Tag Archives: trooskos

Pampoenkoekies – sonskyn teen onsekerheid

31 Mar

AC85767D-47F8-45A5-B0B9-DFB24C84654DSommige dinge het net nie verduideliking nodig nie. Soos die  begeerte vir iets troostend in tye van onsekerheid. Soos die magiese vermoë van pampoenkoekies om die dag sommer beter te laat lyk. 

Wenke:

Span jou drukkoker In om die pampoenblokkies te kook. Net drie minute!

Botterskorsie is ideaal, want dis minder waterig as pampoen.

As die beslag te loperig is, roer nog ‘n lepel meel by.

DD2D2D25-6B9E-4070-94FF-986EA4866A04 Pampoenkoekies

Maak 12

600 ml gaar, fyngemaakte pampoen of botterskorsie

250 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

Knypie sout

Stewige mespunt anys (opsioneel)

2 eiers, geklits

Olyfolie vir vlakvetbraai

Kaneelsuiker

Opsioneel: blomblaartjies van marigolds

Meng die pampoenmoes, meel, bakpoeier, sout en anys in ‘n mengbak. Roer die geklitse eiers by om ‘n slapperige beslag te vorm. Giet ‘n bietjie olie in ‘n pan, skep lepelsvol (4 – 5 koekies op ‘n keer) in die warm olie en braai aan beide kante tot goudbruin en gaar. Dreineer op kombuispapier, strooi kaneelsuiker oor en rond opsioneel af met eetbare blommetjies.

E4EF872B-DCA8-4C49-B032-053E29E82962 Foto Ian Du Toit

Macaroni en kaaskoek

13 May

Die herfsdae kan mens se seisoenklok deurmekaar gooi. Dit kon gister net sowel ‘n lentedag gewees het in ons tuin. In hierdie brugseisoen – nog nie koud, maar nie meer warm nie – maak ons graag macaroni en kaas. Ian hou vas met rooi oondhandskoene halflyf Vir hierdie besonderse kykie na ‘n ou trooskos-gunsteling trek ek drie kase nader … en ‘n koekpan vir  ‘n macaroni- en-kaas-koek. ‘n Nuwe ervaring vir my.  My man was so nuuskierig dat hy self ook ingespring het om dit te maak. Die ricotta speel ‘n hoofrol in die mac-en-kaaskoek, wat  ‘n goeie aansporing was om my eie ricotta te maak. Saam met die parmesaan en fontinakaas vul tuinertjies, piepklein blokkies ham, hope kruisement, pietersielie en rocket die geure verder aan.Kaaskoek op houtbord op sleeper hout top shot Die hipnotiese geure van smeltende kaas en die vrag vars kruie is klaar genoeg rede om dit te maak, om verder betower te raak deur die blobs suurlemoen-ricotta uit jou eie hand. koek op houttafel houtbord mooi kantaansig MACARONI- EN KAASKOEK Bedien 6  

  • ¼ k (60 ml) botter en ekstra om die koekpan te smeer
  • 1/3 k PLUS 1 ½ k gerasperde parmesaan
  • ¼ k koekmeel
  • 4 k volroommelk
  • 1 k gerasperde fontina kaas (kan ook cheddar of gouda gebruik)
  • 1 groot eier
  • Sout en peper
  • 600 g penne pasta (rigato – wat beteken dis gerib met strepies wat meer sous opvang)
  • 1 k ertjies (vars of bevrore)
  • 2 k rocket, grof gekap (kan met jong spinasieblare vervang word)
  • 1 k pietersielie, grofgekap PLUS 2 E ekstra vir oorgooi
  • ½ k vars kruisement, grofgekap PLUS 2 E ekstra vir oorgooi
  • 1 k ricotta gegeur met skil van ½ suurlemoen, indien jy gekoopte ricotta gebruik
  • 200 g ham,  klein blokkies gesny (sowat .5 cn x .5 cm)

(resep vir tuisgemaakte ricotta volg onder)

Metode

Berei die koekpan voor. Smeer ‘n 20 cm losboomkoekpan se kante en bodem met botter en bestrooi met 1/3 k parmesaan.

Maak die kaassous: In ‘n groot kastrol, smelt ¼ k botter in kastrol oor matige hitte, voeg die meel by en roer vir 2 minute. Klits die melk geleidelik by en kook tot dit begin prut (terwyl jy roer). Verlaag die hitte en laat sowat 20 minute stadig koek tot dit begin verdik (dis egter nie op hierdie punt ‘n dik sous nie). Haal van die hitte af en roer die fontinakaas en 1 k parmesaan by. Geur met sout en peper, bedek en hou eenkant.

Plaas die oondrak in die derde boonste helfte van die oondpan en voorverhit oond na 190°C. Kook die pasta in ‘n groot kastrol in goed-gesoute water, roer net nou en dan tot amper gaar (dit kook verder in die oond gaar).  Gooi die ertjies by en roer net een keer deur. Gooi die pasta en ertjies deur ‘n vergiettes en gooi terug in die pan. Roer die witsous by, al die rocket, 1 k pietersielie en ½ k kruisement. Roer tot net goed gemeng. Pas geursel aan.

Skep die helfte van die pasta-mengsel in die voorbereide koekpan. Strooi helfte van die ricotta in lepelstjievol oor en die helfte van die hamblokkies. Skep die res van die pastamengsel bo-oor.  Skep lepeltjies van die laaste ricotta oor en bedek met ¼ k parmesaan. Bak 30 minute, sprinkel die laaste  ham en ¼ k parmesaan oor en bak nog 10 minute tot goudbruin. Laat rus in die pan vir sowat 30 minute en maak dan die kante los. Strooi 2 E elk van die pietersielie en kruisement oor..

Bedien in wiggies met ‘n eenvoudige blaarslaai en gekapte kersietamaties. Tamatiesous ‘n moet!.

Wenk: die gereg kan in ‘n gewone oondbak gaargemaak word, dan is dit egter nie nodig om 30 minute te wag vir opdiening nie.

Bron: Die resep is aangepas uit Bon Appetit. Ian in tuin met mac kaaskoekTUISGEMAAKTE RICOTTA   Puriste sal dit moontlik nie as ware Italiaanse ricotta beskou nie, maar ek kan jou waarborg dat dit steeds ligjare beter is as die winkel-kaas wat as ricotta verkoop word. Vir ekstra rykheid kan dubbelroom bygevoeg word, alhoewel so ‘n ryk kaas nie nodig is vir die mac-en kaaskoek nie.ricotta collage Bestanddele

  • 4 k (1 l) vars volroommelk (nie langlewe-melk nie)
  • ¼ k (60 ml) wit wynasyn – kan ook vars suurlemoensap gebruik
  • ½ tot 1 t fyn sout (opsioneel)
  • Skil van 1 klein suurlemoen

Verhit die melk oor medium-lae hitte tot 80°C. Voeg die asyn en die sout by en kook terwyl jy roer tot 85°C. Haal van die plaat af en laat staan eenkant tot die wrongel vorm. Indien nodig kan jy nog ‘n bietjie asyn of suurlemoensap bysit om die wrongel aan te help. Gooi dit deur ‘n moeseliendoek en laat afdrup. Hoe langer dit hang, hoe droeër sal die ricotta wees. Behou die wei, wat in gebak, slaaisouse en vele ander dinge wat ons nog saam kan uitdink. Wenk: die ricotta is baie veelsydig. Dis veral lekker met heuning, vye, gestoofde vrugte. WENKL vir ‘n baie omvattende blogstorie oor macaroni en kaas, en hordes idees en resepte besoek my ander storie by hierdie skakel https://huiskok.com/2014/04/30/macaroni-en-kaas-een-van-die-wereld-se-7-koswonders/

Op so 'n mooi herfsdag wil mens in die tuin wees - ons het selfs die kos in die buitelug afgeneem.

Op so ‘n mooi herfsdag wil mens in die tuin wees – ons het selfs die kos in die buitelug afgeneem.

Melk in die sopbord

23 Aug

My kosstorie begin nie vandag by ‘n gereg nie, maar by ‘n katjie genaamd Kiri. Kiri was ‘n spesiale katjie met ‘n stompneusie en ‘n potsierlike ronde lyfie. ‘n Eksentrieke kat wat haar nie met ander katte opgehou het nie en eerder saam met ons honde gespeel en gaan stap het. Toe Kiri hierdie week oorlede is, was dit ‘n tranedal, maar sy was amper 20 jaar oud, ‘n diabeet en al ietwat seniel.

Trooskos. Ek maak trooskos met melk, want Kiri was ‘n katjie wat soggens vroeg by my man Ian geflikfooi het vir melk as hy tee maak. Slim, voor die ander huisdiere kom tou staan. Kiri het haar ook graag self uit die melkbeker gehelp.

kiri lek uit melkbeker 180-8055_IMG

Melkkos moet dit wees. Met kaneelsuiker en klontjie botter vir ekstra troos. Maar wat sal dit wees? Frummelmelkkos soos my ma dit gewoonlik gemaak het of melksnysels, of te wel slinger-om-die-smoel met sy deegrepies wat vir my altyd soos linte gelyk het?

a melkfrummels

Melkkos opgedra aan Kiri

My vriendin Ambalene uit Middelburg laat weet haar man praat van melkkos as “liquid pannekoeke”!

Resepte het ek hordes van: my ma het so ‘n vergeelde boekie  ‘Voortrekkerresepte’ wat Shell of een of ander brandstof-reus in 1949 uitgegee het (as kind het my boetie altyd vir my geterg –“kyk die boere het met hul ossewaens by petrolpompe gestop). Die boekie se eenvoudige resep vir melksnysels aanvaar dat jy ‘n ou hand is met die maak daarvan; kripties in sy aanwysings. Maar wat ek van hou uit die resep is die aanwysing om “die deeg te kerf soos die oumense tabak gekerf het”.

FRUMMEL-MELKKOS

Ma het melksnysels en frummelmelkkos uit haar kop uit gemaak. Ek sal volgende keer gaan dophou hoe sy dit maak en afskryf. Tot dan loer ek in by die versamelstuk Dine van Zyl se Groot Boerekos-boek.  

Dine se belofte dat dit 15 minute behoort te duur om dit van begin tot einde te maak. Ek moes eers kaneelsuiker aanmaak, langlewemelk in die spens gaan haal, so as dit my bietjie langer geneem het: Dine, dit was nie jou skuld nie!

(Ek het die resep halveer vir my lee-nes gesin, maar hierdie is Dine se afmetings)

2 l melk

250 ml meelblom

2,5 ml sout

15 ml sagte botter (BOTTER, nie margarien nie)

Kook die melk (hou oog daaroor dat dit nie oorkook nie) Sif die meel en sout saam. Vryf sagte botter met vingerpunte by die meel in tot dit frummels maak. Dit kan in in die voedselverwerker gedoen word (ek hou te veel van hierdie lekker stap om dit vir ‘n masjien te gee om te doen.) Voeg die frummels geleidelik by die kokende melk en roer aanhoudend. Verlaag die hitte en laat sag prut vir sowat 8 minute.

Bedien met kaneelsuiker.

NOTA:

Ek het hierdie e-briefie van Wiesie van der Poll gekry na  een van my radiopraatjies oor melkkos en melksnysels; Dit het ook ander  herinneringe losgewoel:

“Jou melkkosresep vanoggend laat my nou na my ma verlang – sy’t die lekkerste melkkos gemaak maar met spaghetti.  Macaroni en kaas met tamaties op en die vleisie by was wors, vleis en rys (sonder die gebruiklike aartappels by) – dan gooi ek klomp worcestersous oor. Ook droë soetkoekies met  korente in – met glas op skinkbord uitgedruk; en haar melktert was altyd ‘n treffer – sy het kaneel saam met die melk gekook.

Sy is al 6 jaar oorlede.  Die laaste kos wat sy gemaak het was skenkels.  Dis laaste wat ek lekker ge-eet het.  Kos is vandag net iets vir my wat jy moet eet om te oorleef en tyd om te kry.

Snaaks hoe mens sekere geregte vanself sprekend aanvaar.  My tannie (daai tyd 70) het eers sowat 10 jaar terug by my ma gehoor van macaroni en kaas.  Destyds toe my ma in hospitaal toe is met my geboorte, het my broer vir my ouma kapok aartappels gevra.  Sy het nie geweet wat dit is nie.

My ma was in Adelaide in ‘n huishoudkunde skool.  Ekt vandag nog haar skoolresepte boek (in haar handskrif) waaruit sy dikwels vir ons koekies gebak het.

Sit en tjank sommer hier.

Wiesie van der Poel.”

%d bloggers like this: