Tag Archives: tradisie

‘N LES IN VARK

5 Sep

My bewondering vir die Frans-gebore sjef Cristophe Dehosse, sjef-eienaar van Joostenberg Bistro by Klein Joostenberg en The Vine Bistro op Glenelly Landgoed is eintlik ‘n helde-verering. Dis hoekom ek aangedaan geraak het toe ek ‘n uitnodiging van sy vrou Susan ontvang het om ook by The Kraal op Joostenberg Landgoed te gaan kuier:

“Hoekom sluit jy en Ian nie by ons aan vir ‘n interaktiewe werkswinkel oor obskure varkvleissnitte wat Christophe en sjef Garth Bedford hier by The Kraal hou nie?  Ons eet daarna ook saam met my broer Tyrrel Myburgh wat vier oesjare van sy Joostenberg Estate Klippe Kou Syrah gaan oopmaak.”  

Die onopgesmuktheid van The Kraal op Joostenburg wynlandgoed in Muldersdrif is so karaktervol en eg soos die Dehosse-egpaar self. Die snoet-tot-stert-benadering was al vir Christophe ‘n leefwyse voor dit ‘n beweging geword het, ons land se eie Fergus Henderson. Afval is egter een van daardie verdelende onderwerpe waar diegene met afvalfiemies hulself ongelukkig ontneem van die gastronomiese weelde wat varkpootjies en ore, varkwangetjies- en tong en selfs varkstertjies inhou.

Hy het my begeester om my mesvaardighede op te knap en varkpote te ontbeen, behendig te vul met ‘n vulsel van guanciale (gekuurde varkwang), varkblad- en vel, vinkel en witpeper, dit vir 4 ure te posjeer en dan in die oond te rooster tot ‘n krakerige geurmirakel die kleur van mahonie.

Mens is nooit te oud om te leer nie; terwyl ek al die vet-gekuurde rafeltjie varkblad-gereg rillettes gemaak het, was dit my eerste kennismaking met rillon. Die rillon-metode behels om blokkies varklies op die been oornag te kuur en eers in bietjie vet te verbruin alvorens dit baie stadig in vet geprut word tot doeksag. In ‘n ongewone stap word karamel deurgeroer en die blokkies stadig gekook tot blinkbruin saligheid.

Ek is huis toe met die kaiingbroodresep, wat bedien is met rillettes, jambon persille en radyse.  Die warm varktong wat Christophe voorsit met waterblommetjies en suurvy gribiche-sous, is ‘n geinspireerde samekoms van klassieke Franse cuisine en inheemse Kaapse smake.

‘n Kasserol van varkwange, sekerlik een van die mees gesogte snitte, is in die styl van bourguignon stadig gestowe met jong wortels, uie en sampioen en bedien met heerbone gebraai met pietersielie en seldery. So lekker, ek deel die resep met jou hier.

Kraal se tuinslaai met korrelmosterdsous het die palet gesus voor die lemmetjie- en grenadellapoeding, suurlemoensmeer-roomys, pelargonium malvalekkers en sjokoladetruffel.

Wenk: Kyk uit vir Oink! The Perfect Pork Cookbook deur Billy Forssman en Quivertree Publishing. Christophe De Hosse se resep vir varkboepie met vinkel en appel is die eerste gereg om daaruit te maak.

KAIINGBROOD

1 kg witbroodmeel

640 g water by kamertemperatuur

20g vars gis

50 g suiker

20 g sout

25g varkvet

100 g kaiings

Meng meel, sout en suiker saam in ‘n groot mengbak. Maak ‘n holte in die middel.

Voeg die gis en water in die holte en roer om die gis in die water op te los. Voeg die meel geleidelik by die water in. Knie vir +- 5 minute totdat die gluten ontwikkel is.

Voorverhit oond tot 180 °C. Vorm 2 ewe groot brode met die deeg in klein balletjies.

Smeer die bakpanne met die varkvet. Plaas die deeg in die gesmeerde broodpanne. Laat staan vir 45-60 minute. Bak in ‘n voorverhitte oond vir 30 – 35 minute.

Smeer die kaiings eweredig oor die bokant van die brood en plaas terug in die oond vir nog 5-10 minute tot goed gaar en bruin.

RILLONS (varkblokkies in karamel)

Bedien 5-8

1 kg varklies (pork belly) been in, vel aan, in 3 cm blokkies gesny

5g pienk sout + 10g sout OF 15g sout

3 steranys

3 kardemomsade

5g gemaalde witpeper

800g gemaalde varkvet

200g suiker

Meng alle geurmiddels saam en vryf die varkblokkies oraloor om deeglik te geur.

Verkoel oornag.

Verhit ‘n groot swaarboompot oor medium-hoë hitte en voeg 1 eetlepel van die varkvet by.

Braai die varkvleisstukke oraloor vir 5–10 minute tot lig verkleur. Bedek met die oorblywende varkvet en prut vir 60-90min tot sag, en plaas die pot eenkant.

Maak ‘n karamel van die 200g suiker. Gooi ¾ van die kookvet uit en voeg die karamel by en sit die pot terug op matige hitte. Giet die varkvleis terug in die pot en roer deur die karamel om al die rillons te bedek.

Bedien warm of koud, as ‘n voorgereg met ‘n krakerige groenslaai, mosterd en piekels, of as deel van ‘n charcuterie-bord. Hou tot 14 dae in ‘n verkoelde lugdigte houer.

GEVULDE VARKPOOTJIES

Bedien 2

2 Varkpote

Sout en peper om te geur

Varkvet of kookolie

Vir die vulsel

500g ‘guanciale (gekuurde vangwang)

100g varkblad

300g gaar varkvel

½ knoffelhuisie

6g pienk sout + 22,5g sout OF 28,5g sout

7,5g witpeper gemaal

3g vinkelsaad

Bakpapier

Water vir posjeer

Rol die poot toe en draai styf toe met kleefplastiek. Bind netjies met tou vas, elke knoop 2 cm uitmekaar.

Maal vulselbestanddele saam, of kry jou slagter om dit saam te maal. Ontbeen die pote en maak skoon met ‘n blaasvlam om hare te verwyder. Sny poot in die lengte oop en spuit of skep die vulsel in.

Bring die water tot kookpunt in ‘n kastrol wat groot genoeg is om die pote onder water te hou. Plaas pote in die pot en posjeer stadig in water vir 4 uur tot baie sag.Verwyder uit posjeervloeistof en laat afkoel.

So 40 min voor opdiening, voorverhit oond tot 180°C. Verwyder tou en kleefplastiek van pote. Plaas pote op bakpapier, smeer met olie of varkvet. Bak vir 35min in oond tot die vel Bruin en krakerig is. Bedien met kapokaartappels en mosterd, en groenslaai.

VARKWANG BOURGUIGNON

Lewer 4

900g varkwang

300 g sampioene, skoongemaak

200g gerookte varklies (pork belly)

200g baba uie

Bietjie meel

1 stingel seldery, in blokkies gesny

3 wortels, geskil en in blokkies gesny

2 uie geskil en in blokkies gesny

½ kop knoffel ongeskil

1 takkie tiemie en 1 takkie pietersielie

½ bottel rooiwyn

Sout / peper

2-3 eetlepels botter

Marineer die varkwange in rooiwyn met die groente, knoffel en tiemie. Verkoel vir ten minste 12 uur. Dreineer die varkwange. Skei die vleis en groente.

Bring die rooiwyn tot ‘n sagte prut in ‘n skoon pot, verwyder die onsuiwerhede totdat die wyn helder is. Geur die varkwange mildelik met sout & peper aan beide kante, & strooi liggies met meel. Braai die vleis in botter in ‘n voorverhitte dikboom oondvaste kastrol goed aan beide kante. Haal die vleis uit pan en hou eenkant.

Voeg al die groente & kruie by braai liggies en roer met ‘n houtspatel om te verhoed dat dit aanbrand. Sodra die groente begin verkleur, voeg die rooiwyn by terwyl jy die bodem van die kastrol met ‘n houtspatel skraap om enige stukkies wat vassit los te maak. Gooi die rooiwyn in. Die vloeistof moet amper die vleis bedek, maar nie heeltemal nie, voeg ‘n bietjie water by indien nodig. Prut liggies met die deksel op, in die oond by 170 C vir 1 uur. Draai die vleis halfpad deur om. Die vleis moet baie sag wees wanneer dit gaar is.

Syg die kooksappe af en gooi dit terug in die kastrol om te verminder. Hou aan proe totdat jy ‘n intens gegeurde rooiwynsous het. Klits ‘n eetlepel of 2 botter by om dit fluweelagtig te maak

Voeg die vleis en die groente terug by die sous. Glaseer die baba-uie, panbraai die sampioene en gerookte vark liggies en skep jou bourguignon oor. Sit voor op fyn aartappel, polenta of couscous.

THE KRAAL WERKSWINKELS:

Soetgoed en nageregte met Sophia Lindop: 9 September 2022

Klassieke kombinasie: cabernet sauvignon en steak. 22 September 2022

Begeleide Lente werf- en plaaswandeling deur tuine en wingerd, seisoen-ete opsioneel: 15 Oktober 2022

Bespreek per WhatsApp 0796411320 of epos kraalrestaurant@joostenberg.co.za

Foto’s Ian Du Toit

Vetkoek kry sy dag

29 Aug

Release your inner-vetkoek … my mantra vir Vetkoek-dag op 30 Augustus.

Ons vetkoek-kultuur praat met ‘n unieke Suid-Afrikaanse tongval. Dis die amagwinya uit die townships, die basaarvetkoek vol kerriemaalvleis, die landbouskou-loop-en- eet-kos, die troos van vetkoek met kaas en appelkooskonfyt. Vetkoek hou ook vet pret in vir huiskokke wat nuwe idees met tradisie wil meng.

Vetkoek ghoens

Die vetkoek-familiesaamtrek

Diepgebraaide deeg is ‘n universele genot in elke vorm onder die son. Selfs ons eie koeksisters, koesisters is familie van ons vetkoek. Namakwaland se skuinskoek ook.

As ek ‘n familie-reünie vir die vetkoek-baktradisie moet reël sal elke uithoek van die aarde verteenwoordig wees – ‘n Verenigde Nasie van Vetkoek en inspirasie vir nog maniere om vetkoek te geniet.

Soveel nuwe maniere om die vetkoek-tradisie te vier.

Met my Italiaanse bloed aan vaderskant, nooi ek die verlangse familielede Toskaanse bomboloni (met vla en konfyt gevul) en zeppole met ‘n ansjovisvulsel. Ek gee ‘n ereboog vir fritelle, wat met sy lang lyf en keep in die mddel inspirasie vir een van my vetkoek-variasies is.

Die Hollanders se oliebollen (geurig met rosyne en lemoenskil) is die ere-gas as ‘n oer-ouma van ons vetkoek, en ook van olie-gebraaide deeg se grootste celeb – die doughnut/donut met sy Amerikaanse bravade en baie ‘costume changes’. Ander roemryke familielede is Franse crullers, heuning gedoopte loukoumades van Griekeland en New Orleans se beignets. Berliners en die Israeli sufganiyah se hart klop konfyt, terwyl die Meksikaanse buñuelos lekker rondrol in kaneelsuiker.

Vir my dag van vetkoek-herdenking het ek met uiteenlopende deeg, vorms en smake gespeel om te wys wat ‘n vetkoek kan wees as dit die dag uit die tradisionele vere wil klim.

Sourdough vetkoek met suurlemoensmeer.

Craft vetkoek: Hiervoor het ek natuurlik-gefermenteerde sourdough gebruik, gemaak met die suurdeeg-plantjie wat Ciska Rossouw van Loaves on Long al sewe jaar versorg. Die artisan-deeg is soortgelyk aan wat my ouma en my ouma se ouma gebruik het voor die dae van kommersiële en kitsgis. Jy kan duidelik proe dis met gekoesterde deeg gemaak – al was die kenmerkende sourdough smaak minder prominent as met gebakte brood. Die tekstuur is stewiger as die winkeldeeg, en die houvermoë is uitstekend. Dis die volgende dag nog lekkerder. Beg, steal or borrow.

Opdiening: Ek het ronde vetkoeke vol suurlemoen-smeer gespuit en ander in peperige speserysuiker gerol en met koffiesjokoladesous bedruip. (sien resep)

Vetkoek, speserysuiker en koffiesjokolade-drupsous

Die inspirasie vir die kombinasie van  vetkoek, die aromatiese speserysuiker met warm note en ‘n weelderige, blink koffiesjokolade-drupsous kom van die oliebolletjies sufganiyot uit Israel wat ek op TastingTable ontdek het.

Vetkoek se pad kruis met ‘n oliebol en speserye uit die Midde-Ooste.

Gebruik jou eie staatmaker-resep, klaardeeg of hierdie  vetkoekresep.

  • 1.375 liter (5 ½ k) koekmeel plus ekstra  vir strooi
  • 10 ml sout
  • 30 ml suiker
  • 10 g (1 pakkie) kitsgis
  • 500 ml louwarm water
  • Olive Pride saad- en ekstrasuiwer olyfoliemengsel vir diepbraai
  • 250 ml speserysuiker, vir rol (resep ingesluit)
  • Bediening: Koffiesjokoladesous, vir oordrup of doop (resep ingesluit)

Metode vir Vetkoek

Meng die sout, suiker, water en gis saam in ‘n mengbak. Laat staan 5 minute. Voeg die meel by en meng deur tot dit ‘n deeg vorm. Bedek liggies met ‘n klam lap of kleefplastiek. Laat rys tot die volume verdubbel het, sowat 1 uur.  (Maak die speserysuiker en koffiesous terwyl die deeg rys).

Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie af. Strooi nog meel oor soos nodig. Rol die deeg 2,5 cm dik uit en sny in die verlangde vorm, of druk uit met koekiedrukker of knyp bolletjies af en rol liggies in bolvorm.

Giet genog olie in In ‘n groot kastrol, lekker diep, sowat 7 cm. Verhit die olie oor matige hitte tot die olie warm is (180C). Diepbraai tot goudbraai, sowat 3-5 minute afhangende van die grootte.

Skep uit met ‘n gaatjieslepel, klad  op kombuispapier, rol in speserysuiker, drip sous oor..

Speserymengsel- en suiker*

  • 15 ml swartpeperkorrels
  • 10 ml koljander
  • 5 ml heel naeltjies
  • 15 ml komynsaad
  • 5 ml fyn kardamom
  • 2,5 ml neutmuskaat
  • 20 ml soet paprika
  • 10 ml fyn kaneel
  • 2,5 ml fyn gemmer
  • 250 ml ligte bruinsuiker

Rooster die peper, koljander, naeltjies en komynsaad droog in ‘n pan tot jy die geure kan ruik.

Keer uit en laat afkoel. Voeg die res van die speserye by en maal in speserymaler of stamper en vysel.  Meng 20 ml van die speserymengsel by die bruinsuiker in.

*Wenk: die speserymengsel is meer as wat jy nodig het om die suiker te geur. Hou die orige om lamsvleis, pampoenkoekies, groente of sop te geur of meng met olyfolie as marinade.

Koffiesjokoladesous

  • 15 ml botter
  • 15 ml koekmeel
  • 200 ml dik room
  • 125 ml bruinsuiker
  • 5 ml vanielje-ekstrak
  • Knippie sout
  • 60 ml kakaopoeier
  • Gerasperde skil van 1 lemoen
  • 5 ml vanielje-ekstrak
  • 80 g donker sjokolade, opgebreek
  • 60 ml sterk gebroude koffie

Smelt die botter in ‘n klein kastrol, roer die koekmeel by tot goed gemeng. Klits die room, bruinsuiker, vanielje, sout en kakaopoeier by. Prut oor matige hitte terwyl jy dit klits tot dit verdik, sowat 3 minute. voeg die sjokolade en die koffie by. Roer tot glad en blink.

Winkeldeeg en vetkoek alla fritelle

Ek het jare gelede ‘n handgeskrewe brief van Hester Rubens uit Pinetown ontvang waarin sy skryf van die ‘klippie in haar skoen’ – supermarkdeeg en “die dik rondebol, oneetbare vetkoeke wat verkoop word by kerkbazare en skole.”

Sy gebruik nog saamgeperste deeg (‘kitsdeeg werk dalk vir brood, nie vir vetkoek nie’) en sy roep ons op om dinge weer op die ou  manier te doen. “Kom, laat ons weer begin moeite doen en begin knie.

So waardevol is haar raad oor tradisionele vetkoek dat dit ‘n blogskrywe van sy eie verdien. Kyk uit daarvoor.

Sy gaan my  moeilik vergewe vir die kilogram pseudo-deeg wat ek by die supermark om die hoek gekoop het . My doel was om te eksperimenteer met fritelle, ons vetkoek se Italiaanse niggie. Wat ‘n wonderlike ontdekking!. Dit gaan nou gereeld op my Tuistafel verskyn.

So maak jy vetkoek alla fritelle.

Rol die deeg liggies uit, sny dit in lang stroke, en weer in korter stukke, soos jy ‘n platter vetkoek sou maak. Dan, die verskil – sny ‘n lang, skoon keep in die middel  af.  Dit dra daartoe by dat dit egalig gaar word.

Wat ‘n wonderlike ontdekking! Dit gaan hierdie somer op my Tuistafel wees, gemaak met vetkoekdeeg volgens Hester Rubens se tradisie-voorskrifte.

Laat ek ‘n lansie breek vir winkeldeeg-vetkoek, al kan dit nooit vergelyk word met die Ware Jakob nie.  Die deeg pof lekker uit en die tekstuur is lig,  ‘n skaflike kortpad, ekonomies en gerieflik.  Beslis baie beter as ‘n wegneem-burger.

LEPEL-VETKOEK

Vetkoek-tradisionaliste sal hierdie poffertjierige vetkoek met bakpoeier as rysmiddel kwalik as erfenishappie sien, maar vir my is dit die vinnigste pad na nostalgie. My ma het dit Sondagaande in ‘n japtrap vir ons gemaak, sommer so uit haar kop uit en die lepelvetkoek genoem. Lepelsvol van die beslag word in die warm olie gedrup. Die naaste daaraan is die vetkoekresep uit Kook en Geniet.

Dit  probeer nie meeding met die suurdeeg-weergawe nie, en verdien admirasie vir spoed, spaarsamigheid en veelsydigheid. Sjarmant selfs. By ‘n langtafel-ete het Isabelle Niehaus dit voorgesit met gebraaide stokvis, slaaiblare, souse en gepiekelde uie voorgesit, sodat gaste hul eie vetkoek-visburger kon bou.

  • 250 ml koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 1 eier, geklits
  • 125 ml melk
  • Olive Pride saad- en ekstra suiwer olyfoliemengsel om in te braai

Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ‘n mengbak. Meng die geklitste eier by die droë bestanddele in tot glad. Voeg die melk by om ‘n slap deeg te vorm. (Jy kan dit verder verdun met water indien nodig).

Giet genoeg olie in ‘n pan om die bodem behoorlik te bedek en verhit oor matige hitte. Skep lepelsvol van die beslag in die warm olie en braai ligbruin aan albei kante tot goudbruin en gaar. Die olie moenie te warm wees nie, anders raak die vetkoeke te  bruin voor dit behoorlik gaar is. Dreineer op kombuispapier en sit dadelik voor.

Viva Olive Pride vir die inisiatief om vetkoek te vier. #Vetkoekday #TouchofPride #amagwinya #amagwinyaday

IMG_3413Foto’s: Ian du Toit

 

 

 

Melktert op haar mooiste

27 Feb

Melktert, jou mooi ding.

img_8710

‘n Outydse melktert sal die supermodel Kate Moss haar woorde laat sluk dat niks so goed kan smaak soos dit voel om maer te wees nie. Sy het nog nie ’n melktert uit die oond gehaal wat haar eie maaksel is nie.

Melktert is die soet simbool van ons kultuurskat. Ons eet melktert as ons gelukkig is en as ons treur. Groot mans huil in hul harde baarde as die troostende geure hul terugvat na die duimvashou as kind dat daar genoeg vlapap in die kastrol sal oorbly om uit te eet.

By teepartytjies troon die melktert uit tussen koeksisters, konfyttertjies en haar ander soet gesante, en by kerkbasaars skouer gemeentelede mekaar om eerste by die melkterttafel uit te kom.

Melktert is ’n monument vir die selfbemagtiging van die tannies nommer sewe wat met die inkomste van hul tuisnywerheidmelkterte hul kinders geleer kry. So ’n tert verdien ’n nasionale dag.

’n Kykie terug
Melktert se stamboomwortels strek terug tot by die Romeine, pioniers van die eiervla. In die Middeleeue moes vindingryke kokke maniere bekook om die streng kerkreëls wat suiwelprodukte op vasdae verbied het, te omseil. Só het amandelpap, van amandelmelk, met gemmer en kaneel gegeur, ontwikkel, vertel die koshistorikus Hetta van Deventer-Terblanche.

Met die verslapping van die vasreëls het eiervla weer sy buiging gemaak, dié keer in ’n triomfantelike skilfer- of broskors. Selfs die tradisie om kaneel of kaneelsuiker oor te strooi, kom uit dié era.

Niggies en nefies van ons melktert kan steeds geproe word in Portugese vlatertjies, pastéis de nata, die Griekse galaktoboureko filo-vlatert, Frans-Baskiese amandel- en vlatert, Britse vlaterte, Filippynse vlagebak en Amiese vlapasteie in Noord-Amerika. Die Spanjaarde met hul flans, crema catalane en leche frita (gebraaide vla) is ook vlameesters, en die Italianers is verlief op torta di nonna met dennepit-vla en pasta ciotti – amandelgegeurde hand-vlatertjies.

Suid-Afrikaanse aksent
Al praat die melktert baie wêreldtale, proe jy die eg Suid-Afrikaanse aksent in die ligte amandel- en kaneelgeure in die ryk eiervla, nog effe drillerig in ’n goudbruin vlokkerige kors.
In my eie poging om melktert-fiks te raak het ek my eie melktert-drilkamp gehou, kenners geraadpleeg en selfs ook, soos my ouma, een oggend vieruur al in die kombuis gestaan om voor sonsopkoms te bak.

Vir Ouma sonder yskas was dit al manier om die veerligte lagies in die deeg te kry.

Maak jou melktert self of koop dit. Gaan korsloos; gebruik jou eie skilfer- of smeerkors of koop dit klaar. Strooi kaneel of kaneelsuiker oor, of hou dit naak. Al pleidooi is dat jy die dag ingaan met minstens twee terte; ’n ekstra een vir die nuwe buurvrou, jou tannie in die ouetehuis of jou tuinmaker.

Wie kan nou ’n outydse melktert soos dié weerstaan?

img_8705
Outydse melktert
As deel van my melktert-dissipelskap het ek ’n resep van Kokkedoor se Theresa de Vries as basis gebruik. Dis die toewyding dubbel en dwars werd. Solank jy vinnig werk en sorg dat die botter yskoud is, liefs gevries, flop dit nie. Dis ook heerlike ontvlugtingsterapie om die deeg 100 keer te gooi.

Maak 2  terte

Vir die skilferkorsdeeg
500g botter
500g (4k) meel
5ml (1t) sout
2 eiergele
300ml yswater
20ml (4t) suurlemoensap of brandewyn
ekstra eierwit, vir oorverf
Vir die vulsel
750ml (3k) volroom-melk
sowat 6 perskeblare of 2,5ml (½ t) amandelgeursel
75ml (5e) suiker
2 stukke pypkaneel
37,5ml (2½e) meel
37,5ml (2½ e) mielieblom
5ml (1t) sout
3 eiers, geskei

Begin met die skilferkorsdeeg:
1. Deel die botter in drie gelyke dele en hou dit in die vrieskas.
2. Sif die meel en sout saam in ’n mengbak.
3. Klits die eiergele, yswater en suurlemoensap of brandewyn saam. Voeg dit by die meel en meng totdat ’n stywe deeg vorm.
4. Knie die deeg tot glad en elasties – sowat 5 minute lank. Laat val die deeg 100 keer op ’n meelbestrooide werkoppervlak.
5. Rol die deeg in ’n vierkant van 35cm x 35cm en rasper ’n derde van die yskoue botter oor die deeg. Vou die deeg na die middel, sye bo-oor en koppe oormekaar. (Soos ’n mens ’n laken opvou.)
6. Rol weer uit, rasper nog ’n derde van die botter oor die deeg en vou weer soos beskryf. Herhaal nog een keer om die laaste botter te gebruik. Plaas die deeg oornag in ’n plastieksakkie in die yskas.
7. Rol die deeg uit en voer twee blikborde met die deeg uit. Verf bodem liggies met eierwit.
Nou is jy gereed om die vulsel te maak:
8. Voorverhit die oond tot 200°C.
9. Verhit die melk, die perskeblare of amandelgeursel, die helfte van die suiker en pypkaneel in ’n kastrol oor matige hitte. Verhit tot kookpunt.
10. Meng die res van die bestanddele, behalwe die eierwitte, saam met nog ’n bietjie melk en roer vinnig by die melkmengsel sodra dit begin kook. Kook totdat die mengsel dik is. Roer aanhoudend. Verwyder van die hitte.
11. Klits die eierwitte tot styf en vou dit by die melkpap in. Skep in die voorbereide deegkors. Bak 30 minute lank totdat bruin vlekke bo-op begin vorm. Eet louwarm.
Melktertwenke
* Gebruik perskeblare, pypkaneel, nartjieskil, vanielje of kardemom as geurmiddel.Wees spaarsamig met die amandelgeursel en gebruik ’n bietjie vanielje daarmee saam.
* Volgens Peter Veldsman kan drie of vier appelkoospitte saam met die melk gekook word vir ’n amandelgeur.
* Die koskenner Lochner de Kock sprinkel gemmer oor die deegkors voordat die melktertpap ingegooi word.
* As die eiers bleek is, gebruik ’n mespunt borrie om die vlapap se kleur te verdiep.
* Gebruik ’n plat bord met ’n oorhangrand, soos ’n blikbord, wat die hitte goed versprei. As die blikbord baie dun is, gebruik twee borde opmekaar.
* Rol deeg altyd net in een rigting–weg van jou af. Moenie die deeg rek nie,anders krimp dit met mening terug.
* Vir selfs swieriger pof, plaas ’n ekstra strook deeg, sowat 4cm breed, om die rand van die tertbord (direk op die bord, of bo-oor die deegvoering). Verf yswater op sodat die deeglae kan kleef.
* Moet liefs nie die uitgerolde deeg in borde in die yskas sit nie, want dit kan die kors aan die onderkant laat taai bak.
* Gooi die vulsel kokend op die uitgerolde deeg om te keer dat die kors taai word.img_8684

Beste Melktertboek ooit! 

Die soet ikoon van ons bakkultuur word nou gedenk met ‘n hip en heerlike kookboek. Mari-Louis Guy en haar broer Callie Maritz se opus Suid-Afrikaanse Melktertversameling het pas verskyn. Dit wys die mooie melktert in al haar gedaantes, met genoeg idees om haar op outydse, moderne, maklike en eksotiese maniere te geniet. Dit word deur NB Uitgewers uitgegee in hardeband. Dis ook in Engels beskikbaar. Elke kombuis verdien een.

Paaslam en pashka

22 Mar

Paastyd is ‘n goeie tyd om die kosboek The Supper of the Lamb, deur die teoloog-kok Robert Farrar Capon te lees. Hy herinner die kosliefhebber dat eet ‘n sakrament is waarmee ons daagliks die wonderwerk van die lewe kan vier. Vandag is lamsvleis te duur vir die alledaagse, maar ons kan dit steeds feestelik eet en die uitsonderlike soos die Opstanding vier met ‘n lamsboud of blad. Om die simboliek daarvan te verstaan laat mens net ietwat met nadenkend eet.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

 Simboliek en die Paastafel:

Kostradisies word oor eeue heen gevestig, maar dikwels vervaag die oorsprong en die simboliese waarde word in moderne tye oor die hoof gesien. Lamsvleis is ‘n welkome gesig op Paas-Sondag as feeskos vir die siel.

Hoekom lamsvleis verbind word met Paasfees:

Die diepgewortelde assosiasie van die Paaslam met Jesus as die Goeie Herder, Agnus Dei, die lam van God, laat die betekenis van tradisiekos soos skaapboud op Paas-Sondag voortleef.

Lamsvleis se diep verbintenis met die Pase gaan baie ver terug, voor die geboorte van Christus, toe die Jode in Egipte die deurkosyn gemerk het met die bloed van die geofferde lam, om hul eerste gebore seuns te spaar. Ons lees hiervan in Eksodus. Jode wat tot die Christendom bekeer is, het met die tradisie om lamsvleis op Paassondag voor te sit aangegaan.

Paaslam in ander vorme:

Die simboliek van die Paaslam word nie beperk tot die vleisbord nie. In Poland word botter op die feestafel gesit, gevorm om soos ‘n lammetjie te lyk. Die Franse agneau pascal  (spreek uit anjo) en die Duitse osterlamm is geliefde Paaskoeke wat in spesiale ‘lammetjie’-vormpanne  gebak word, en met strooisuiker of meringue versier word wat soos lamswol lyk. So word kinders aan die Paassimbool bekendgestel.

Viering van Paasfees met lamsvleis aan die Griekse tafel:

Ek sou op Paas-Sondag graag ‘n gas aan ‘n Griekse tafel wou wees, waar geloofsgebruike steeds ‘n baie sterk invloed op die kos het. Eers word die vas gebreek met gevlegte Paasbrood en rooi-gekleurde hardgekookte eiers wat simbolies van lyding. Daarna word die Paaslam van snoet tot stert gevier – die grootste deel daarvan op die spit gebraai. Magiritsa, ‘n suurlemoen-gegeurde Paastyd-sop en kokoretsi  gemaak van die hart, lewer en niertjies (soos ons lewer in netvet oor die kole gebraai) vier ook die opstanding.

Raad met oorskiet-lamsvleis:

Maak só met oorskietvleis wat oorbly na Paas-Sondag. Druk dik snye plaasbrood in sirkels uit met ‘n medium-grootte koekiedrukker. Bestryk die brood liggies met olyfolie en bak dit in die oond tot bros en goudbruin. Smeer die bokant met ‘n jogurt-okkerneutdoopsous of skordalia, sit ‘n stukkie beet, spinasieblaartjie en happie gaar lamsvleis bo-op.

Ander geliefde Paasfeeskos aan my Huiskok-tafel:

My allergunsteling is natuurlik piekelvis, waaroor ek al geskryf het. Pashka, my ander gunsteling kom uit Rusland wat ek met rosyntjiebroodbrioche eet. Ek vind die tradisie en rituele rondom pashka baie besonders.

Pashka, Russies vir Paas, word gemaak van ‘n vars kaas, amper soos maaskaas,  wat versoet word en in ‘n vorm geset word. Die tradisie is om die kaasmengsel te giet in ‘n piramied-houtvorm, simbolies van Christus se graftombe. Die Ortodokse tradisie is steeds om die letters XB op die sykante van die pashka uit te pak met neute en versuikerde skil. Die letters beeld uit ‘Christos voskres’ – Christus het opgestaan. Die gebruik is om die pashka op die Donderdag en Vrydag voor Paassondag kerk toe te neem om geseën te word deur die priester.

Tradisioneel word dit ge-eet met Kulich, ‘n koek-brood, deurspek met rosyne, amandels en speserye. Volgens gebruik word die kulich bedek met wit versiersuiker, afgerond met ‘n wit roos wat dan ook deur ‘n priester geseën word. Die gees van ‘n Russiese Paasfees kan geniet word met ‘n kortpad deur die kombuis. Ek vervang kulich met my rosyntjiebrood-brioche. Paasbolletjies is ook geskik.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

ERRIEDA DU TOIT (HUISKOK) SE LAMSBOUD IN JOGURT

‘n Eenvoudige manier om ‘n feestelike lamsboud op Paassondag te maak. Dit het ‘n Griekse oorsprong. Die resep is opgeneem in my en Francois se boek Huiskok Glanskok.

Maak 6 porsies

  • 1 lamsboud van ongeveer 1.2 kg, ontbeen en gevlek
  • 500 ml dubbelroom (Griekse) jogurt
  • 4 knoffelhuisies fyngekap
  • 60 ml vars origanum, gekap
  • 5 ml fyn komyn
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Meng die jogurt, knoffel, origanum, komyn, sout en peper saam. Marineer lamsboud in mengsel vir ongeveer ‘n uur. Voorverhit die oond tot 240ºC. Haal lamsboud uit marinade en plaas in oondpan. Bedek met tinfoelie en bak vir 20 minute by 240ºC, draai dan die hitte laer na 180ºC en bak nog 30 minute. Haal uit oond en laat vir 10 minute rus. Sny vleis in skywe.

ERRIEDA SE OONDGEBAKTE ARNI

Arni is Grieks vir skaapvleis. Die eg-landelike oondgebakte skaapdis is in Griekeland ‘n simbool van herontmoetings, wat veral op Sondae voorgesit word. Die aartappels absorbeer die olyfolie en kruiegeure. Die resep is een van my gewildste resepte uit Huiskok Glanskok-boek.

Maak 4 porsies

  • 2 heel knoffelbolle, huisies geskil
  • 1.5 kg lam- of skaapboud
  • 2 uie, grof gekap
  • 60 ml olyfolie
  • sout en peper
  • 2 suurlemoene
  • takkie elk tiemie, roosmaryn en lourierblaar
  • 1.5 kg aartappels, geskil en ‘n groot stukke gesny
  • 2 groot tamaties, in kwarte gesny
  • 30 ml botter (opsioneel)

Voorverhit oond tot 180⁰C. Maak kepies in die vleis en druk ‘n knoffelhuisie in elke snytjie. Plaas uie op die boom van ‘n oondpan en besprinkel met olyfolie. Geur vleis met sout en peper, plaas dit bo-op die uie, bedruip met sap van 1 suurlemoen en gooi kruie by. Gooi 20 ml olyfolie en 200 ml water oor. Bak in oond vir sowat 40 minute. Plaas die gesnyde aartappel in ‘n bak met die oorblywende olyfolie en suurlemoensap, meng deur en voeg by die vleis saam met nog 200 ml water. Bak nog 20 minute. Pak tamaties in die oondpan en stip met botter. Bak tot vleis gaar is en die aartappels sag is.

Pashka is 'n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

Pashka is ‘n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

PASHKA RESEP – iets simbolies om saam met rosyntjiebrood of paasbolletjies te eet.

Gebruik ‘n meelsif as vorm, of ‘n terracotta blompot vir ‘n meer tradisionele vorm. Ek het die resep oorspronklik gebruik van Letitia Prinsloo, hoof van die ICA.

  • 150ml vars room, geklop tot sagte punte vorm
  • 2 houers Parmalat gladde maaskaas of Simonsberg roomkaas
  • 150 g strooisuiker
  • Gerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 5 mℓ suurlemoensap
  • 60g versuikerde lemoenskil, fyngekap
  • 60g versuikerde gemengde skil
  • 30g geroosterde amandels, gekap
  • Vir afwisseling kan gedroogde appelkosies, dadels of goue sultanas ook bygevoeg word.

Voer ‘n meelsif uit met kaasdoek. Klop room tot sagte punte vorm. Plaas in yskas. Kombineer roomkaas, neute, versuikerde skil, strooisuiker, suurlemoenskil en sap.  (As die roomkaas te dik is, verdun met ‘n bietjie lemoensap). Vou room in. Skep in die voorbereide vorm. Verkoel vir 8 ure.  Haal uit die vorm en bedien verkieslik teen kamertemperatuur saam met tradisionele paasgebak.

Wenk: Jy kan ook maaskaas of ricottakaas gebruik, pleks van die roomkaas. Die vars room kan met suurroom vervang word, maar los dan die suurlemoensap uit die resep.

 

Die misterie van malvapoeding

16 Aug

Ons poedingskatkis loop oor van warm bruinpoedings met stroopsoetigheid wat die eter in ’n suiker-beswyming laat. Wat die eetbare erfstukke te kort skiet aan skoonheid, vergoed hulle voor met beskrywende name soos fluweelpoeding, skrikkeljaar-poeding en kabinetspoeding. Maar die gesalfde van die bruinpoedings is malvapoeding – almal se gunsteling en ons land se simbool van soetigheid.

Malvapoeding soos dit pronk in die kookboek Kokkedoor (Human & Rousseau)

Malvapoeding soos dit pronk in die kookboek Kokkedoor (Human & Rousseau)

Met die onlangse besoek van pres. Barack Obama van Amerika is die staatsbanket afgesluit met malvapoeding, vla en vrugte.  Selfs Oprah Winfrey se persoonlike sjef het sy eie weergawe.

Wêreldroem ten spyt is die oorsprong van malvapoeding vol intrige en misterie;  ’n kulinêre geheim waaroor kenners uiteenlopende menings het. Verwys die naam dalk na die sponserige, malvalekkeragtige tekstuur? Na ’n soetwyn van die jaar toet? Na ’n inheemse surrogaat vir rooswater? Is dit ’n kinkelpoeding uit die jare van hipsters, klokbroeke of byekorfhaarstyle?

Malva-Sherlock

Die koskenner Hetta van Deventer se belangstelling in die malvapoeding-raaisel is opnuut geprikkel tydens haar voorbereiding vir die onthoukos-reeks Kokkedoor: “Wat my opgeval het, is die afwesigheid van resepte vir malvapoeding in die ouer tradisionele resepteboeke.”

Die malva-onthoupoeding wat sy ken, is ’n ryk bruinpoeding met appelkooskonfyt, ’n eetlepel asyn en koeksoda in die beslag en ’n weelderige roomsous (met ’n stywe knerts brandewyn of sjerrie) wat oorgegiet word sodra die poeding uit die oond kom.

Soos ’n gastronomiese Sherlock Holmes bespied sy ou Suid-Afrikaanse kookboeke van die laat 1880’s. Nie eens Hildagonda Duckitt se boeke van die eeuwisseling verwys na malvapoeding nie. ’n Poeding-opus met meer as 60 poedingresepte en vele bruinpoeding-variasies – Di Afrikaanse koek en poeding boek deur “ ’n Frystaatse dame” van 1914 – swyg ook. S. van Tulleken en mev. Slade is ook stil.

In ’n 1912-resepteboekie deur mev. P.W. de Klerk spoor Hetta die eerste verwysing na malvapoeding op.

Hierdie uitgawe en sy Afrikaanse opvolger van 1924 – Suid-Afrikaanse kookkuns vereenvoudigd – noem dit malvapoeding, maar dit bevat geen sjerrie, brandewyn, wyn of appelkooskonfyt nie. Daar is ook geen spoor van roos-pelargonium (“malva”) as geurmiddel nie en die sous word apart bedien. Steeds nie ons moderne malva nie.

Rooswater of soetwyn

Terug na die stapeltjie betroubare ou boeke: In C. Louis Leipoldt se Kos vir die kenner (1933) word malvapoeding steeds vermis.

Hetta spoor ook niks op in S.J.A. de Villiers se Kook en geniet van 1951 nie. Elke poedingmaker maak die poedingsous apart, eerder as om dit oor die warm poeding te giet. (My ma se ou 1950’s Kook en Geniet het ook nie die resep in en ; en my uitgawe van 1978 swyg ook oor malvapoeding).

’n Onlangse gesaghebbende bron, Die groot Boerekosboek (2012) deur Dine van Zyl, verklaar die malva-naam aan die hand van “malvesy”, ’n gewilde, geurige, gefortifiseerde soetwyn van die Middeleeue. Volgens Dine is dit as bestanddeel in ’n poedingsous gebruik. Die poeding is “malvesypoeding” genoem en later verkort na malvapoeding.

Hetta het gaan kers opsteek by die bekende wynmaker Danie de Wet van Dewetshof wat bevestig dat malvesy vroeër jare ’n bekende soetwyn aan die Kaap was.

Dr. Hettie Claassens, kosnavorser en skrywer van Die geskiedenis van Boerekos – bekend om haar vlymskerp vermoë om kosraaisels uit te pluis – meen die “malvezij” het nie ’n rol gespeel nie, maar eerder die destydse gebruik om kos met rooswater te geur.

Omdat nie alle Kaapse kokke toegang tot rose gehad het nie, het hulle die welriekende blare van die Kaapse roos-pelargonium (verkeerdelik na die Europese malva genoem) ingespan.

Lanzerac se kombuis en tuin

Die gerekende koskenner Peter Veldsman staan ’n ander verklaring voor: Hy meen die oorsprong lê by die Lanzerac-hotel in Stellenbosch.

Op ’n dag iewers in die 1950’s gee die eienaar, David Rawdon, die bruinpoeding vir die buffettafel een kyk en vaar die tuin in vir malvablare om die poeding mooi te maak. Van toe af sou dié poeding bekend staan as malvapoeding.

“Gereken Peter se koservaring en kennis lyk dit na ’n moontlikheid,” meen Hetta. “Die tydlyn lyk ook reg.”

Malvapoeding met ‘n ma en ‘n peetpa

Daar is nog vingerafdrukke op die malvapoeding. Die koskenner en restaurateur Michael Olivier, wat as die peetpa van malvapoeding bekend staan, voel baie sterk daaroor dat David Rawdon van Lanzerac nie blare bo-op ‘n malvapoeding sou sit en aan gaste voorsit nie. Hy wat Michael is het ‘n baie nou verhouding met die malvapoeding, want dit was in sy tyd as hotelbestuurder van Boschendal wat die poeding sy beroemdheid gekry het. Maggie Pepler het  in 1979 die oorspronklike resep na Boschendal gebring het terwyl sy daar as sjef uitgehelp het.  (Tannie Maggie is die moeder van Dave Pepler, aanbieder van die program ‘Groen’).

Meer as drie dekades later verskyn malvapoeding steeds op Boschendal se buffettafel en beskryf hy Maggie as “die malvapoeding-voorsiener vir die nasie”.

Dit laat my wonder: Maggie Pepler was vroeër jare betrokke by die Lanzerac-hotel. Dalk is “Mev. Ellis se lekker poeding” met sy ryk roomsous (wat in Februarie 1973 in die Foto-Rapport-bylae verskyn het) ’n variasie van ’n heerlike poeding wat hulle dalk by die Lanzerac geëet het?

Het ‘n malvablaar-versierde bruinpoeding sy weg dalk via Maggie na die Boschendal-buffet gevind?

Die vrae weeg swaarder as die antwoorde.

Nog Suid-Afrikaanser malvapoeding

Hierdie resep verskyn in die kookboek Kokkedoor, wat volgende maand op die rakke beland. Die kinkelkok Rendil Pietersen het rooibostee by die tradisionele sous gevoeg om dit nog meer Suid-Afrikaans te maak. 

(my nota: Die brandewyn kan met soetwyn of sjerrie vervang word. Dit kan ook uitgelos word, maar na my mening is dit malvapoeding se nefie Jan Ellis wat dan aan tafel kom kuier.)

Jy het nodig:

Malvapoeding

  • 2 eiers
  • 180 ml (¾ k) suiker
  • 375 ml (1½ k) koekmeel, gesif
  • 7,5 ml (1½ t) bakpoeier
  • 7,5 ml (1½ t) koeksoda
  • knippie sout
  • 40 ml fyn appelkooskonfyt
  • 45 ml (3 e) asyn
  • 180 ml (¾ k) melk

Rendil se rooibostee-en-brandewynsous

  • 375 ml (1½ k) melk
  • 180 ml (¾ k) suiker
  • 170 g botter
  • 90 ml hanepoot-brandewyn
  • 90 ml sterk rooibostee
  • 15 ml (1 e) vanieljegeursel

Só maak ’n mens:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondvaste bak.
  2. Klits die eiers en die suiker saam tot lig en skuimerig. Voeg die meel, bakpoeier, koeksoda, sout, appelkooskonfyt en asyn by en meng goed.
  3. Voeg die melk by en klits tot die mengsel glad is.
  4. Giet die mengsel in die voorbereide bak.

Bak 35 tot 40 minute lank tot gaar.

Rooibostee-en-brandewynsous

  1. Verhit al die sousbestanddele saam en kook vyf minute lank.
  2. Giet die warm sous oor die warm poeding.

 * Hierdie is ‘n weergawe van my artikel wat in Beeld Pols en Die Burger Naweek verskyn.

%d bloggers like this: