Omelet vir Colette met karamelappels en gekookte kondensmelk

12 Oct

Colette, wie en wat jy ookal was; waar in die wêreld jy gebly het en watter Franse sjef  jy so bekoor het, weet ek nie. Maar dat hy vir jou lief was is gewis, want die soet ontbytomelet wat jou naam dra is die lekkerste ooit.

Dalk het hy hierdie omelet  as liefdesbrief aan jou voorgelê:  die  konfituur de lait (hy sou nie dulce de leche  of gekookte kondensmelk gebruik het nie) soos stroopsoet liefdeswoorde in ‘n geurige omelet-koevert versteek,  die romerige effe suur crème fraiche ‘n teken van sy melancholie en verlange omdat julle nie openlik bymekaar kan wees nie. Die appels het hy dalk self in die boord gaan pluk, en die appelskyfies sag geprut in ‘n karamelsous van bruinsuiker en egte botter  as ‘n verwysing na gesteelde ure saam in daai appelboord. Die eiers het hy vroegdag nog warm onder die hoenders gaan uithaal.

Vandat ek hierdie resep jare gelede Omelette Pomme Colette in  die gevierde Gourmet tydskrif opgespoor het het ek gewonder wie sy is. Die resep is net ingelei met die woorde: ‘A jar of confiture de lait, a French caramel-like sauce made from whole milk and sugar, and fresh apples inspired this omelette.’ Geen verwysing na Colette se herkoms nie.

As jy nou wonder hoekom ek ‘n liefdesroman van ‘n omeletresep wil maak, maak dit self, deel dit met jou geliefde, ervaar die glimlag vol belofte, dan sal jy weet: Colette was nie sy dierbare ouma nie. Eerder die rooiwang dogter van die kwaai hoteleienaar of bistro.

Omelette Pomme Colette maak ek om iets te vier: vandag omdat dit Internasionale Eierdag is, ja, maar ook om sommer net  ‘n liefdesoomblik te herdenk.   Ek maak dit op ‘n sonskynoggend na ‘n week van triestige weer of wanner die verlange na Buenos Aires waar ek dulde de leche die eerste keer geproe het, die oorhand kry.

Maar die beste verskoning om Colette se omelet te maak is as jy dit geniet om ‘n blikkie gekookte kondensmelk oop te maak (ons ma’s en oumas moes dit vir ure kook; ons trek net die blik se deksel oop). Na die omelet se maak bly daar nog bietjie karamelkondensmelk in die blik oor. Dit verdwyn so bietjie bietjie soos wat almal wat verby die yskas loop eers ‘n lepeltjie deurtrek.

Net ietsie oor die bestanddele:

Eiers: gebruik vars eiers. Dit hoef nie teen kamertemperatuur te wees nie, want die eierwit word nie vir hierdie omelet styfgeklits nie. Vir ‘n pofomelet sou jy wel die eiers vooraf uit die yskas moes haal.

Vir jou Colette oomblik is die ware jakob confiture au lait natuurlik die naaste aan die oorspronklike liefdesbrief. ‘n Tweede, en baie dekadente plaasvervanger dulce de leche sal jou ook die weelde gee wat jy soek. Maar dit gaan jou kos: jy sal dit uit  die land van tango moet aanvlieg, of ten duurste ‘n flessie by Hemelhuijs aanskaf (R90 ‘n flessie uit die hemel). Daarom koop ek myne maar in ‘n blik in die supermark: jy ken die soort. Nestle of Carnation maak dit.

Ek was gelukkig om ‘n boks vol appels van alle soorte, kleure, geure en grade van soet en ‘tartness’ te kry van Tru-Cape. Ek het ‘n soeter  rooi appel gebruik.  Jy kan werklik enige appel gebruik.

Bewonderaars van ons labrador Tjoklit sal hierdie ene geniet: Met die fotonemery trek ons agter die beste lig aan – wat hier Tjoklit se gunsteling uitkykpunt op ons stoep is. Hy pas dan die kos goed op sodat die katte nie ‘n hap kom vat nie. Hy weet vir sy eie gehoorsaamheid kry hy later ‘n bederf uit die kombuis.

Omelet vir Colette

30 ml botter, verkieslik ongesout (beslis nie margarien nie)

10 ml suiker

1 appel (myne was van Tru-Cape), geskil, pitte verwyder en in dun skyfies gesny (6 mm as jy ‘n presiese mens is)

3 groot eiers

30 ml crème fraiche (vervang met mascarpone of suurroom – jy soek bietjie surigheid om deur die soet te breek)

30 m dulce de leche of karamel-kondensmelk

Opsioneel: versiersuiker vir oorsif

Smelt die botter in ‘n 30 cm (12 duim) kleefvrye pan oor matige hitte. Sodra die skuimerigheid afneem gooi die suiker by, roer tot opgelos vir sowat ‘n minuut. Voeg die appelsnye by, kook sowat 6 tot 8 minute tot die appel sag en goudbruin is – draai een keer tydens die kookproses om.

Klits die eiers met ‘n knippie sout. Gooi oor die appels en kook oor redelike lae hitte terwyl jy liggies die rand van die omelette oplig sodat die rou eier ondertoe kan vloei. Gebruik ‘n hittebestande rubber spatula hiervoor. Die omelet moet net-net gestol aan die bokant wees, wat sowat 2 minute neem.

Skep lepeltjies vol van die crème fraiche en die gekookte kondensmelk in die middel af; vou  een-derde van die omelet oor die vulsel met ‘n hittebestande eierspaander. Nou laat jy die omelette versigtig afgly op die bord en kantel dit dat die omelet toevou. Hier is dit ‘n storie as jou pan – soos myne – nie ‘n goeie kleefvrye pan is nie. Maar toe maar, dis ewe lekker as hy bietjie verkeerd uitgly. Druk net alles weer mooi toe!

Sif bietjie versiersuiker oor as jy wil, sny in die helfte en verdeel tussen twee borde. Speel Franse kafee-musiek en verbeel jou Colette en haar kosminnaar iewers op ‘n straatplein knibbel in die vroegoggend aan ‘n soet ontbyt-omelet.

*Volg my gerus op Twitter by @huiskok dan deel ons kospraatjies uit. 

4 Responses to “Omelet vir Colette met karamelappels en gekookte kondensmelk”

  1. Veronica October 13, 2012 at 8:35 pm #

    Hello Errieda! Sjoe hier kom ek op n watertand dag by jou kolletjie in Cyberspace aan!! Dit lyk amazing en ek gaan dit beslis probeer! Gaan op FB volg sodat ek kan byhou by die lekkerte wat hier met liefde opgedis word by Huiskok!

    • huiskok October 15, 2012 at 9:20 am #

      Veronica, dankie dat jy kom inloer het. Ek hoop jy kook lekker saam. Groete, Errieda.

  2. nina October 12, 2012 at 3:01 pm #

    My mond water huiskok!! Waar kan ek ‘n omelet vir Nina bestel?

    • huiskok October 12, 2012 at 3:11 pm #

      My liewe Nina, jy verdien dit dat ek elke oggend vir jou ‘room service’ bedien net voor jy soggens 5 uur uit die vere is. (dis mos hoe vroeg jy opstaan, of is dit selfs vroeer?) Ek sien so uit om jou in Dinner Divas te sien, ek kan nie meer my lus hou nie. En dankie dat jy tyd maak om by hierdie resephuis van my in te loer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: