Murgpampoentjie kom met ‘n klompie aliase: courgette die Franse benaming, baby marrow die Engelse naam en zucchini. Zucchini kom van die Italiaanse woord zucchino, wat klein, onvolwasse of ondeontwikkelde pampoen beteken, ‘n akkurate beskrywing van die goedgesinde groente.
Die vele name is ‘n voorspel tot die groente se veelsydigheid. Klaar op my spyskaart vir die herontmoetingsete met my vriende is ‘n spoggerige Medittereense gereg van murgpampoentjies met hasselback-styl konsertinakepe, gebak in ‘n hitsige harissa-marinade, bedien met ‘n botterboon-tahini doopsous en ‘n strooisel rokerige dukkah.
Tot dan bly ek by ‘n eenvoudiger gereg wat by ‘n skraal spens pas soos pasta met murgpampoentjiesous. Dit benut ook ‘n onderskatte karaktertrek van die groente… oor lae hitte gee die groente hul langsaam oor aan die pot en tuimel in mekaar tot ‘n weelderige sous, die geure gekonsentreerd tot die essensie oorbly.
Die bestanddele is aanpasbaar en lig op die sak. So kan die crème fraiche wat bygeroer word vir romerigheid ewe goed vervang word met melk. Verder gebruik jy ‘n soplepel vol van die pastawater om die sous te verryk en blink glans te gee. Luukser kaas word vervang met pangrattato, gebraaide broodkrummels wat die Italianers as die arm man se parmesaan beskryf.
Fettucine, murgpampoentjiesous en bros sourdough krummels
750 g murgpampoentjies, ongeskil 45 ml olyfolie 3 knoffelhuisies, fyngekap 400 g soos fettucine of tagliatelle Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen en sap van ½ suurlemoen 30 ml crème fraiche (of vervang met 80 ml volroommelk Gebraaide broodkrummels (pangrattato) vir oorstrooi, aanwysings onder Fyngekapte pietersielie of geskeurde basielkruid
Maak so: Sny die murgpampoentjies in baie fyn ringetjies. ‘n Mandolien werk goed hiervoor. Voeg 45 ml olyfolie en die murgpampoentjies in ‘n diep pan of kastrol. Voeg ‘n stewige knippie sout by en kook oor lae hitte tot die groente begin reduseer en sag raak, sowat 20 minute. Roer nou en dan om te keer dat dit aan die bodem vassit.
Voeg die knoffel by en stowe vnog 15 minute terwyl jy nou en dan roer. Voeg ‘n titsel water by as dit begin vang op die bodem. Maak die pasta gaar volgens die instruksies op die pak, terwyl die murgpampoentjies kook. Behou sowat 125 ml of meer van die pastawater wanneer jy die pasta dreineer, wat gebruik sal word om die murgpampoentjiesous loperig te maak.
Wanneer die murgpampoentjies fyngekook het, geur dit met sout en peper. Roer die fyngerasperde suurlemoenskil by en voeg na smaak suurlemoensap by. Roer die crème fraiche of melk en ‘n paar skeute goeie olyfolie by. Skep net genoeg van die pastawater by om die sous los te maak. Meng die murgpampoentjiesous deur die gedreineerde pasta en strooi die gebraaide broodkrummels en gekapte kruie oor.
Vir die broodkrummels (pangrattato): 200 g oorskiet plaasbrood, soos sourdough, geblits of grofgerasper tot krummels Olyfolie vir braai
Verhit ‘n stewige skeut olyfolie in ‘n pan oor matige hitte. Voeg die broodkrummels by die warm olie en soteer tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier en sprinkel growwe sout oor.
Sommige dinge het net nie verduideliking nodig nie. Soos die begeerte vir iets troostend in tye van onsekerheid. Soos die magiese vermoë van pampoenkoekies om die dag sommer beter te laat lyk.
Wenke:
Span jou drukkoker In om die pampoenblokkies te kook. Net drie minute!
Botterskorsie is ideaal, want dis minder waterig as pampoen.
As die beslag te loperig is, roer nog ‘n lepel meel by.
Pampoenkoekies
Maak 12
600 ml gaar, fyngemaakte pampoen of botterskorsie
250 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
Knypie sout
Stewige mespunt anys (opsioneel)
2 eiers, geklits
Olyfolie vir vlakvetbraai
Kaneelsuiker
Opsioneel: blomblaartjies van marigolds
Meng die pampoenmoes, meel, bakpoeier, sout en anys in ‘n mengbak. Roer die geklitse eiers by om ‘n slapperige beslag te vorm. Giet ‘n bietjie olie in ‘n pan, skep lepelsvol (4 – 5 koekies op ‘n keer) in die warm olie en braai aan beide kante tot goudbruin en gaar. Dreineer op kombuispapier, strooi kaneelsuiker oor en rond opsioneel af met eetbare blommetjies.
As jy ‘n klomp grootmense hier net na die Nuwe Jaar se jollifikasie ‘n kol op die maag wil gee, praat oor die ‘back to school’ gevoel wanneer die skooljaar weer begin. In dieselfde asem, as jy oor skooldae se kosblik, pouse en toebroodjies praat is die meeste mense weer aan die glimlag.
Die begin van ‘n toebroodjie met my gunsteling saadbroodjie.
Onlangs vertel ‘n FB-vriendin, Hannelie van der Merwe Myburgh van haar kosblik met die prentjie van ‘n dogtertjie en twee katjies op. Die meeste van die tyd was daar bontbul op die broodjie – hulle familiewoord vir sagte skaapvet gemeng met hulle eie bye se heuning. Dit was haar werk om die bontbul aan te maak – sy kan duidelik die erde-emmertjie met die swart deksel en draadhandvatseltjie onthou waarin dit gebêre is. Toe het sy haar neus opgetrek.
Oorskiet het dikwels op die volgende dag se brood beland: van oorskietaartappels tot dit wat oorgebly van die vorige aand se tamatie en uie slaai, gegeur net met sout en peper. Tannie Poppie Coetzer deel met my hoe soos gister kan onthou hoe haar ma se toebroodjies van ligte bruinbrood, gevul met koue boontjies en aartappels en rou uie daarop met heelwat peper, of koue frikkadelle met rou uie geproe het.
Lekker toebroodjies het ook die ruilwaarde daarvan op die speelgrond verhoog.
Kosskrywer Sophia Lindop vertel: “my ma het elke dag brood gebak en ons het die heerlikste toebroodjies gekry met koue lamsboud wat oor was van Sondag, saam met Mrs HS Ball’s chutney en kraakvars blaarslaai uit haar tuin. Ek kon nie wag om dit uit te ruil met my niggie nie, want sy’t Provitas met smeerkaas en Marmite gekry wat jy kon uitdruk om geel en swart wurmpies te maak. Wat ek nou sou wou gee vir daai toebroodjies!”
Ander het hulle so uitgekuier dat hulle steeds vandag nie polonies en sandwich spread kan hanteer nie. Party onthou met deernis die grondboonbotter en stroop (soms met piesang), en ander wil weer nie hul lippe daaraan sit nie.
Skrywer Nelia Viviers was verknog aan haar appelkooskonfyt- en kaas toebroodjies, maar o, tog net nie rooi jêm nie! Ansu le Grange se ma het nog brood in ‘n koolstoof gebak en die lekkerte het in die kosblik beland – varsgebakte brood, plaasbotter en tuisgemaakte konfyt. “Teen pouse het die appelkooskonfyt al so bietjies-bietjies in die brood ingetrek.”
Kokkedoor Lorraine Swanepoel onthou die keurige kospakkies van gekookte eier en mayonnaise waarom sy wye draaie geloop het want al die skoolkinders sou jou terg oor die hmmm windmakerigheid wat sou volg. Sy het wel die piesangbrood-toebroodjies baie geniet. So ook die verrassing van ‘n buisie kondensmelk in die kosblik.
Liza Louw vertel: “My kosblik was so ‘n reghoekige blikkie met ‘n los deksel. Dit het ‘n pragtige Noag-en-ark-met-diere toneel op gehad. Ek dink dit het oorspronklik vol Wilson toffies in my lewe gekom. Wanneer ‘n mens die deksel met speeltyd opgelig het, het die papierdun skywe van Sondag se geroosterde boud daaruit opgewalm met ‘n hemelse geur. Ma se liefde het so geruik. Dit is lêgemaak tussen haar netjiese gebotterde broodsnye tussen fyngekerfde slaaiblare. Ma het my (en Pa se) toebroodjies in kwarte gesny en stewig toegedraai in waspapier voordat dit in die kosblik gepak is.”
Die skooltoebroodjie van my herinneringe. Vandag steeds my gunsteling.
Wat in die kosblik beland het, was ook dikwels ‘n aanduiding van die huis se kontantvloei. “Soms was die broodjies maar dun,” onthou my kleinnig Anne-Marie Oliver. “Ek onthou my Ma se appelkooskonfytbroodjies. Dit was soos ‘n warm kombersie op ‘n koue aand. As ons die dag “french polony” en Mrs Balls gekry het, het ek geweet dit gaan beter in die geldblik. My beste – tot vandag nog – witbrood met roereier en wit peper. ”
Toe ek ouer word het ons naby skool gewoon, vertel sy verder. “ My Ma het so 10 uur geroosterde kaasbroodjies op die Aga se plaat gemaak dan het ons pelle gou pousetyd gaan eet! Wonderlike sterk cheddar – my liefste Ouma Anna het by Wellington Fruit Growers se kaastoonbank gewerk! “
Vandag doen ma’s steeds moeite – nou wel nie meer met sagte vet en oorskietbredie nie, maar sekere dinge bly dieselfde soos Alida Ryder, skrywer en ma van 2 jong kindertjies vertel: “My kinders kry ‘n peanut butter en stroop of bovril broodjie, ‘n yoghurt, vrugte rolletjie, vars vrug, baba tamaties en so nou en dan ‘n pakkie koekies of salticrax. Dan kom die broodjie, yoghurt en appel gewoonlik terug.”
Vickie de Beer, kosredakteur van Rooi Rose maak deesdae vir haar seuns wraps, omdat dit so ‘n maklike manier is om oorskietkos as vulsel te gebruik. “Hulle geniet ook die jaffels met maalvleisvulsel, en so ook volgraanworsrolletjies – en altyd ‘n groot bottel water.”
Die lekkerste toebroodjie vir my? Vars volgraan-saadbrood met soutbotter, die krakerigheid van outydse kropslaai en komkommer, gerasperde cheddar en tamatie goed gelooi met sout en peper. (Dis nou as daar nie koue skaapboud oor is van Sondag nie).
Haal saam met my die mengbak uit. Ek gebruik hierdie broodresep:
Die bak van saadbrood is ‘n klein seremonie in ons huis.
SAADBROOD
Die saadbroodjie uit die 1970’s word wêreldwyd as eg-Suid-Afrikaans beskou. Dit word met ‘n baie slap deeg gemaak en nie geknie word. Dis die lekkerste varsgebak, maar hou ‘n paar dae as dit in bruinpapier gesit word of met ‘n skoon teedoek toegedra word. Dit rooster baie lekker.
Bestanddele:
750 ml warm water (kan sowat 100 ml ekstra bysit as beslag te styf is)
15 ml bruinsuiker of heuning
15 ml molasse (jy kan meer molasses bysit vir ‘n dieper kleur)
15 ml olie
4 x 250 ml (4 k) volkoring meel (Nutty Wheat)
1 k (250 ml) witbroodmeel
10 ml kitsgis
7 ml sout
100 ml sonneblomsade
Ekstra sade vir oorsprinkel: sonneblomsade, sesamsade, pampoenpitte, lynsaad
Metode:
Meng die meel, sout, kitsgis en sonneblomsaad saam in ‘n ruim mengbak.
In ‘n groot maatbeker roer die olie, bruinsuiker en molasses by die louwater in. Roer die watermengsel by die meel in om ‘n slaap deeg te vorm.
Smeer ‘n groot broodpan met olie of kleefvrye sprei en skep die mengsel in die pan. Strooi die sade in rytjies bo-oor of sprinkle sommet net so. Laat rys in ‘n warm plek met ‘n doek oor vir sowat 45 minute tot ‘n uur.
Terwyl die brood rys, voorverhit die oond tot 190°C.
Bak vir 50 minute. Keer uit en laat afkoel. As die brood nie maklik uit die pannetjie kom nie, laat dit ‘n paar minute in die pan staan om los te stoom.
Hierdie keer het ek sonneblaadsaad, swart sesam- en nigellasaad in rytjies gegooi – ander keer sommer net oorgestrooi – selfs pampoenpitte.
In my studentdae het ek verlief geraak op tuisgemaakte volgraanbrood met sonneblomsade wat ons ‘Lanzerac-brood’ genoem het, omdat ek en my pelle Vrydae ons beursgeld uitge-eet het aan die landgoed se ‘cheese-lunches’. Die brood was toe die brood van die oomblik en ons het super-gesofistikeerd gevoel.
Waar’s die jare …. ‘sead loaf’ van my jeug soos Lanzerac dit destyds gemaak het. Foto uit Lynn Bedford Hall se Koekies en Brood (dankie Michelle vir die boks ou kookboeke!)
Die eerste dag wat ek my man Ian ontmoet het, het hy so ‘n brood uit sy rugsak gehaal met die woorde, “My ma het dit vanoggend gebak.” Ek was onmiddellik halsoorkop verlief op die ou wat so spog met sy ma se brood. Ma Bettie is oorlede voor ek haar kon ontmoet – maar ek het haar deur haar brood tog ‘n bietjie kon leer ken. Sy pa Danie het toe die broodbakker van die familie geword. Vandaar dat my vriende steeds praat van Pa Danie se brood. Vir jare het ek Ma Bettie/Pa Danie se brood vir hul seun gebak. Nuwe intrekkers in die buurt het ook altyd ‘n vars gebakte brood onder ‘n teedoek gekry. Dit was ‘n vriendmaker vir jare.
Ag, en toe kom die era van die ciabattas en die focaccias, die panini’s en die trendy artisinale brode. Maar gister kom my vriendin Michelle van Staden met ‘n boks vol ou resepteboeke by my aan – onder meer met ‘Koekies en Brood’ van Lynn Bedford Hall (1993 uitgegee). In die boek is daar toe die volgraan-roerbrood resep in wat my na die ‘vrybrood’ van my en Ian se opsitdae laat dink het.
Dit dan my storie van die volgraan-vrybrood. Maak dit en proe self hoekom ons huwelik reeds 30 jaar hou.
VOLGRAAN ROERBROOD
Die brood wat dit als begin het. Eintlik “Ma Bettie en Pa Danie se brood’.” Dis ‘n roerbrood wat beteken dis ‘n slap deeg en daar’s geen knieery nie. Kitsgis word gebruik, maar die brood moet steeds rys.
750 ml warm water (of meer)
15 ml bruinsuiker
15 ml molasse
10 ml kitsgis
4 k volkoring meel (Nutty Wheat)
250 ml witbroodmeel
7 ml sout
15 ml olie
100 ml sonneblomsade
100 ml lynsaad (linseed)
Ekstra sade vir oorsprinkel: sonneblomsade, sesamsade, pampoenpitte, lynsaad
Voeg die bruinsuiker en molasses by ‘n koppie van die water en roer tot opgelos. Strooi die gis bo-oor en laat staan tot dit skuim. Meng die meel, sout en olie in ‘n ruim mengbak, roer die gismengsel, sonneblom- en lynsade by. Voeg die res van die water by – net genoeg om ‘n sagte deeg te vorm. Smeer ‘n broodpannetjie met olie, skep die mengsel in die pan. Strooi die sade in rytjies bo-oor of sommet net so. Laat rys in ‘n warm plek met ‘n doek oor vir sowat 45 minute tot ‘n uur. (Onthou, sit jou oond betyds aan!) Verhit oond tot 200°C en bak vir 45-50 minute. Keer uit en laat afkoel. Moenie dit in die pan laat staan nie, anders stoom die korskant sag. (Wenk: as jy egter sukkel om die brood uit die pan te kry, dan help dit om dit in die panne te laat staan om dit los te stoom)
Wenke: Die brood is ook heerlik gerooster. Jy kan ook rosyntjies of sultanas by die meelmengsel inroer vir afwisseling.
* Kyk uit vir my ander blog-inskrywings oor ciabatta-sonder-knie, asook Juanita Louw van Diemersdal se soetpatatbrood – wat ek beskou as een van die lekkerste brode ter wereld.