Tag Archives: Sondagkos

Bros calamari, blitsbraai knoffel & witpeper – teëvoeter vir tolbos-lewe

14 Sep

As die gejaag na wind my soos ‘n tolbos laat voel, roep ek halt en nooi vriende om saam met ons kalm te raak aan tafel.

edit-8135-drie-geregte-vir-asie-ete-rs

Kalm-word kuierkos om my tuistafel, gekook uit ‘Balance and Harmony’.

Die kosmaak is ‘n kalm-raak-ritueel. Eers draal ek rustig voor my boekrak en soek ‘n kookboek wat by die stemming pas. Balance and Harmony van die Australiese supersjef Neil Perry is so ‘n boek.

Die belangrikste deel van die kookproses is smaak – ‘n balans tussen intense smake,’ is sy filosofie. “You will always here me say ‘balance, balance, balance’. And when I’m not saying balance, I’ll be talking about harmony.”

Balans en harmonie is nie net ‘n oogmerk in die kombuis nie, maar ook vir die lewe. Ek kry dit net makliker reg in die kombuis as met my leefstyl. Maar ek probeer – en vind dit aan my tuistafel, omring met mense wat so lief is vir eet as wat ek is om vir hulle kos te maak.

voorblad

Balance and Harmony op my kookboekstaander.

Wat ek wel goed regkry in my lewe is om ‘n leerling te bly. Om nie net op gister se kennis en belewenisse staat te maak nie, maar nuwes op te soek, nuwe smake, nuwe kooktegnieke.  So het ek uit Balance and Harmony ‘n nuwe manier geleer om my resep vir sout-en-Szechuan-peper calamari  (my Huiskok Glanskok-boek’) op te vars, makliker en meer opwindend te maak.

Hierdie mond-wakkermaak resep vind balans en harmonie  in kontras.  Wat ek nuut geleer het is watter heerlike smaaksprinkels grofgemaalde, blits-gebraaide knoffel en varsgekraakte witpeper vir calamari is.  (Geen probleem as jy nie witpeperkorrels het nie – swartpeper werk net so goed.)

Knoffelfobe kan die knoffel uitlos, maar is ‘n nuwe ervaring armer.

edit-8140-calamari-methoenderslaai-in-agtergrond-resze-vir-blog

Calamari-stroke bestrooi met blitsbraai knoffel en witpeper in een van kleinnig Diana Ferreira se keramiekbakke. In die agtergrond is ‘n Thaihoenderslaai gemaak met gepluiste spitbraai-hoender.

CALAMARI MET BLITSBRAAI KNOFFEL EN WITPEPER

Vir 4

  • 800 g calamaribuise, skoongemaak (ek koop dit gevries by PnP)
  • 30 ml vissous (kyk uit by deli’s)
  • 2,5 ml suiker
  • 2,5 ml sout
  • 5 ml witpeperkorrels
  • 1 heel knoffelbol, huisies losgemaak, skil aan
  • Sonneblom- of canolaolie vir diepbraai
  • 120 g koekmeel
  • Vir opdiening: Varsgemaalde witpeper, koljanderblare en skyfies lemmetjies, mayonnaise of rissiedoopsous (nuoc cham)

Sny die calamaribuise oop en vou plat. Met ‘n skerp mes, sny kruis en dwars kepe aan die binnekant en sny dan 2 cm wye stroke in die lengte af. Marineer die calamari in die vissous en suiker vir 30 minute.

Intussen stamp die peperkorrels en sout fyn, voeg die knoffelhuisies by en stamp verder tot ‘n growwe pasta – verwyder die ooglopende knoffelskilletjies.

Verhit die olie in ‘n kastrol of diepvetbraaier tot 180°C. Meng die helfte van die calamari met die meel tot goedbedek, skud oortollige meel af en braai tot goudbruin. Skep uit met gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier. Herhaal met die res van die calamari.

Skep los stukkies uit die olie uit met ‘n gaatjieslepel en strooi die knoffelpasta versigtig oor die warm olie. Roer terwyl dit tot goudbruin braai, maar nie bruin nie. Skep uit met gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.

Plaas die calamari op opdienbord, sprinkel die bros knoffel en witpeper oor, garneer met koljanderblare en bedien met souse.

Vietnamese doopsousie (Nuoc cham )

Hierdie veelsydige doopsousie helder bykans enigiets op van slaai, gestoomde groente, roerbraai en seekos, tot hoender en vis oor die kole gebraai. Doodmaklik, maar wees gewaarsku – dit is verslawend.

  • 2 lang rooi brandrissies, ontpit en gekap
  • 1 knoffelhuisie
  • 15 ml bruinsuiker of gerasperde palmsuiker (jaggery*)
  • 30 ml vars lemmetjie-of suurlemoensap
  • 45 ml vissous
  • 30 ml ryswynasyn of appelasyn

Stamp die rissie en knoffel tot ‘n fyn pasta, roer die suiker by om goed te meng. Roer dan die lemmetjiesap, vissous, asyn en 45 ml water stadig by.

edit-8146-calamari-top-shot-rs

Ek wou lang stroke calamari maak; as jy dit opgekrul soek, sny die kepe aan die binnekant van die calamari, na die buise oopgesny is.

Kortles in jaggery:

*Jaggery (palmsuiker) het ‘n heerlike ryk, amper neutagtige soet smaak en lyk soos humpies fudge.

jaggery-getty

Jaggery/palmsuiker lyk vir my nes growwe hompe fudge. (Getty Image)

Dis nie-gedistilleerde, onverfynde suiker gemaak van palmsap (soos dadel, kokosneut of sagopalm) – of rietsuikersap. Die molasses en suikerkristalle word nie deur van mekaar geskei nie. Dis te kry by goeie deli’s, Oosterse winkeltjies en spesialiteitswinkels. Dit hou baie lank.

Kosfotografie en stilering: Ian en Errieda du Toit.

Die artikel is aangepas uit my weeklikse kosrubriek wat Woensdae in Die Burger Versnit verskyn.

Balance and Harmony: the secrets of Asian Cooking deur Neil Perry is ‘n 400-bladsy boek met ‘n weelderige hardeband. Dit is in 2008 deur Murdoch Books uitgegee.

Paaslam en pashka

22 Mar

Paastyd is ‘n goeie tyd om die kosboek The Supper of the Lamb, deur die teoloog-kok Robert Farrar Capon te lees. Hy herinner die kosliefhebber dat eet ‘n sakrament is waarmee ons daagliks die wonderwerk van die lewe kan vier. Vandag is lamsvleis te duur vir die alledaagse, maar ons kan dit steeds feestelik eet en die uitsonderlike soos die Opstanding vier met ‘n lamsboud of blad. Om die simboliek daarvan te verstaan laat mens net ietwat met nadenkend eet.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

 Simboliek en die Paastafel:

Kostradisies word oor eeue heen gevestig, maar dikwels vervaag die oorsprong en die simboliese waarde word in moderne tye oor die hoof gesien. Lamsvleis is ‘n welkome gesig op Paas-Sondag as feeskos vir die siel.

Hoekom lamsvleis verbind word met Paasfees:

Die diepgewortelde assosiasie van die Paaslam met Jesus as die Goeie Herder, Agnus Dei, die lam van God, laat die betekenis van tradisiekos soos skaapboud op Paas-Sondag voortleef.

Lamsvleis se diep verbintenis met die Pase gaan baie ver terug, voor die geboorte van Christus, toe die Jode in Egipte die deurkosyn gemerk het met die bloed van die geofferde lam, om hul eerste gebore seuns te spaar. Ons lees hiervan in Eksodus. Jode wat tot die Christendom bekeer is, het met die tradisie om lamsvleis op Paassondag voor te sit aangegaan.

Paaslam in ander vorme:

Die simboliek van die Paaslam word nie beperk tot die vleisbord nie. In Poland word botter op die feestafel gesit, gevorm om soos ‘n lammetjie te lyk. Die Franse agneau pascal  (spreek uit anjo) en die Duitse osterlamm is geliefde Paaskoeke wat in spesiale ‘lammetjie’-vormpanne  gebak word, en met strooisuiker of meringue versier word wat soos lamswol lyk. So word kinders aan die Paassimbool bekendgestel.

Viering van Paasfees met lamsvleis aan die Griekse tafel:

Ek sou op Paas-Sondag graag ‘n gas aan ‘n Griekse tafel wou wees, waar geloofsgebruike steeds ‘n baie sterk invloed op die kos het. Eers word die vas gebreek met gevlegte Paasbrood en rooi-gekleurde hardgekookte eiers wat simbolies van lyding. Daarna word die Paaslam van snoet tot stert gevier – die grootste deel daarvan op die spit gebraai. Magiritsa, ‘n suurlemoen-gegeurde Paastyd-sop en kokoretsi  gemaak van die hart, lewer en niertjies (soos ons lewer in netvet oor die kole gebraai) vier ook die opstanding.

Raad met oorskiet-lamsvleis:

Maak só met oorskietvleis wat oorbly na Paas-Sondag. Druk dik snye plaasbrood in sirkels uit met ‘n medium-grootte koekiedrukker. Bestryk die brood liggies met olyfolie en bak dit in die oond tot bros en goudbruin. Smeer die bokant met ‘n jogurt-okkerneutdoopsous of skordalia, sit ‘n stukkie beet, spinasieblaartjie en happie gaar lamsvleis bo-op.

Ander geliefde Paasfeeskos aan my Huiskok-tafel:

My allergunsteling is natuurlik piekelvis, waaroor ek al geskryf het. Pashka, my ander gunsteling kom uit Rusland wat ek met rosyntjiebroodbrioche eet. Ek vind die tradisie en rituele rondom pashka baie besonders.

Pashka, Russies vir Paas, word gemaak van ‘n vars kaas, amper soos maaskaas,  wat versoet word en in ‘n vorm geset word. Die tradisie is om die kaasmengsel te giet in ‘n piramied-houtvorm, simbolies van Christus se graftombe. Die Ortodokse tradisie is steeds om die letters XB op die sykante van die pashka uit te pak met neute en versuikerde skil. Die letters beeld uit ‘Christos voskres’ – Christus het opgestaan. Die gebruik is om die pashka op die Donderdag en Vrydag voor Paassondag kerk toe te neem om geseën te word deur die priester.

Tradisioneel word dit ge-eet met Kulich, ‘n koek-brood, deurspek met rosyne, amandels en speserye. Volgens gebruik word die kulich bedek met wit versiersuiker, afgerond met ‘n wit roos wat dan ook deur ‘n priester geseën word. Die gees van ‘n Russiese Paasfees kan geniet word met ‘n kortpad deur die kombuis. Ek vervang kulich met my rosyntjiebrood-brioche. Paasbolletjies is ook geskik.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

ERRIEDA DU TOIT (HUISKOK) SE LAMSBOUD IN JOGURT

‘n Eenvoudige manier om ‘n feestelike lamsboud op Paassondag te maak. Dit het ‘n Griekse oorsprong. Die resep is opgeneem in my en Francois se boek Huiskok Glanskok.

Maak 6 porsies

  • 1 lamsboud van ongeveer 1.2 kg, ontbeen en gevlek
  • 500 ml dubbelroom (Griekse) jogurt
  • 4 knoffelhuisies fyngekap
  • 60 ml vars origanum, gekap
  • 5 ml fyn komyn
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Meng die jogurt, knoffel, origanum, komyn, sout en peper saam. Marineer lamsboud in mengsel vir ongeveer ‘n uur. Voorverhit die oond tot 240ºC. Haal lamsboud uit marinade en plaas in oondpan. Bedek met tinfoelie en bak vir 20 minute by 240ºC, draai dan die hitte laer na 180ºC en bak nog 30 minute. Haal uit oond en laat vir 10 minute rus. Sny vleis in skywe.

ERRIEDA SE OONDGEBAKTE ARNI

Arni is Grieks vir skaapvleis. Die eg-landelike oondgebakte skaapdis is in Griekeland ‘n simbool van herontmoetings, wat veral op Sondae voorgesit word. Die aartappels absorbeer die olyfolie en kruiegeure. Die resep is een van my gewildste resepte uit Huiskok Glanskok-boek.

Maak 4 porsies

  • 2 heel knoffelbolle, huisies geskil
  • 1.5 kg lam- of skaapboud
  • 2 uie, grof gekap
  • 60 ml olyfolie
  • sout en peper
  • 2 suurlemoene
  • takkie elk tiemie, roosmaryn en lourierblaar
  • 1.5 kg aartappels, geskil en ‘n groot stukke gesny
  • 2 groot tamaties, in kwarte gesny
  • 30 ml botter (opsioneel)

Voorverhit oond tot 180⁰C. Maak kepies in die vleis en druk ‘n knoffelhuisie in elke snytjie. Plaas uie op die boom van ‘n oondpan en besprinkel met olyfolie. Geur vleis met sout en peper, plaas dit bo-op die uie, bedruip met sap van 1 suurlemoen en gooi kruie by. Gooi 20 ml olyfolie en 200 ml water oor. Bak in oond vir sowat 40 minute. Plaas die gesnyde aartappel in ‘n bak met die oorblywende olyfolie en suurlemoensap, meng deur en voeg by die vleis saam met nog 200 ml water. Bak nog 20 minute. Pak tamaties in die oondpan en stip met botter. Bak tot vleis gaar is en die aartappels sag is.

Pashka is 'n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

Pashka is ‘n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

PASHKA RESEP – iets simbolies om saam met rosyntjiebrood of paasbolletjies te eet.

Gebruik ‘n meelsif as vorm, of ‘n terracotta blompot vir ‘n meer tradisionele vorm. Ek het die resep oorspronklik gebruik van Letitia Prinsloo, hoof van die ICA.

  • 150ml vars room, geklop tot sagte punte vorm
  • 2 houers Parmalat gladde maaskaas of Simonsberg roomkaas
  • 150 g strooisuiker
  • Gerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 5 mℓ suurlemoensap
  • 60g versuikerde lemoenskil, fyngekap
  • 60g versuikerde gemengde skil
  • 30g geroosterde amandels, gekap
  • Vir afwisseling kan gedroogde appelkosies, dadels of goue sultanas ook bygevoeg word.

Voer ‘n meelsif uit met kaasdoek. Klop room tot sagte punte vorm. Plaas in yskas. Kombineer roomkaas, neute, versuikerde skil, strooisuiker, suurlemoenskil en sap.  (As die roomkaas te dik is, verdun met ‘n bietjie lemoensap). Vou room in. Skep in die voorbereide vorm. Verkoel vir 8 ure.  Haal uit die vorm en bedien verkieslik teen kamertemperatuur saam met tradisionele paasgebak.

Wenk: Jy kan ook maaskaas of ricottakaas gebruik, pleks van die roomkaas. Die vars room kan met suurroom vervang word, maar los dan die suurlemoensap uit die resep.

 

Sampioene op roosterbrood, Rugby-kyk en eet op jou skoot

16 Aug

Vandag se Sondagkosstorie is ‘n annerste storie, een wat eintlik nie vra vir oorvertel nie.

image

Dis ‘n geval van opgewarmde winkel-lasagne, raap-en-skraap snipper-tamatie- en kropslaaislaai. Die kleinskrif op die foeliebak beweer dit voed 4, my alie. Toe die aanwysings- baktyd verby is, bibber die winkel-homemade dis nog onder die dun, bleek, uitgewaste witsous-kombers. Ek gee nog 10 minute en draai die oond warmer, en hoop vir ‘n kleurtjie.

Om my gewete te stil kry die slap skeppe gekoopte lasagne ‘n ordentlike buurman van Portabellini sampioene op goeie brood.

 

Ma Inez, gewoond aan eksotiese Sondagreise uit my hand gee die spulletjie een kyk en dring aan op haar gewone winkelbrood-toebroodjies lig gesmeer met Rama of iets dergeliks erg. En ‘n Bakkie joghurt. Dit gee Annamie vir haar op Ma se skinkbord met haar Eie gehekelde groen lappie.

Want sien, ons eet nie aan tafel vandag nie. Ek kook nie, dek nie tafel nie, want Ma, Ian en Annamie kyk rugby. Eet op hulle skote voor die TV.

So gaan dit by Huiskok. Verkies jy eerder om etenstyd rugby te kyk en op jou skoot te eet, kry jy by my kamma-lasagne, en as jy gelukkig is ‘n sny goeie brood.

Ek wonder vlugtig wie speel téén wie, en gaan sit net buite die grense van hul luide cheers vir een of ander blink manoeuvre van hul span. Ek wonder waar my ma haar liefde vir die Heilige R gekry het, en waar ek myne verloor het.

image

Portabellini sampioene op goeie brood
Bedien 4

1 houer portobellini sampioene, halveer
30 ml botter
15 ml olie ( Ek hou van Olive Pride se saadolie-olyfolie versnit)
2 knoffelhuisies, gekneus
100 ml room, of suurroom
Sout, peper, neutmuskaat
Bediening: Goeie brood, sprinkel pietersielie, suurlemoenskyf

Metode
Verhit botter en olie in die pan tot dit sis, voeg knoffel by. Haal knoffel uit sodra dit goudbruin is. Braai die sampioene bruin, voeg room by, roer deur en geur. Skep op sny vars of geroosterde brood, strooi pietersielie oor en bedien met skyfie suurlemoen.

Oondgebakte gevulde uie sonder die trane

2 Jul

Dis ‘n groente wat ons laat huil en ons kos laat lag. ‘n Ondergrondse knol wat altyd die ondersteunende rol speel, eerder as om koning te kraai; en die groente wat die meeste op aarde gebruik word, en in elke kookkuns. Begin die meeste resepte nie juis met ‘skil die uie’ nie?

Uie in my koperbak.

Uie in my koperbak.

So begin die boek Like Water for Chocolate van Laura Esquivel met die openingsreel  ‘Take care to chop the onion fine’. Die hoofkarakter  Tita word in trane gebore, tussen die kokery en die uiskillery deur. So baie is daardie dag gehuil  dat daar genoeg sout op die klipvloer opgevee is om ‘n tien pond sak te vul.  Hier is ‘n uittreksel uit die magiese  openingshoofstuk:

“PREPARATION: Take care to chop the onion fine. To keep from crying when you chop it (which is so annoying!), I suggest you place a little bit on your head. The trouble with crying over an onion is that once the chopping gets you started and the tears begin to well up, the next thing you know you just can’t stop. I don’t know whether that’s ever happened to you, but I have to confess it’s happened to me, many times. Mama used to say it was because I was especially sensitive to onions, like my great-aunt, Tita.”

(‘N Verdere deel van die boek se begin, en die magiese uie-huilery, onderaan die inskrywing)

My gevulde uie wat wolwefluite gekry het.

My gevulde uie wat wolwefluite gekry het.

Die uigereg wat ek jou van wil vertel is nie ‘n tranetrekker nie, want net die papierdroog skil word  afgehaal en die uie heel gekook. Dus, geen trane. Baie lekkerte. Ek het juis hierdie naweek die skottel bruingebakte uie met groot trots tafel toe gedra. daar was ‘n paar wolwefluite van die manne se kant af – nie vir my nie, maar vir die uie wat so pronkerig vertoon.

Heel oondgebakte uie, gevul met sampioene, spek en kaas

Bestanddele

  • 6 groot uie, geskil, met worteldeel heel gelaat
  • 40 gm botter, vir braai (plus 7,5 ml olyfolie/saadoliemengsel as jy wil keer dat die botter brand)
  • 50 gm pancetta of gerookte ontbytspek, fyngekap
  • 4 groot bruinsampioene, fyngekap
  • 25 gm gedroogte porcini, 5 minute in warm water geweek, water uitgedruk en dan fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 60 gm dik room of suurroom vir vulsel + 250 ml klitsroom (pouring cream) vir oorgooi
  • 60 gm fyngerasperde harde kaas, soos parmesaan, pecorino of Gruyère plus ekstra vir oorstrooi
  • 50 gm vars growwe broodkrummels
  • 7,5 ml vars gekapte tiemie plus ekstra takkies vir bediening
  • Fyngekapte skil van 1 suurlemoen

    Reg om oond toe te gaan.

    Reg om oond toe te gaan.

Metode

  • Kook uie in groot kastrol oor lig-kokende soutwater tot sag vir sowat 20-30 minute afhangende van hoe groot die uie is. Dit moet sag wees,  maar nie uitmekaar val nie. Dreineer.
  • Koel af tot jy die uie kan hanteer sonder om jou vingers te verbrand en sny die bokant van die uie af – sowat 2 cm stuk – dit gaan die deksel vorm wat jy later gaan terugsit op die gestopte uie.
  • Met ‘n klein skerp messie, sny nou versigtig ‘n holte uit die binnekant van elke ui. Hol die ui verder uit sodat net ‘n dik dop oorbly. Moenie gate in die dop steek nie. Behou sowat 1/3 van die uie wat jy uitgehol het, kap dit fyn en hou dit eenkant om later in die vulsel te gebruik.
  • Verhit die oond tot 180C. Verhit die botter in ‘n pan oor medium hitte en voeg die gekapte uie, pancetta of spek, sampioene, porcini en knoffel by en soteer in die pan tot sag, sowat 10 minute. Skep uit in ‘n bakkie en laat mengsel afkoel. Voeg nou dikroom, fyngerasperde kaas, broodkrummels, tiemie en suurlemoenskil by. Geur na smaak en skep in die uitgeholde uie. Sit die uiedeksels op.
  •  Plaas die gevulde uie in ‘n oondbak, sodat hulle lekker snoesig teen mekaar staan, gooi die room oor en strooi tiemietakkies oor. As daar vulsel oorgebly het kan jy dit tussen die uie dot. Bak tot goed bruin, sowat 50 minute.
  • Opsioneel: strooi ekstra kaas oor tien minute voor dit klaar gebak is. Bedien warm.

So karamelliseer ek uie:

  • Gebruik 2 groot bruin uie, in dun ringetjies gesny (probeer dit eweredig of met ‘n mandolien sny).
  • Verhit 2 eetlepels olyfolie in ‘n pan en voeg die uieringe en ‘n knippie sout by, verlaag die hitte en soteer sowat 30 minute tot sag en goudbruin terwyl jy nou en dan ‘n roer gee. Moenie haastig raak en die hitte verhoog nie. Die uie kan maar effe bruin word op plekke, maar nie te swart nie anders proe dit bitter. Geur met sout en peper.
  • Vir variasie en ‘n taaier mengsel: sodra die uie sag en effe goudkleurig raak (dis so na 20 minute) voeg 25 ml bruinsuiker en 15 ml balsamiese asyn by en kook verder tot taai en gekaramelliseer vir nog 10-15 min.

So braai Moro uie bros:

Sam en Sam Clark van Moro se metode is ‘n treffer, maar gebruik heelwat olie en moet liefs in twee sarsies gedoen word om te verseker dat die uie bros en krakerig braai. Bedien dit oor lensies of rys, of op hamburgers en selfs aartappelslaai.  Om 2 groot uie te karamelliseer, verhit 300 ml sonneblomolie in ‘n groot braaipan of kastrol. Sodra goed warm, gooi die helfte van die fyngesnyde uie in die pan, en braai oor medium hitte tot mahoniebruin. Skep met gaatjieslepel uit, plaas op kombuispapier om te dreineer en herhaal die proses. Die orige olie kan herwin word, maar onthou dat dit nou sterk na uie smaak.

‘n Ander metode wat die Nasionale Uieraad van die VSA aanbeveel:

  • Halveer en sny die uie in ringe. Spuit die pan se bodem met kleefvrye sprei, kook dan die uie met 15ml olie vir sowat 20-25 minute teen medium-lae hitte. Geur. As dit begin vassit, gooi ‘n klein hoeveelheid water by sodat dit losstoom. Die uie sal tot 5 dae in die yskoud hou.

    Uieringe by een van die groot uiefeeste wat in die VSA gehou word - Hoekom nie ons ook nie?

    Uieringe by een van die groot uiefeeste wat in die VSA gehou word – Hoekom nie ons ook nie?

Gebraaide uieringe}

  •  Sny 3 uie in 1 cm ringe, maak die ringe los van mekaar en plaas in mengbak, voeg 250 ml karringmelk by en laat staan vir 30 minute.
  •  Maak ‘n karringmelkbeslag aan: plaas 1 koppie koekmeel in ‘n bak, maak ‘n holte in die middel, voeg 125 ml karringmelk en 80 ml bier by en klits tot goed gemeng. Laat staan die beslag vir 30 minute.
  •  Verhit olie in ‘n kastrol of diepvetbraaier tot 180C, laat karringmelk van die uieringe afdrup, doop die ringe in koekmeel en doop in die beslag. Braai ‘n paar ringe op ‘n slag tot bros en goudbruin, 2-3 minute. Dreineer op kombuispapier. Bedien met gegeurde sout en asyn.

WENKE:

Hoe kan jy keer dat jou oë traan as jy uie skil? Plaas die uie vir 3 minute in die yskas, sny die bokant af en hou die wortelkant heel – die grootste konsentrasie van die swael-komponente wat die trane laat vloei is aan die wortelkant.

Hoe om uie te stoor: Nooit in ‘n plastieksak nie! Bêre ongeskilde uie in ‘n koel plek met goeie ventilasie. Klaar-gekapte uie in ‘n goed-verseelde houer sal 7-10 dae in die yskas kan hou.

Hoe om uie-asem te voorkom: soms kan mens nie die smaak van rou uie  uit die mond uit kry nie – kou dan ‘n takkie pietersielie, of spoel die mond uit met sterk suurlemoenwater.

Om die reuk van uie van jou hande af te kry, vryf jou hande met suurlemoen. Om die uie-reuk uit ‘n pot of pan te haal, skuur dit met sout.

Om die ergste uie-byt uit rou uie te haal, kan dit opgekap vir  60 minute in yswater geweek word, of onder lopende water afgespoel word.

My eie groot vraag is: hoekom is daar nie ‘n Uiefees in ons land nie – daar’s tog ‘n fees vir alles. In ander werelddele is daar ui-saamtrekke soos die Uiefees in Weslaco, Texas; die Walla Walla Soetuiefees in Washington, die Big Onion Festival in Norfolk, Brittanje en in Glennville word die Soet Uiefees al 38 jaar gehou. Daar wor tot ‘n Mej Georgia Uiefees-koningin gekies.

Midde-Oosters-Mediterreens-gedekte tafel met uie wat hul glorie onthul langs skaapboud in perkamentpapier en sumac-platbrode.

Midde-Oosters-Mediterreens-gedekte tafel met uie wat hul glorie onthul langs skaapboud in perkamentpapier en sumac-platbrode.

Erfkos:

Uie is van die vroegste dae in die Kaapse nedersetting aangeplant en was ook deel van die groente wat vir die verbygaande skepe verskaf is. Al wilde uie wat reeds hier gegroei het en van die plaaslike mense se koskultuur sou wees is die wilde-prei (allium dregeanum), soos aangedui in Dr HW Claassens se  boek Die Geskiedenis van Boerekos.

Daar’s haas nie ‘n bredie, sop of sous wat nie begin met ‘braai die uie’ nie. Daar is egter ook uie-geregte wat op eie bene staan.

  • Slaphakskeentjies: lees gerus my blog-inskrywing oor slaphakskeentjies, en hoe hierdie erfkos-uieslaai aan sy naam gekom het.
  •  Die oumense het ook graag piekeluitjies gemaak – as jy Dine van Zyl se Die Groot Boerekos-boek 2 het, kyk op p 164. Sy vertel hoe hulle destyds die uitjies met ‘n hoedespeld geprik het.
  • ‘n Resep vir piekeluie verskyn reeds in ‘n Arabiese geskrif van 1165.

    Die manne wat vir die gevulde uie wolwefluite gegee het Sondag, cheer saam met my twee kossusters die gedienstige ui aan. Ian het die foto geneem. L na R: Anel, Righardt, ek, Daleen, Rick, Pieter

    Die manne wat vir die gevulde uie wolwefluite gegee het Sondag, cheer saam met my twee kossusters die gedienstige ui aan. Ian het die foto geneem.
    L na R: Anel, Righardt, ek, Daleen, Rick, Pieter

“Tita was so sensitive to onions, any time they were being chopped, they say she would just cry and cry, when she was still in my great-grandmother’s belly her sobs were so loud that even Nancha, the cook, who was half-deaf, could hear them easily. Once her wailing got so violent that it brought on an early labor. And before my great-grandmother could let out a word or even a whimper, Tita made her entrance into this world, prematurely, right there on the kitchen table amid the smells of simmering noodle soup, thyme, bay leaves, and cilantro, steamed milk, garlic, and, of course, onion.

Tita had no need for the usual slap on the bottom, because she was already crying as  she emerged, maybe that was because she knew then that it would be her lot in life to be denied marriage. The way Nancha told it, Tita was literally washed into this world on a great tide of tears that spilled over the edge of the table and flooded across the kitchen floor.

That afternoon, when the uproar had subsided and the water had been dried up by the sun, Nancha swept up the residue the tears had left on the red stone floor.  There was enough salt to fill a ten-pound sack-it was used for cooking and lasted a long time. Thanks to her unusual birth, Tita felt a deep love for the kitchen, where she spent most of her life from the day she was born.”  (Like Water for Chocolate, Laura Esquivel, Bantam Doubleday)

En vir oulaas die heerlike uiegebak:

Moet-maak gereg - ideal vir vleislose Maandag - los dan net die spek uit.

Moet-maak gereg – ideal vir vleislose Maandag – los dan net die spek uit.

Kwepers vir die groot onthou

25 Jun

‘They dined on mince, and slices of quince Which they ate with a runcible spoon; And hand in hand, on the edge of the sand, They danced by the light of the moon.’

{Edward Lear, The Owl and the Pussycat}

Kwepers kom na na 6 ure stiltetyd in die oond te ruste in die mooi glasbak wat Daleen een jaar vir my verjaarsdag gegee het. (Foto: Roxy Laker)

Kwepers kom na na 6 ure stiltetyd in die oond te ruste in die mooi glasbak wat Daleen een jaar vir my verjaarsdag gegee het.

Kwepers het ‘n romantiese sy, sy bulterige baadjie ten spyt.  In Antieke tye sou ‘n Griekse bruid eers aan ‘n kweper knibbel voor sy die bruidskamer betree het, reg vir ‘n soet-gegeurde soen. Dis die goue appel, ‘n geskenk van een mitiese god aan ‘n ander. Ons liefdesverhouding met hierdie kiewe-saamtrek vrug deur die eeue glo ek is deels verwondering dat iets so onaansienlik-knoetserig, frank en hardekwas omgetoor kan word in iets so adellik en edelsteen-mooi soos ‘n bloeiselpienk of robynrooi gebakte kweper – afhangende hoeveel stiltyd dit in die oond gegun word.

Gee kweper aandag en jy word beloon met die smaak van liefde en ‘n parfuumgeur wat jou lighoofdig laat. Om ‘n kweper van lelike-eendjie tot swaan te verander maak van die kok ‘n alchemis, ‘n towenaar in die kombuis.

Ek is gelukkig om kwepers met my kinderdae te kan verbind. Darem nie die kweperlat wat menige stout knape se bas laat brand het nie. Kweperlanings, eens ‘n bekende gesig aan die ou Kaap is egter presies dit – iets van die verlede, maar hier en daar word kweperlanings nog wel aangetref, soos op die plaas Diemersdal, nie te ver van waar ek woon nie. Kwepertyd is dit gewoonlik waar ek gaan bedel.

Hierdie jaar het ek my kwepers van die platteland af aangery, uit Robertson se kontrei. Die kattebak was volgepak, want ek het altyd baie planne vir kwepers. Verkwik deur die ryk geel skil en knoetserige wange skep ek stillewes en pak ek my koperbakke vol daarmee. Turkoois-blou bakke ook, want min dinge skep so ‘n mooi prentjie saam.

Sondagskenkel en kwepers, met ekstra kwepers in botter tot neutbruin gebraai, /die turkooisbak is deur die keramiekkunstenaar Diana Ferreira.

Sondagskenkel en kwepers, met ekstra kwepers in botter tot neutbruin gebraai, /die turkooisbak is deur die keramiekkunstenaar Diana Ferreira.

So verknog raak ek aan die spatsels geel in my sit- en eetkamer dat ek aanvanklik ‘n tikkie skeidingsangs ervaar om die kwepers kombuis toe te vat. Teen die tyd dat ek uiteindelik ingee, is daar een of twee wat my uitstel nie oorleef nie, dan moet ek kneusplekke en swart kolle met ‘n messie uitsny. Min het ek voorsien dat my vrag kwepers vanjaar salf sou word vir die pyn en skok van ‘n geliefde ouboet se skielike sterwe. Dis na kwepers wat ek uitgereik het in die oomblik van ongeloof, en die vaal donsies afgevryf het om net iets anders met my hande te doen as trane afvee.

Dis die ding van kwepers: dis ‘n vrug met karakter en inbors. Dit dra nie sy deugde op die bors soos ‘n ryp vy of sappige geelperske nie. Arbeid adel. Selfs om ‘n kweper in stukke te sny, of die klokhuis uit te haal vat werk en mesvaardigheid. Kweper kan rou geniet word, ja, soos toe ons as kinders sout oorgestrooi het en so verbaas was dat dit die suur laat verdwyn. Nou nog is rou kweper – grootmens-gemaak met ‘n paar byvoegings ‘n onthou-smaak.

Daarom moes ek net  tydens die eerste reeks van Kokkedoor (waarby ek agter die skerms betrokke is) Tannie Poppie se kwepersambal-resep by haar afbedel: 2 groot of 3 kleiner kwepers,  1 ui, knippie sout, 125ml asyn, 1 rooi rissie. Skil die kweper af rasper dit fyn, meng met fyngekapte uie en rissie, strooi sout en peper oor, roer die asyn in, gooi in bottel, sit in yskas tot gebruik.

Die filosoof Martin Versfeld wy in ‘Food for Thought’ ‘n hoofstuk aan kwepers – en het ook ‘n goeie slag met sambal: Rasper ryp kwepers, sout dit liggies en laat staan ‘n uur vir die vloeistof om uit te drup. Meng dan met ‘n bietjie bruinsuiker, olie, groen brandrissie, peper en asyn – of, beveel hy aan selfs ‘n bietjie tamarynsap en kruisement.

Dis seker met Versfeld se beskrywing van ‘a dish of ripe, yellow quinces on the table, amongst which you have propped a few scarlet hibiscus blooms’, dat ek ‘n donkerpers fluweellap uit my stinkhout-linnekas gaan opdiep het en die geel vrugte in glasbakke opgestapel het om lig na die lanferkleed oor my hart te bring.

Op my spensrak is nog ‘n fles of twee van laasjaar se spesery-kwepers (ek gee onder weer die resep), en ook ‘n flessie of twee kweperjellie (die is as geskenke gekry – ek het nie die hand om kweperjellie so helder of geset genoeg te kry nie). My kweper-odyssey neem my na soet plekke, na soet-suur, soet-sout-suur-plekke en die suur-suur van piekelkwepers. Ek soek na nuwe smake, met ‘n skeut van die bekende.  Nie kweperbredie nie (Peter Veldsman en Johan Odendaal maak die beste, ek gaan eet dit by Emily’s); ook nie my ma se  ingelegde kwepers uit ‘n glasfles en dun vla nie, dit laat my te veel verlang na die oudae toe ons almal nog kind was. Eers die vleise:

Kwepers as bykos kan 'n slag lekker bruin gebraai word in botter. Lekkerder as tjips. Goeie maats met patats.

Kwepers as bykos kan ‘n slag lekker bruin gebraai word in botter. Lekkerder as tjips. Goeie maats met patats.

Sondag-lamskenkel met kwepers op twee maniere In hierdie gereg word kwepers behoorlik gevier. Nie net word kwepers saam met die skenkels tot murgsag geprut nie; daar word ook botter-gesoteerde kweperskywe saam met dit bedien. Ek het ook patats in die oond gesit, maar dis heeltemal jou keuse. 4-6 ruim porsies Vir kweper-skenkels

  • 30 ml olyfolie (ek gebruik hiervoor Olive Pride se gemengde olyf- en saadolie)
  • 2 groot uie, in agstes gesny
  • 3 groot kwepers, geskil en in kwarte of agstes gesny
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap of gemaal
  • 3 lourierblare
  • 250 ml lam, groente of hoenderaftreksel
  • 30 ml fyn appelkooskonfyt
  • 10-15 ml paprika (gebruik 15 ml as jy baie goeie paprika het, anders minder)
  • 15 ml rooiwynasyn
  • 15 ml fyn koljander
  • 15 ml fyn komyn
  • Sout en peper

    Kwepers word halfpad deur die gaarmaak by die skenkels gesit.

    Kwepers word halfpad deur die gaarmaak by die skenkels gesit.

Metode:

  • Verhit oond na 150C.
  • Geur die skenkels met sout en peper. Verhit die olie in ‘n oondvaste dikboomkasserol-bak (bak met ‘n deksel) en verbruin die skenkels aan alle kante. Werk in twee sarsies om te verseker dat dit mooi verbruin en nie begin stoom nie. (Pak dit in twee lae opmekaar indien nodig).
  • Meng die volgende saam in ‘n bakkie: aftreksel, asyn, konfyt, paprika, koljander, komyn en knoffel; giet dit oor die skenkels. Pak die uie en lourierblare om die skenkels, sit die deksel op en bak in die oond vir 90 minute. Pak nou die kweperskywe rondom die skenkels, bedek weer en bak ‘n verdere 90 minute.
  •  *Indien verkies, kan jy 2-3 groot patats ook in die oond bak (net geprik) om later saam met die ander kwepers in die pan te braai.

Neutbruin-gebraaide kweperskywe Die kwepers word eers sag geprut en dan liggies in botter gebraai. Dis iets nuuts vir my wat ek beslis weer sal maak. Die idee kom van Diana Hendry, ‘n Ierse kosskrywer wat ek baie bewonder. Sy pak  egter haar gebraaide kwepers terug in die pot met vleis, terwyl ek Dit apart bedien.  As jy wil kan jy gaar skywe patat ook in die botter bruin braai en saam met die kwepers bedien. Dit kan ook met ander vleise voorgesit word.

  •  1 groot kweper of 2 medium kwepers
  • 2-4 stroke suurlemoenskil
  • Sap van 1 suurlemoen
  • 2 eetlepels heuning
  • 25 ml botter

Metode:

  • Skil die kwepers, sny in kwarte en verwyder klokhuis. Plaas in kleinerige kastrol met net genoeg water om dit te bedek. Voeg die lemoensap- en skil en die heuning by. Bring tot kookpunt en verminder dan die hitte. Prut tot sag. Haal uit die vloeistof.
  •  Net voor opdiening, sny die kweperkwarte in dunner skywe. Verhit die botter tot sissend en soteer die kweperskywe tot goudbruin. Bedien saam met die skenkel-en kwepergereg.

 *Indien verkies kan jy saggekookte kwepers en gaar patat saam fynmaak soos kapokaartappels.

Weeksaand kweper en amandel hoender

Weeksaand kweper en amandel hoender

Weeksaand kweperhoender met amandels en komyn Betekenisvolle toeval. Gourmet Traveller het hierdie maand ‘n hele artikel ‘Quince Essential’ tot oorlopens toe vol met kweper-idees. Hierdie resep is ‘n wonderlike manier om nuwe fut te gee aan die middel-van-die-week se hoendergereg. Die heel amandels se krakerige neuterighed pas perfek by die sagte kwepers. Die kwepers word vinnig gestoom, wat dit ‘n ligter smaak gee as die lang-bak tegnieke.

  •  1 groot kweper of 2 kleineres
  • 1 suurlemoen, gehalveer (rasper eers die skil af en behou)
  • 50 g botter, met 15 ml olie Plus 50g botter
  • 1 hoender, in stukke opgesny of ‘n pak dye en boudjies
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 60 g amandels (met skil aan, nie vooraf gerooster en gesout nie)
  • 1 kaneelstokkie
  • 15 ml heuning
  • 5 ml elk fyn komyn en gemmer
  • Peper
  • 7,5 ml borrie
  • 125 ml water

Opdiening: rys of couscous Metode:

  • Skil die kwepers en sny in kwarte. Smeer oral oor met die suurlemoenhelftes om te voorkom dat dit verkleur.
  • Stoom die kwepers oor ‘n kastrol lig-kokende water tot vurk-sag (sowat 25 minute). Laat afkoel en sny in dunner skywe.
  • Verhit die olie en botter in ‘n kasserolbak en braai die hoenderstukke bruin (sowat 5-7 minute). Haal hoenderstukke uit.
  • Braai die uie goudbruin in dieselfde pot vir sowat 5 minute – roer nou en dan. Voeg die amandels, kaneelstokkie en borrie by en braai liggies vir sowat 4 minute tot die amandels gerooster is. Skep uit en hou eenkant.
  • Verhit die orige botter in die kastrol, voeg die heuning by en roer tot die heuning begin karamelliseer, voeg die gestoomde kwepers en borrie by en braai 3-4 minute tot goudbruin. Skep uit.
  • Skep nou die hoender en uie terug in die kastrol, voeg water en suurlemoenskil by en kook tot die hoender sag is vir sowat 40 minute. Plaas die kwepers terug in die pan en kook vir nog 20 minute. Geur met sout en peper, asook suurlemoensap.

Bedien met rys of koeskoes.

Stadig gekook met diep geure en donker kleur. Bedien met crème fraiche, Griekse jogurt of looproom, of of of.... (foto Roxy Laker)

Stadig gekook met diep geure en donker kleur. Bedien met crème fraiche, Griekse jogurt of looproom, of of of….

Stadig-gebakte – regtig stadig gebakte – robynrooi kwepers in vanielje-wynstroop Dit is ‘n naweek-projek, want jy het enigiets tussen 6 tot 9 ure (en selfs oornag as jy wil diep-dieper-diepste rooi gaan) nodig vir die kwepers om  donkerrooi te kleur in die oond en vir die geur om te verdiep. As jy jou kwepers egter net roospienk wil hê of net 2 ure het om hierdie paradyslike nagereg te maak, verskaf ek daarvoor ook ‘n resep. Bedien 6

  •  800 g strooisuiker
  • 1 liter water of wyn van jou keuse. Ek het rosé gebruik.
  • 1 vanieljepeul, oopgesny
  • Dun afgesnyde skil van halwe  suurlemoen
  • 1 pypkaneel
  • 2 steranys
  • 3 groot kwepers

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 130C. Plaas die suiker en 1 liter water in ‘n wye oondvaste skottel en verhit tot kookpunt. Voeg die vanieljepeul, suurlemoenskil en kaneelstokkie by.
  •  Intussen, skil die kwepers (behou die skil), sny in kwarte en verwyder die klokhuis (alhoewel ek hou die pitte in). Plaas die kwepers in die stroop soos jy aangaan, saam met die skil, om te keer dat dit verkleur. Bedek die pot met ‘n stuk bakpapier of waspapier, verhit tot dit net liggies begin kook. Sit die deksel op en plaas die bak in die oond. Bak tot die verlangde tekstuur en kleur:

5-6 ure vir ‘n medium robynrooi; 7-9 ure vir diep-rooi. As jy dit nog donkerder wil kry, skakel die oond na 9 ure af en laat oornag in die oond afkoel. Kwepers wat so in stroop gekook word hou tot ‘n maand in die yskas – as jy dit nie dan alreeds verslind het nie. Ek sal dit bedien met zabaglione of creme fraiche. My kosvriende beveel ook aan:

  • Looproom (Rosa de Klerk)
  • Lekker dik vla (Gerdie van Zyl)
  • Woolies se ‘Extremely Creamy Madagascan roomys (Sonja Dreyer)
  • Belgiese sjokolade roomys met ‘n skeut brandewyn (Sonia Cabano)
  • Room waarby ‘n skeutjie brandewyn ingeklits is (Liza Louw)
  • Rooibos vla (Lorraine Swanepoel)
  • Mascarpone (Ellen Marais)
  • Volroom Griekse jogurt (Norman McFarlane)
  • Vanielje malvalekkerroom (Cobus Bekker)
  • Room en neute (Annatjie Reynolds)
  • Heuning (Annalize Visser)
  • aaa slow poached 2de glasbak IMG_6190 Small

Oondgestoofde kwepers met steranys en kardemom Van lelike eendjie tot swaan. Met hierdie metode kry jy ‘n rosige pienk kweper. Die verhouding tussen suiker en water maak ‘n dikker stroop, sodat die kwepers in ‘n korter tyd kan verkleur. Ek bedien dit in roospienk vintage glaskoppies met ‘n Italiaanse zabaglione sous. Speserye word ingespan om ‘n dieper geur aan die kwepers te gee, maar vir ‘n meer delikate geur, halveer die hoeveelheid peule of vervang dit met 1 pypkaneel. Bedien 6-8 Bestanddele

  • 5 groot (7 klein) kwepers, geskil, gehalveer of in skywe, pitte en klokhuis verwyder
  • 1 L water
  • 1 kg suiker
  • 4 steranys peule
  • 4 kardemom peule
  • Sap van een suurlemoen

Metode Voorverhit die oond na 160ºC. Plaas suiker, steranys en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Roer suurlemoensap by. Plaas die kwepers in ‘n oondvaste bak, bedek met suikerstroop (hou steranys in) en bedek met foelie. Bak sowat 2 ure tot die kwepers pienk word en sag is. Haal uit die oond en laat die kwepers afkoel in die stroop. Bedien. Die kwepers kan in gesteriliseerde flesse geplaas word; bedek met suikerstroop en seël. Wenk: Die kwepers kan ook op die plaat gekook word, pleks van dit in die oond te bak, prut dit in die suikerstroop vir sowat 45-60 minute tot pienk en sag. Jy kan ook die kweperhelftes stowe en daarna in netjiese skywe sny. Grootjie se piekelkwepers Soms het mens net lus vir ‘n suur-suurtjie kweper. Hierdie piekel is heerlik saam met wildsvleis, koue vleise, kaas en kerries. Ek het die resep by Hetta van Deventer-Terblanche gekry, wat dit weer op haar beurt uit ‘n ou tydskrif-bêreboekie oor oudae se resepte gekry het. Jy het nodig:

  • 6 kwepers
  • Vir die stroop:
  • 250 ml asyn
  • 80 ml suiker
  • 2 stukke pypkaneel
  • 4 naeltjies
  • 2 steranys
  • 1 rooi brandrissie, ontpit en opgesny
  •  Sny die kwepers in kwarte en verwyder die pitte en harde dele. Stoom vir ongeveer 15 minute oor kookwater.
  • Berei die stroop intussen deur die asyn en suiker oor lae hitte te roer tot die suiker opgelos is. Bind die pypkaneel, naeltjies en steranys in ’n moeseliendoekie toe en voeg by die stroop. Verhoog die hitte en laat kook. Voeg die kwepers by en prut vir 20 minute. Voeg die brandrissie by. Skep in gesteriliseerde bottels en verseël dadelik.

Nota: Piekel verwys na groente of vrugte (of ’n mengsel daarvan) wat in ’n speseryerige asynsous ingelê word, teenoor pekel, wat ’n soutoplossing is wat byvoorbeeld vir ham gebruik word.

Opgedra aan my ouboet Theo Espost. 1949-2014

Opgedra aan my ouboet Theo Espost. 1949-2014

Bronne: Gourmet Traveller, Junie 2014 Diana Henry, The Telegraph.co.uk Facebook-gesprekke The Owl and the Pussycat, Edward Lear / Wikipedia.org Swart- en wit kunsfotografie van Madonna – waarop die glasbakkies met donker kwepers met groot versigtigheid neergesit is, is deur Samarie Smith.

  • Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger:kos van Kokkedoor en skrywer-samesteller van die Kokkedoor-kookboeke. Besoek haar blog by huiskok.com, volg haar op Twitter (@huiskok) en luister Woensdae net ná 09:15 na Huiskok en die Kos wat ons Ken op RSG.
%d bloggers like this: