‘Al wat ek op Moedersdag wil hê is my familie om die tafel; ek gee nie om om die kos self te maak nie.’ Só antwoord die meeste ma’s wat ek gepols het oor hul spesiale-dag begeertes. Alhoewel uit-eet nie te versmaai word nie, is dit die gedagte aan ‘n lang tafel met eie kinders, hul eie ma, skoonma, susters en skoonsusters wat moederharte bly maak. Die wenslysie is maar kort, iemand om die tafel mooi te dek, en agterna af te dra en skottelgoed te was.
My wynmaker-vriendin Elzette Du Preez het een wens vir Moedersdag. “’Laatslaap of ‘n middagslapie is die grootste Moedersdag-geskenk wat ek as ma van klein kindertjies kan kry,” skerts sy. Die kosskrywer Sonia Cabano droom van ontbyt in die bed, ‘n halfuur van opera luister met ‘n groot vars bagel, dik gesmeer met roomkaas en gerookte salm, diepgebraaide bros kappertjiesaad en ‘n skeppie blitsgepiekelde rooi uie daarop. En espresso.
Op Moedersdag dink ek aan my pa wat vir Ma ‘n liefdesbriefie geskryf het omdat hy vergeet het van ‘n Moedersdag-geskenk of om planne te maak sodat sy nie hoef te kook nie. Ma het nooit iets verwag nie, solank sy haar kinders by haar kon hê was die saak reg. Vir haar maak ek koffie-gestoofde pere en bedien dit op geroosterde piesangbrood gesmeer met kofie- en heuninggegeurde roomkaas. As koningin van hierdie dag moet die bederf al vroegdag begin.
As jy self die ma is, laat hierdie ‘poeding-vir-ontbyt resep hierdie week in die huis rondlê. Ek hou saam met jou duim vas dat ons huismense Sondag hul soetste voertjie vir ons sal voorsit.
Hoekom pere vir Moedersdag:
Net soos ma’s kom pere in baie vorms: elegante ma’s met Audrey Hepburn nekke, soos die mooi geel-groen beurre bosc, of die eiervormige beurre hardy wat so lekker ruik, en meer dikvellig is. Packham met die onreëlmatige lyf en groen skil eet jy die oomblik wat die stingeltjie begin mee gee – teen die tyd wat sy geel is, is sy melerig, so moenie dat sy talm in die vrugtebak nie.
Bon chretien met die liggeel sproeteskil is ovaal van lyf. Al laat haar kort nekkie haar kort voor beeldskoon, is sy sag en vol sap …. ietwat van ‘n dienende Marta. Bruin Forelle is ook so ‘n spikkelpeer; op haar soetste wanneer sy ‘n blos op die wang het. Die lekkerse eetpeer vir my is die Comice –haar soet, sagte tekstuur maak op vir haar windverwaaide voorkoms. Dan is daar ook die Winter Saffraan, ‘n groterige peer met ‘n realtiewe lang, slanke nek – die eerste peer wat in Suid-Afrika geplant en gepluk is. Lees meer oor hierdie wonderlike herfenis-vrug en Trucape se herdenkingstuin.*
Pere en simboliek: Vir Homer was pere die gode se geskenk aan die mensdom. ‘n Peerboom is dikwels in die middel van die sultan se tuin geplant – ‘n anker vir die res. Pere is ‘n simbool van ‘n geseënde lang huwelik, hul knoetsige stamme staan vir ‘n lang lewe. Daarom het die Duitsers glo ‘n peerboom geplant as ‘n dogtertjie gebore is om haar vrugbaar en sterk te maak; haar lewe lank te laat hou.
KOFFIE- EN KARDOMON PEER EN HEUNING ROOMKAAS OP GEROOSTERDE PIESANGBROOD
Pere met ‘n verskil. Roosterbrood met ‘n verskil. Elke element kan die vorige dag gemaak word. Die pere lê soos waaiers op die koekbrood met die lekkerste koffiestroop denkbaarbo-op. Die piesangbrood se mengmetode is die maklikste ooit met ‘n fyn tekstuur wat die koffiestroop opslurp. Dit kan ook voorgesit word as poeding vir middagete (wat Ma waarskynlik self gekook het). Jy kan ook geroosterde sesamsade by die beslag gooi en oorsprinkel voor jy dit bak, vir ekstra neuterigheid. Jy kan ook gekoopte piesangbrood gebruik of die koekbrood afwissel met madeirakoek of ‘n gemmerbroodjie. Solank jy dit rooster!
Piesangbrood:
- 100 g sagte botter
- 175 g strooisuiker
- 2 groot eiers
- 2-3 ryp piesangs (fyngemaak)
- 225 g bruismeel
- 5 ml bakpoeier
- 30 ml melk
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n broodpannetjie, voer uit met bakpapier en spuit weer. Meet al die bestanddele direk in die mengbak af en klits 2 minute tot goed gemeng. Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk en bak 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die beslag sal ‘n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is. Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak.
Pere in koffiesous
- 1 ½ k (330 g) strooisuiker
- 100 ml sterk espresso of 60 ml kitskoffie-korrels aangemaak met 10 ml kookwater
- 6 ferm pere met stingels aan, (nie te ryp nie)
- 4 kardomom peule, gekneus
- 6 dik snye piesangbrood, gerooster
Plaas die suiker, koffie, kardomom en 1 liter water in ‘n kastrol en verhit oor matige hitte tot dit net saggies begin kook. Skil die pere af en verwyder die klokhuis versigtig om die stingel steeds te behou. Sny die pere in die lengte amper tot by die bokant. Prut vir sowat 30 minute of tot vurksag. Lig die pere versigtig uit die kookvloeistof met gaatjieslepel en hou eenkant om te dreineer. Gooi die kookstroop deur ‘n siffie om van enige los stukkies en die sade ontslae te raak en gooi terug in die kastrol. Laat die vloeistof 10-15 minute afkook tot die stroop verdik. Laat afkoel.
Heuning- en koffie roomkaas
- 230 g Parmalat ‘plain’ roomkaas, kamertemperatuur
- 30 ml van die koffiestroop
Opsioneel: die roomkaas kan ook met heuning na smaak versoet word.
Klop die koffiestroop by die roomkaas in tot goed gemeng.
Voorsit: Sny die piesangbrood in dik snye en rooster. Laat afkoel, plaas op koekbordjie en smeer ‘n dik laag roomkaas op. Rangskik die peer in waaiervorm op die brood en giet koffiestroop oor. Sit voor met ‘n koekvurkie.
Om die pluk van die eerste appels aan die Kaap op 17 April, 353 jaar gelede, te herdenk, het Tru-Cape Fruit Marketing’n Winter Saffraan-peer in sy erfenis-boord op die Oak Valley-landgoed in Grabouw herplant.
By die plant van die boom in die erfenis-tuin het Buks Nel, Tru-Cape se variëteitskenner en mede-skrywer saam met Griessel van Early Apples At The Cape (Vroeë Appels aan die Kaap), ’n boek oor die erfenis-variëteite, gesê die Winter Saffraan is die oudste peerboom suid van die Sahara en leef steeds voort in die die Kompanjiestuin in Kaapstad na 350 jaar.
“Danksy die joernale van mense soos François Valentjn, wat die Kaap in 1685 besoek het en weer in 1714, weet ons die Winter Saffraan-peer het floreer. In 1855 is die boom weer beskryf, hierdie keer deur ’n Russiese besoeker.” Nel, wat die boom wat Tru-Cape geplant het, gekweek het van ’n steggie van die oorspronklike boom, sê die Winter Saffraan is ’n groterige peer met ’n relatiewe lang, slanke nek. Hoewel Van Riebeeck die boom saam met hom van Nederland af gebring het, lys rekords uit 1485 die peer as afkomstig uit Italië na Frankryk.
Tru-Cape bemark meer as 1 376 470 875 appels en pere elke jaar, gelyk aan 224 Jumbo Jets of 950 blouwalvisse. Besoek www.Tru-Cape.co.za, volg @TruCapeFruit en besoek www.Facebook.com/TruCape vir meer inligting. Die boek Apples In The Early Apples At The Cape is beskikbaar by Tru-Cape se kantore of by www.Tru-Cape.co.za teen R250 per eksemplaar, afleweringskoste uitgesluit.
Belange verklaar: Ek is betrokke by die bekendstelling van Parmalat se nuwe reeks roomkase. Dis ‘n produk wat ek in my persoonlike hoedanigheid ook aanbeveel.