As jy ‘n klomp grootmense hier net na die Nuwe Jaar se jollifikasie ‘n kol op die maag wil gee, praat oor die ‘back to school’ gevoel wanneer die skooljaar weer begin. In dieselfde asem, as jy oor skooldae se kosblik, pouse en toebroodjies praat is die meeste mense weer aan die glimlag.

Onlangs vertel ‘n FB-vriendin, Hannelie van der Merwe Myburgh van haar kosblik met die prentjie van ‘n dogtertjie en twee katjies op. Die meeste van die tyd was daar bontbul op die broodjie – hulle familiewoord vir sagte skaapvet gemeng met hulle eie bye se heuning. Dit was haar werk om die bontbul aan te maak – sy kan duidelik die erde-emmertjie met die swart deksel en draadhandvatseltjie onthou waarin dit gebêre is. Toe het sy haar neus opgetrek.
Oorskiet het dikwels op die volgende dag se brood beland: van oorskietaartappels tot dit wat oorgebly van die vorige aand se tamatie en uie slaai, gegeur net met sout en peper. Tannie Poppie Coetzer deel met my hoe soos gister kan onthou hoe haar ma se toebroodjies van ligte bruinbrood, gevul met koue boontjies en aartappels en rou uie daarop met heelwat peper, of koue frikkadelle met rou uie geproe het.
Lekker toebroodjies het ook die ruilwaarde daarvan op die speelgrond verhoog.
Kosskrywer Sophia Lindop vertel: “my ma het elke dag brood gebak en ons het die heerlikste toebroodjies gekry met koue lamsboud wat oor was van Sondag, saam met Mrs HS Ball’s chutney en kraakvars blaarslaai uit haar tuin. Ek kon nie wag om dit uit te ruil met my niggie nie, want sy’t Provitas met smeerkaas en Marmite gekry wat jy kon uitdruk om geel en swart wurmpies te maak. Wat ek nou sou wou gee vir daai toebroodjies!”
Ander het hulle so uitgekuier dat hulle steeds vandag nie polonies en sandwich spread kan hanteer nie. Party onthou met deernis die grondboonbotter en stroop (soms met piesang), en ander wil weer nie hul lippe daaraan sit nie.
Skrywer Nelia Viviers was verknog aan haar appelkooskonfyt- en kaas toebroodjies, maar o, tog net nie rooi jêm nie! Ansu le Grange se ma het nog brood in ‘n koolstoof gebak en die lekkerte het in die kosblik beland – varsgebakte brood, plaasbotter en tuisgemaakte konfyt. “Teen pouse het die appelkooskonfyt al so bietjies-bietjies in die brood ingetrek.”
Kokkedoor Lorraine Swanepoel onthou die keurige kospakkies van gekookte eier en mayonnaise waarom sy wye draaie geloop het want al die skoolkinders sou jou terg oor die hmmm windmakerigheid wat sou volg. Sy het wel die piesangbrood-toebroodjies baie geniet. So ook die verrassing van ‘n buisie kondensmelk in die kosblik.
Liza Louw vertel: “My kosblik was so ‘n reghoekige blikkie met ‘n los deksel. Dit het ‘n pragtige Noag-en-ark-met-diere toneel op gehad. Ek dink dit het oorspronklik vol Wilson toffies in my lewe gekom. Wanneer ‘n mens die deksel met speeltyd opgelig het, het die papierdun skywe van Sondag se geroosterde boud daaruit opgewalm met ‘n hemelse geur. Ma se liefde het so geruik. Dit is lêgemaak tussen haar netjiese gebotterde broodsnye tussen fyngekerfde slaaiblare. Ma het my (en Pa se) toebroodjies in kwarte gesny en stewig toegedraai in waspapier voordat dit in die kosblik gepak is.”

Wat in die kosblik beland het, was ook dikwels ‘n aanduiding van die huis se kontantvloei. “Soms was die broodjies maar dun,” onthou my kleinnig Anne-Marie Oliver. “Ek onthou my Ma se appelkooskonfytbroodjies. Dit was soos ‘n warm kombersie op ‘n koue aand. As ons die dag “french polony” en Mrs Balls gekry het, het ek geweet dit gaan beter in die geldblik. My beste – tot vandag nog – witbrood met roereier en wit peper. ”
Toe ek ouer word het ons naby skool gewoon, vertel sy verder. “ My Ma het so 10 uur geroosterde kaasbroodjies op die Aga se plaat gemaak dan het ons pelle gou pousetyd gaan eet! Wonderlike sterk cheddar – my liefste Ouma Anna het by Wellington Fruit Growers se kaastoonbank gewerk! “
Vandag doen ma’s steeds moeite – nou wel nie meer met sagte vet en oorskietbredie nie, maar sekere dinge bly dieselfde soos Alida Ryder, skrywer en ma van 2 jong kindertjies vertel: “My kinders kry ‘n peanut butter en stroop of bovril broodjie, ‘n yoghurt, vrugte rolletjie, vars vrug, baba tamaties en so nou en dan ‘n pakkie koekies of salticrax. Dan kom die broodjie, yoghurt en appel gewoonlik terug.”
Vickie de Beer, kosredakteur van Rooi Rose maak deesdae vir haar seuns wraps, omdat dit so ‘n maklike manier is om oorskietkos as vulsel te gebruik. “Hulle geniet ook die jaffels met maalvleisvulsel, en so ook volgraanworsrolletjies – en altyd ‘n groot bottel water.”
Die lekkerste toebroodjie vir my? Vars volgraan-saadbrood met soutbotter, die krakerigheid van outydse kropslaai en komkommer, gerasperde cheddar en tamatie goed gelooi met sout en peper. (Dis nou as daar nie koue skaapboud oor is van Sondag nie).
Haal saam met my die mengbak uit. Ek gebruik hierdie broodresep:

SAADBROOD
Die saadbroodjie uit die 1970’s word wêreldwyd as eg-Suid-Afrikaans beskou. Dit word met ‘n baie slap deeg gemaak en nie geknie word. Dis die lekkerste varsgebak, maar hou ‘n paar dae as dit in bruinpapier gesit word of met ‘n skoon teedoek toegedra word. Dit rooster baie lekker.
Bestanddele:
750 ml warm water (kan sowat 100 ml ekstra bysit as beslag te styf is)
15 ml bruinsuiker of heuning
15 ml molasse (jy kan meer molasses bysit vir ‘n dieper kleur)
15 ml olie
4 x 250 ml (4 k) volkoring meel (Nutty Wheat)
1 k (250 ml) witbroodmeel
10 ml kitsgis
7 ml sout
100 ml sonneblomsade
Ekstra sade vir oorsprinkel: sonneblomsade, sesamsade, pampoenpitte, lynsaad
Metode:
- Meng die meel, sout, kitsgis en sonneblomsaad saam in ‘n ruim mengbak.
- In ‘n groot maatbeker roer die olie, bruinsuiker en molasses by die louwater in. Roer die watermengsel by die meel in om ‘n slaap deeg te vorm.
- Smeer ‘n groot broodpan met olie of kleefvrye sprei en skep die mengsel in die pan. Strooi die sade in rytjies bo-oor of sprinkle sommet net so. Laat rys in ‘n warm plek met ‘n doek oor vir sowat 45 minute tot ‘n uur.
- Terwyl die brood rys, voorverhit die oond tot 190°C.
- Bak vir 50 minute. Keer uit en laat afkoel. As die brood nie maklik uit die pannetjie kom nie, laat dit ‘n paar minute in die pan staan om los te stoom.
