Tag Archives: appel

Appel, kaas en salie skons

11 Apr
Salige driemanskap in hierdie skons: kaas, appel, salie

Appeltjie te skil. Appels wat nie ver van die boom af val nie. Die gelukskoot om nog iets vir ‘n appel en ‘n ei op te raap. Appels dra ‘n mandjievol lekkerte tot ons spreektaal en ons tafels by.

Ek het pas ‘n voorsmaak gekry van ‘n nuwe kultivar appel – die Flash Gala –  wat van mid-April op die rakke sal wees. Een is dadelik blink poleer en groot happe van geneem. ‘n Ander is in skywe gesny en met ‘n goed verouderde sterk kaas verorber, my gesin se gunsteling-versnapering.

Die klassieke kombinasie van appel en kaas vind hier ‘n geurige pad na skons saam met salie.

Cheddar, appel en salieskons

530 ml koekmeel

15 ml bakpoeier

2,5 ml sout

Stewige knippie rooipeper

15 ml ligte bruinsuiker

125 ml botter, koud, in stukkies gesny

125 ml melk of karringmelk

250 ml fyngekapte appel, ongeskil

250 ml gerasperde skerp cheddar

60 ml fyngekapte vars salieblare, plus ekstra vir garnering

30 ml melk of room, om oor te smeer

Voorverhit die oond na 190°C. Smeer ‘n bakplaat.

Plaas die meel, bakpoeier, sout, rooipeper en bruinsuiker in die bak van die voedselverwerker en pols ‘n paar keer om te meng. Voeg die botter by en pols tot daar nie meer groot stukke botter oor is nie en die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die melk stadig by tot die deeg ‘n bol vorm.

Haal die deeg uit en plaas dit in ‘n mengbak. Voeg die appelstukkies, gerasperde kaas en gekapte salie by. Werk dit liggies met die hand deur tot die bestanddele gemeng is, maar moenie te veel hanteer nie. 

Strooi ‘n bietjie meel op die werksoppervlak en druk die deeg liggies met die hand in ‘n reghoek, 2,5 cm dik. Druk die skons met ‘n 60 mm koekiedrukker uit en pak op bakplaat. Herhaal met die oorskietflertse. Dit maak 9 – 10 skons. 

Borsel die melk of room oor en plaas ‘n salieblaartjie of twee op elke skon. Bak 20 – 25 minute tot goudbruin.

  • Errieda du Toit is die skrywer van 10 kookboeke waarvan SAAM aangewys is as ‘n wenner van die World Gourmand Cookbook-toekennings. Besoek haar blog Huiskok.com of Facebook-blad Tuistafel.
Herfsgeure in ‘n skon. Foto Ian Du Toit

Omelet vir Colette met karamelappels en gekookte kondensmelk

12 Oct

Colette, wie en wat jy ookal was; waar in die wêreld jy gebly het en watter Franse sjef  jy so bekoor het, weet ek nie. Maar dat hy vir jou lief was is gewis, want die soet ontbytomelet wat jou naam dra is die lekkerste ooit.

Dalk het hy hierdie omelet  as liefdesbrief aan jou voorgelê:  die  konfituur de lait (hy sou nie dulce de leche  of gekookte kondensmelk gebruik het nie) soos stroopsoet liefdeswoorde in ‘n geurige omelet-koevert versteek,  die romerige effe suur crème fraiche ‘n teken van sy melancholie en verlange omdat julle nie openlik bymekaar kan wees nie. Die appels het hy dalk self in die boord gaan pluk, en die appelskyfies sag geprut in ‘n karamelsous van bruinsuiker en egte botter  as ‘n verwysing na gesteelde ure saam in daai appelboord. Die eiers het hy vroegdag nog warm onder die hoenders gaan uithaal.

Vandat ek hierdie resep jare gelede Omelette Pomme Colette in  die gevierde Gourmet tydskrif opgespoor het het ek gewonder wie sy is. Die resep is net ingelei met die woorde: ‘A jar of confiture de lait, a French caramel-like sauce made from whole milk and sugar, and fresh apples inspired this omelette.’ Geen verwysing na Colette se herkoms nie.

As jy nou wonder hoekom ek ‘n liefdesroman van ‘n omeletresep wil maak, maak dit self, deel dit met jou geliefde, ervaar die glimlag vol belofte, dan sal jy weet: Colette was nie sy dierbare ouma nie. Eerder die rooiwang dogter van die kwaai hoteleienaar of bistro.

Omelette Pomme Colette maak ek om iets te vier: vandag omdat dit Internasionale Eierdag is, ja, maar ook om sommer net  ‘n liefdesoomblik te herdenk.   Ek maak dit op ‘n sonskynoggend na ‘n week van triestige weer of wanner die verlange na Buenos Aires waar ek dulde de leche die eerste keer geproe het, die oorhand kry.

Maar die beste verskoning om Colette se omelet te maak is as jy dit geniet om ‘n blikkie gekookte kondensmelk oop te maak (ons ma’s en oumas moes dit vir ure kook; ons trek net die blik se deksel oop). Na die omelet se maak bly daar nog bietjie karamelkondensmelk in die blik oor. Dit verdwyn so bietjie bietjie soos wat almal wat verby die yskas loop eers ‘n lepeltjie deurtrek.

Net ietsie oor die bestanddele:

Eiers: gebruik vars eiers. Dit hoef nie teen kamertemperatuur te wees nie, want die eierwit word nie vir hierdie omelet styfgeklits nie. Vir ‘n pofomelet sou jy wel die eiers vooraf uit die yskas moes haal.

Vir jou Colette oomblik is die ware jakob confiture au lait natuurlik die naaste aan die oorspronklike liefdesbrief. ‘n Tweede, en baie dekadente plaasvervanger dulce de leche sal jou ook die weelde gee wat jy soek. Maar dit gaan jou kos: jy sal dit uit  die land van tango moet aanvlieg, of ten duurste ‘n flessie by Hemelhuijs aanskaf (R90 ‘n flessie uit die hemel). Daarom koop ek myne maar in ‘n blik in die supermark: jy ken die soort. Nestle of Carnation maak dit.

Ek was gelukkig om ‘n boks vol appels van alle soorte, kleure, geure en grade van soet en ‘tartness’ te kry van Tru-Cape. Ek het ‘n soeter  rooi appel gebruik.  Jy kan werklik enige appel gebruik.

Bewonderaars van ons labrador Tjoklit sal hierdie ene geniet: Met die fotonemery trek ons agter die beste lig aan – wat hier Tjoklit se gunsteling uitkykpunt op ons stoep is. Hy pas dan die kos goed op sodat die katte nie ‘n hap kom vat nie. Hy weet vir sy eie gehoorsaamheid kry hy later ‘n bederf uit die kombuis.

Omelet vir Colette

30 ml botter, verkieslik ongesout (beslis nie margarien nie)

10 ml suiker

1 appel (myne was van Tru-Cape), geskil, pitte verwyder en in dun skyfies gesny (6 mm as jy ‘n presiese mens is)

3 groot eiers

30 ml crème fraiche (vervang met mascarpone of suurroom – jy soek bietjie surigheid om deur die soet te breek)

30 m dulce de leche of karamel-kondensmelk

Opsioneel: versiersuiker vir oorsif

Smelt die botter in ‘n 30 cm (12 duim) kleefvrye pan oor matige hitte. Sodra die skuimerigheid afneem gooi die suiker by, roer tot opgelos vir sowat ‘n minuut. Voeg die appelsnye by, kook sowat 6 tot 8 minute tot die appel sag en goudbruin is – draai een keer tydens die kookproses om.

Klits die eiers met ‘n knippie sout. Gooi oor die appels en kook oor redelike lae hitte terwyl jy liggies die rand van die omelette oplig sodat die rou eier ondertoe kan vloei. Gebruik ‘n hittebestande rubber spatula hiervoor. Die omelet moet net-net gestol aan die bokant wees, wat sowat 2 minute neem.

Skep lepeltjies vol van die crème fraiche en die gekookte kondensmelk in die middel af; vou  een-derde van die omelet oor die vulsel met ‘n hittebestande eierspaander. Nou laat jy die omelette versigtig afgly op die bord en kantel dit dat die omelet toevou. Hier is dit ‘n storie as jou pan – soos myne – nie ‘n goeie kleefvrye pan is nie. Maar toe maar, dis ewe lekker as hy bietjie verkeerd uitgly. Druk net alles weer mooi toe!

Sif bietjie versiersuiker oor as jy wil, sny in die helfte en verdeel tussen twee borde. Speel Franse kafee-musiek en verbeel jou Colette en haar kosminnaar iewers op ‘n straatplein knibbel in die vroegoggend aan ‘n soet ontbyt-omelet.

*Volg my gerus op Twitter by @huiskok dan deel ons kospraatjies uit. 

%d bloggers like this: