Ek’t my hart verloor op ‘n koek. Dit was liefde met die eerste oogopslag. ‘n Koek met stingeltjies, aards en ongekunsteld, sonder bollings versiersuiker en marsepeinrose. Dis eintlik maar ‘n ‘pound cake’ – niks eksoties, klam en neuterig, dramaties en dubbel-gelaag nie.
Die koekboeke is vol van klassieke koeke wat almal by tye aan die bak gehad het. Ek het nooit die Swartwoudkoek-craze deurgemaak nie, ook nie die Sachertorte, die Hummingbird-koek, die St Honore of die Battenburgkoek-perd opgesaal nie. Ja wel, ons het almal wortelkoeke gebak, kaaskoeke, poppiesaadkoeke, koeke gemaak van lemoene wat eers vir ure kook en dan verpulp word; olyfoliekoeke; Rooi Fluweelkoeke…
Nou’s daar ‘n koek met stingels wat ek vermoed die koekbak-kringe gaan laat gons. En nee, dit kom nie uit Frankyk uit nie. Dis ook nie iets wat Nigella pronkbekkie gebak het nie. Geen bekende televisiesjef sit agter die aanhang nie. Dis ‘n hier-onbekende Amsterdammer, Yvette van Boven, wat die koek op die ‘map’ gesit het vandat dit op die voorblad van haar boek Homemade Winter verskyn. My nuuskierigheid oor die Hollandse kostoneel het my laat internet-paaie kruis met haar, haar koek en haar boek.
Ek voorspel almal wat dit sien sal dit wil dit bak. Ek wou. Ek weet jy sal ook wil.
Die kardomom-bedwelmde koek word in ‘n broodpan gebak met gestoofde pere wat stingel en al in die deeg gedruk word. Oor die klaar koek word gesmelte witsjokolade gedrup. Wanneer jy die koek in dik skywe sny maak peersnytjie na peersnytjie sy gestileerde verskyning. Dit word bedien met speserye-wynstroop waarin die pere hulle warm bad gevat het.
Smaak die koek so merkwaardig as wat dit lyk? Die antwoord is ja en nee. Net soos soos met ‘n Oscar-benoemde fliek jaag die hype mens se verwagtinge ver verby ‘n realistiese perk.
Sal ek dit weer maak? Ja, beslis. (ek het al drie gebak)
Sal ek dit my eie maak deur rond te speel met ander elemente? Nee, wat – dis perfek soos dit is.
Is die wit sjokolade bolaag nodig? (Die eerste keer het ek dit uitgelos). Op die oog af lyk dit na oordadigheid, maar ja. Die wit sjokoladelagie bring oemf aan die delikate pere.
Tyd sal wel leer of die peerkoek met kardomom en wit sjokolade (sy amptelike titel) in die geskiedenisboeke van bak en brou opgeneem gaan word; en of dit ‘n vlietende vlam in die pan is.
RESEP: PEERKOEK MET STINGELS
Daar’s sekerlik niks nuuts onder die son nie; en in alle waarskynlikheid word so ‘n koek al jare deur tannies en kranige bakmanne gemaak waar pere volop was. Maar laat ons nie die eer van Yvette en haar trefferkoek wegvat nie. Iewers in ‘n restaurantjie langs ‘n grag in Amsterdam het sy die koek ‘n wedergeboorte gegee, moontlik haar stempel daarop afgedruk.

Die bestanddele gee klaar die geheim weg! die klaar koek word met die speserye-wynsous bedien waarin die pere gekook het.
Bestanddele vir Pere
3 medium ferm pere met stingels aan, geskil
1 bottel (750 ml) droë witwyn
1 ¼ koppie suiker
4 naeltjies
3 steranys
8 kardomom peule
2 kaneelstokkies
Metode
Posjeer eers die pere so:
Kombineer 1 bottel wit wyn, suiker, naeltjies, steranys, kardomompeule, kaneelstokke en ferm geskilde pere nog met hul stingel aan in kastrol en posjeer die pere saggies vir 30 minute. Die pere moet sag, maar nie pap gekook wees nie. Haal die pere uit en laat afkoel.
Voeg 2 koppies water by die stroop en kook af tot dit ‘n ligte stroop vorm.
Bestanddele vir die koek
200g botter
200g/250 ml suiker
4 eiers
200g / 325 ml bruismeel
15 ml fyn kardomom of kaneel
Knippie sout
100 g wit sjokolade, opgekap
Maak nou die koek so:
Voorverhit die oond tot 175°C.
Smeer ‘n 9 x 5 duim broodpan, voer uit met bakpapier en smeer die papier.
In ‘n groot mengbak, klop botter en suiker tot lig en romerig. Klits eiers een vir een by, klits deeglik voor die volgende een bygevoeg word.
In ‘n kleiner bakkie meng bruismeel, fyn kardomom (of fyn kaneel) en knippie sout. Sif dit oor die bottermengsel en vou in. Gooi beslag in die pan, druk die pere met stingelkant na bo in die deeg. Bak 40 minute of tot toetspen skoon uitkom. Haal uit die oond, laat ‘n rukkie in die pan staan voor dit versigtig uitgekeer word. Laat afkoel.
Intussen, smelt die sjokolade in ‘n dubbelkoker, drup oor die koek en laat effe afkoel. Bedien snye met die peerstroop.

Roxy Laker, my kollega is ‘n uitstekende fotograaf en lekker eter, maar nie juis lief om self te bak en brou nie, behalwe met die peerkoek – hier help vou sy die meel in die eier/suiker/botter mengsel in.
Klets op twitter saam met my, Errieda du Toit, by @huiskok of skakel in by RSG Vrydagoggende net na 9:15 vm wanneer ek en my kosmaat Francois Ferreira op Huiskok Glanskok praat.
Dit was n heerlike koek. Ek kry net nooit wit sjokolade ordentlik gesmelt nie. Het Creme Fraiche gebruik en dit was nogal lekker , effens suur saam met die baie soet.
Neretha – witsjokolade is moeiliker om te smelt en dit kan maklik brand en klonterig raak. Moenie dit in die mikrogolf smelt nie, maar oor ‘n dubbelkoker oor baie sag-kokende water. Haal dit ook af voor al die sjokoladestukkies gesmelt het en roer dan net goed deur.
Die suiker word nie genoem in die metode-gedeelte van die peer posjering nie. moet dit nie vergeet nie. Ek het dit gemaak en dis heerlik – moenie skimp met die sjokolade nie posjeer ekstra pere om saam met die stroop en die koek as nagereg te bedien.
Hi Jeanne, dankie! Dis reg – die pere word in die suikerstroop posjeer. Ek posjeer ook altyd ‘n paar ekstra pere vir later. Ek het nog stroop oor waarin ek kwepers gestowe het en gooi dit by die peerstroop as ek dit begin afkook. Dan moet mens net nie te veel kook nie, anders raak die stroop soos kweperjellie!
Net mooi pragtig!! Kan net dink hoe wonderlik dit smaak…
ek het so pas vir my yvette van boven se boeke bestel (die hollandse weergawe) – hoe wonderlik is dit nie dat julle haar resepte kook by die huis nie. sy is ook nog onbekend hier in Glasgow.
ek volg haar al n ruk. sy is n interessante vrou.
Hoe heerlik dat ons kan kos saamgestel met jou in Glasgow en ek in Welgemoed, Belville. Ja, Yvette ‘intrigue’ my behoorlik.
Ek MOET die koek bak – dit is my tipe koek – over-the-top-stingels-bo-uit-koek – love it en dankie vir die kennismaking met Yvette van Boven.
Dis lekker om weer inspirasie in ander oorde te kry. Met respek, hoeveel Nigella-koeke kan mens nou bak!
Iets wat ek defnitief moet probeer! Die naweek nog.
Neem ‘n foto!
kan ek n alternatief gebruik vir die wyn?
Sameera, jy kan definitief die wyn vervang met water of helder druiwesap. Voeg net ‘n bietjie suurlemoensap by die stroop.