of each other, sprinkle some of the cheese and layer another   layer on top.  Repeat until you have 3 layers of cheese and four by 3 layers of pastry.

–         Sprinkle some cheese on top and bake for 5 minutes till brown.

–         Serve the pickle on top of the squares.

Durbanville Wynvallei vier Seisoen van Sauvignon

5 en 6 Oktober 2013

Die grootskaalse vrolikheid wat op 5 en 6 Oktober oor die Durbanville-wynvallei gaan hang gaan ‘n aanduiding wees hoekom die Seisoen van Sauvignon, nou in sy 9de jaar – verlede jaar aangewys is as die gewildste wynfees.

So gaande is Kaapse feesliefhebbers oor die fees dat dit by die 2012 Klink-wyntoerismetoekennings met die “Crowd Pleaser”-toekenning vir die beste wynroete-saamtrek weggeloop het. Die fees is vanjaar weer in dié kategorie genomineer, terwyl die Durbanville-wynvallei meeding in die “Happy Times”-kategorie vir die beste wynroete.

“Feesgangers gaan stomgeslaan wees oor die magdom maniere waarop ’n mens die vallei se topkultivar, sauvignon blanc, van nader kan leer ken,” sê Thys Louw, voorsitter van die Durbanville-wynvalleivereniging. “Dis ‘n staatmaker-pasmaat vir somerkos, vandaar die fees se klem op goeie kos.”

Die elf plase wat deelneem is Altydgedacht, Bloemendal, D’Aria, De Grendel, Diemersdal, Durbanville Hills, Groot Phesantekraal, Klein Roosboom, Hillcrest, Meerendal en Nitida.

Besoek  www.durbanvillewine.co.za vir die feesprogram.

 

%d bloggers like this: