In my studentdae het ek verlief geraak op tuisgemaakte volgraanbrood met sonneblomsade wat ons ‘Lanzerac-brood’ genoem het, omdat ek en my pelle Vrydae ons beursgeld uitge-eet het aan die landgoed se ‘cheese-lunches’. Die brood was toe die brood van die oomblik en ons het super-gesofistikeerd gevoel.

Waar’s die jare …. ‘sead loaf’ van my jeug soos Lanzerac dit destyds gemaak het. Foto uit Lynn Bedford Hall se Koekies en Brood (dankie Michelle vir die boks ou kookboeke!)
Die eerste dag wat ek my man Ian ontmoet het, het hy so ‘n brood uit sy rugsak gehaal met die woorde, “My ma het dit vanoggend gebak.” Ek was onmiddellik halsoorkop verlief op die ou wat so spog met sy ma se brood. Ma Bettie is oorlede voor ek haar kon ontmoet – maar ek het haar deur haar brood tog ‘n bietjie kon leer ken. Sy pa Danie het toe die broodbakker van die familie geword. Vandaar dat my vriende steeds praat van Pa Danie se brood. Vir jare het ek Ma Bettie/Pa Danie se brood vir hul seun gebak. Nuwe intrekkers in die buurt het ook altyd ‘n vars gebakte brood onder ‘n teedoek gekry. Dit was ‘n vriendmaker vir jare.
Ag, en toe kom die era van die ciabattas en die focaccias, die panini’s en die trendy artisinale brode. Maar gister kom my vriendin Michelle van Staden met ‘n boks vol ou resepteboeke by my aan – onder meer met ‘Koekies en Brood’ van Lynn Bedford Hall (1993 uitgegee). In die boek is daar toe die volgraan-roerbrood resep in wat my na die ‘vrybrood’ van my en Ian se opsitdae laat dink het.
Dit dan my storie van die volgraan-vrybrood. Maak dit en proe self hoekom ons huwelik reeds 30 jaar hou.
VOLGRAAN ROERBROOD
Die brood wat dit als begin het. Eintlik “Ma Bettie en Pa Danie se brood’.” Dis ‘n roerbrood wat beteken dis ‘n slap deeg en daar’s geen knieery nie. Kitsgis word gebruik, maar die brood moet steeds rys.
750 ml warm water (of meer)
15 ml bruinsuiker
15 ml molasse
10 ml kitsgis
4 k volkoring meel (Nutty Wheat)
250 ml witbroodmeel
7 ml sout
15 ml olie
100 ml sonneblomsade
100 ml lynsaad (linseed)
Ekstra sade vir oorsprinkel: sonneblomsade, sesamsade, pampoenpitte, lynsaad
Voeg die bruinsuiker en molasses by ‘n koppie van die water en roer tot opgelos. Strooi die gis bo-oor en laat staan tot dit skuim. Meng die meel, sout en olie in ‘n ruim mengbak, roer die gismengsel, sonneblom- en lynsade by. Voeg die res van die water by – net genoeg om ‘n sagte deeg te vorm. Smeer ‘n broodpannetjie met olie, skep die mengsel in die pan. Strooi die sade in rytjies bo-oor of sommet net so. Laat rys in ‘n warm plek met ‘n doek oor vir sowat 45 minute tot ‘n uur. (Onthou, sit jou oond betyds aan!) Verhit oond tot 200°C en bak vir 45-50 minute. Keer uit en laat afkoel. Moenie dit in die pan laat staan nie, anders stoom die korskant sag. (Wenk: as jy egter sukkel om die brood uit die pan te kry, dan help dit om dit in die panne te laat staan om dit los te stoom)
Wenke: Die brood is ook heerlik gerooster. Jy kan ook rosyntjies of sultanas by die meelmengsel inroer vir afwisseling.
* Kyk uit vir my ander blog-inskrywings oor ciabatta-sonder-knie, asook Juanita Louw van Diemersdal se soetpatatbrood – wat ek beskou as een van die lekkerste brode ter wereld.
*
Errieda is hierdie dalk die gesondheidsbrood wat op RSG was n rukkie gelede?
Ek het al op RSG daaroor gepraat, ja. Het jy Dit al gemaak?
Hi Errieda. Dit is n baie lekker broodjie. Met die bak van die laaste broodjie het ek 1 koppie volgraanmeel met 1 koppie semel vervang. Dit maak die broodjie effe “ligter”
Dis ‘n goeie idee. Hou jy dan nog by dieselfde hoeveelheid vloeistof?
Ek wil graag die Vry Brood maak, maar die warm water in die resep dui aan 500-600 gram water, moet dit nie milliliters wees nie?
Goeie vraag, Carla. 500 g water is dieselfde as 500 ml, maar jy’s reg – dis eintlik onnodig kompleks om van 500 g water te praat terwyl die meeste van ons nie water afweeg nie.
Ek is lief vir jou Bolla! Ian
dankie my-man-van-30-jaar. ek vir jou ook – hier vry ons steeds oor die brood!
Baie lekker!
en net so lekker met konfyt as saam met lekker goed verouderde cheddar
I remember those Lanzerac days, place of celebration of exams and test written well! I am so surprised that they do not do the cheese lunches anymore. What a winning recipe they had!
You are so right! It had just the right mix of sophistication and laidbackness.