Tag Archives: skons

Appel, kaas en salie skons

11 Apr
Salige driemanskap in hierdie skons: kaas, appel, salie

Appeltjie te skil. Appels wat nie ver van die boom af val nie. Die gelukskoot om nog iets vir ‘n appel en ‘n ei op te raap. Appels dra ‘n mandjievol lekkerte tot ons spreektaal en ons tafels by.

Ek het pas ‘n voorsmaak gekry van ‘n nuwe kultivar appel – die Flash Gala –  wat van mid-April op die rakke sal wees. Een is dadelik blink poleer en groot happe van geneem. ‘n Ander is in skywe gesny en met ‘n goed verouderde sterk kaas verorber, my gesin se gunsteling-versnapering.

Die klassieke kombinasie van appel en kaas vind hier ‘n geurige pad na skons saam met salie.

Cheddar, appel en salieskons

530 ml koekmeel

15 ml bakpoeier

2,5 ml sout

Stewige knippie rooipeper

15 ml ligte bruinsuiker

125 ml botter, koud, in stukkies gesny

125 ml melk of karringmelk

250 ml fyngekapte appel, ongeskil

250 ml gerasperde skerp cheddar

60 ml fyngekapte vars salieblare, plus ekstra vir garnering

30 ml melk of room, om oor te smeer

Voorverhit die oond na 190°C. Smeer ‘n bakplaat.

Plaas die meel, bakpoeier, sout, rooipeper en bruinsuiker in die bak van die voedselverwerker en pols ‘n paar keer om te meng. Voeg die botter by en pols tot daar nie meer groot stukke botter oor is nie en die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die melk stadig by tot die deeg ‘n bol vorm.

Haal die deeg uit en plaas dit in ‘n mengbak. Voeg die appelstukkies, gerasperde kaas en gekapte salie by. Werk dit liggies met die hand deur tot die bestanddele gemeng is, maar moenie te veel hanteer nie. 

Strooi ‘n bietjie meel op die werksoppervlak en druk die deeg liggies met die hand in ‘n reghoek, 2,5 cm dik. Druk die skons met ‘n 60 mm koekiedrukker uit en pak op bakplaat. Herhaal met die oorskietflertse. Dit maak 9 – 10 skons. 

Borsel die melk of room oor en plaas ‘n salieblaartjie of twee op elke skon. Bak 20 – 25 minute tot goudbruin.

  • Errieda du Toit is die skrywer van 10 kookboeke waarvan SAAM aangewys is as ‘n wenner van die World Gourmand Cookbook-toekennings. Besoek haar blog Huiskok.com of Facebook-blad Tuistafel.
Herfsgeure in ‘n skon. Foto Ian Du Toit

Oorskiet vrugtekoek- skons

2 Jan

Hierdie tyd van die jaar begin ek die vrugtekoekvlakke fyn dophou. Dit voel vir my terwyl daar nog vrugtekoek In die kas is, die Feestyd nog aanhou. Maar dit kom op ‘n  punt waar net ‘n snytjie of twee oor is.

Om die lekker ‘n bietjie te rek (en te keer dat my huismense baklei oor die oorskietsnytjies) maak ek skons met hierdie Jamie-resep

Oorskietvrugtekoekskons

80 g koue gesoute botter

20 g gedroogte bosbessies, grofgekap 

Gerasperde skil van 1 lemoen

250 g bruismeel + ekstra vir strooi 

2,5 ml gemengde speserye 

30 g goue bruinsuiker  

70 g oorskiet-vrugtekoek (sonder versiersuiker)

1 groot eier

60 ml melk, + ekstra vir oorverf 

15 ml molasse/treacle 

Voorverhit oond tot 200ºC/gas 6. Smeer ‘n bakplaat of voer uit met bakpapier. 

Sny die botter in klein blokkies. Kap die bosbessies grofweg en rasper die lemoenskil.

Sif die meel en  gemengde spesery in ‘n groot mengbak en roer die suiker by. Voeg die blokkies botter by en vryf met die vingerpunte In tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk.

Krummel die vrugtekoek en voeg dit saam met die bosbessies en lemoenskil by die meelmengsel, roer liggies deur om te meng. 

Klits die eier saam met die melk, voeg dit by die meelmengsel en sny dit met ‘n stompneusmes In tot alles bymekaarkom In ‘n effe taai, sagte deeg. Vrou die molasse reg aan die einde deur. 

Keer die skonsdeeg uit op ‘n meelbestrooide werksvlak. Rol uit met ‘n rolstok tot 2,5 cm dik en druk 8 rondtes met ‘n 5 cm koekiedrukker uit wat eers In meel gebruik word (moenie die koekiedrukker wikkel nie). Plaas dit Redelinghuys na aan mekaar op die bakplaat en bestryk liggies met melk. Bak tot mooi uit gerus en goudbruin, sowat 12 minute. 

Eet warm of koud met roomkaas of creme fraiche en konfyt of met beleë cheddar.

7CA3E6D0-C723-4ACC-B9A7-D0580757EE63

Foto en stilering: Errieda en Ian Du Toit

Wenk: kyk gerus uit vir my nuwe kookboek SAAM (SHARE) met bykans 100 heerlike resepte vir gebak, huiskos en kuierkos wat ek uit gemeenskapskookboekies gekies het.

Groete,

Errieda

%d bloggers like this: