My kosstorie begin nie vandag by ‘n gereg nie, maar by ‘n katjie genaamd Kiri. Kiri was ‘n spesiale katjie met ‘n stompneusie en ‘n potsierlike ronde lyfie. ‘n Eksentrieke kat wat haar nie met ander katte opgehou het nie en eerder saam met ons honde gespeel en gaan stap het. Toe Kiri hierdie week oorlede is, was dit ‘n tranedal, maar sy was amper 20 jaar oud, ‘n diabeet en al ietwat seniel.
Trooskos. Ek maak trooskos met melk, want Kiri was ‘n katjie wat soggens vroeg by my man Ian geflikfooi het vir melk as hy tee maak. Slim, voor die ander huisdiere kom tou staan. Kiri het haar ook graag self uit die melkbeker gehelp.
Melkkos moet dit wees. Met kaneelsuiker en klontjie botter vir ekstra troos. Maar wat sal dit wees? Frummelmelkkos soos my ma dit gewoonlik gemaak het of melksnysels, of te wel slinger-om-die-smoel met sy deegrepies wat vir my altyd soos linte gelyk het?
Melkkos opgedra aan Kiri
My vriendin Ambalene uit Middelburg laat weet haar man praat van melkkos as “liquid pannekoeke”!
Resepte het ek hordes van: my ma het so ‘n vergeelde boekie ‘Voortrekkerresepte’ wat Shell of een of ander brandstof-reus in 1949 uitgegee het (as kind het my boetie altyd vir my geterg –“kyk die boere het met hul ossewaens by petrolpompe gestop). Die boekie se eenvoudige resep vir melksnysels aanvaar dat jy ‘n ou hand is met die maak daarvan; kripties in sy aanwysings. Maar wat ek van hou uit die resep is die aanwysing om “die deeg te kerf soos die oumense tabak gekerf het”.
FRUMMEL-MELKKOS
Ma het melksnysels en frummelmelkkos uit haar kop uit gemaak. Ek sal volgende keer gaan dophou hoe sy dit maak en afskryf. Tot dan loer ek in by die versamelstuk Dine van Zyl se Groot Boerekos-boek.
Dine se belofte dat dit 15 minute behoort te duur om dit van begin tot einde te maak. Ek moes eers kaneelsuiker aanmaak, langlewemelk in die spens gaan haal, so as dit my bietjie langer geneem het: Dine, dit was nie jou skuld nie!
(Ek het die resep halveer vir my lee-nes gesin, maar hierdie is Dine se afmetings)
2 l melk
250 ml meelblom
2,5 ml sout
15 ml sagte botter (BOTTER, nie margarien nie)
Kook die melk (hou oog daaroor dat dit nie oorkook nie) Sif die meel en sout saam. Vryf sagte botter met vingerpunte by die meel in tot dit frummels maak. Dit kan in in die voedselverwerker gedoen word (ek hou te veel van hierdie lekker stap om dit vir ‘n masjien te gee om te doen.) Voeg die frummels geleidelik by die kokende melk en roer aanhoudend. Verlaag die hitte en laat sag prut vir sowat 8 minute.
Bedien met kaneelsuiker.
NOTA:
Ek het hierdie e-briefie van Wiesie van der Poll gekry na een van my radiopraatjies oor melkkos en melksnysels; Dit het ook ander herinneringe losgewoel:
“Jou melkkosresep vanoggend laat my nou na my ma verlang – sy’t die lekkerste melkkos gemaak maar met spaghetti. Macaroni en kaas met tamaties op en die vleisie by was wors, vleis en rys (sonder die gebruiklike aartappels by) – dan gooi ek klomp worcestersous oor. Ook droë soetkoekies met korente in – met glas op skinkbord uitgedruk; en haar melktert was altyd ‘n treffer – sy het kaneel saam met die melk gekook.
Sy is al 6 jaar oorlede. Die laaste kos wat sy gemaak het was skenkels. Dis laaste wat ek lekker ge-eet het. Kos is vandag net iets vir my wat jy moet eet om te oorleef en tyd om te kry.
Snaaks hoe mens sekere geregte vanself sprekend aanvaar. My tannie (daai tyd 70) het eers sowat 10 jaar terug by my ma gehoor van macaroni en kaas. Destyds toe my ma in hospitaal toe is met my geboorte, het my broer vir my ouma kapok aartappels gevra. Sy het nie geweet wat dit is nie.
My ma was in Adelaide in ‘n huishoudkunde skool. Ekt vandag nog haar skoolresepte boek (in haar handskrif) waaruit sy dikwels vir ons koekies gebak het.
Sit en tjank sommer hier.
Wiesie van der Poel.”
Baie dankie vir die heerlike resep, ek het nou net die fummel melkkos gemaak hier in Melbourne en my man het die pot leeg gemaak. Hy sê dit proe net soos sy ma dit gemaak het.
Jy gee my nou self ‘n idee. Die eerste herfsreën het uitgesak by ons.
Jammer om van jou katjie te hoor. 😦
Baie dankie, Liezl.
Ai Kiri kat gaan gemis word, dankie vir die heerlike trooskos resep. My ma en ouma het dit altyd gemaak en ek weer vir my gesin, die dat Riaan dit noem soos jy bo geskryf het.
Ai, hierdie resepte en jou praatjie maak sommer weer ‘n klomp lekker herhinneringe in my wakker – winter skool vakansie tye op die plaas in die Vrystaat waar ons groot geword het – die kaggel in die eetkamer wat al 4uur middag aangesteek word – pappa kom huistoe laatmiddag as die son sak – diere, volkies, alles is versorg en na sy bad gaan sit ons almal – ons was 5 kinders- voor die kaggel op die sofa en gemak stoele. Dan bring mamma melkkos dik gegooi met kaneelsuiker en daarna, na die aand godsdiens en lekker stories en wyshede wat pappa so goed kon vertel, die emalje bekers met warm melk kakao. Hoe gekoester het ons nie gevoel in daardie tye nie – wens ek kon net so ‘n klein stukkie daarvan weer ervaar! Dankie vir jou resepte – dit lyk heerlik. Gaan dit beslis die naweek maak.
Baie dankie Lauretta. Ek hoop jou melkkos was lekker.