Tag Archives: somervrugte

Babel se ontbyttert

16 Jan

…Sekerlik die mooiste ontbytgereg wat ek nog ooit gemaak het!

Ontbyt sal nooit weer dieselfde wees nie. Foto: Errieda du Toit

Ontbyt sal nooit weer dieselfde wees nie. Foto: Errieda du Toit

As jy soos ek vanjaar goeie voornemens gehad het om meer vars vrugte en groente te eet EN om ontbyt te eet, dan gaan hierdie resep jou uit jou vel laat spring.  As jy bietjie afgedwaal het, sal die resep vir ‘n vrugte-ontbyttert met ‘n muesli-kors en witsjokolade-jogurt jou weer op koers kry.

En wie sou kon dink dat jy iets soos jong geelwortjies saam met vrugte kan bedien, ‘n idee uit die Babel kookboek van die plaas Babylonstoren.

BABEL SE ONTBYTTERT

Basis:

Meng 250 g granola of muesli of geroosterde hawermout  en 100 ml sagte botter (verkieslik ongesout). Voer ‘n losboom tertpan met kleefplastiek uit dat die rante oorhang en druk die mueslibottermengsel op die boom vas, vou die kleefplastiek se punte oor en plaas in die vrieskas.

Witsjokolade jogurt:

Smelt 100g witsjokolade in ‘n dubbelkoker, laat dit afkoel en roer dit by 1 – 2 koppies ongegeurde jogurt. Klits dit tot glad en hou dit in die yskas. Ek vind dat die jogurt nie te koud moet wees as jy die gesmelte sjokolade byroer nie, anders maak dit klontjies. Sorg ook dat die gesmelte sjokolade behoorlik afgekoel het.

Vrugte-bolaag: enige kombinasie soos appelkosies, nektariens, lietsjie, pruim, papierdun skyfies appel, frambose en bloubessies. Vir verrassing, gebruik ook babaworteltjies baie liggies gekook. Papierdun skyfies rou beet sal kleur en kraak gee.

Opdiening: 

‘n Paar minute voor bediening haal jy die gevriesde muesli-tertkos uit, sit op ‘n groot opdienbord en stapel  die vrugte en babawortel  bo-op. Rond af met ‘n streepsel heuning of esdoringstroop.  Die kors sal bietjie verkrummel as jy dit opskep, maar dit maak nie saak nie.

Drywende eiland meringuekoek met karamelperskes

13 Dec

‘Van persketyd tot ewigheid,’ ons taal se eie ‘from now to eternity’,  beskryf hoe lank die winter vir my voel voor ek my tande kan inslaan in ‘n ryp perske.

'n Skinkbord vol geroosterde perskes word saam met die meringuekoek bedien.

‘n Skinkbord vol geroosterde perskes word saam met die meringuekoek bedien.

Sodra die eerste perskes (nie die ingevoerde nabootsers nie) op die rakke verskyn maak ek perskegeregte in alle gedaantes – van witperske- en kardomom-roomys tot blatjang en piekelperskes. Die meeste word egter sommer so uit die vrugtebak verorber. Maar ek steek altyd ‘n halfdosyn perskes in ‘n koel plekkie weg om ‘n perske-nagereg te maak.

Perskes se parfuum som vir my die somer op.  Dit was juis die gedagte aan die benewelende geure en kleur van perskes wat my  gelok het om ‘n klassieke nagereg soos Drywende Eiland te maak …. want dis ‘n geleentheid om dit ‘n byderwetse kinkel te gee met gekarameliseerde perskes en die perskegegeurde panstroop wat saam met dit bedien word, pleks van vla.

 roosblare, die parfuum van perskes en 'n veerligte eiland van meringue wat dryf in caramel - wat meer kan mens va.


Roosblare, die parfuum van perskes en ‘n veerligte eiland van meringue wat dryf in karamel – wat meer kan mens va.

Drywende eiland meringue koek met geroosterde perskes (met of sonder versuikerde roosblare)

Die versuikerde roosblare is opsioneel, maar ‘n slim, maklike manier om swier aan die nagereg te gee as jy organiese roosblare in die hande kan kry.

Bedien 8-10

330 g strooisuiker (om karamel te maak)

60 ml water

9 eierwitte

Stewige knippie sout

1 Vanieljepeul, geskraap of 5 ml goeie vanielje-ekstrak

165 g ekstra strooisuiker (om meringue te maak)

6 – 8  nektariens, gehalveer en pitte verwyder

Sagte bruinsuiker

Metode:

Voorverhit oond tot 160°C.

Maak karamel: Plaas die suiker en wat in ‘n medium kastrol oor matige hitte en roer tot die suiker opgelos het.  Was die suiker kristalletjie wat aan die binnekant van die kastrolwand vorm met ‘n nat kwassie af. Laat dit kook vir sowat 7 minute, sonder om te roer, tot dit ‘n goue kleur kry. Moenie te donker kook nie – anders raak dit bitter en te taai.  Gooi die karamel in ‘n 2.5 liter (21.5 cm) tuitpan en kantel dit versigtig om die wand van die pan uit te voer; skep met ‘n lepel om die tuit uit te voer.

Maak meringue:  Klits die eierwitte, sout en vanielje teen hoë spoed saam in ‘n groot mengbak tot sagte punte vorm. Voeg die ekstra strooisuiker lepel vir lepel by en klits baie goed voor die volgende skeppie suiker. Klits nog ‘n minuut na al die suiker bygevoeg is. Skep die meringue in die tuitpan, en maak seker om in elke hoekie te kom.  Plaas die tuitpan in ‘n oondbak, gooi kokende water in die oondpan.  Die tuitpan moet so  ¾ -diep in die waterbad staan. Plaas op die 2de laaste rak in die oond (anders rys die meringue dalk tot teen aan die roosterelement). Bak vir 30 minute, skakel die oond af en los vir nog 30 minute in die oond.  Haal uit die oond en laat staan sowat 5 minute sodat die koek van die pan af wegtrek.

Plaas ‘n opdienbord (met ‘n rand) bo-op die koek en keer die koek uit die pan.  Die stroop sal ‘n poel om die koek vorm. As daar enige karamel onder in die pan oor is, verhit die pan oor matige hitte en drup oor die koek. Laat afkoel. Opsioneel: Bedek met versuikerde roosblare.

Maak karamelperskes:  Druk die gesnyde kan van die perskehelftes in bruinsuiker,  plaas dit suikerkant na onder in ‘n pan en karameliseer vir 2-3 minute oor matige hitte. Sit die perskes en panstroop voor saam met die koek.

Maak versuikerde roosblare: Jy’t nodig 1 eier, sowat 10 skoon roosblare en strooisuiker. Klits 1 eierwit baie liggies in ‘n klein bakkie. verf elke blaar afsonderlike met die eierwit en sif strooisuiker oor die blaar se binne en buitekant. Plaas op ‘n draadrakkie om droog te word. Wenk: Sit die roosblare op net voordat jy dit bedien, anders trek dit water op die meringuekoek.

(Resep-inspirasie: Donna Hay-tydskrif)

  • Errieda du Toit is kos-inhoudsvervaardiger van Kokkedoor, skrywer van Kokkedoor Kookboek en RSG Huiskok. Besoek haar blog by huiskok.wordpress.com en volg haar op twitter @huiskok.
%d bloggers like this: