Tag Archives: teebroodjie

Marmalade Kersfeesbrood en Food Lover’s Market kompetisie

21 Nov

 

“Ek bring vir jou ‘n Kersfeesbrood en ‘n sonneblom uit Bethlehem”, sê my vriend Hannes van my sonnige vrugtekoekteebroodjie.

So beier die klokke en trek die Kersfees-elwe hul rooi  voorskote aan.

.

 

Ek trek weer saam met Food Lover’s Market die rooi emmertjie met hul luukse feestelike gemengde koekvrugte nader. Soos elke jaar het ek voor die Krismiskoek-kruispad gekom om te besluit watter styl en watse resep dit gaan wees:

  • Die tradisionele roete neem of afdraai na iets nuuts?
  • ‘n Beskonke of ‘n nugter koek?
  • Familieresep of iets trendy met gin of kombucha?
  • ‘n Kerktannie resep of iets raw en vegan uit ‘n moderne bakbybel?
  • Luuks en oordadig of iets eenvoudig en beskeie?
  • Iets diep en donker of goud en blond? Iets Latyns-Amerikaans soos Torte Navidad uit Venezuela, ryp gemaak op rum? Of ‘n drie-bestanddele vrugtekoek wat so ‘n Pinterest-darling is?
  • Geborduur met glansvrugte, stroperige gemmerstukke en blink robyne kersies? Of ‘n alledaagse, vriendelike vrugtekoekbroodjie wat met botter, tee en simpatie (en ekstra marmalade) ‘n teenvoeter is vir  die bittersoet van ‘n jaar.

Food Lovers Market het my geinspireer met die tema ‘om Kersfees huis toe te bring onder die Afrika Hemel’. Ek vertolk dit met die geel van sonneblomme, ‘n oranje-en-geel delikate doilie van my Ma Inez en die sitrusgeure van die lemoenboorde uit haar Clanwilliam-grootwordjare; sultana se goud en bruinsuiker se amber. Alles kleure van gasvryheid en warm mense wat sal hou van ‘n  ‘Kom-drink-by-my-Tee’ vrugtekoekteebroodjie.

Dis ‘n Plain Jane sonder slimstories en kreatiewe kinkels. En juis daarom kies ek vanjaar dit. ‘n Koek wat jy maak sommer net omdat dit lekker is om te lewe. ‘n Herinnering dat vieringskoeke nie net vir high days en holidays is nie. Haal vandág jou beste teekoppies uit. Draai vandág die deksel af van daardie flessie duur marmalade wat jy te jammer is om te eet. Maak ‘n blompot vol sonneblomme, nooi iemand oor wat dalk alleen en verlore voel en eet koek.

Dis so ‘n maklike koekbrood dat dit al jou verskonings wegneem om nie iets feestelik te bak nie. Als word in een bak aangemaak, geen rypmaak en maande se voer met drank nie, geen peperduur bestanddeke nie, geen geweek of opsny van vrugte nie.

Dis so ekonomies, so maklik, jy bak hom vanoggend en vanmiddag kan jy eet en uitdeel. Jy’t nie ‘n deftige Bundtpan nodig vir hierdie feestelike vrugtekoekbroodjie nie, ‘n broodpan doen die ding. Hierdie resep is genoeg vir twee koekbroodjies: een is vir jou en die buurvrou, die ander een gee jy weg. Eet dit met goeie botter, goeie tee en goeie geselskap.

Ek gee onderaan die resep inligting oor die groot #FoodLoversMarket Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.

Marmalade-Kersfeesbrood

700 g Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix

100 g glanskersies, liggies In meel gedompel en afgeskud

250 g botter, kamertemperatuur

6 groot eiers

120 ml vars lemoensap of melk

60 ml goeie marmalade of konfyt van jou keuse

250 g sagte bruinsuiker

500 g bruismeel

20 ml gemengde speserye

2,5 ml sout

Fyngerasperde skil van 1 groot lemoen

  1. Voorverhit die oond tot 170°C of 150°C waaieroond. Stel jou oondrak net onder die middelste rak. Spuit 2 broodpannetjies met kleefvrye sproei, voer uit met bakpapier sodat die lang kante oorhang. Dit maak dit makliker om later die koekbroodjie uit te lig.
  2. Plaas die botter, eiers, lemoensap of melk, konfyt, suiker, bruismeel, gemengde speserye, sout en fyngerasperde skil in die bak van die staanmenger of voedselverwerker. (Ek gebruik die K-hegstuk van my Kenwood). Meng goed deur sonder om te oormeng, en skraap die kante halfpad.
  3. Voeg die koekvrugtemengsel en glanskersies by en meng dit met ‘n houtlepel deur die beslag. Verdeel die beslag tussen die twee panne, maak dit mooi gelyk bo en tik elke pan 5 keer op die werkoppervlak. Trek ‘n streep met ‘n mes deur die bokant, dit kan help dat dit nie met ‘n bult rys nie (hoewel ‘n heuweltjie my nie pla met iets so informeel soos hierdie tee-dingetjie nie.
  4. Bak vir 80 minute. Steek nou ‘n toetspen (my ma het ‘n dun breinaald gebruik) in die middel en as dit skoon uitkom is dit gaar. Indien nog nie deurgaar nie, bak nog 10 minute en toets weer. Herhaal tot gaar.
  5. Haal uit die oond, laat staan 15 minute en keer uit op ‘n draadrak. Borsel marmalade oor die bokant.
  6. Bêre In ‘n lugdigte houer en hou die bakpapier aan tot jy dit gaan sny. Dit kan ook in kleefvrye plastiek of waspapier toegedra word, maar net nie foelie nie. Die teebroodjie is op sy lekkerste na twee dae, maar wie wil wag om fees te vier as jy vandag al iemand wat tee en simpatie ndig het kan bederf?

Wenke: hierdie vrugtekoekbroodjie is ‘n lekker spanningsvrye storie, wat nie soveel drukpunte het soos ‘n swaarder, vrugtebelaaide tradisionele vrugtekoek gewoonlik het nie. So niks van ‘n toedraaiery van jou pan met lae bruinpapier of koerantpapier nie. Wat jy wel moet dophou is dat dit nie te donker bak aan die bokant nie.

  • plaas jou oondrak een verstelling onder die middelrak.
  • ruil die panne na 50 minute om en roteer ook dat die voorkante na agter wys.
  • bedek liggies met bakpapier of foelie as dit te vinnig bruin word.
  • as jy ligter kante verkies voer die pan met twee lae bakpapier uit.
  • die baasbakkers plaas ook gewoonlik ‘n bakkie water in die oond; die stoom help teen brand en uitdroog.

Ek gebruik Food Lover’s Market se legendariese Luxury festive cake mix in die  rooi emmertjie wat al vir 25 jaar ‘n Kerstyd-instelling is. Dis gerieflik, want die koekvrugte is alles klaar opgesny en gemeng. Dis ekonomies (R79. 99 per kg) en is eksklusief tot hul takke landwyd.

Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.

Die prys is ‘n lieflike houtkrat vol Food Lovers Market produkte met baktoerusting soos die legendariese rooi emmertjie, so ook heerlike feestelike gebak en Kerslekkernye. Die wenner kry ook ‘n mengbak, handklitser én ‘n Bundtpan.

Skryf in deur hierdie skakel te volg 

https://foodloversmarket.co.za/win/

Resep en stilering: Errieda du Toit

Fotograaf: Ian Du Toit

Piesang- en sagte toffie onderstebokoek

14 Jan

Met die herlewing van landelike koeke wat nie op uiterlike versiering staatmaak nie, blom onderstebo-koeke weer.aaa blokke blou mooi IMG_3438 (3)

Die pynappelonderstebokoek rinkink steeds asof sy die ‘belle van die onderstebo-ball’ is, maar die eertydse glans het ietwat verdwyn uit haar goue kolrok met die neonrooi maraschinokersie. Dis egter nie  alles neusie verby vir hierdie retro-gebak nie. ‘n Kykie na gister: Die oumagrootjie van hierdie koekstyl kom uit ’n era wat koeke nog bo-op die vuur in ysterpanne, of skillets, gebak is. Die vrugte en suiker is op die bodem gesit, die beslag bo-oor geskep en op die vuur gesit.  Wanneer die koek op die bord omgekeer word, is die mooi patrone en  smaaklike stropie onthul.

Die koek het 'n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met 'n bietjie staan.

Die koek het ‘n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met ‘n bietjie staan.

Vroeg in die 20ste eeu het geblikte vrugte beskikbaar geraak en al wat bakker wou die pynappel-onderstebo-koek met sy kenmerkende neonrooi-maraschinokersies maak, wat toe as baie haute en gesofistikeerd gesien is. Vandag keer ons eerder terug na die vars, seisoenmaniere en ondersoek ander moontlikhede as vrugte uit ‘n blik. (Winter is ‘n ander saak – dan is ingelegde vrugte ideal). Gebruik vars steenvrugte soos perskes, nektariens, bessies, vars of bevrore, speserye of selfs vars kruie. Of maak die pynappelweergawe met vars pynappelringe, en los vervlakste kersies uit!

Algemene wenke: Gebruik kruie om die vrugte op te kikker, soos perskes en nektariens met basielkruid; vye en roosmaryn of kruisement en aarbeie.  As jy kruie gebruik, sprinkel dit bo-op die vrugte voor die beslag opkom. Dit kan ook as versiering gebruik word.

  • Moenie die vrugte te yl of  suinig in die pan rangskik nie. Die vrugte krimp ietwat.
  • Plaas die koekpan op ‘n bakplaat om die oond te beskerm teen van die taai vrugtestroop wat kan oorborrel.
  • Na die pan uit die oond gehaal is, laat dit ‘n minuut staan vir die kokende strope om rustig te raak, gaan versigtig om die rand van die pan om die koek los te sny en keer dan om.
  • Moenie die koek in die pan laat afkoel nie, want dan sukkel jy om dit uit te kry.
  • Ontspan. Daar bly dalk van die vrugte in die pan agter – rangskik dit net weer mooi.
  • aa blou agtergrond in piering IMG_3433

Steeds tropies, en sonder pynappel nie 

Ons is so getroud met piesangbrood dat mens vergeet watter fantastiese ander bakplesiere in ‘n piesang opgesluit is. Soos hierdie piesang- en sagtetoffie onderstebokoek. Dit is ‘n baie lekker sagte fyn koek met ‘n stroperige bolaag van piesang en bruinsuiker- en botterkaramel. Die toffie kan ook sout bykry om die modern soutkaramel-smaak in te span (nie te veel nie, want piesang moet steeds die held bly, nie die toffie nie). Vir ‘n ekstra tropiese noot kan klapper ook by die beslag kom. Wissel dit verder af deur die piesang of in die skywe te sny, soos hierdie voorbeeld, of sny die piesangs in ringetjies om ‘n polkadot-effek op die koek te skep.

PIESANG- EN SAGTE TOFFIE ONDERSTEBOKOEK 

Maak 1  23 x 12 cm koek in broodpan? Jy kan ook ‘n ietwat kleiner pan gebruik of ‘n 24 cm koekpan as jy ronde vorm verkies.

Maak eers die piesang-bolaag:

50 g ( ¼ k botter)

100 g (1/2 k)  bruinsuiker

2-3 piesangs geskil

Koek

200 g (1 ½ k) koekmeel

½ t bakpoeier

¼  t koeksoda

½ t sout

115 g ( ½  k sagte botter

1 k (200 g) witsuiker

2 eiers, kamertemperatuur

1 t (5 ml vanielje-ekstrak of paar druppels vanieljegeursel

½ k + 2 E suurroom (155 ml)

  1. Voorverhit oond tot 180C. Smeer ‘n 23 x 12 cm broodpan of ‘n 24 cm koekpan.
  2.  Maak die toffie-en piesang laag: Smelt die botter in ‘n klein dikboomkastrol oor medium hitte tot dit begin borrel. Voeg die suiker by, roer net tot opgelos en laat prut tot dik en glad. Gooi nou die karamel  op die bodem van die gesmeerde pan uit.
  3. Halver die piesangs in die lengte, en afhangdende van die grootte van die pan en die piesangs, sny elke stuk in 2 of 3 stukke.  Plaas die piesangs met die gesnyde kant op die toffie.
  4. Maak die koekbeslag:  In ‘n medium bak, sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam, Hou eenkant.
  5. In ‘n groter mengbak, verroom die botter en suiker tot lig en donsig – ek gebruik elektriese klitser. Onthou om die kante en bodem van die bak nou en dan te skraap.
  6. Voeg die eiers een op ‘n slag by (medium spoed) en klits goed na elke byvoeging. Klits die vanileje by.
  7. Op lae spoed klits die meelmengsel in 3 dele by, afgewissel met suurroom – begin met die meel en eindig met die meel.  Moenie die mengsel oorklits nie.
  8. Skep die beslag versigtig oor die piesangs en maak bo gelyk. Bak vir 40 – 50 minute tot goudbruin en toetspen skoon uitkom. Laat die koek vir presies 5 minute in die pan op ‘n afkoelrak staan. (as dit langer staan sal die koek vassit in die pan soos wat die karamel weer afkoel). Keer dit op die bedieningsbord uit en laat afkoel.

    Eet louwarm of afgekoel.

    Eet louwarm of afgekoel.

Bedien warm of teen kamertemperatuur. Die koek hou goed in die yskas.  Lekker met room, crème fraiche of roomys.

Piesangbrood vir ontbyt, teetyd en die kosblik

22 Oct

Ek onthou die keer wat ek die eerste keer gehoor het wat ‘n gros is. Toe ek nog ‘n laerskoolkind was het my pa Victor Saterdagoggende na die Epping-mark toe gegaan om te gaan vrugte en groente koop. Pa kom toe een Saterdag huis toe met ‘n krat vol piesangs. ‘n Gros. Ja 144 piesangs. Toe al klaar ietwat ryp.

Ek bak gou piesangbrood om saam te vat vergadering toe.

Ek bak gou piesangbrood om saam te vat vergadering toe.

Ons het aan banana-splits gesmul, ons het piesang op brood gesit met kaneel bo-oor en in die oond gerooster, Ma het kerriepiesangs gemaak, piesangs saam met die bobotie, piesangmoes in pannekoeke opgerol, piesangs oor die Weetbix, piesangs in poffertjies met kaneelsuiker oor. Piesangs skool toe in die kosblik. My skooltas het vir lank nog die piesangreuk gedra.  Natuurlik is daar piesangbrood gebak vir ‘n vale. Dit was voor die dae van die groot vrieskaste, so Ma het vir almal uitgedeel, die bure, die posman, die kuiergaste, en sommer vir die vriendelike afleweringsman van Kolly’s Apteek ook.

Die aangename geur van piesangbrood wat bak, vat my altyd reguit terug na Ma se kombuis met sy seegroen kaste en die stoof wat daarby pas. Sy het die resep uit die kop gemeng – met 144 piesangs om te verwerk kon sy in elk geval dit geblinddoek maak. Ek weer het ‘n resep nodig, en elke keer was dit ‘n boekdeurblaaiery om een te kry. Hierdie een hou ek nou voor in my Kook en Geniet vir die dag wat die piesangs in die vrugtemandjie te ryp word vir netso eet. As ek sjokolade in die huis het, word dit grofgekap bygemeng, sodat die stukkies sjokolade die piesangbrood bietjie optof.  Vir ekstra tekstuur strooi ek bruinsuiker bo-op voor ek dit bak – dit gee net ‘n ekstra bakkers-finesse aan die piesangbrood. Jy kan ook die derde piesang growwer fyndruk, vir ekstra tekstuur aan die piesangbrood. *

Piesangbrood is nie iets wat ons oumagrootjies sou maak nie. Die koekbrood soos ons dit vandag ken het eers in die 1930’s werklik gewild begin raak, deel van ‘n genre van vinnige meelmengsels wat deur die kommersiele beskikbaarheid van rysmiddels soos bakpoeier aangegryp is deur huisvrouens.Skielik was dit nie meer nodig om in te suur nie – vandaar die term vinnigebroodjies. Ek spoor wel ‘n resep vir Piesangkoek op in Mev van Tulleken se kookboek van 1923, wat met die roommetode gemaak word en versuikerde skil inkry. Ook nie Hildagonda Duckitt se boeke het ‘n resep vir ‘n piesangbrood nie. Vroeg in die 20ste eeu is piesangs ook merendeels net gebruik om bo-op koeke te sit.

Vir hierdie piesangbroodjie het ek heelwat okkerneute ingesit, bruinsuiker in die beslag en bo-op gestrooi en met konfyt vir ontbyt bedien.

Vir hierdie piesangbroodjie het ek heelwat okkerneute ingesit, bruinsuiker in die beslag en bo-op gestrooi en met konfyt vir ontbyt bedien.

Maak piesangs so gouer ryp: Hoe gemaak as die lus jou oorval en die piesangs in die vrugtebak loer vir jou met hul jong, groengeel skille aan – nie ‘n bruin kol in sig nie? Alhoewel almal dit maak met oorryp piesangs, is dit eintlik ‘n gebruik wat uit spaarsamigheid ontstaan het om vermorsing te voorkom. Dit is nie noodsaaklik vir piesangs om so ryp te wees nie. Dis wel makliker om fyn te maak, maar solank die piesang nie groen is nie, behoort jy goeie resultate met ‘n geelskil piesang te kry. As jy wel verkies, kan jy die piesangs op hierdie maniere vinniger ryp maak.:

  •  Plaas piesangs in ‘n bruinpapier- of plastiek sak saam met ‘n ongeskilde tamatie, appel of peer. Die gasse wat vrygestel word laat die piesangs gouer ryp raak – dit sal 24 uur neem.
  • Kan nie eers 24 uur wag nie? Pak die onryp piesangs op ‘n gevoerde bakplaat uit met genoeg spasie tussenin. Bak sowat 40 minute teen 150°C. Die skille sal heeltemal verkleur, maar die binnekant sal lekker sag en geurig wees.

Ekstra smaakskop en streusel:

  • As jy wil kan jy ekstra geur aan die brood gee met smaakmiddels soos kaneel, gemmer, vanielje- of amandelgeursel; okkerneute of pekanneute en selfs sultanas. Ek hou van die smaak van donker sjokolade saam met die piesang.
  • ‘n Ander nuutjie is om piesangbrood ‘n streusel bo-kors te gee: ¼ koppie meel, 1/3 koppie ligte bruinsuiker (saamgedruk)

Maak dan so: meng die meel en die bruinsuiker, Sny die botter in by die meel tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Roer die neute by en strooi oor die beslag in die pan voor dit gebak word. 1/3 koppie fyngekapte neute en kaneel. 30 ml koue botter in blokkies,

Pronto-pronto piesangbrood met sjokolade-stukkies  

Hoekom ek dit pronto-pronto noem? Die mengmetode is die vinnigste en maklikste van enige wat ek al gemaak het. Natuurlik vat hierdie vinnige broodjies steeds hul tyd in die oond. Hierdie koekbrood het ‘n pragtige tekstuur en piesangsmaak.

Bestanddele

  •  100 g sagte botter
  • 175g strooisuiker
  • 2 groot eiers
  • 2-3 ryp piesangs (fyngemaak)*
  • 225 g bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2 E melk
  • 100 g donkersjokolade, grofgekap
  • Bruinsuiker om oor te strooi.

Metode

  •  Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n broodpannetjie liggies uit en voer uit met bakpapier.
  •  Meet al die bestanddele af direk in die mengbak (buiten die sjokoladeblokkies) en klits vir 2 minute tot goed gemeng. Vou die sjokolade stukkies in.
  •  Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk, strooi bruinsuiker oor en bak in die voorverhitte oond vir 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die beslag sal ‘n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is.
  • Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak. Sit die ketel aan en geniet snye ongebotter met koffie of tee.
%d bloggers like this: