Stokkieshoender in geurige jogurt-marinade (Shish Tawook) + Indiese ratatouille

Ek weet, ek weet, ons braainasie soek mos tjops en wors oor die kole. Hierdie Persiese stokkieshoender (shish tawook) het egter ons gesin se groot gunsteling geword.

Ek maak bykosse daarby wat pas by ‘n Midde-Oosterse tema – soos platbrood, roti of koringslaai, geroosterde groente en knoffelsous. Die Indiese ratatouille, waaroot ek hieronder skryf is ook ‘n baie goeie keuse.

Niemand gaan eers wonder waar die skaaptjops en braaibroodjies dan is nie.

Die geheim van die stokkies is beslis die marinade; dis nie net supergeurig nie, maar die melksure in die jogurt maak die vleis sag en sappig. Die paprika en die tamatiepasta gee smaak en ‘n mooi rooi kleur aan die hoender. Besluit self of jy dit meer hitsig wil maak deur meer cayenne by te voeg of self ‘n gekapte brandrissie by te roer. Speel rond met die speserye – soms voeg ek komyn en naeltjie of borrie ook by.

Ek hou van bonker stukke hoender, wat sappiger is as kleiner stukkies – as die stukke dalk te groot is, vou dit net dubbel as jy dit inryg.

Stokkies-hoender (shish tawook)

800 g ontbeende hoenderdye of fillet sonder vel

Sout

Marinade

180 ml natuurlike jogurt

Sap en skil van 1 suurlemoen

60 ml olyfolife

30 ml tamatiepasta

6-8 gemaalde knoffelhuisies

5 ml gerookte paprika

5 ml wonderpeper (all spice)

5 ml gedroogte oreganum of gemengde kruie

5 ml fyn kaneel

2,5 ml fyn gemmer

2,5 ml fyn neutmuskaat

2,5 ml rooipeper

Indien jy houtstokkies gebruik, week dit minstens 30 minute in water.

Sny die hoender in ewe-groot blokke en geur met sout. Meng die marinade bestanddele in ‘n glasbak. Voeg hoender by en marineer minstens ‘n uur.

Vee liggies enige oortollige marinade af en ryg lossies op die stokkies. Braai oor warm kole, sowat 7 minute aan ‘n kant – moenie te lank braai nie om te verseker dis sappig.

Indiese ratatouille

Dis een van my Ottolenghi-truuks, en vir my veel geuriger as die beroemde Franse weergawe. Die sukses lê in die groentes wat elkeen sy eie karakter behou. Jy kan hier ook jou stempel afdruk met jou groente-keuse; ek hou daarvan om die soetrissie en aartappel te vermeerder en die eiervrug of botterskorsie uit te los. Jy kan ook die groenbone verdubbel en die murgpampoentjie uitlos.

Om die Indiese karakter van hierdie ratatouille-weergawe te beklemtoon kan jy gerus uitkyk by speserywinkels vir *Panch phoran, ‘n mengsel van heel speserye, of maak jou eie deur gelyke hoeveelhede fenugreek, vinkel, swart mosterdsade, nigellasade (uiesaad) en komyn te meng.

Bedien 6

125 ml sonneblomolie
2 rooi uie, geskil en in 3 cm dobbelstene gesny

2 groot aartappels, geskil en gesny in 3 cm dobbelsteen

½ botterskorsie, geskil en gesny in 3cm dobbelstene

1 groot eiervrug, in 3 cm blokkies, opsioneel

2 groot rooi soetrissies, pitte en membraan uitgesny,  in 3cm dobbelsteen

2 groen brandrissies, gekap
2,5 ml borrie
5 kardemompeule

5 ml panch poran (of voeg bietjie vinkel, komyn en mosterdsade by)
250 g groenbone, punte afgesny, in die helfte deurgesny
250 g murgpampoentjie, in 3 cm dobbelstene gesny (280g)
2 tamaties, geskil en gekap
10-12 kerrieblare
10 ml suiker
45 ml tamarynpasta aangemaak met 200 ml kookwater
Sout
60 ml liggies geroosterde pampoenpitte
Gekapte koljanderblare, om voor te sit

Verhit die oond tot 200C. Verhit die olie in ‘n groot soteerpan, voeg die ui, aartappel en botterskorsie by en braai vir 10 minute op medium-hoë hitte. Lig uit met ‘n gaatjieslepel en hou eenkant.

Indien jy eiervrug gebruik,  braai 6 minute en skep by die uiemengsel wat klaar gaargemaak is.

Vul die olie aan, indien nodig – jy benodig 30 ml. Braai nou die soetrissie en die speserye vir 3 minute. Voeg die murgpampoentjie, groenbone, tamaties, brandrissie en kerrieblare by en braai vir vyf minute op hoë hitte.

Plaas die gaar groente terug in die pan, voeg die suiker, tamaryn gemeng met 200ml water by en prut vir vyf minute. Geur met sout na smaak.

Smeer die mengsel op ‘n bakplaat, strooi die pampoenpitte oor en bak vir 12 minute. Garneer met koljander.

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

One thought on “Stokkieshoender in geurige jogurt-marinade (Shish Tawook) + Indiese ratatouille

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.