Archive | Leer iets nuuts RSS feed for this section

Kiri-roomkaas, my hart se punt

20 Nov

Hap aan ‘n bagel mildelik gevul met roomkaas en gerookte salm of ‘n stewige sny gebakte New York-kaaskoek en jy verstaan hoekom die geregte EN roomkaas opgeneem is in die ensiklopedie ‘1001 Foods – the greatest gastronomic sensations on earth’. Roomkaas het net die vermoë om alles waarmee dit in aanraking kom, te verhef. Dis deels die fluweelgladde tekstuur – sag, glad en romerig maar ferm; deels die subtiele smaak en aangename sweempie surigheid wat die vars wit kaas so geskik maak vir sout en soet geregte.

Roomkaas se wortels

Ek hou van kos met ‘n storie – en dit het roomkaas ook. Frankryk se kaaskundigheid is so legendaries mens sou reken dis roomkaas se geboorteland. Die roomkaas wat ons vandag ken is egter ‘n Amerikaanse uitvindsel en die storie daaragter is dat ‘n Amerikaanse kaasmaker van die staat New York dit ‘per ongeluk’ in die 1870’s ontdek het terwyl hy eintlik probeer het om die sagte, krummelrige Franse kaas Neufchâtel na te maak. Die Franse het wel die kuns van roomkaas vervolmaak en te oordeel aan hoe geesdriftig hulle daaraan smul, dit deel van hul kaasidentiteit gemaak.

Noudat die Franse suiwelmaatskappy die Bel Group hul 200 g bakkies Kiri-roomkaas in George op die Tuinroete maak, kook ek geesdriftig daarmee, wetende dat dit uit ‘n streek van ons land kom wat self spog met ‘n ryk suiwelgeskiedenis.

Roomkaas die kokvriend

As iemand wat altyd op die uitkyk is vir maniere om weeksaand-familiegunstelinge op te kikker of iets makliks vir ‘n oor-en-weer-kuier te maak, vind ek hierdie bakkies roomkaas ‘n veelsydige kosvriend.

So kry my bobotie ‘n roomkaas-vlabolaag, maak ek beetslaai trendy met roomkaas-croutons wat ek rol in gegeurde geroosterde broodkrummels; ek vervang die bottervulsel van hoender Kiev met ‘n ligter weergawe van gekruide roomkaas en maak skeurbrood met ‘n knoffel-en-jalapeno-gegeurde roomkaashart. Heerlike dinge gebeur ook as jy roomkaas deur pasta roer, want soos dit smelt maak dit alles romerig en ryk, ‘n eienskap wat ek aanwend in die resep vir gnocchi met boerewors en murgpampoentjies in ‘n roosgetinte roomkaas-tamatiesous. Ek kombineer ook graag die beste van twee wêrelde in my Kiri-roomkaas marmerbrownies. Dit bring die romerigheid van gebakte kaaskoek en die fudgerige lekkerte van die klassieke brownie in een hap bymekaar.

HUMMINGBIRDKOEK, HEUNINGVERSOETE KIRI ROOMKAAS-EN-JOGURTVERSIERSEL en pynappelblomme

Die klassieke hummingbirdkoek kry vlerke met ‘n heuning-versoete versiersel van roomkaas en jogurt. Die tropiese geure word afgerond met oondgedroogte pynappelblomme.

Koek:

450 g blik fyn pynappel in stroop

150 g (250 ml) koekmeel

75 g (125 ml) bruismeel

2,5 ml koeksoda

5 ml fyn kaneel

2,5 ml fyn gemmer

1 ml varsgerasperde neutmuskaat

220 g (250 ml) bruinsuiker, ferm gepak

45 g (125 ml) klappervlokkies

250 ml fyngemaakte piesang

2 eiers, liggies geklits

180 ml canola-olie

Kiri-roomkaasversiersel met heuning en jogurt:

1 x 200 g houer Kiri-roomkaas, kamertemperatuur

60 ml volroomjogurt

15 ml heuning

2,5 ml fyn kaneel (opsioneel)

Gerasperde skil van 1 lemmetjie

  • Klop die roomkaas, jogurt, heuning, kaneel indien gebruik, en lemmetjiesap met ‘n houtlepel tot donsig en sag. Smeer oor die afgekoelde koek. Indien te loperig, verkoel vir 30 minute.

Beslag:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n diep 20 – 22 cm losboomkoekpan. Voer uit met bakpapier.
  2. Dreineer die pynappelmoes oor ‘n bak en druk met ‘n lepel om soveel moontlik van die sap uit te druk, reserveer 60 ml sap.
  3. Sif die meel, koeksoda, speserye en suiker in ‘n groot bak. Roer die gedreineerde pynappel, gereserveerde sap, klapper, piesang, eier en olie met ‘n houtlepel by. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak 35-40 minute. Dis gaar as ‘n toetspen wat in die middel ingedruk word, skoon uitkom. Laat staan 5 minute in die pan, keer op ‘n afkoelrak uit en laat heeltemal afkoel.
  4. Versier met roomkaasversiersel en gedroogte pynappelblomme.
  5. Nota: indien jy ‘n tweelaagkoek-verkies, sny die koek horisontaal in die helfte deur en vul. Dis heeltemal in die hak as die vulsel bietjie uitloop.

Pynappelblomme:

Kies ferm pynappels wat nie te ryp is nie. Kies 1 groot en 1 kleiner pynappel sodat die blommetjies nie almal dieselfde grootte is nie.

  1. Skil die pynappels, sny die ogies uit met ‘n skerppunt-messie. Sny in baie dun skyfies. Voer twee bakplate uit met bakpapier, rangskik die pynappel bo-op en droog uit by 110°C. Draai versigtig om na 40 minute en kyk dat dit nie te bruin raak nie.
  2. Om die vorm te gee as dit afkoel, plaas die blometjies in mini-muffinpannetjies of eierkelkies.

KIRI ROOMKAAS & JALAPENO DEELBROOD

Of jy dit deelbrood, skeurbrood of partybrood noem, hierdie tuisgebakte brood sê ‘kom ons kuier saam’. Al kan jy klaargemaakte deeg by die bakkerstoonbank koop, is die maak van die deeg eintlik die helfte van die pret (twee keer se rys gee soveel geur en ‘n veersagte tekstuur); die ander lekkerte is om die veerligte rolletjies uitmekaar te trek en die pikante roomkaasvulsel binne te ontdek‘. Gemengde sade word oorgesprinkel vir ‘n neuterige smaak en kraakkontras. Bedien dit met doopsouse en peuselgoed.

Brooddeeg:

10 ml kitsgis

10 ml suiker

500 ml koekmeel

3 ml sout

60 ml warm melk

125 ml warm water

1 eier, liggies geklop

10 ml olyfolie

Kiri-roomkaasvulsel:

1 x 200 g bakkie Kiri roomkaas, by kamertemperatuur

250 ml gerasperde cheddarkaas of helfte cheddar en helfte mozzarella

30 ml botter, gesmelt

gerasperde skil van 2 lemmetjies of 1 suurlemoen

stewige knippie rooirissievlokkies of rooipeper

sout en varsgemaalde swartpeper

6 groot heel jalapeno rissies

Gemengde saadsprinkel:

olyfolie of gesmelte botter om aan te smeer

20 ml sesamsade

20 ml poppiesade of nigella sade

5 ml growwesout 

Deeg:

  1. Smeer ‘n 20 cm ronde losboomkoekpan. Smeer die buitekante van ‘n ramekin en plaas dit in die middel van die koekpan.
  2. Sif die gis, suiker, meel en sout saam in die groot mengbak van jou staanmenger. Voeg die warm water, warm melk, eier en olyfolie by. Meng tot ‘n growwerige deeg vorm, voeg bietjie meel by as dit te klewerig is; knie dan met die hand of met ‘n deeghaak in die menger tot glad. Dit neem 7 – 8 minute op medium spoed in ‘n staanmenger of 10 – 12 minute per hand.
  3. Plaas die deeg in ‘n groot, lig-geoliede mengbak en bedek met kleefplastiek (ook geolie sodat dit nie vassit nie). Plaas op ‘n warm plek om te rys tot dit verdubbel in grootte, sowat 90 minute.
  4. Sny die jalapeno rissies in die lengte deur, hou die stingeltjie heel aan die een helfte. Verwyder die sade en vlesige membraan, en plaas dan gesnydae kant na onder op ‘n bakplaat. Plaas onder die oond se voorverhitte roosterelement en rooster tot die vel begin borrel en verrimpel, sowat 7 minute. Hou fyn dop – dit moet nie te donker raak nie, en laat dit dan afkoel.
  5. Vir die roomkaasvulsel kombineer die roomkaas, gerasperde kaas, gesmelte botter, suurlemoenskil en sout en peper in ‘n bakkie. Sit eenkant.
  6. Wanneer die deeg gerys het, keer uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie dit liggies af. Verdeel die deeg in 12 eweredige stukke. Druk elke stuk plat en plaas ‘n afgekoelde rissie-helfte bo op met 1cm wat oor die kant hang. Skep ‘n mildelike bolling van die roomkaas vulsel in die middel. Vou die deeg om dit toe om ‘n balletjie te vorm en knyp die kante saam – die bokant van die rissie moet uitsteek. Plaas die balletjie deeg in die koekpan met die toegeknypte kant na bo. Herhaal met al die deegstukke, en pak hulle om die ramekin. Bedek met geoliede kleefplastiek en laat dit rys op ‘n warm, trekvrye plek, 30 – 45 minute.
  7. Voorverhit die oond tot 180 °C. Bestryk die deeg met gesmelte botter; meng die sade en sout en strooi bo-oor. Bak tot goudbruin, 40 – 45 minute. Dis gaar as dit hol klink as jy daarop klop. Laat dit binne in die pan vir 10 minute op ‘n draadrakkie afkoel voor jy dit uitkeer. Op sy lekkerste as dit warm is.

Ons het hierdie verrassingspakkies met die kase wat nou in George gemaak word en tuisgemaakte roomkaasmarmerbrownies by kosmense laat aflewer. Mynhardt Joubert was so in sy noppies dat hy dadelik ‘n foto geneem het voordat dit verorber word. Hannes Koegelenberg wat ook my Boek SAAM se stilering gedoen het, het die pragtige illustrasie op die geskenkboks gedoen wat wys waar die kaas nou gemaak word.

 Goeie nuus: Die gewilde Franse kaasprodukte, Kiri-roomkaas en The Laughing Cow kaaswiggies en smere word van November af in George op die Tuinroete gemaak. Hierdie twee vlagskipprodukte in die stal van Die Bel Group is tot nou toe ingevoer. Die Franse suiwelmaatskappy met die slagspreuk For all. For good. is in familiebesit en het sy pioniersgees behou sedert dit in 1865 begin is. Ander Bel-produkte sluit die gewilde mini-Babybel, Bel Cubes en Boursin-kase in.

Sosiale media: #ForAllForGood #BelSouthernAfrica #kiricreamcheesesa #thelaughingcow

  • Resepte en stilering: Errieda du Toit vir Bel Southern Africa
  • Foto’s: Ian du Toit
  • Kosvoorbereiding: Daleen van der Merwe

Deelbrood, skeurbrood, partytjiebrood – hoe jy dit ookal noem, die lekkerte is om hier ‘n verrassende vulsel binne jou afgeskeurde stukkie te kry.

Gevulde soetrissies

5 Sep

‘Life’s too short to stuff a mushroom’ het Shirley Conran, in die sewentigs in haar boek Superwoman geskryf oor die lot van vroue wat buite die huis ook werk. My werk as inhoudsvaardiger en teksskrywer vir Kokkedoor lewer gelukkig baie kosvreugdes op, sodat ek geen probleem het om groente vol geur te vul nie.

SPENS-TERAPIE

Ek word nie net geinspireer deur wat die onthoukokke en kinkelkokke optower nie, maar ook deur die spens waaruit hul kook. Dis ‘n beeldskone gesig dié Kokkedoor-spens met sy mandjies en kratte vol van die begeerlikste, varsste, kleurvolste vrugte en groente en rakke wat kreun onder staple – en spesialisprodukte. Die volpak (en volhou) van die Kokkedoor Spens is die verantwoordelikheid van kombuishoof Toitnette Du Toit en haar span. (Toitnette het destyds in die semi-finaal gekook van Kokkedoor 1 wat in Prins Albert geskiet was).

Die Kokkedoor-stel is soos ons eie klein planeet, bewoon deur die deelnemers en die crew van 60, elkeen met ‘n spesifieke taak. Die skiet is ‘n geweldige intense proses, met dae wat begin voor die son opkom, en aanhou lank na die son sak. Maar een dag ‘n week – gewoonlik ‘n Maandag – was ons rusdag en dan was die stel stil … behalwe dalk vir die kunsspan wat iets aanmekaar sweis of Toitnette en haar kombuisspan wat spens volmaak en blinkpoets vir die volgende episode se kookuitdaging. Daarom dra ek hierdie resep op aan Toitnette, Desire, Elsarie, Anita, Chloe en Gilionelle en almal wat nie eers op ‘n rusdag rus nie.

TE OPGEVUUR OM AF TE SKAKEL:

Teen die tyd wat die rusdag gekom het, was ek so vol kreatiewe energie dat al manier om daarvan ontslae te raak was om in my eie kombuis aan die kook te raak. Dan het ek van my eie Huiskok-resepte nader getrek en my arme man Ian ook inkatrol om saam te kook, ten spyte daarvan dat hy as stilfotograaf op die Kokkedoorstel ‘n ruskans verdien het! Dit was juis sy foto’s van kratte vol soetrissies wat my vingers laat jik het om hul holtes met heerlikhede te vul, elke kleur rissie met ‘n ander vulsel – ‘n resep uit my eerste kookboek Huiskok Glanskok. Die rissies kry hul deksels terug en word in ‘n warm oond gebak tot die lekkerte begin uitborrel.

 

  • Die rooi soetrissies verdien ‘n vulsel van gaar bruinrys met bros, bruingebraaide uie, basielblare en parmesaankaas as die smaakmakers.. bietjie volksvreemd vir ‘n Turkse dis, maar dit werk).
  • Die groenes vul ek met gemaalde lamsvleis gemeng met bruinrys of stampkoring, baie kruisement, knoffel en dennepitte. Gerasperde suurlemoenskil, kaneel en komyn gee ekstra geur.

SOETRISSIES GEVUL MET RYS, KORENTE EN DENNEPITTE VIR ‘N RUSDAG

Die smaakmakers is bruingebraaide uie, basielblare, suurlemoenskil, kaneel en komyn! Span jou huismense almal in en maak saam hierdie rusdag-soetrissie. Die lekker van die vleislose weergawe is dat dit teen kamertemperatuur geniet word, so niemand hoef tafel toe te jaag nie. Ek maak dit graag as bykos vir gevlinderde lamsboud oor die kole en bedien natuurlike jogurt daarby.

Maak 6 porsies

  • 1 groot ui fyngekap
  • 90 ml fyn olyfolie
  • 250 g rou rys (enige Spekko rys, veral bruinrys)
  • sout en peper
  • 5 – 10 ml suiker
  • 45 ml dennepitte of amandelsplinters
  • 45 ml korente of sultanas
  • 1 groot tamatie, afgeskil (as jy wil), gekap
  • 5 ml fyn kaneel
  • 2,5 ml gemaalde wonderpeper
  • ‘n handvol elk gekapte kruisement, dille en pietersielie
  • Sap van 1 suurlemoen
  • 6 mediumgrootte rooi soetrissies (of groen of geel)
  • Natuurlike jogurt vir opdiening

Vulsel: braai ui in 45 ml van die olie tot sag. Voeg rys by en roer sodat dit goed bedek is met die olie en deurskynend word. Voeg 450 ml water by asook sout, peper en suiker. Roer goed deur en kook vir 15 minute tot al die water geabsorbeer en rys halfgaar is. Roer dennepitte, korente of rosyntjies, tamatie, kaneel, wonderpeper, kruisement, dille, pietersielie, suurlemoensap en die res van die olyfolie by.

Soetrissie: Sny ‘n sirkel om die stingel om as deksel te gebruik. Hou die stingeltjie aan. Verwyder die wit dele en pitte met ‘n lepel en vul met rysmengsel. Plaas dekseltjies bo-op.

Rangskik soetrissies in ‘n vlak oondvaste bak. Gooi water tot omtrent 1 cm hoog in die bak en bak in ‘n voorverhitte oond van 190ºC vir 45 -55 minute of tot die soetrissies sag is. Wees versigtig dat die soetrissies nie uitmekaar val nie. Laat afkoel en sit voor met jogurt.

 WENK: As ‘n gevulde soetrissie nie vleis bevat nie, word dit gewoonlik teen kamertemperatuur voorgesit. Wanneer vleis wel gebruik word, bedien dit warm – en soos Turkse gebruik – altyd met jogurt.

  • Kyk Donderdagaande Kokkedoor 3 op Kyknet Kanaal 144 om 20h00. Die spanne word nou min en die kookopdragte al hoe meer uitdagend. Dankie aan borge soos #Spekko wat ons ondersteun om so ‘n eg-Suid-Afrikaanse program na kykers te kan bring.

Foto’s: Ian du Toit en Samarie Smith

Nota: Errieda du Toit is inhoudsvervaardiger vir Kyknet-programme soos Kokkedoor, Koekedoor en die kinderreekse daarop geskoei. Haar twee nuwe kookboeke SAAM (‘SHARE’) en SUIDOOSTER KOMBUIS verskyn binnekort op die rak en bring die boeke uit haar pen op 10 te staan. Volg haar op Twitter @Huiskok en haar kosrubriek AAN TAFEL in Die Burger Versnit.

‘Baby, it’s cold outside’ geregte: kerrie-en-klappermelk ertjiesop met geroosterde blomkool; kortrib-, bier en boonbredie; boereworsfrikkadelle in sticky tamatiesous

7 Aug

Winter, bly tog ‘n bietjie langer … daar’s koue-weer geregte wat ek nog wil maak.

Die meer tradisionele wintergeregte en hartskosse waarmee die Kaap van Storms aangedurf word, soos die kerries, wildspasteie, lensiesop met murgbene en plaaskombuis-groentesoppe met kluitjies het klaaar gesig gewys in my kombuis.

Ek het midwinter al cassoulet, die legendariese wintershuiskos uit die suidweste van Frankryk gemaak, (‘n liefdestaak wat tyd, vleis en hul erfenisboon coco-tarbais vra), my kosbare slopie heerbone deurgewerk en ‘n paar keer outydse boontjiesop met dobberende blokkies spek gemaak. Steeds is ek nie reg vir groet nie; my spensrakke vol rantsoene teen die koue oorlog ook nie.

Daarom maak ek ‘n lysie “Baby, it’s cold outside”-geregte wat die winter verlei om nog bietjie langer te bly, tot die opgaardamme én my eie gees voel  ons is reg vir lente se groener weivelde.

Hier is drie resepte bly-nog-vir-eers wintergeregte. Die klem is op gedroogte bone en erte, vir my die simbool van winter op sy grouste. Ertjiesop, ‘n bekende in winterkringe word opgeknap met kerrie en klappermelk, en die lojale driemanskap van vleis, bier en bone vat die koue aan. As dit te koud is vir boerewors oor die kole, bak dit dan saam met bone.

KERRIE-EN-KLAPPERMELK GEROOSTERDE BLOMKOOL ERTJIESOP

Geniet dit met roti of vetkoek.

6  porsies

  • 1 medium kop blomkool, opgekap
  • 15 ml kerriepoeier
  • 10 ml garam masala
  • 45 ml olyfolie + ekstra vir braai
  • 1 ui, gekap
  • 3 knoffelhuisies, gemaal
  • 15 ml vars gemmer, fyn
  • 15 ml fyn komyn
  • 10 ml fyn koljander
  • 2,5 ml borrie
  • 250 ml droë ertjies, afgespoel
  • 1 l groenteaftreksel
  • 250 ml klappermelk
  • Gerookte varkworsies of 2 varkpootjies
  • Garnering: kerrie-olie* (opsioneel), jogurt, geroosterde blomkool-takkie

Voorverhit oond tot 180°. Voer oondpan uit met foelie en pak blomkool uit. Meng die olie met kerriepoeier en garam masala en bedek die blomkool met die olie. Rooster vir 30 minute.

.Verhit ‘n bietjie olie in ‘n groot kastrol, voeg die uie, knoffel en gemmer by, braai tot die uie sag en deurskynend is, voeg die komyn, koljander en borrie by en braai tot geurig, sowat 2 minute.

Voeg ertjies, aftreksel en worsies of varkpootjies by en prut tot die ertjies sag is en begin opbreek, Voeg klappermelk by en prut 10 minute. Voeg geroosterde blomkool by, hou stukkies terug vir garnering. Maak die sop fyn met ‘n staafmenger of aartappeldrukker tot verlangde tekstuur. Skep in bakkies en garneer. Eet met roti of vetkoek.

*Kerrie-olie: smelt 45 ml botter, roer 15 ml kerriepoeier by en drup lepeltjievol oor die sop.

BONE EN BOEREWORS-FRIKkADELLE IN PIKANTE TAMATIESOUS

6 porsies

  • 250g  Imbo rooi spikkelbone of nierbone
  • 400 g boerewors
  • 30 ml olie vir braai,
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gemaal
  • 5 ml paprika
  • 50 g tamatiepasta
  • 2 x 410g blikke gekapte tamatie
  • 15 ml worcestersous
  • 10 ml suiker
  • Sout en peper
  • 5 ml asyn
  • Gekapte kruie

Spoel die bone af, plaas in groot kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder van die hitte, bedek en week 1 uur.

Dreineer bone en plaas terug in die kastrol, voeg genoeg kookwater by om te bedek, bring tot kookpunt en prut dan met die deksel gekantel tot sag,45 – 60 minute (nierbone kook 90 minute).

Maak intussen die frikkadelle en tamatiesous: Druk die worsvleis uit die omhulsel en vorm klein balletjies. Verhit olie ‘n pan oor matige hitte en braai die frikadelle goudbruin,  skuif dit na die kant van die pan.

Vul olie aan indien nodig, voeg uie by en soteer 5 minute, roer die knoffel by, dan die tamatiepasta en paprika, laat 1 minuut braai en voeg die gekookte bone, worcestersous, suiker, asyn en geurmiddels by. Prut tot verdik, sowat 15 minute. Proe en pas smaak aan.  Druk van die bone met die agterkant van die houtlepel fyn as jy sous wil verdik.

Sprinkel kruie oor.

KORTRIB EN BONE IN BIER MET AMASI-BONEKAPOK

Die bone-tema word na die bykos deurgetrek met boonkapok ( fyngestampte bone wat romerig gemaak is met amasi.)

  • 500 g Imbo nierboontjies, geweek
  • 500 g – 750 g kortrib, in korter stukkies gesny of ander biefstowevleis
  • Sout en peper
  • Olie vir braai
  • 2 groot uie, grofgekap
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • 4 wortels, opgesny
  • 2 steranys
  • 500 ml biefaftreksel + ekstra soos nodig
  • 1 x 330 ml blikkie bier (of vervang met aftreksel)
  • 30 ml asyn
  • Tiemie, vars of droog
  • 125 ml maas (amasi)
  • 60 ml botter

Spoel die bone af, plaas in groot kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder van die hitte, bedek en week 1 uur.

Dreineer bone en plaas terug in die kastrol, voeg genoeg kookwater by om te bedek, bring tot kookpunt en prut met die deksel gekantel vir 60 minute (bone nou halfgaar.) Skep die helfte van die bone met ‘n gaatjieslepel uit en hou eenkant om later by vleis te voeg. Kook die orige bone vir nog 30 – 40 minute tot sag (dit word vir die boonkapok gebruik).

Voorverhit oond na 160°C. Geur vleis goed met sout en peper. Verhit olie in oondvaste pot en verbruin vleis in sarsies. Skuif vleis na die kant, soteer uie vir 4 minute, voeg wortels en knoffel by en braai liggies vir nog 4 minute. Roer die vleis en groente deur, voeg vloeistof by, bedek en stowe 90 minute in die oond.

Voeg halfgaar bone, tiemie, asyn en nog biefafstrek by indien nodig (die bone soek vog om sag te word). Bedek en bak nog 90 minute tot die bone sag is en vleis van die bene afval. Druk van die bone fyn om die sous te verdik. Geur.

Boonkapok: verhit die orige gaar bone met 60 ml amasi, vars of droë tiemie en botter. Maak dit fyn en voeg nog amasi by. Geur.

  • Errieda Du Toit kook Saterdag 10 Augustus saam met Daleen van der Merwe ‘n uitsonderlike viergang winterspyskaart by die Karoo Art Hotel op Barrydale. Peter Veldman gesels saam. R500 met De Grendel wyne ingesluit. Bespreek by reservations@karooarthotel.

Franse Ervaring – Affaire met ‘n aartappel – galette, aartappelterte, konsertina-dauphinoise

9 Jul

Die storie loop dat die enigste verslankingsdieet wat Jackie Onassis ooit gevolg het een was waar sy elke dag kaviaar en aartappel moes eet.

Kaviaar was egter ver van my gedagtes toe ek agter ‘n baie besondere aartappel aan van vendeur na vendeur geloop het op die opelugmark in Rue Mouffetard, een van Parys se oudste strate.

Nie dat ek alleen was in my soektog na die ondergrondse lekkerny nie, want in die lente is die gesogte Île de Ré eiland-aartappel met sy babafyn skilletjies en bekbederf-tekstuur op elke gourmand se tafel in Parys.

Île de Ré is ‘n eilandjie skaars 30 km lank en 5 km breed aan die Franse weskus. Hier in die Poitou-Charente-streek word so passievol met jong aartappeltjies geboer dat dit die enigste aartappel-van-oorsprong is in Frankryk met die AOC-status ‘appellation d’origine controlee’.

Die soutige smaak, fyn skil en sagte tekstuur is die resultaat van die eiland se klimaat en sout seelug, die mineraalinhoud van die sanderige kalkgrond en die seewier waarmee die grond verryk word. Dit word onder streng voorwaardes verbou en word jonk geoes om die styselinhoud te beperk. Om die teer babavelletjies teen die son te beskerm word dit ook net vroegoggend geoes.

Die Mouffetard-markvrou se tolk verduidelik dat ek die jongelinge (goed verpak in ‘n pragtige turkoois houtboksie met ‘n groot AOC-waarmerk) in ‘n donker, koel plek moet stoor en binne ‘n paar dae moet gaarmaak.

 So ‘n eenvoudige, unieke seisoenplesier soek smaakmaats met dieselfde waardes, soos die fyn grys seesout (sel gris de mer) ook van Île de Ré; en effe gesoute tradisionele botter wat ook breëbors die AOP-merk van die Charente-Poitou-streek dra.

So beskermend voel ek oor die sensitief-besnaarde aartappeltjies dat ek die gaarmaak daarvan vir een van my kospraatjies op Le Boat toevertrou aan René van Wyk, kosgeesgenoot en reismaat. Sy en haar man Koos het groot simpatie getoon met my obsessiewe jagtog agter streekprodukte aan, en gehelp dra aan my inkopies van die mark af tot op die moltrein.

Terwyl ons die soveelste stel trappe op en af klim tussen moltreinstasies (boks aartappels oor die arm), vertel sy dat haar liefde vir baba-aartappels al as kind begin het toe sy dit sommer so rou uit haar pa se groentetuin op Louis Trichardt geëet het!

 Sy weet met ‘n ma se instink dat so ‘n delikate aartappel nie geskil moet word nie; en die unieke smelt-in-die-mond-tekstuur van die eilandaartappeltjies behou word deur dit in liggesoute water op te kook tot net-net sag. Om die ragfyn skilletjies ten toon te stel het sy die gaar aartappeltjies in die botter-van-oorsprong soteer, afgerond met ‘n laaste strooisel gryssout , swartpeper en ‘n motreëntjie vars pietersielie.

Sy stapel die sierade op ‘n mooi ovaalbord uit die boot se kombuislaai en sit dit nadenkend neer op wilgertakke wat sy en Koos op die oewer van die Charenterivier gepluk het. Dis nog  ‘n teken van haar kunstenaarsaanvoeling en geur die aartappels met nog ‘n spesiale herinnering van Parys wat ons deel: ons besoek aan die uitstalling van Claude Monet se Waterlelies in die Musée de l Orangerie.

“Die wilgertakke laat my dink aan Monet se skilderye van sy waterlelies. Daar hang altyd wilgertakke oor die water in sy werk,” vertel sy.

Ek glo Jackie Onassis sou dit ook waardeer het, en nader gestaan het vir ‘n tweede en derde porsie van die baba-aartappels sonder om eers te wonder waar die kaviaar is.

Weetwaardig: die duurste aartappels op aarde is die geel La Bonnotte tuinaartappeltjies wat met die hand geoes word op die eiland Ile de Noirmoutier, in die noordweste van Frankryk. So begeerlik soos truffels en raar – dis slegs 10 dae per jaar beskikbaar – en word in Parys op veiling verkoop teen sowat €500/kilogram.

Die bakker se vrou se aartappels 

Net die gereg om supermarkaartappels te omskep in ‘n smulgereg geïnspireer deur die eenvoud en smaak van die Franse platteland. Pommes Boulangère is die indrukwekkende naam vir ‘n onopgesmukte landelike aartappelgereg sonder die rykheid van room uit die dae wat huiskokke geregte in die bakker van die dorp se bakoond gaan gaarmaak het in die laaste hitte. Perfekte bykos. Die resep is aangepas uit Patricia Wells se Bistro Cooking.

1 kg melerige aartappels, geskil

80 g botter

2 uie, geskil en fyngekerf

3 – 4 preie, slegs die wit deel, afgewas en fyngekerf

10 ml vars tiemie of 5 ml gedroog

1 lourierblaar

2 knoffelhuisies, geskil en gekap

30 ml fyngekapte pietersielie

500 ml warm hoenderaftreksel (of helfte aftreksel, helfte droëwitwyn)

  • Voorverhit die oond tot 190°C. Sny die aartappels in 3 mm dun skyfies met ‘n skerp mes of mandoelien. Moenie in water sit nie, want jy wil nie die stysel afwas nie, bedek eerder met ‘n klam doek.
  • In ‘n pan, smelt die helfte van die botter en sweet die uie, preie, tiemie, lourierblaar en knoffel met die deksel op tot sag en goudkleurig, sowat 10 minute. (Voeg die aartappels en pietersielie by, giet die aftreksel en wyn oor, bedek en prut 15 minute oor matige hitte (sien variasie om hierdie stap uit te sny).
  • Skep dit uit in ‘n vlak 2 l erdebak of kasserol, stip met die orige botter en bak tot die aartappels sag is, die bolaag goed bruin en die meeste vog geabsorbeer is, sowat 1 uur.

Variasie:

As jy ‘n netjieser aartappelgebak verkies met die imposante sirkelpatroon van mooi uitgepakte aartappels, varieer die resep soos volg:

Pak 1/3de van die aartappels in sirkels (oorvleuel) op die bodem, smeer die helfte van die gaar uie-preimengsel oor, pak ‘n 1/3de van die aartappelringe bo-op, gevolg deur die oorblywende uie-preimengsel en eindig met ‘n mooi-gepakte aartappellaag. Voeg die fyn pietersielie by die aftreksel en wyn, giet versigtig oor die aartappels. Stip met die orige botter en bak sonder deksel in die oond tot die aartappels sag is, die bolaag goed bruin en die meeste vog geabsorbeer is, sowat 1 uur.

Aartappel- en uie-galette met eendvet

Eendvet gee swierigheid aan die andersins eenvoudige aartappelgereg.

1,2 kg aartappel, geskil en in dun skywe gesny met mandoelien of skerp mes

60 ml gesmelte eendvet

Sout en varsgemaalde swartpeper

2 uie, dun gesny met mandoelien of skerp mes

Bediening: Crème fraiche (opsioneel)

  • Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n 18cm- kleefvrye oondvaste pan liggies en voer die basis uit met bakpapier.
  • Plaas die aartappels, eendvet, sout en peper in ‘n groot mengbak en meng deur om die aartappels goed te bedek.
  • Pak 1/3 van die aartappels ietwat oorvleuelend in ‘n laag op die bodem, bedek met die helfte van die uie, pak nog ‘n 1/3 van die aartappels op, bedek met die orige uie en pak die laaste 1/3 van die aartappelskywe uit.
  • Bak sowat 50 minute of tot die aartappel deurgaar is en goudbruin bo-op. Laat staan 15 minute en keer dit versigtig uit op ‘n warm bord en besprinkel met sout en peper. Bedien met ‘n skeppie crème fraiche of suurroom as bykos vir hoender of skaapboud.

Donna se Aartappeltert met roosmaryn en mascarpone

Herinneringe aan my vakansie-fling met aartappels laat my hierdie bykosresep uit ‘n Donna Hay-tydskrif opgrawe. Ietsie moois en anders om met ‘n doodgewone aartappel te doen. Eet dit as bykos of bedien dit met flertse swartwoudham, jambon, terrien of rafeltjievark (rillette) vir ‘n supersmaaklike ligte ete.

1 vel (375 g) skilferkorsdeeg, ontdooi

75 g fyngerasperde beleë wit cheddar of gruyere

125 ml (120 g) mascarpone of roomkaas

350 – 400 g aartappels, geskil of ongeskil, in baie dun skyfies gesny

15 ml olyfolie

Sout en varsgemaalde peper

1 ml varsgerasperde neutmuskaat

4 takkies vars roosmaryn, gekap

  • Voorverhit die oond tot 200°C. Voer ‘n groot oondrak met bakpapier uit en plaas die skilferkorsdeeg bo-op. Merk (score) liggies ‘n 2 cm breë strook om die rand van die pasteideeg met ‘n skerp messie. Prik die deel binne die strook met ‘n vurk en verkoel.
  • Meng die gerasperde kaas, mascarpone en neutmuskaat in ‘n bakkie. In ‘n ander bak meng die aartappel, olie, sout en peper en neutmuskaat goed deur. Smeer die kaasmengsel bo-oor die skilferkors, pak die aartappelmengsel bo-op (laat die gemerkte strook oop), rasper neutmuskaat oor en bak 25 – 30 minute. Strooi die roosmaryn oor en bak nog ‘n paar minute tot die deeg gaar en goudbruin is. Bedien warm.

Pesto-, bokmelk en aartappeltert

 ‘n Baie lekker gereg uit Olive Magazine wat my laat verlang na die Charente-streek se wonderlike bokmelkkase. Ek het ook ‘n heerlike herinnering van bokmelkkaas wat ek by die fromager Alleosse op die Poncelet-mark in Parys gekoop het. Die kaas mothais sur feuille beteken ‘kaas op ‘n blaar’ en word tradisioneel op kastaiingblare neergesit. Ek was so opgewonde oor die markvonds dat ek dit soos ‘n baba vertroetel het tydens verskeie oorklimme op die moltrein,en toe in ‘n koelsak op die 5 ure busrit tot by Jarnac waar ons Le Boat riviervaart begin het.

400 g baba-aartappeltjies, baie dun gesny

1 vel klaargerolde broskors deeg (shortcrust), ontdooi

60 ml pesto

45 ml fynggerasperde grana padano

1 eier, liggies geklits vir verglansing

100 g bokmelkkaas

  • Kook die aartappelskyfies vir 2-3 minute in vinnig-kokende, gesoute water en dreineer baie goed.
  • Voorverhit die oond tot 190°C. Berei ‘n bakplaat voor met kossproei of voer met bakpapier uit, rol die broskorsdeeg daarop op. Maak ‘n klein diagonale snit in elke hoe ken vou elke sy om om ‘n randjie te vorm.
  • Smeer die helfte van die pesto oor die basis en strooi die kaas oor. Pak die aartappelsnytjies mooitjies effe oorvleuelend bo-op uit, geur met sout en peper. Bak vir 30-35 minute tot die pasteideeg goud en bros is en die aartappels gaar. Krummel die bokmelkkaas oor, drup die orige pesto oor en bedien. Dis ook lekker louwarm.

Konsertina-aartappel Dauphinoise

Die geure van ‘n klassieke Dauphinoise aartappelgebak – goudbruin en borrelende gesmelte kaas, neutmuskaat en kruie-room – waarborg dat die eters met die eerste skep al ‘n tweede een beplan.

Hoewel niks by die oorspronklike Pomme Dauphinoise kom nie is ek altyd op die uitkyk vir ‘n variasie, soos die resep hieronder wat ek gemaak het vir ‘n familie-ete om my ma se ronde tafel. Die weergawe van Serious Eats bring die beste van twee wêrelde bymekaar – hasselback-aartappel (konsertinaaartappels soos dit in kerkboekies genoem word) se brosbruin super-krakerige bo-laag en die sagte hart van die klassieke Dauphinoise. Dis bietjie meer moeite om die papierdun skyfies aartappel regop te stapel, maar die beloning is groot.

*Die grootte en vorm van aartappels gaan bepaal hoeveel jy nodig het – langwerpige aartappels sal ‘n bak vinniger volmaak as korter, ronde aartappels. Koop ‘n paar ekstra aartappels vir ingeval jy nog nodig het.

85 g fyngerasperde gruyere

60 g fyngerasperde parmesaan of grana padano

500 ml dikroom (of helfte room, helfte volroommelk)

2 knoffelhuisies, fyngerasper

15 ml vars tiemie, grofgekap

Sout, peper en neutmuskaat

6 medium/1,6 kg aartappels, (of meer*), geskil en in 3 mm skywe gesny (moenie afwas nie)

30 ml botter

  • Voorverhit die oond na 200° C en plaas die oondrak in die middel.
  • Meng die kase in ‘n groot bak, skep 1/3de uit en eenkant tot later.
  • Voeg die room, knoffel, tiemie en neutmuskaat in die groot bak by die kaasmengsel, geur kwistig met sout en peper. Voeg die aartappelsnytjies by en meng met jou hande deur om elke skyfie te bedek met die roommengsel en te sorg dat die snytjies loskom van mekaar.
  • Smeer ‘n 2,5 l kasserolbak, skep ‘n handvol van die aartappels op ‘n keer en rangskik die skywe om die rand regop en baie styf teen mekaar, nie plat soos dit gewoonlik gedoen word nie.Gaan aan om die skywe reg rondom die rand en na die middel toe tot al die aartappels mooi geplaas is. Indien die aartappels te min is, sny nog ‘n paar aartappels, trek deur die roommengsel en pak regop. Giet die orige room- en kaasmengsel eweredig oor die aartappels tot die mengsel sowat halfpad teen die rand op is (daar kan van die roommengsel oorbly.
  • Bedek met foelie (seël goed) en bak eers vir 30 minute, verwyder die foelie en bak tot die bokant strooibruin is, sowat 30 minute. Haal uit die oond, sprinkel die orige 1/3 van die kaas oor en bak nog 30 minute tot die bokant diep goudbruin en bros is. Laat staan 10 minute en bedien.

My onvergeetlike Franse ervaring en Le Boat riviervaart op die Charente is gereel deur Marius Du Plooy Toere.

Foto’s deur Ian Du Toit, behalwe waar anders aangedui.

Franse ervaring: Normandiese varklende, karamel-soutappel; + varkfilet met rooibos en sultanas

3 Jul

Met varkvleis, brannas, appel ien my gunsteling-voorskoot in my arsenaal, was ek reg vir enigiets wat ‘n rivierboot-kombuis van Le Boat na my kant toe gooi. Selfs in Frankryk.

Dit was bietjie soos sand na die Sahara om ‘n bottel kosbare 12 jaar-potketelbrandewyn in die reistas te pak vir ons onlangse Le Boat riviervaart-vakansie in Frankryk. Ons het immers deur die Cognac-streek gevaar, met die rivieroewers wat tekens van die Franse distilleerkuns met trots vertoon.

Ek het tog gevoel dat die Suid-Afrikaanse spiritus in my bagasie ‘n teken van respek is, ‘n erkenning van ons eie gerespekteerde brandewynbedryf se wortels. Ek het ook geweet dat ek iewers daarmee sal wil kook (wie wil dan nie flambé as hulle in Frankryk kans kry om te kook nie?) Die plaaslike Konjak sou egter my kosbegroting onder  te erge spanning geplaas het.

Om my vakansie-spaarvarkie genadig te wees het ek ook ‘n paar ekonomiese-maar-indrukwekkende varkvleis-idees saamgepiekel, want min dinge is so eg-Frans as porc. Varkvleis is ‘n fondasie-bestanddeel in hul charcuterie, die hoeksteen van die heerlike saucisson a l’ail (knoffelwors) wat ons in Julien, die beroemde beeldskone Paryse bistro saam met die botterigste kapokaartappel verslind het. Die heerlikste snye jambon wat by elke supermarkie of boucherie gekoop kan word is ‘n genotsvriend saam met piekels, kaas en vars brood vir ‘n piekniek op die oewer van slaperige dorpies soos Bourg-Charente  n sluis of duskant die historiese stad Cognac. 

Flambé met flair: Die tegniek flambé verbruin die bestanddele, intensifiseer die smake en aromas, en sorg ook vir baie drama.  Jy speel egter letterlik met vuur, so hou hierdie paar veiligheid swenke in gedagte.

– Om te flambé, maak jou bestanddele wat jy wil flambé  eers goed warm in ‘n vlak pan met lang handvatsel (koue kos gaan nie vlam vat nie); giet die brandewyn oor en steek die alkoholdampe dadelik aan die brand aan die kant van die pan met ‘n  langpunt-aansteker of een van daai lang vuurhoutjies.

– Om die alkohol makliker te laat vlam vat, maak dit vooraf louwarm (15 sekondes in die mikrogolf is al genoeg).

– Vir veiligheid hou ‘n brandblussende lap of  ‘n groot deksel byderhand. Moet ook nie die alkohol direk uit die bottel in die warm pan gooi nie, want die vlam kan terugspring tot in die bottel – meet af hoeveel jy nodighet in ‘n ander houer, verhit effe en voeg dan by.  Moet ook nooit flambe met jou ‘extractor fan’ oop nie.

‘n Sjefstruuk is om die pan se verste kant weg van die handvatsel kantel sodat die gasvlam die alkoholdampe kan aansteek.

– Spiritus of likeur met 40% alkohol per volume is ideaal; iets sterker sal die smaak benadeel. Indien ‘n gas alkohol vermy, neem in ag dat al die alkohol nie wegbrand nie.

Normandiese varklende met brandewyn en soutkaramelappels

Span jou flambé-finesse hiervoor in.

1 varklende (sowat 1,6 kg), ontbeen, ekstra vet afgesnyen goed vasgebind met kombuistou

4 knoffelhuisies, gemaal

15 ml sout

15 ml roosmaryn

15 ml vars tiemieblare

15 ml vars salieblare

5 ml swartpeper

30 ml olyfolie + ekstra vir braai

45 ml brandewyn vir flambé

Gekaramelliseerde appels:

4 groot appels, verkieslik Granny Smith

60 g suiker

60 g botter

Soutvlokkies

Haal die varklende 30 minute voor gaarmaak uit die yskas. Druk regom goed droog met ‘n skoon kombuislap. Voorverhit die oond na 230°C.

Meng die knoffel, kruie, sout, peper en 30 ml olie in ‘n klein bakkie tot ‘n pasta en smeer die vleis daarmee in.

Verhit 15 ml olie in ‘n oondvaste pan, braai die vleis reg rondom goed bruin en flambé met louwarm brandewyn (sien wenke ‘flambé met flair). Sodra dit klaar gevlam het, plaas die varklende in die oond, bak 15 minute en draai dan die temperatuur laer na 160°C vir 40 minute of tot die interne temperatuur van die vleis 70°C bereik, of ‘n toetspen wat vir 30 sekondes ingesteek is, warm uitkom. Haal uit die oond, bedek liggies met foelie en laat rus 15 – 30 minute.

Maak die gekaramellisseerde appels: Verwyder die appelstronke maar moenie skil nie. (Die pitjies van die Franse appels was so klein dat ek dit ingelos het). Sny dik snye in die breedte. Strooi die suiker op ‘n groot bord. Smelt die botter in ‘n pan. Druk een kant van die appelringe in die suiker en plaas in pan op die sissende botter, Karamelliseer sowat 5 minute aan die een kant; draai die appelringe om, strooi die orige suiker oor en verbruin sowat 2 minute.  Strooi soutvlokkies liggies oor. Knip die kombuistou, sny die vleis in skywe en bedien met die sout karamel-appels.  Ek het klein lente-aartappeltjies en liggies opgekookte groenbone met geroosterde amandels saam met dit bedien.

Wenk: voeg 60 ml crème fraiche by die pansouse vir ‘n vinnige sous.

 

Lieflik voorbereide varklende by die boucherie In Jarnac gekoop. So ‘n pragstuk vleis vryf jy net in met kruie, sout en peper voor dit pan toe gaan om te verbruin en te flambé.

                                                                                                                                                                                                                                                 Varkfilet met romerige rooibos- en sultanasous

Hierdie ongekompliseerde resep uit Damien Pignolet se boek French neem skaars 10 minute om voor te berei en minder as ‘n halfuur om gaar te maak – die ideale gereg vir kuiermense of iets anders vir die Sondagmaal. Damien gebruik Darjeeling tee en konjak, maar die patriot in my vervang dit met rooibos en potketelbrandewyn. Onthou dat die sultanas vooraf moet week.

2 varkfilette (sowat 680 g in total)

10 g botter

10 ml canola-olie

Sout en varsgemaalde peper

40 g sultanas

100 ml gebroude rooibostee

30 ml brandewyn of konjak

100 ml droë witwyn

250 ml dikroom of creme fraiche

Giet warm rooibostee oor die sultanas en week vir sowat 6 ure.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Vou die dun punte van die filette terug en bind die filette met kombuistou  vas om hul vorm te behou tydens die gaarmaak.

Verhit olie en botter in ‘n oondroosterpan en verbruin die vasgebinde filette aan beide kante. Geur goed met sout en peper, plaas in die oond en rooster 15 minute.  Plaas die filette op ‘n bord, bedek lossies met foelie en laat rus.  Dreineer die sultanas en behou 60 ml van die tee waarin dit geweek het.

Gooi die vet uit die roosterpan en voeg die brandewyn/konjak by, kook ‘n paar sekondes, voeg die witwyn by en kook dit met die helfte af. Voeg die tee en room of crème fraiche by, prut tot die verlangde dikte en voeg die gedreineerde sultanas by. Geur na smaak met sout en varsgemaalde peper. Voeg enige sous op die bord waarop die filet gerus het ook by. Sny die filette in skywe, plaas op warm opdienbord en giet die sultanasous oor.

Foto’s: Ian Du Toit en ons toerleier Marius Du Plooy.

Ek was vir die onvergeetlike Franse Ervaring die gas van Le Boat en Marius Du Plooy Toere.

 

 

Franse ervaring uit die bootkombuis: die lekkerste skrophoender met asyn, room en mosterd

28 Jun

Goeie kos gebeur nie toevallig nie, dis eerder die produk van die plek en die mense, en van die kokke wat al jare op ‘n entoesiastiese gehoor geoefen het, en bestanddele wat net reg is.

Dis die woorde van Anne Willan, wêreldkenner van die Franse kookkuns wat my kosinspirasie was toe ek onlangs op uitnodiging van die gesoute toerleier Marius Du Plooy kospraatjies gehou het tydens ‘n Le Boat-vakansievaart op die Charente-rivier deur die Cognac-streek.

Ek het haar boek (wat omtrent 5 kg weeg) oor die kos van die Franse platteland met my saamgesleep, om my te help om met markbestanddele te improviseer en getrou te bly aan hul landelike manier van kook.

Ons vaart het begin by Jarnac, die antieke dorp uit die mooiste sandsteenklip gebou en tuiste van Courvisier konjak. Dis toe ek by die plaaslike kos-koöp en boucherie (slaghuis) inkopies gedoen dat die borsbeeld van Francois Mitterrand op die dorpsplein my vertel dis sy geboorteplek.

My begeestering vir die natuurskoon, historiese geboue en atmosfeerryke kobbelsteenstegies is amper oortref deur die plaashoenders uitgestal by die boucherie( slaghuis) Charcuterie Maison waar ‘n gulhartige slagter en sy vriendelike assistent my handgebare probeer ontsyfer.

Ek wys na die Poulet Fermier Jaune des Landes élevés en liberté, losweg vertaal as ‘die geel plaashoender wat totaal vry kan rondloop’. Om die gesogte geel hoender op my eerste inkopietog vir my bootpraatjies op my wenslys te kan afmerk was ‘n mylpaal-oomblik.

Alhoewel nie so internasionaal beroemd soos die Bresse-hoender, of so indrukwekkend op die oog soos die Barbezieux poulet noir swart hoender uit Suidwes Frankryk nie, het die geelhoender sy eie indrukwekkende storie. Die hoenders met hul kenmerkende lang kaal nekkies lewe vir bykans drie maande ‘n idilliese lewe in die Landes-dennewoud, heeltemal vrylopend agter mieliepitte aan en heerlikhede wat die woudvloer oplewer.

Van nature stadig-groeiend, is dit ook wetgewing dat enige hoender wat die gehaltemerk label rouge (rooi etiket) dra aan baie streng wetgewing voldoen, onder meer dat dit ‘n tradisionele hoenderras moet wees wat van nature stadig groei en heerlik smaak. En elke hoender is genommer.

Ek beduie lomp vingers in die lug aan die slagter om die lieflike geel hoender in agt stukke op te sny. So groot is die netjiese toegedraaide pakkie dat ek – terug op die boot – eers die boudjies getel het om seker te maak ek het nie dalk twee hoenders gekoop nie. Vir sulke gehalte vleis knyp jy oë toe en skakel nie euros om na rand nie.

Om een van my allergunsteling-geregte met so ‘n hoender te kan maak met ‘n uitsig uit my bootkombuis wat voortdurend verander – chateaus, antieke dorpies, landerye en woude – was so surrealisties dat ek myself voortdurend moes knyp.

Hoewel ek die uniekheid van die ervaring kon aanvul deur iets nuuts met die hoender te maak soos ‘n speseryhoender- en lensieslaai met verjuice vinaigrette waarvoor ek spesiaal die speserymengsel quatre-épices (‘n mengsel van naeltjies, kaneel, gemmer en neutmuskaat) in ‘n Paryse spesialiteitswinkeltjie gekoop het; poulet au beaujoulais (hoender gemarineer in die vars Beaujolais rooiwyn) of Sauté de poulet à la marinière met droë vermoet, val ek uiteindelik terug op my gunstelinge poulet au vinaigre de vin.

Asyn klink dalk na ‘n minder algemene kookmaat vir hoender as wyn, behalwe in die Franse platteland waar asynhoender gemaak volgens die ouma-manier die hartskos is van groot name soos Raymond Blanc en Paul Bocuse. Ek het selfs die lourierblare van die huis af saamgepiekel vir ingeval ek een van die epiese Galliese noir, blanc of jaune hoenders  in die pot het.

Nie alles verloop volgens plan nie: ek moes pêreluitjies vervang met salotte, en vars knopiesampioene met gebliktes (les: kom vroeg by die mark), maar verder kon ek my getroue resep volg. Waar ek by die huis vir ekonomiese redes gewone ontbytspek by die gereg voeg, verlei die boucherie se  pinkie-dik lardons my. In ‘n rojale bui roer ek aan die einde Dijon-mosterd en ‘n  koppie Normandiese room ook by. Dis sonder vrees dat die gereg te ryk gaan wees nie, want dis waar die rooiwynasyn as wonderwerker sy kant bring: dit sny deur die rykheid, stimuleer die eetlus en laat die tong tevrede en verfris na.

Alhoewel die gereg tradisioneel met pasta of rys geniet word, het ons dit met hompe varsgebakte baguette uit een van Jarnac se vele boulangeries geniet.

Asynhoender Jarnac – hierdie keer met room en mosterd

(Poulet au vinaigre de vin)

Ons kook so maklik met wyn, maar hoekom nie ook met asyn nie?

12 klein uitjies (die soort wat vir piekels gebruik word)

45 ml olyfolie

60 g pancetta of ontbytspek, in blokkies gesny

250 g knopiesampioene, afgevee

3 knoffelhuisies, fyngekap

1 groot skrophoender, in 8 stukke opgesny

190 ml goeie rooiwynasyn (kan helfte met goeie balsemiekasyn aanvul)

500 ml hoenderaftreksel

3 lourierblare (vars of gedroog)

250 ml room

30 ml Dijon mosterd

Fyngekapte pietersielie vir garnering

Bedien met rys, kapokaartappel, fettucini of net groot hompe baguette.

  • Kook die uitjies skil en al in gesoute water tot die skille net begin loskom, dreineer en verwyder die skille. Hou uie  eenkant. Verhit olie in ‘n groot swaarboompan en braai die spek of pancetta tot goudbruin. Haal uit met gaatjieslepel en hou eenkant.
  • Soteer die sampioene tot bruin en voeg die gaar uitjies en knoffel by. Soteer vir verdere 4-5 minute. Maak seker dat die knoffel nie brand nie en die uie heel bly. Haal uit met gaatjieslepel en hou eenkant.
  • Geur die hoenderstukke met sout en peper en braai in dieselfde pan sowat 10 minute aan ‘n kant. Voeg die asyn, sampioene, lourierblare, spek of pancetta, uie- en knoffel,  en hoenderaftreksel by. Prut tot die hoender net-net van die been af loskook en die asyn se erg-suur versag het. Voeg die room en mosterd by, proe en geur met sout en peper, laat liggies prut tot deurwarm (sonder om te kook, anders kan dit skif). Skep saam met al die sous in ‘n warm opdienbak en strooi pietersielie oor.

Erkenning: ‘n hartlike dank aan Marius Du Plooy Toere. Vir inligting oor Marius se uitsonderlike toere en reiservarings volg die Facebook-blad vir Marius Du Plooy Toere.

Foto’s: Ian Du Toit.

Kerrieafval, smaakbrokkies en vriendskap

28 Jun

As jy ‘n afval-liefhebber is, verbeel jou die schloep-shcloeperige geluide van fyn beentjies wat uitgesuig word. Voel die taai lymerigheid aan jou vingers. Nirvana. Val jy egter in die anti-afvalkamp sal die begeerte om verby te blaai sekerlik jou eerste impuls wees; soos ek sou, vóór my bekering tot die smulstukkies in my bord.

Daleen van der Merwe, die profetes wat my tot gastronomiese afval-inkeer gebring het, het jare-lank aan my getorring om aan te sluit by die kring van Pens en Pootjies. En harsings. En tongetjies. En ander dele wat mens maar saggies sê voor mense met afvalfiemies. Ons spreekwoordelike sewe sakke sout het begin toe ons saam Huishoudkundige geswot het. Naas die agt kookboeke met haar as my boekuitgewer by Human & Rousseau het ons bondgenootskap ook saamreis, saambak, saam konfytkook en biltongmaak ingesluit. Maar afval, nee.

Tot sy my op ‘n dag sê: ‘as jy my nou rêrig gelukkig wil maak, kook en eet saam met my afval.’ Vir vriendskapsredes het ek my ore gespits.

‘Afvalmaak begin by jou verskaffer,’ lei sy my in die nuwe smaakreligie in. ‘En weet waarvoor om te vra. Ons is stadskinders wat die skoonmaak van afval eerder vir die boer en slagter moet los. Vra dus vir ‘n skoon pens en skoon pootjies. En jy soek die kop, ook baie skoon en sonder kliere, deurgesny. Laat hulle vir jou die harsings mooi netjies in ‘n pensdeel toebind. Bestel ook ‘n lamsnek, in skywe opgesny.”

Wetende dat ek ‘n groentjie is, beveel sy ‘n drukpot aan. “Dit maak die proses net soveel vinniger.”

Met haar ervaring as kookboekuitgewer om 95 kookboektitels die lig te laat sien het, is haar resepaanwysings duidelik en volledig. “Toe, proe hoe lekker,” moedig sy my aan met ‘n lepel van die kookvloeistof. Die ou-ek sou terugdeins, maar die geure laat my weerstand verkrummel.

“Nou nog net die aartappeltjies bysit om sag te kook”, gaan sy voort met die intieme meesterklas. “Ek raai aan dat jy een van die aartappels in fyn stukkies sny om jou sous te verdik, dan hoef jy nie meel te gebruik nie. Die appelkosies kom ook nou by, maar met ‘n caveat: nie die duur Turkse appelkose nie, jy soek die surigheid van droë appelkosies uit die Klein Karoo.

Sy laat my die groot bene uithaal en die pens in fyner stukke sny. “Dis wys om nie die pens voor die tyd op te sny nie, anders brand dit te maklik aan.” Sy werk baie netjieser in ‘n kombuis as ek, maar die kerriespatsels op haar voorskoot is ‘n teken dat sy kosmaak met passie, nie net met presisie nie.

“Afval is my koesterkos,” sug sy. “Ware verlangkos.” Sy kom uit ‘n gesin waar almal mekaar heen en weer nooi vir afval-eet. Nou eet ek ook saam.

Daleen se Kerrie-afval  

1 skaappens

1 skaapkop

4 skaappootjies

50 ml asyn

10 ml sout

2 ml vars gemaalde swartpeper

4 heel naeltjies

500 g skaapnekskywe

Plaas die heel pens, kop, pootjies, sout, peper en naeltjies in ’n dikboomkastrol of drukkoker, bedek met water en kook 2 tot 3 uur lank stadig (1 uur in die drukkoker).

Voeg die nek by en kook verder tot sag. Roer af en toe sodat dit nie aanbrand nie. Haal die meeste bene uit en sny die pens in stukkies. Hou eenkant. Vir ’n vaalafval kan 3 ml neutmuskaat, 3 uie (in skywe gesny) en 6 opgesnyde aartappels nou bygevoeg word en dan gekook word tot die aartappels sag is.

Daleen verkies egter ’n kerrieafval en maak haar eie kerriemengsel:

Kerriemengsel

30 ml olyfolie

4 medium uie, in skywe gesny

1 brandrissie, fyngekap

10 ml gerasperde vars gemmerwortel

2 steranys

7 ml fyn koljander

5 ml fyn komyn

5 ml borrie

3 ml fyn kardamom

2 huisies knoffel, fyngekap

25 ml appelkooskonfyt

25 ml asyn

Ekstras

6 aartappels, geskil en gehalveer – sny een aartappel in klein blokkies

15 droë appelkose

  • Verhit die olie in ’n pan en braai die uie liggies tot sag, voeg die brandrissie, gemmer, en steranys by en roerbraai 1 minuut lank. Roer die res van die speserye, knoffel, konfyt en asyn by. Roer die kerriemengsel by die gaar afval, voeg die aartappels en appelkose by en kook tot die aartappels sag is. Verdik die sous met ’n bietjie mielieblom indien nodig. Proe en voeg nog sout en peper by indien nodig.
  • Sit voor met witrys, blatjang en ’n heerlike vars slaai.

Fotografie en stilering: Ian en Errieda du Toit.

Moedersdag-ontbyt sonder die druk

12 May

Soos die meeste ma’s is ek maklik om tevrede te stel op Moedersdag.  Ons het nie aansit-etes by deftige gedekte tafels  nodig om geliefd te voel nie en sal met ‘n hartlike druk en dankie-kaartjie net so tevrede wees. ‘n Viergang-maaltyd kan  boemerang as die entoesiasme die vermoëns oorskry, ‘n kombuis in chaos en die gesin met gekneusde senuwees om alles op eie stoom te probeer klaar kry. 

Daarom begin ek voor die tyd gerusstellende geluide maak en los resepte vir verrassend-maklike ontbytgeregte  waar dit raakgesien kan word. Dis resepte wat spoggerige resultate lewer sonder die intimidasie. Dit vra gewone spensbestanddele, is lig op die skottelgoed en selfs jonger gesinslede moet kanhand bysit met die klits. 

Die antwoord lê in ‘n eenvoudige pannekoekerige beslag wat geduldig kan staan, asook ‘n soet of sout voetjie kan voorsit. 

Die Pofadder-oond pannekoek is ook bekend as Dutch baby . (Foto Quivertree).

OONDGEBAKTE POFPANNEKOEK MET PERSKES EN AMANDEL

My ma Inez se beproefde pannekoekbeslag word omskep in hierdie pof-pannekoek wat verstommend maklik is om te maak, selfs vir my dogter Errida wat onnodig-beskeie voel oor haar kookvernuf. Die bodem is vlaerig, terwyl die pofkraag bros is en die holte wag virma’s se gunsteling smake.

Die holte word gevul met ingelegde geelperske, tuisgemaakte amandelpasta (hemelse variasie op marsepein), ‘n handjievolgeroosterde amandels, skeppies crème fraiche en  versiersuiker. Dis ook heerlik net met kaneelsuiker en suurlemoensap of selfs met gekaramelliseerde piesangs en gekapte grondboontjie-tameletjie. Gerookte salmrepies met roomkaas en gesnipperde kruie staan in vir ‘n sout vulsel. 

Bedien 2-3 

125 ml koekmeel

125 ml melk

3 eiers, liggies geklits

Knippie elk sout en neutmuskaat

60 ml botter

Opdiening: vrugte, suurlemoensap, amandelpasta* of geroosterde amandelvlokkies, crème fraiche of volroomjogurt en versiersuiker vir oorsprinkel. 

Voorverhit die oond na 220°C met die oondrak onder in die oond. Plaas ‘n groot oondvaste pan met ‘n swaarbodem (gietysterpan werk die beste) tot dit baie warm is, sowat 8 minute. 

Terwyl die pan warm word, klits die meel, melk, eiers, sout en neutmuskaat saam in ‘n medium mengbak, of in ‘n voedselverwerker tot net gemeng.  Gaan versigtig te werk en voeg die botter in die warm pan, kantel die pan en giet die beslag in. Bak in die oond 20 – 25 minute sonder om die oond oop te maak tot die kante goed opgepof en bruin is, en die binnekant ‘n mooi goudbruin. 

Haal die pan uit die oond, sprinkel met suurlemoensap, skep die vulsel in en sif versiersuiker oor. Sit voor in die pan en sny aan tafel in wiggies. 

*Vir tuisgemaakte amandelpasta verwerk 250 ml amandelmeel,125 ml strooisuiker, 22,5 ml eierwit en die fyngerasperde skil van 1 suurlemoen saam tot dit ‘n pasta vorm. Rol dit in ‘n worsie, draai toe in kleefplastiek en verkoel tot benodig. Breek in brokkies of sny in ringetjies. 

POP-OVERS MET KONFYT EN KAAS 

Hierdie variasie op Yorkshire pudding herinner aan ‘n choux-poffertjie, sonder die moeilikheidsgraad. Ek hoop ek kry dit op Moedersdagoggend met appelkooskonfyt en sterk cheddarkaas. Die muffinpannetjies word voor die tyd goed warm gemaak, dan eers met botter gesmeer.

Maak 8 poffers

250 ml melk

2 groot eiers

45 ml botter, gesmelt en verdeel

250 ml koekmeel

2 ml sout

Vir bediening: konfyt of stroop en kaas

Klits die meel, eiers en 15 ml van die gesmelte botter goed en voeg dan die meel en sout by. Klits tot goedskuimerig. Verhit oond tot 230°C. Terwyl die oond warm word laat die beslag rus sodat die meel die vloeistof kan absorbeer.

Plaas ‘n muffinpannetjie in die warm oond vir 2-3 minute, werk nou vinnig en smeer 8 holtes baie goed met die orige gesmelte botter. Klits die beslag weer een keer skuimerig en skep die gebotterde muffinholtes halfvol met die beslag. Enige muffinholtes wat leeg bly kan halfpad met water gevul word om die pan te beskerm teen die baie warm oond.

Plaas pan in die oond en bak 15 minute. Moenie die oonddeur oopmaak nie. Verlaag die hitte na  180°C en bak nog 15 minute. Dis  gaar as dit goudbruin en droog is en hol klink. Haal uit die oond en prik elke poffertjie om die stoom uit te laat. Plaas op afkoelrak en koel net effe af tot jy dit met die hand kan hanteer en eet dit dan dadelik. 

HAWERMOUTWAFELS MET STROOPBOTTER EN BLOUBESSIES

Gelukkig is my man Ian ‘n baie behendige wafelmaker, wat my kanse vergroot om Moedersdag met hierdie outydse lekkerny te begin. Hy’t dit by sy ma Bettie leer maak en span sy ouma Meyer se lieflike antieke wafelyster in. Haar aantekeninge en wenke word steeds op ‘n flentertjie papier in die wafelpan vasgeknyp. Die resep is ook geskik vir moderne wafelpanne. 

*Die beslag hou 2 dae in die yskas. 

200 g koekmeel

30 ml suiker

2,5 ml sout

15 ml bakpoeier

50 g hawermout

2 eiers, geskei

400 ml melk

100 g botter, gesmelt

Bediening: stroopbotter en bloubessies

Stroopbotter:

125 g sagte botter

60 ml goue stroop of heuning

Sif die meel, suiker, sout en bakpoeier in ‘n bak, roer die hawermout by. Klits die eiergeleliggies en voeg saam met die melk by die droë bestanddele, roer tot glad. Roer die gesmelte botter by. 

In ‘n aparte bak klits die eierwit tot dit stywe punte vorm en vou saggies by die beslag in. Bedek en laat rus 1 uur teen kamertemperatuur.  Verhit ‘n wafelpan, skep van die mengsel en bak tot gaar. Om dit bros te hou moenie die wafels opmekaar stapel nie. Bedien met  stroopbotter en bloubessies. 

*Vir die stroopbotter klop 125 g sagte botter en stroop saam tot donsig.  

Herlewing van die Kaapse Rijsttafel in die Klein Karoo

27 Nov

“Hier kom ‘n ding!”

Peter Veldsman, epikurus, vreeslose kosavonturier en patriarg van die Kaapse eetkultuur rus nie op sy louere nie. Nie eers die buffet van toekennings vir sy lewenslange bydrae tot ons eetkultuur en gasvryheidsbedryf, verstadig sy tempo nie.

Toe hy dus onlangs verklap dat hy saam met Alicia Giliomee, uitvoerende sjef van die Karoo Kunshotel in Barrydale die Kaapse rijsttafel gaan laat herleef, het ek geweet hier kom ‘n smulpapery van epiese afmetings. Dylan van Eijkeren, rijsttafel-aficionado en kosskrywer sluit spesiaal uit Amsterdam as raadgewer aan, met Theo Nel, kos-en-kuns-entoesias/eienaar van die hotel, in ‘n sterk ondersteunende rol.

Dylan van Eijkeren, rijsttafel-aficionado (Links, saam met Peter Veldsman en Theo Nel.

Die rijsttafel tradisie – ‘n byna-oneindigende feesvloed van kleinkos-gereggies se storie – gaan terug tot die koloniale dae in Nederlands-Indie, (nou Indonesië). Die ryk Hollanders het die tradisie begin as ‘n manier om die land se kookkuns om een skouspelagtige tafel te ervaar.

Na Indonesië se onafhanklikwording in 1949 het die smaakfees ‘n bekende gesig in Nederland, maar ook  Kaapstad geword, waar dit die afgelope paar dekades eintlik nog net as ‘n herinnering voortleef.

Peter vertel meer oor die rijsstafel se herkoms : “Die Hollandse VOC het eens op ‘n tyd ‘n magdom eilande in die Ooste besit en beheer, omdat dit die bron van gesogte speserye soos kruienaeltjies, kaneel, foelie en peper was (en is). Mense het van Indië, Sjina en ander Oosterse eilande soheen gestroom om werk te kry. So het daar ‘n wonderlike “crossover” kookkuns ontstaan. Een sonder Kerrie, maar ryk aan klapper en neute. Alles met rys – gestoom, gebraai en op ander maniere berei – voorgesit.

Toe die Hollanders afstand van die gebied gedoen het en teruggekeer het na hul Vaderland, het hul verlange na hierdie geregte so groot geword dat die rijsttafel net na die tweede wêreldoorlog, omstreeks 1949, gebore is. Daar is deesdae net minder as 100 restaurante in Nederland wat nog die rijstafel op beperkte manier en eerder geregsgewyse as feestelike tafel voorsit.”

Hy vertel verder oor ons band met rys. “Rys was ‘n groot en belangrike kossoort in die Kaapse huishoudings. Gedurende die tweede wêreldoorlog was hier geen rys beskikbaar nie. Ek onthou (en vertel daarvan in my outobiografie, “Wat die hart van vol is”) hoe geluksalig my Pa was toe my Ma in 1949 vir die eerste keer in amper ‘n dekade rys op die Sondagtafel kon voorsit. Ons Afrikaners het ‘n ding oor rys. Ons het selfs ‘n eiesoortige gereg, Aartappels-vleis-en-rys. Die rijsttafel het met die koms van die Italiaanse immigrante in die laat vyfliger-, en veral gedurende die sestigerjare ,geleidelik van die Kaapse kostoneel verdwyn want spaghetti het skielik lekkerder as rys geword”.

Die rijsttafel kon nie vir ‘n beter herlewingsplek gevra het as ‘n langtafel in ‘n kleindorpse hotel nie.

Ek gee die volledige spyskaart onderaan, maar hier is enkele van die baie mylpaal-momente vir my:

Boegoe-en-suurlemoenystee, heuningbostee uit die Kannaland met vars borrie, naeltjies en vinkel was welkome keelnatmakers op ‘n soel Karoo-aand en so verfrissend soos ‘n sproeireën koel water. Ek onthou die kleinkossie-sambal-neute-poppadum-sousies- ketimum (brandrissiepasta met komkommer), volstruiseier met tofu, wit bumbu-speserye, mieliepoffers, en gestoomde ryskoekies het as ‘n vloedgolf van vrygewigheid wat oor ons gespoel het.

‘n Sambal van songedroogde appelkose met tamaryn en suurvytjies praat die taal van die eilande met ‘n Klein Karoo-dialek. Ek maak ‘n kruisie op die spyskaart as nota vir myself: vra Sjef vir resep. (Een van baie kruisies).

Toe neem die ete ‘n aanvang met onder meer Soto ayampedas (Geurige, speseryryk-hoendersop), Saté Lilet (visfrikadel met garnaalsous), kegels vol geurige rys; saté babi (gestoofde varklies met fynkaneel), in harmonie met Alicia se ma se bobotie opgedien in blikbekertjies.

Vir die bobotie moes dit soos ‘n vreugdevolle familie-reünie gewees het. Alicia se weergawe is lig en vars met elemente van groen appel, kardamom, bonkige stukke amandel  en vars borrie wat dae daarna nog haar vingers sou kleur.

Die geure kondig ‘n verdere rits gereggies aan soos boerbok sosaties, beesvleis Pendang en die hoenderkerrie Kari Ayam. Die sensasie is deels eksoties en bekend, met die Klein Karoo se bossiegeure wat inhaak by die sagte parfuumgeure uit die Bo-Kaap en Indonesië. Soet teenoor suur; vettig en ryk teenoor vars en pikant.

Ek is dankbaar vir die gawe van ‘n gesonde eetlus, maar besef: jy het eetlus én tyd nodig. Rijsttafel is ‘n gebeurtenis wat jy nie afjaag nie.

 

Die ervaring laat ons lighoofdig, dol van blydskap dat sy – soos Peter Veldsman – nie ‘n bang haar op haar kop het nie. Selfs toe die eendeiers, bedoel vir een van die horde heerlikhede, uitgebroei het in die Karoo-hitte, het dit haar nie van stryk gebring nie. ‘n Boer maak ‘n plan, in hierdie geval was dit Kennie Scheepers wat haar ook voorsien van groente vir geregte soos gado-gado (Indonesiese slaai en skudbraai-groente) en krakerige lenterolletjies.

Selfs nie ‘n oonddeur wat ingee voor die delikate spekkoek klaar was nie, het haar en haar span van stryk af gebring nie …‘n McGyver-triek en die vertoning gaan aan.

Ons sluit die aand af met soet onnutsighede soos Peter die nagereg-happies noem – Die nostalgiesmake van Kalahari-toffies (dadels) en sagopoeding is tuis tussen die bakkies klapperys, ‘verbode rys’ met klapper en hemp-kulfi – ‘n verfrissende roomys geleen by Indië.

“Vir my het die Rijsstafel daaroor gegaan om te wys ons is almal deel van ‘n groter prentjie, peins Sjef Alicia agterna.”Ons pak ons fone saam met die selfsug van die moderne lewe weg, kyk mekaar in die oë en gesels oor ‘n geurige bord kos.”

· Besoek karooarthotel.co.za vir inligting oor die hotel se wonderlike Kersete.

Turkse Appelkose en suurvygies

Sjef Alicia bring die Klein-Karoo en die rijsttafel-tradisie bymekaar met sambals soos hierdie. Heerlik met enigiets van vleis tot nagereg.

500g gedroogte Turkse appelkose
6 rooibos-teesakkies
6 kardamonsade
2 kaneelstokkies
2,5 cm stuk vars gemmer, gesnipper
½ suurlemoen in 3 skywe gesny(met skil aan)
Handvol suurvygies, oornag geweek in warm rooibostee
375 ml suiker
7.5ml tamaryn (te kry by spesialiteitswinkels)

Voeg appelkosies in ‘n pot oor matige hitte en bedek met 2-3 koppies kookwater. Voeg die res van die bestanddele by. Kook 10 minute met die deksel op, verwyder deksel en prut tot dit verdik. Verkoel, verwyder teesakkies en heel speserye.

Spekkoek

Die Indonesiese speserykoek se naam kom van die dun lagies koek wat soos spek lyk. Sjef Alicia sê die koek bly lekker klam in ‘n doek in jou spens vir tot 3 dae – as jy so lank kan uithou. Sny die koek in blokkies of wiggies.

  • Vir die spesery mengsel:
    15 ml fyn gemmer
    10 ml fyn kardamom
    7.5 ml fyn naeltjies
    10 ml fyn steranys
    2 ml vanillasaadjies
    40 ml fyn neutmuskaat
    45 ml fyn kaneel
    15 ml gemengde speserye
    Meng saam, skep in spuitsak en hou eenkant.Beslag:
    300ml gesoute botter
    250 ml strooisuiker, verdeel
    12 eiers, geskei
    5 ml asyn of suurlemoensap
    325ml koekmeelblomVoorverhit oond tot 210°C. Voer ‘n koekpan uit met bakpapier en spuit goed met kleefvrye sproei.
    Verroom die botter en die helfte van die suiker. Klits die eiergele by en meng deeglik. Vou die meel in met ‘n houtlepel.
    In ‘n aparte skoon bak, klits die eierwitte tot sagtepunt stadium, voeg die suurlemoensap of asyn by, klits die oorblywende 125 ml strooisuiker geleidelik by tot stywe punte vorm. Vou die styfgeklitste meringue skep vir skep by die beslag in.
    Verdeel die beslag in twee dele en vou versigtig die speserymengsel in die een. Skep die 2 mengsels beslag afsonderlik in ‘n spuitsak of ziplock-sakkie waarvan ‘n puntjie afgeknip is.
    Spuit 0.5cm lagie van die wit beslag op die pan se bodem, plaas in die oond op die heel boonste rak vir so 2-4 min. Steek toetspen deur en haal uit as dit skoon uitkom. Spuit dan dadelik ‘n lagie van die speserybeslag bo op en bak weer 2-4 min. Herhaal die proses tot al die deeg op is.
    As die koek dan uiteindelik vir die laaste keer uit die oond kom, keer dit versigtig uit op n klam kaasdoek en vou oor die waspapier. Laat dit so afkoel, dan bly dit lekker klam. Laat staan 4 uur voor opdiening.

Minuskule span … manjifieke resultate.

DIE KAROO KUNS HOTEL, BARRYDALE SE HERLEWING VAN DIE KAAPSE Rijsttafel
3 NOVEMBER 2018

NATMAKERS
Rooibos-, gemmerwortel-en-kardomomystee
Boegoe-en-suurlemoenystee met brandrissies
Heuningbostee uit die Kannaland met vars borrie, naeltjies en vinkel
Suikervrye “Indian Tonic” met roosblare
Komkommer-en-pynappel -kieker

OP DIE TAFEL
SAMBALS:
Iris (ui-tamatie-en-brandrissie)
Brandal (gebakte brandrissiepasta)
Ketimum (brandrissiepasta met komkommer)
Kacang (grondboontjiesous)
Mrs Ball’s perskebladjang
Mrs Ball’s bladjang-bliksem
Mango atjar
Gerasperde pynappel met appelment
Pynappel, appel-en-seldery
Raita
NEUTE:
Geurige amandels
Soet neute
Grondbone met byt
Kerrie-kasjoeneute

IETSIE OM DIE LYF:
Mieliepoffers met brandrissies
Pampoenkoekies
Piesangpoffertjies
Vispoffertjies met grondboontjies
Poppadoms
Garnaalkrakers
Gestoomde ryskoekies
Kaviaar berei van swart seewier met warm gerookte vis
Oosterse slaaisous
Eend-en-kwarteleiers in kombinasie
Samoesas
Songedroogde appelkose met tamaryn en suurvytjies
Mango slaai
Gado-gado (Indonisiese slaai)
Volstruiseier met tofu en wit bumbu-speserye
Oosterse groente-lenterolletjies
Rujak manis (Indonesiese vrugteslaai)
Pangsit (Indonesiese wonton)
Kaljang
Water Kastanje

Die ete neem ‘n aanvang met

Soto ayampedas (Geurige, speseryryk-hoendersop)
***
Saté Lilet (makriel-frikadel op garnaalsous)
***
Bonnet rys
Gebraaide rys
Klapper-rys
Geelrys met rosyne
Gado-gado (skudbraaigroente)
Saté babi (gestoofde varklies met fynkaneel)
Oondgebraaide varkribbetjie
Saté kambing (boerbok sosaties)
Saté van hoendervlerkies
Beesvleis Pendang
Bobotie
Kari Ayam (Hoenderkerrie)

Soet onnutsighede
Klapperys
Sagopoeding
“Forbidden rice” met klapper-en-hemp Kulfi
Vrugteslaai
Spekkoek (Nederlandse-Indonesiese Speserykoek)
Kalahari-toffies (dadels)

Dankie:

Theo Nel vir die uitnodiging en gasvryheid … en personeel vir die warm ontvangs

Sjef Alicia Giliomee, ook vir al die inligting … genoeg vir nog ‘n storie (profiel oor haar volg beslis).

Peter Veldsman, my kosheld

Ian Du Toit, wat van sy eettyd moes afstaan vir foto’s neem.

Klassieke vrugtekoek op die kaasbord

13 Nov

’n Fees van glanskersies, speserye, neute en ‘n rooi emmertjie luukse vrugtemengsel…alles wat Kerskoek die mees gevierde koek van die jaar maak.

Met sulke weelderige bestanddele vat ek liewers nie kanse nie, en stel my vertroue in ’n klassieke resep wat van geslag na geslag oorgedra is.

Dis hoekom ek in die ou vergeelde gemeenskaps-resepteboekies met hul omkrulblaaie snuffel. Ek het vanjaar die ongelooflike ervaring gehad om deur honderde sulke boekies te gaan vir my nuutste boekieprojek. Hoe meer botter- en stroopspatsels op die blaaie, hoe beter …. asof die vorige kok wat daaruit gekook het vir ons leidrade los oor watter resepte die groot staatmakers is.

Daar was soveel resepte om uit te kies – diep, donker vrugtekoeke deurtrek van rum, molasses en kakao, ander skitterend van plomp goue sultanas, pynappel en appelkose. Hierdie resep kom uit ‘n ou fondsinsamelingsboekie wat 50 jaar gelede deur Saaiplaas Volkskool op Virginia uitgegee is. Sulke ou resepte dra wonderlike geheime en misterie tussen die lyne. Wie is Yvonne De Beer wat destyds die resep bygedra het, watter ander heerlikhede het uit haar kombuis gekom?

Sy stel my deur die nederige boekie bekend aan ‘n gemeenskap met ‘n groot hart, wat lekker kon kosmaak en lekker kon eet. Al ken ek haar nie, is dit asof sy my stilletjies herinner hoe kosbaar ons baktradisies is en hoe belangrik dit is om resepte te deel.

Maar het sulke ou tradisies werklik plek in moderne tye wat soveel nuwighede en oneindig baie aanlyn-resepte net ‘n kliek weg is? Ja, juis nou, reken ek. Ek sien hoe al meer mense, veral jongmense, inspirasie en egtheid in ou resepte soek en die storie agter die resepte waardeer. Sulke ou boekies is ‘n brug tussen gister en vandag wat ons kan oorsteek vir inspirasie of vir wysheid. Dis wat ek hierdie Kersfees doen – om kokke van gister se resepte uit die kas te haal, af te stof en ‘n nuwe lint om te draai. So raak ‘n resep ‘n geskenk wat aanhou gee.

{Dankie ook aan Food Lover’s Market vir die groot geskenk wat ek weer vanjaar kan weggee – sien onder vir besonderhede}

Nuwe idees met outydse vrugtekoek

My vernuwingsidee is eenvoudig…. Saaiplaas se vrugtekoek maak vanjaar sy debuut op my kaasbord. Sit snye daarvan voor met ‘n sagte kaas soos camembert of brie (lekker ryp) en ‘n goed beleë cheddar. Vul die kaasbord aan met makataanstukke, neute en bonkige splinters donker sjokolade.

Vir so ‘n feestelikheid maak jy vonkelwyn oop of jou beste whisky, port of brandewyn uit die drankkabinet. Koffie-lekkerbekke sal ‘n kelkie ‘cold drip’ koffie of sterk espresso saam met dit geniet.

Saaiplaas se klassieke vrugtekoek

Week die vrugte die vorige aand.

1 kg Food Lover’s Festive Cake Mix (rooi emmertjie)
250 g dadels, gekap
6 gemmerstukke in stroop, fyngesny
120 g glanskersies, gehalveer
60 ml brandewyn + 60 ml ekstra vir oorgooi
370 g botter
250 ml – 325 ml suiker
5 eiers
5 ml koeksoda
7,5 ml koffiepoeier (verkieslik ‘n sterk gegeurde soort)
750 ml koekmeel
7,5 ml bakpoeier
2,5 ml gemengde speserye
2,5 ml neutmuskaat
5 ml kaneel
3 ml sout
200 g okkerneute, grofgekap

Plaas die koekmengsel, dadels, gemmerstukke en glanskersies in ’n bak en giet die brandewyn oor. Bedek die bak met kleefplastiek en laat oornag staan.

Voorverhit die oond tot 150 °C. Voer ’n groot koekpan met bakpapier uit en smeer met botter (sien wenk onder). Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Los die koeksoda en koffiepoeier op in ’n bietjie water en voeg dit by die eiermengsel.

Sif die meel, bakpoeier, speserye en sout saam. Voeg die geweekte vrugte by die meelmengsel en roer goed om al die vrugte te bedek. Voeg dit dan by die eiermengsel saam met die neute. Meng goed. Giet die beslag in die voorbereide koekpan en bak 3—3½ uur tot ’n toetspen skoon uitkom. Verwyder die papierkraag, giet brandewyn oor en laat afkoel in die pan. Sprinkel brandewyn oor.

Draai die vrugtekoek baie deeglik toe in kleefplastiek en dan in ‘n paar lae foelie.

Bakwenke

Om te voorkom dat die koek te donker aan die buitekant bak: Neem 2 velle koerantpapier en vou in drie. Draai die gevoude papier om die koekpan en bind vas met tou. Vou nog 2 velle koerantpapier in drie en sit dit onder die pan. Vou die papier op en om die pan se rand en bind dit ook vas met tou.

My standaard-wenk vir ekstra oemf, glans en klammigheid: verf die rante van die koek met ‘n sitrus-suikerstroop: verhit 125 ml suiker en 125 ml water oor medium-hoë hitte, voeg 4 breë stroke suurlemoenskil en 15 ml suurlemoensap by. Roer tot die suiker opgelos is , kook vir 2 minute en verwyder van die hitte. Verf dit aan. (Die stroop raak selfs lekkerder van staan so met die skil in.

As daar vrugtekoek oorbly

Maak Gekaramelliseerde vrugtekoek-roomystoeboordjies so: sny 8 dun snytjies vrugtekoek. Plaas 125 ml bruinsuiker in ‘n klein skinkbord en druk die koek daarin om beide kante te bedek. Smelt 50 g botter. Verhit ‘n kleefvrye pan oor matige hitte en borsel met die gesmelte botter. Braai die versuikerde snytjies vrugtekoek 1-2 minute aan ‘n kant, laat effe afkoel en plak opmekaar met vanieljeroomys. Druip heuning of esdoringstroop oor.


KOMPETISIE

Food Lover’s Market se Festive Fruit Cake Mix maak weer sy verskynsel. Die rooi emmertjie met Food Lover’s Market se vrugtekoekmengsel is al vir 23 jaar ‘n bekende gesig in kombuise reg deur die land waar gewoel word om die feesvere te pof.

Jy staan ‘n kans om die volgende prys te wen van R1 700.00, ter viering van Food Lover’s Market festive cake mix in die rooi emmertjie:

26 cm Mason Cash mengbak
• 6-stuk OXO 6 maatlepels
• Epicurean spatel
• Master Class afkoelrak
• Progressive meelsif
• R300 Food Lover’s Market geskenkbewys

Skryf so in:

Stuur vir my ‘n e-Pos aan errieda@edtpr.co.za en dui aan in die onderwerplyn Food Lover’s Market Luxury Festive Cake Mix kompetisie.  Gee jou kontakbesonderhede en antwoord op die kompetisievraag hoekom wil jy graag die kompetisie  wen.   Die kompetisie sluit op 25 November 2018 en die naam van die wenner word teen einde November bekend gemaak. Standaardkompetisievereistes geld. Die prys is nie oordraagbaar nie en kan nie omgeskakel word in kontant nie. Een inskrywing per persoon.

549DFF1B-C8FD-4531-8D70-C52D32E1E4C3@foodloversmarket # flmluxurycake

Foto en stilering: Ian en Errieda du Toit

%d bloggers like this: