Pimperneut en amandel jogurtkoek met roosblare, witsjokolade- en kardomom-versiersel. S

8 Feb

stop shot jogurt koek mooiste RESIZE

Ek dood oor ‘n koek met vars rose. Om roosblare op ‘n eetding te gebruik moet jy weet waar jou blare vandaan kom; dat daar nie giwwe op gesprei is nie; dat dit met liefde versorg is, anders kom steek ‘n doring jou.

Toe ek onlangs in my ma se tuintjie staan en sien hoe haar rose onder haar hand gedy, het ek met nuwe ywer gesoek na ‘n koekresep wat haar rose waardig is. Die dag was die rooi rose op hul mooiste, maar dit was ‘n pienke wat my oog gevang het: donkerpienk om die randjie wat na roospienk en uiteindelik tot ‘n gelerigheid versag. Moenie my die naam vra nie; ek is sleg met sulke goed, maar my ma sal weet.

Ek kon uiteindelik my vintage-breekgoed uithaal vir 'n koek wat perfek daarby pas, alhoewel ek het neet 4 kleinbordjies, 4 pierings en 3 koppies!

Ek kon uiteindelik my vintage-breekgoed uithaal vir ‘n koek wat perfek daarby pas, alhoewel ek het net 4 kleinbordjies, 4 pierings en 3 koppies!

My soektog het my eers geneem na die kookboek vol Persiese resepte Pomegranates and Roses. Dit het die geur van belofte in sy titel gedra, maar naas ‘n wonderlike resep vir morabayeh goleh sorkh (roosblaar konfyt); kwartels gestop met roosblare en verskeie resepte vir geregte met rooswater, het dit nie ‘n koek vir die pienk roosblare opgelewer nie. Die reis deur Ariana Bundy se boek het my wel deur ‘n wandeling geneem deur ‘n Persiese roostuin en die spesiale verhouding wat Iranese met rose het – van hul kuns tot hul kos.

Daarna het ek Silvena Rowe, my liefling skrywer oor Midde-Oosterse kos (naas Greg Malouf, Claudia Roden en Diane Henry natuurlik) se boek Purple Citrus and Sweet Perfume getakel. Weereens lieflike resepte (haar resep vir die roosblaar konfyt skryf juis pienk rose voor). Ek word vir ‘n oomblik verlei deur haar roosblaar roomys; roos- en sjampanjejellie met gekristalliseerde roosblare; okkerneut- en rooswater baklava; klein pimperneut, rooswater en heuning ma-amoul koekies. Ek oorweeg ook vir ‘n wyle om weg te beweeg van my soetlus na die verkilde ertjie- en bronskorssop met roosblaarroom op die boek se voorblad. Nee, koek moet dit wees. Iets soets vir my Valentyn.

Dis in Silvena se nuutste boek Orient Express waar ek die koek van my roosgetinte drome raakloop: pimperneut- jogurtkoek met witsjokolade en kardomom-versiersel. Dit word bedien met roosblare.

Ek herhaal: pimperneut- jogurtkoek met witsjokolade en kardomom-versiersel! Dis werklik een van die resepte wat jou verhouding met jou koekpanne verander.  Ten goede.

halfkoek mooi RESIZE

Ek het haar resep bykans woordeliks gevolg (iets wat nie in my natuur is nie want ek neuk altyd in my eie rigting en lek my wonde daarna) want met koekbak moet mens maar by die voorskrifte hou. Waar die resep 200g gemaalde pimperneute (pistachios) voorgeskryf het, het ek 100g gepelde amandels en 100g pimperneute saamgemaal. Paar redes; minder neute om af te dop; amandels is goedkoper en ek wil ook nie die koek te groen hê van die pimperneute nie.

{Waar haar resep voorskryf dat ek die pan met bakpapier moet uitvoer sal ek byvoeg dat jy dit nie self hoef te doen nie; maak soos ek en vra jou Valentyn as hy of sy goed is met meet en pas. Dis egter maklik, ek is net soms te lui.}

Alhoewel die koek net so liggies met versiersuiker bestrooi word, het ek ‘n papierdoilie nader getrek om ‘n patroon te vorm en in die sirkel van die neute en repies van die roosblare gestrooi. Ek dink die Persiërs sou daarvan hou.

Hier dan:

Die lekkerste bestanddele wat van koekbak 'n plesierigheid maak.

Die lekkerste bestanddele wat van koekbak ‘n plesierigheid maak.

PIMPERNEUT- EN AMANDEL JOGURTKOEK MET WITSJOKOLADE EN KARDOMOM VERSIERSEL

8-10 snye

Vir die koek:

200 g pimperneute, gemaal (of gebruik die helfte fyngemaalde amandels)

½ t gemaalde kardomom (ek maal die peule in ‘n koffiemaler en sif dit om net die grootste blaarstukkies te verwyder)

150 g ongesoute botter, blokkies gesny

225 g bruismeel

185 g strooisuiker

3 eiers

125 ml ongegeurde jogurt (verkieslik volroom – ek het Griekse jogurt gebruik)

Vir die versiersel:

100 g wit sjokolade, gekap

200 g roomkaas (ek verkies Simonsberg s’n vir die veerligte tekstuur wat makliker is om geurmiddels deur te roer)

½ t rooswater

1 eetlepel versiersuiker

¼ t gemaalde kardomom

Roosblare van 1 of 2 klein eetbare rose, afgewas

1 eetlepel versiersuiker vir oorstrooi

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm koekpan en voer uit met bakpapier (bodem en kante).

Gebruik ‘n voedselverwerker en meng die gemaalde neute, kardomom, botter, meel en suiker tot dit die tekstuur van broodkrummels het. Gooi dit uit in ‘n mengbak en meng met die eiers en jogurt. Gooi die mengsel in die voorbereide koekpan en bak 1 uur. Bedek die koek halfpad deur die bakproses met tinfoelie. Laat afkoel.

Versiersel:

Smelt die sjokolade in ‘n bak oor ‘n kastrol met lig-kokende water en laat afkoel. In ‘n aparte bak meng die roomkaas met die rooswater en voeg die afgekoelde sjokolade by. Sif die versiersuiker by en sprinkel die kardomom oor. Meng goed tot jy ‘n gladde room het. Bedien die koek met skeppies van die versiersel, strooi roosblare oor en sif versiersuiker oor.

OPGEDRA AAN MY VALENTYN

My Valentyn

My Valentyn, in die boekwinkel die dag wat ons Silvena Rowe se Orient Express gekoop het.

 *Dankie vir die inloer. Kyk uit vir my boek TUISTAFEL en my weeklikse rubriek in Die Burger Versnit op Woensdae.    Twiet saam @huiskok of lees my kosstories in Sarie Kos, Die Burger en Beeld. 

Foto’s: Ian en Errieda Du Toit

4 Responses to “Pimperneut en amandel jogurtkoek met roosblare, witsjokolade- en kardomom-versiersel. S”

  1. mariza wessels February 11, 2013 at 2:32 pm #

    Errieda, jy is n wonderwerk! Wil jy nie al hierdie wyshede in boekvorm saamstel nie sodat ek in die koelte van my tuin alles oor en oor kan lees en lees om weer opnuut besiel te word met jou talente. Ek is maar een van jou talle bewonderaars!

    • huiskok February 11, 2013 at 10:58 pm #

      Hi Mariza, jy moedig my nou so aan! Het jy al die boek Huiskok Glanskok onder oë gehad?
      Groete, Errieda

  2. nina February 8, 2013 at 5:42 am #

    Ek het dit gevind: Wat is beter terapie as koekbak vir my? Die antwoord is eenvoudig maklik….. om te lees hoe mooi jy koekbak!! Dankie Errieda!

    • huiskok February 8, 2013 at 7:41 am #

      Ninatjie, dis die mooiste ding Om te hoor! Jy moedig my nou aan, want bak is nie my sterk punt nie, maar ek Pak dit met my kreatiewe lus op overdrive.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: