Kaapse Brandewyntert – Tipsy tert

20 Sep

Ontmoet Haar Koninklike Heerlikheid die Tipsytert, ‘n adellike Suid-Afrikaanse erfenispoeding met skuilname Kaapse Brandewyntert en Dadelpoeding. Watter naam ookal, die weelderige bruinpoeding is lekkerder as die Britte se sticky toffee pudding. Dis selfs verhewe bo die Amerikaanse pecan nut pie, wat baie sê want ‘n pekanneuttert is hoog op my lieflinglys).

Tipsytert in ‘n lente-stemming

Ek verkies tipsytert selfs bo malvapoeding, die darling van ons land se poedingtafel. Terloops, malvapoeding het deur die jare die brandewyn in sy sous sien opdroog – tegnies gesproke is dit sonder die alkohol ‘n Jan Ellis-poeding, ‘n poeding met training wheels aan, teenoor tipsy tert is deesdae se malvapoeding so mak soos ‘n lammetjie.

Tipsytert is jou poort tot donkerder soet plesiere. Dit het ‘n diep toffieagtigheid te danke aan dadels, die blomgeure van brandewyn en daarby ook die neuterigheid en kraak van okkerneute of pekanneute. Dan nog die karamelgeure van bruinsuiker en botter, gemmer en neutmuskaat en ‘n sweempie lemoen wat jou alles lighoofdig van begeerte laat.

Die blink weelde van die sous ten spyt, bly die tert maar ‘n bruin storie, dit kan baat by verfraaing met ‘n eetbare blom, soos pronkertjes uit my lentetuin. Dan ‘n kwistige skep geklitste room of crème fraiche, of goeie roomys.

As jy nie van vrugtekoek hou nie, probeer gerus tipsy tert as jou toegang tot die donker plesier. As jy, soos ek, mal is oor Krismiskoek en nie kan uithou vir Mynhardt se Feestelike Vrugtekoek op Kersdag nie, is tipsy tert die ideale tussentydse surrogaat.

Resep met baie name:

Resepte vir hierdie heerlikheid verskyn op allerhande plekke in kookboeke. Soms in die hoofstuk vir warm poedings, ander kere weer onder Terte. Of die titel fokus op die brandewyn (en tipsy), ander kere op die dadel. Ek verkies Kaapse brandewyntert, omdat dit iets vertel van die gereg se oorsprong, maar gebruik net so graag na die tong-in-die-kies troetelnaam tipsytert.

Ek het gaan loer na resepte van die groot geeste soos Peter Veldsman (Kos van die Eeu), Dorah Sitole, kosgeskiedkundige Hetta van Deventer-Terblanche (Cape Winelands Cuisine), Mev SJA de Villiers (Kook en Geniet) en Magdaleen van Wyk se Kook Suid-Afrikaans. Die eerste tipsy tert wat ek ook gemaak het was uit my universiteit-handboek, Kos en Kookkuns (ook bekend as die Groen Boek onder huishoudkundiges).

Die resepte is almal baie soortgelyk. Hetta voeg rosyne by, Peter se metode is meer verfynd en ek volg sy mildelike gebruik van fyn gemmer, neutmuskaat en kaneel. Soms geur lemoenskil die beslag; ek voeg repe daarvan in die stroop.

Ek maak ook ‘n groter tert om die hele blok van die dadels op te gebruik. Dit is genoeg vir 12 snye. Ek werk dit so dat daar altyd ‘n paar snye oor is vir die volgende dag, want dan is dit vir my op sy lekkerste – die brandewyngeure versag en die soetheid word getem.

KAAPSE BRANDEWYNTERT (TIPSYTERT)

Beslag

250 g blok saamgeperste ontpitte dadels (Safari), gekap

5 ml koeksoda

250 ml kookwater

125 g sagte botter (nie gesmelt nie)

200 g (250 ml) sagte bruinsuiker

2 eiers, klits tot skuimerig

240 g (500 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

2,5 ml sout

2,5 ml varsgerasperde neutmuskaat

2,5 ml fyn gemmer

100 g (250 ml) okkerneute of pekanneute of amandel, gekap

Skil van 2 lemoene (opsioneel)

Brandewynsous vir oorgooi:

250 ml bruinsuiker

150 ml water (ek gebruik helfte room en helfte lemoensap)

125 ml brandewyn

15 g (15 ml) botter

Knippie sout

5 ml vanieljegeursel

Paar repe lemoenskil (as jy nie lemoensap gebruik of skil by die beslag voeg nie)

Versiering en opdiening: Geklitste room

Maak só:

Voorverhit oond tot 180°C met oondrak in die middel. Smeer ‘n 25 cm-tertbord of poedingbak met botter, strooi liggies met meel en skud die oortollige meel uit.

Plaas die gekapte dadels in ‘n bakkie, strooi koeksoda oor en giet kookwater oor. Roer deur en laat staan eenkant

Klop die botter in ‘n mengbak en klop die suiker geleidelik by tot dit lig en donsig is (ek gebruik elektriese klitser, maar houtlepel werk net so goed). Klits die geklitste eier geleidelik by. Hou aan klits tot die suiker opgelos is.

Sif die meel, bakpoeier, sout en speserye by die eiermengsel in en meng goed. Roer die dadelmengsel en lemoenskil (indien gebruik) by, gevolg deur die gekapte neute. Skep dit in die gesmeerde bak, en maak ‘n effense holte in die middel. Bak 35-40 minute tot gaar. Maak die sous terwyl die tert bak.

Brandewynsous:

Verhit die botter, water of helfte-room-helfte-water, vanielje en sout in ‘n kastrol 3n laat dit sowat 5 minute prut. Roer die brandewyn by en haal van die hitte af. Haal tert uit die oond, en giet dadelik die sous stadig oor om heeltemal in te trek. Indien dit opdam om die rand, kan jy gate reg rondom steek met ‘n toetspen.

Sny in skywe of blokke. Bedien warm of koud met geklopte room, eiervla of roomys.

Wenke:

  • die tert is baie lekker as dit ‘n paar ure gestaan het, selfs oornag. Die brandewyngeure versag en tem die soet.
  • As jy dit vir Kersfees wil voorsit, voeg gemmerstukke of sitrusskil by.

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.