…Sekerlik die mooiste ontbytgereg wat ek nog ooit gemaak het!
As jy soos ek vanjaar goeie voornemens gehad het om meer vars vrugte en groente te eet EN om ontbyt te eet, dan gaan hierdie resep jou uit jou vel laat spring. As jy bietjie afgedwaal het, sal die resep vir ‘n vrugte-ontbyttert met ‘n muesli-kors en witsjokolade-jogurt jou weer op koers kry.
En wie sou kon dink dat jy iets soos jong geelwortjies saam met vrugte kan bedien, ‘n idee uit die Babel kookboek van die plaas Babylonstoren.
BABEL SE ONTBYTTERT
Basis:
Meng 250 g granola of muesli of geroosterde hawermout en 100 ml sagte botter (verkieslik ongesout). Voer ‘n losboom tertpan met kleefplastiek uit dat die rante oorhang en druk die mueslibottermengsel op die boom vas, vou die kleefplastiek se punte oor en plaas in die vrieskas.
Witsjokolade jogurt:
Smelt 100g witsjokolade in ‘n dubbelkoker, laat dit afkoel en roer dit by 1 – 2 koppies ongegeurde jogurt. Klits dit tot glad en hou dit in die yskas. Ek vind dat die jogurt nie te koud moet wees as jy die gesmelte sjokolade byroer nie, anders maak dit klontjies. Sorg ook dat die gesmelte sjokolade behoorlik afgekoel het.
Vrugte-bolaag: enige kombinasie soos appelkosies, nektariens, lietsjie, pruim, papierdun skyfies appel, frambose en bloubessies. Vir verrassing, gebruik ook babaworteltjies baie liggies gekook. Papierdun skyfies rou beet sal kleur en kraak gee.
Opdiening:
‘n Paar minute voor bediening haal jy die gevriesde muesli-tertkos uit, sit op ‘n groot opdienbord en stapel die vrugte en babawortel bo-op. Rond af met ‘n streepsel heuning of esdoringstroop. Die kors sal bietjie verkrummel as jy dit opskep, maar dit maak nie saak nie.
Verstaan nie mooi waar die witsjokolade jogurtmengsel kom nie? Word dit oor die vrugte geskep of kom dit onder die vrugte?
Bedien Dit saam met die tert. … Soos room. Ek bedien Dit in aparte glasies vir elke gas.
Ek dink daai worteltjies rond die ontbyt netjies af! Pragtig!
ja, hulle is darem net te pragtig.
O gonna ja, dit lyk hemels!!
En jy gaan Dit geniet om te maak.