Hap aan ‘n bagel mildelik gevul met roomkaas en gerookte salm of ‘n stewige sny gebakte New York-kaaskoek en jy verstaan hoekom die geregte EN roomkaas opgeneem is in die ensiklopedie ‘1001 Foods – the greatest gastronomic sensations on earth’. Roomkaas het net die vermoë om alles waarmee dit in aanraking kom, te verhef. Dis deels die fluweelgladde tekstuur – sag, glad en romerig maar ferm; deels die subtiele smaak en aangename sweempie surigheid wat die vars wit kaas so geskik maak vir sout en soet geregte.
Roomkaas se wortels
Ek hou van kos met ‘n storie – en dit het roomkaas ook. Frankryk se kaaskundigheid is so legendaries mens sou reken dis roomkaas se geboorteland. Die roomkaas wat ons vandag ken is egter ‘n Amerikaanse uitvindsel en die storie daaragter is dat ‘n Amerikaanse kaasmaker van die staat New York dit ‘per ongeluk’ in die 1870’s ontdek het terwyl hy eintlik probeer het om die sagte, krummelrige Franse kaas Neufchâtel na te maak. Die Franse het wel die kuns van roomkaas vervolmaak en te oordeel aan hoe geesdriftig hulle daaraan smul, dit deel van hul kaasidentiteit gemaak.
Noudat die Franse suiwelmaatskappy die Bel Group hul 200 g bakkies Kiri-roomkaas in George op die Tuinroete maak, kook ek geesdriftig daarmee, wetende dat dit uit ‘n streek van ons land kom wat self spog met ‘n ryk suiwelgeskiedenis.
Roomkaas die kokvriend
As iemand wat altyd op die uitkyk is vir maniere om weeksaand-familiegunstelinge op te kikker of iets makliks vir ‘n oor-en-weer-kuier te maak, vind ek hierdie bakkies roomkaas ‘n veelsydige kosvriend.
So kry my bobotie ‘n roomkaas-vlabolaag, maak ek beetslaai trendy met roomkaas-croutons wat ek rol in gegeurde geroosterde broodkrummels; ek vervang die bottervulsel van hoender Kiev met ‘n ligter weergawe van gekruide roomkaas en maak skeurbrood met ‘n knoffel-en-jalapeno-gegeurde roomkaashart. Heerlike dinge gebeur ook as jy roomkaas deur pasta roer, want soos dit smelt maak dit alles romerig en ryk, ‘n eienskap wat ek aanwend in die resep vir gnocchi met boerewors en murgpampoentjies in ‘n roosgetinte roomkaas-tamatiesous. Ek kombineer ook graag die beste van twee wêrelde in my Kiri-roomkaas marmerbrownies. Dit bring die romerigheid van gebakte kaaskoek en die fudgerige lekkerte van die klassieke brownie in een hap bymekaar.
HUMMINGBIRDKOEK, HEUNINGVERSOETE KIRI ROOMKAAS-EN-JOGURTVERSIERSEL en pynappelblomme
Die klassieke hummingbirdkoek kry vlerke met ‘n heuning-versoete versiersel van roomkaas en jogurt. Die tropiese geure word afgerond met oondgedroogte pynappelblomme.
Koek:
450 g blik fyn pynappel in stroop
150 g (250 ml) koekmeel
75 g (125 ml) bruismeel
2,5 ml koeksoda
5 ml fyn kaneel
2,5 ml fyn gemmer
1 ml varsgerasperde neutmuskaat
220 g (250 ml) bruinsuiker, ferm gepak
45 g (125 ml) klappervlokkies
250 ml fyngemaakte piesang
2 eiers, liggies geklits
180 ml canola-olie
Kiri-roomkaasversiersel met heuning en jogurt:
1 x 200 g houer Kiri-roomkaas, kamertemperatuur
60 ml volroomjogurt
15 ml heuning
2,5 ml fyn kaneel (opsioneel)
Gerasperde skil van 1 lemmetjie
- Klop die roomkaas, jogurt, heuning, kaneel indien gebruik, en lemmetjiesap met ‘n houtlepel tot donsig en sag. Smeer oor die afgekoelde koek. Indien te loperig, verkoel vir 30 minute.
Beslag:
- Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n diep 20 – 22 cm losboomkoekpan. Voer uit met bakpapier.
- Dreineer die pynappelmoes oor ‘n bak en druk met ‘n lepel om soveel moontlik van die sap uit te druk, reserveer 60 ml sap.
- Sif die meel, koeksoda, speserye en suiker in ‘n groot bak. Roer die gedreineerde pynappel, gereserveerde sap, klapper, piesang, eier en olie met ‘n houtlepel by. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak 35-40 minute. Dis gaar as ‘n toetspen wat in die middel ingedruk word, skoon uitkom. Laat staan 5 minute in die pan, keer op ‘n afkoelrak uit en laat heeltemal afkoel.
- Versier met roomkaasversiersel en gedroogte pynappelblomme.
- Nota: indien jy ‘n tweelaagkoek-verkies, sny die koek horisontaal in die helfte deur en vul. Dis heeltemal in die hak as die vulsel bietjie uitloop.
Pynappelblomme:
Kies ferm pynappels wat nie te ryp is nie. Kies 1 groot en 1 kleiner pynappel sodat die blommetjies nie almal dieselfde grootte is nie.
- Skil die pynappels, sny die ogies uit met ‘n skerppunt-messie. Sny in baie dun skyfies. Voer twee bakplate uit met bakpapier, rangskik die pynappel bo-op en droog uit by 110°C. Draai versigtig om na 40 minute en kyk dat dit nie te bruin raak nie.
- Om die vorm te gee as dit afkoel, plaas die blometjies in mini-muffinpannetjies of eierkelkies.
KIRI ROOMKAAS & JALAPENO DEELBROOD
Of jy dit deelbrood, skeurbrood of partybrood noem, hierdie tuisgebakte brood sê ‘kom ons kuier saam’. Al kan jy klaargemaakte deeg by die bakkerstoonbank koop, is die maak van die deeg eintlik die helfte van die pret (twee keer se rys gee soveel geur en ‘n veersagte tekstuur); die ander lekkerte is om die veerligte rolletjies uitmekaar te trek en die pikante roomkaasvulsel binne te ontdek‘. Gemengde sade word oorgesprinkel vir ‘n neuterige smaak en kraakkontras. Bedien dit met doopsouse en peuselgoed.
Brooddeeg:
10 ml kitsgis
10 ml suiker
500 ml koekmeel
3 ml sout
60 ml warm melk
125 ml warm water
1 eier, liggies geklop
10 ml olyfolie
Kiri-roomkaasvulsel:
1 x 200 g bakkie Kiri roomkaas, by kamertemperatuur
250 ml gerasperde cheddarkaas of helfte cheddar en helfte mozzarella
30 ml botter, gesmelt
gerasperde skil van 2 lemmetjies of 1 suurlemoen
stewige knippie rooirissievlokkies of rooipeper
sout en varsgemaalde swartpeper
6 groot heel jalapeno rissies
Gemengde saadsprinkel:
olyfolie of gesmelte botter om aan te smeer
20 ml sesamsade
20 ml poppiesade of nigella sade
5 ml growwesout
Deeg:
- Smeer ‘n 20 cm ronde losboomkoekpan. Smeer die buitekante van ‘n ramekin en plaas dit in die middel van die koekpan.
- Sif die gis, suiker, meel en sout saam in die groot mengbak van jou staanmenger. Voeg die warm water, warm melk, eier en olyfolie by. Meng tot ‘n growwerige deeg vorm, voeg bietjie meel by as dit te klewerig is; knie dan met die hand of met ‘n deeghaak in die menger tot glad. Dit neem 7 – 8 minute op medium spoed in ‘n staanmenger of 10 – 12 minute per hand.
- Plaas die deeg in ‘n groot, lig-geoliede mengbak en bedek met kleefplastiek (ook geolie sodat dit nie vassit nie). Plaas op ‘n warm plek om te rys tot dit verdubbel in grootte, sowat 90 minute.
- Sny die jalapeno rissies in die lengte deur, hou die stingeltjie heel aan die een helfte. Verwyder die sade en vlesige membraan, en plaas dan gesnydae kant na onder op ‘n bakplaat. Plaas onder die oond se voorverhitte roosterelement en rooster tot die vel begin borrel en verrimpel, sowat 7 minute. Hou fyn dop – dit moet nie te donker raak nie, en laat dit dan afkoel.
- Vir die roomkaasvulsel kombineer die roomkaas, gerasperde kaas, gesmelte botter, suurlemoenskil en sout en peper in ‘n bakkie. Sit eenkant.
- Wanneer die deeg gerys het, keer uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie dit liggies af. Verdeel die deeg in 12 eweredige stukke. Druk elke stuk plat en plaas ‘n afgekoelde rissie-helfte bo op met 1cm wat oor die kant hang. Skep ‘n mildelike bolling van die roomkaas vulsel in die middel. Vou die deeg om dit toe om ‘n balletjie te vorm en knyp die kante saam – die bokant van die rissie moet uitsteek. Plaas die balletjie deeg in die koekpan met die toegeknypte kant na bo. Herhaal met al die deegstukke, en pak hulle om die ramekin. Bedek met geoliede kleefplastiek en laat dit rys op ‘n warm, trekvrye plek, 30 – 45 minute.
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Bestryk die deeg met gesmelte botter; meng die sade en sout en strooi bo-oor. Bak tot goudbruin, 40 – 45 minute. Dis gaar as dit hol klink as jy daarop klop. Laat dit binne in die pan vir 10 minute op ‘n draadrakkie afkoel voor jy dit uitkeer. Op sy lekkerste as dit warm is.

Ons het hierdie verrassingspakkies met die kase wat nou in George gemaak word en tuisgemaakte roomkaasmarmerbrownies by kosmense laat aflewer. Mynhardt Joubert was so in sy noppies dat hy dadelik ‘n foto geneem het voordat dit verorber word. Hannes Koegelenberg wat ook my Boek SAAM se stilering gedoen het, het die pragtige illustrasie op die geskenkboks gedoen wat wys waar die kaas nou gemaak word.
Goeie nuus: Die gewilde Franse kaasprodukte, Kiri-roomkaas en The Laughing Cow kaaswiggies en smere word van November af in George op die Tuinroete gemaak. Hierdie twee vlagskipprodukte in die stal van Die Bel Group is tot nou toe ingevoer. Die Franse suiwelmaatskappy met die slagspreuk For all. For good. is in familiebesit en het sy pioniersgees behou sedert dit in 1865 begin is. Ander Bel-produkte sluit die gewilde mini-Babybel, Bel Cubes en Boursin-kase in.
Sosiale media: #ForAllForGood #BelSouthernAfrica #kiricreamcheesesa #thelaughingcow
- Resepte en stilering: Errieda du Toit vir Bel Southern Africa
- Foto’s: Ian du Toit
- Kosvoorbereiding: Daleen van der Merwe
Leave a Reply