Herinneringe in ‘n skoolkosblik en ‘n saadbroodjie vir selfbak.

7 Jan

As jy ‘n klomp grootmense hier net na die Nuwe Jaar se jollifikasie ‘n kol op die maag wil gee, praat oor die ‘back to school’ gevoel wanneer die skooljaar weer begin. In dieselfde asem, as jy oor skooldae se kosblik, pouse en toebroodjies praat is die meeste mense weer aan die glimlag.

Die begin van 'n toebroodjie met my gunsteling saadbroodjie.

Die begin van ‘n toebroodjie met my gunsteling saadbroodjie.

Onlangs vertel ‘n FB-vriendin, Hannelie van der Merwe Myburgh van haar kosblik met die prentjie van ‘n dogtertjie en twee katjies op. Die meeste van die tyd was daar bontbul op die broodjie – hulle familiewoord vir sagte skaapvet gemeng met hulle eie bye se heuning.  Dit was haar werk om die bontbul aan te maak – sy kan duidelik die erde-emmertjie met die swart deksel en draadhandvatseltjie onthou waarin dit gebêre is. Toe het sy haar neus opgetrek.

Oorskiet het dikwels op die volgende dag se brood beland: van oorskietaartappels tot dit wat oorgebly van die vorige aand se tamatie en uie slaai, gegeur net met sout en peper.  Tannie Poppie Coetzer deel met my hoe soos gister kan onthou hoe haar ma se toebroodjies van ligte bruinbrood, gevul met koue boontjies en aartappels en rou uie daarop met heelwat peper, of koue frikkadelle met rou uie geproe het.

Lekker toebroodjies het ook die ruilwaarde daarvan op die speelgrond verhoog.

Kosskrywer Sophia Lindop vertel:  “my ma het elke dag brood gebak en ons het die heerlikste toebroodjies gekry met koue lamsboud  wat oor was van Sondag, saam met Mrs HS Ball’s chutney en kraakvars blaarslaai uit haar tuin. Ek kon nie wag om dit uit te ruil met my niggie nie, want sy’t Provitas met smeerkaas en Marmite gekry wat jy kon uitdruk om geel en swart wurmpies te maak. Wat ek nou sou wou gee vir daai toebroodjies!”

Ander het hulle so uitgekuier dat hulle steeds vandag nie polonies en sandwich spread kan hanteer nie. Party onthou met deernis die grondboonbotter en stroop (soms met piesang), en ander wil weer nie hul lippe daaraan sit nie.

Skrywer Nelia Viviers was verknog aan haar appelkooskonfyt- en kaas toebroodjies, maar o, tog net nie rooi jêm nie!  Ansu le Grange se ma het nog brood in ‘n koolstoof gebak en die lekkerte het in die kosblik beland – varsgebakte brood, plaasbotter en tuisgemaakte konfyt. “Teen pouse het die appelkooskonfyt al so bietjies-bietjies in die brood ingetrek.”

Kokkedoor Lorraine Swanepoel onthou die keurige kospakkies van gekookte eier en mayonnaise waarom sy wye draaie geloop het want al die skoolkinders sou jou terg oor die hmmm windmakerigheid wat sou volg. Sy het wel die piesangbrood-toebroodjies baie geniet. So ook die verrassing van ‘n buisie kondensmelk in die kosblik.

Liza Louw vertel: “My kosblik was so ‘n reghoekige blikkie met ‘n los deksel. Dit het ‘n pragtige Noag-en-ark-met-diere toneel op gehad. Ek dink dit het oorspronklik vol Wilson toffies in my lewe gekom. Wanneer ‘n mens die deksel met speeltyd opgelig het, het die papierdun skywe van Sondag se geroosterde boud daaruit opgewalm met ‘n hemelse geur. Ma se liefde het so geruik. Dit is lêgemaak tussen haar netjiese gebotterde broodsnye tussen fyngekerfde slaaiblare. Ma het my (en Pa se) toebroodjies in kwarte gesny en stewig toegedraai in waspapier voordat dit in die kosblik gepak is.

Die skooltoebroodjie van my herinneringe. Vandag steeds my gunsteling.

Die skooltoebroodjie van my herinneringe. Vandag steeds my gunsteling.

Wat in die kosblik beland het, was ook dikwels ‘n aanduiding van die huis se kontantvloei. “Soms was die broodjies maar dun,” onthou my kleinnig Anne-Marie Oliver. “Ek onthou my Ma se appelkooskonfytbroodjies. Dit was soos ‘n warm kombersie op ‘n koue aand. As ons die dag “french polony” en Mrs Balls gekry het, het ek geweet dit gaan beter in die geldblik. My beste – tot vandag nog – witbrood met roereier en wit peper. ”

Toe ek ouer word het ons naby skool gewoon, vertel sy verder. “ My Ma het so 10 uur geroosterde kaasbroodjies op die Aga se plaat gemaak dan het ons pelle gou pousetyd gaan eet! Wonderlike sterk cheddar – my liefste Ouma Anna het by Wellington Fruit Growers se kaastoonbank gewerk! “

Vandag doen ma’s steeds moeite – nou wel nie meer met sagte vet en oorskietbredie nie, maar sekere dinge bly dieselfde soos Alida Ryder, skrywer en ma van 2 jong kindertjies vertel:  “My kinders kry ‘n peanut butter en stroop of bovril broodjie, ‘n yoghurt, vrugte rolletjie, vars vrug, baba tamaties en so nou en dan ‘n pakkie koekies of salticrax. Dan kom die broodjie, yoghurt en appel gewoonlik terug.”

Vickie de Beer, kosredakteur van Rooi Rose maak deesdae vir haar seuns wraps, omdat dit so ‘n maklike manier is om oorskietkos as vulsel te gebruik. “Hulle geniet ook die jaffels met maalvleisvulsel, en so ook volgraanworsrolletjies – en altyd ‘n groot bottel water.”

Die lekkerste toebroodjie vir my? Vars volgraan-saadbrood met soutbotter, die krakerigheid van outydse kropslaai en komkommer, gerasperde cheddar en tamatie goed gelooi met sout en peper.  (Dis nou as daar nie koue skaapboud oor is van Sondag nie).

Haal saam met my die mengbak uit. Ek gebruik hierdie broodresep:

Die bak van saadbrood is 'n klein seremonie in ons huis.

Die bak van saadbrood is ‘n klein seremonie in ons huis.

SAADBROOD

Die saadbroodjie uit die 1970’s word wêreldwyd as eg-Suid-Afrikaans beskou. Dit word met ‘n baie slap deeg gemaak en nie geknie word.  Dis die lekkerste varsgebak, maar hou ‘n paar dae as dit in bruinpapier gesit word of met ‘n skoon teedoek toegedra word. Dit rooster baie lekker.

Bestanddele:

500 ml+ warm water (kan sowat 100 ml ekstra bysit as beslag te droog is)

15 ml bruinsuiker of heuning

15 ml molasse (jy kan meer molasses bysit vir ‘n dieper kleur)

15 ml olie

4 x 250 ml (4 k) volkoring meel (Nutty Wheat)

1 k (250 ml) witbroodmeel

10 ml kitsgis

7 ml sout

100 ml sonneblomsade

Ekstra sade vir oorsprinkel: sonneblomsade, sesamsade, pampoenpitte, lynsaad

Metode:

  • Meng die meel, sout, kitsgis en sonneblomsaad saam in ‘n ruim mengbak.
  • In ‘n groot maatbeker roer die olie, bruinsuiker en molasses by die louwater in. Roer die watermengsel by die meel in om ‘n slaap deeg te vorm.
  •  Smeer ‘n groot broodpan met olie of kleefvrye sprei en skep die mengsel in die pan. Strooi die sade in rytjies bo-oor of sprinkle sommet net so. Laat rys in ‘n warm plek met ‘n doek oor vir sowat 45 minute tot ‘n uur.
  •  Terwyl die brood rys, voorverhit die oond tot 190°C.
  • Bak vir 50 minute.  Keer uit en laat afkoel. As die brood nie maklik uit die pannetjie kom nie, laat dit ‘n paar  minute in die pan staan om los te stoom.
Hierdie keer het ek sonneblaadsaad, swart sesam- en nigellasaad in rytjies gegooi - ander keer sommer net oorgestrooi - selfs pampoenpitte.

Hierdie keer het ek sonneblaadsaad, swart sesam- en nigellasaad in rytjies gegooi – ander keer sommer net oorgestrooi – selfs pampoenpitte.

8 Responses to “Herinneringe in ‘n skoolkosblik en ‘n saadbroodjie vir selfbak.”

  1. koelenhof January 12, 2015 at 9:52 am #

    Dankie Errieda

    Jy het my dag (of sal ek sê my jaar) gemaak. Ek soek al lank na so resep.

    Ek het dit sopas aangemaak. Hoop nie dit was te slap nie. Kan jy dalk die gewig van meel verskaf.

    Groete van doer onder.

    • huiskok January 12, 2015 at 4:32 pm #

      Ek weeg gewoonlik my meel af, maar omdat hierdie ‘n familieresep van my skoonma is, maak ek dit presies soos sy dit maak, selfs met die maatbekertjie. As ek dit weer maak sal ek dit presies afweeg. Die deeg is nogals slap, slapper as wat mens dink. Laat weet hoe dit uitkom

  2. Poppie Coetzer January 7, 2015 at 3:33 pm #

    Dankie Errida Jan en ek gaan defnitief hierdie broodjie van jou probeer met koue groennoontjies op of varkvet en stroop geniet jou dag lovies

    • huiskok January 7, 2015 at 3:59 pm #

      Jy sal dit geniet. Dankie en groete vir Oom Jan.

  3. Florrie Jordaan January 7, 2015 at 2:39 pm #

    Hoekom is dit so moeilik om die resepte te print

    • huiskok January 7, 2015 at 4:03 pm #

      Ek kan ongelukkig nie verklaar hoekom Dit moeilik print nie … Probeer mod it te cut & paste. Groete.

      • Hannes January 8, 2015 at 10:54 am #

        Probeer http://www.printfriendly.com Dit maak die uitdruk van enige webblad of dele daarvan ‘n plesier.
        Errida – ek het die broodresep met ons broodmasjien gemaak – het redelik uitgekom. Sou die handmetde ‘n beter resultaat lewer?
        Hannes

      • huiskok January 8, 2015 at 1:12 pm #

        Dannie vir die wenk oor die druk vriendelike Webwerf. Die resep is na my mening nie broodmasjienvriendelik nie. Groete

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: