Tag Archives: kerrie

Oos Wes Tuis Bes Curry Bunny vetkoek

30 Aug

Vetkoekdag 2017 is verby.  Nuwe horisonne is verken, nuwe herinneringe gemaak en brûe oorgesteek van die bekende na die onverkende.

IMG_9984

Iewers tussen die smaakavontuur het ek begin verlang na die bekende bakens.

Vetkoek met kerriemaalvleis is ‘n huis-toe-kom-smaak, ‘n herkoms-kos wat my herinner waar ek hoort. Dit hoef nie bekend gestel of verduidelik te word nie, dit ís net.IMG_9946

Ek deel dit met my vriende ver van hier, Karien Buter in Glasgow, Elmarie Kemp in Kanada, Fritz van Rensburg in Jeddah, Cariema Isaacs in Dubai, Alice Levy in die VSA en Hillé Kriek in Brittanje. Kerriemince-vetkoek wag vir julle aan my Tuistafel.

VETKOEK CURRY BUNNY

Ek sê dit nie ligtelik nie. Dis dié béste vetkoekdeeg óóit. Ek maak nóóit weer iets anders nie. Dankie aan Ciska Rossouw vir die resep.

IMG_9892Maak 15 vetkoeke

1kg broodmeel
20g sout
20g kitsgis
50g suiker
50g sagte botter
700g louwarm water (‘n slapper deeg gee ‘n pofferiger vetkoek)
Olie vir  diepvetbraai, soos Olive Pride se gemengde saad- en ekstra suiwer olyfolie

Sif droë bestanddele saam in ‘n groot mengbak, voeg die water by en knie tot ‘n sagte deeg (Ek gebruik die staanmenger se deeghak). Knie sagte botter in. Ek het dit nog 8 minute geknie tot dit wegtrek van die kante. Dis ‘n slap deeg. Plaas in ‘n geoliede bak, smeer bietjie olie bo-oor en bedek lossies met kleefplastiek.

IMG_9886Vou toe in knus kombers en laat rys sowat 30 minute op ‘n warm plek. Knie af en laat weer rys.

Giet olie in groot kastrol, verhit oor matige hitte tot 170C, of toets met ‘n stukkie deeg wat vinnig moet begin dryf en goudbruin raak.

Terwyl die olie verhit, strooi oppervlakte met meel. Knyp nartjie-grootste stukke deeg af (smeer olie aan jou hande of gebruik meel). Vorm in bolletjies of langwerpig. Dompig in die warm olie, braai sowat 3-4 minute aan ‘n kant. Skep uit met gaatjieslepel op kombuispapier.IMG_9954

Laat effe afkoel, sny deur en vul met kerriemaalvleis of waarvoor jy lus is.

IMG_9972KERRIEMAALVLEIS

Kerriemaalvleis het eintlik nie ‘n resep nodig nie, Pas my manier aan  met dit wat jou laat tuis voel.
Genoeg vir 8 vetkoeke

500 g maalvleis
30 ml olie
15 ml kerriepoeier (matig of sterk)
Sout, peper
1 brandrissie
2 uie, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 wortels, geskik, in blokkies
2 aartappels, geskil en in blokkies gesny.
Worcestersous
250 ml aftreksel of water
250 ml bevrore ertjies
30 ml blatjang

Verhit die olie, krummel die maalvleis daarin, braai sonder om te roer, sodat dit nie water trek nie en mooi verbruin. Voeg kerrie, sout en peper by, roer en braai nog sowat 3 min. Voeg uie en rissie by, braai 4 minute, roer dan knoffel, wortels en aartappel by.
Voeg die aftreksel of water by en geur na smaak met Worcestersous. Prut sowat 20 minute, voeg ertjies en blatjang by en prut nog ‘n bietjie. Vul vloeistof aan soos nodig.

 

Foto’s: Ian Du Toit

#Vetkoekday #TouchofPride

Roti is die beste wrap

4 Mar

   Almal wrap deesdae.  Maar hoekom taai tortillas en bleeksiel platbrode koop as ons eerder in ons land se kultuurspens kan gaan loer vir die lekkerste vou- en afskeurbrode – dink nou maar aan roti.

Goudgespikkelde rotis met dhal, 'n lensiegereg met geurige speserye, vars gemmer en koljander.

Goudgespikkelde rotis met dhal, ‘n lensiegereg met geurige speserye, vars gemmer en koljander.

Roti is ‘n geliefde gereg in ons land se koskultuur, met sy wortels  diep in Indiese en Maleise kookkuns. Nie net is roti ‘n goeie kosvriend van kerriegeregte en bredies nie, dis ‘n uiters cool bymekaarkomplek vir ‘n verskeidenheid kosstyle.

Dit was ‘n heerlike ontdekking dat rotis maklik is om te maak, en alhoewel ek aan die begin van my roti-reis is, is my eerste beskeie baksel verslind (tereg, die eters was nie kenners van die erfkosikoon nie). Ek is vuur en vlam om die ware roti te verken in Bo-Kaap kombuise. My Indiese kosvriendin Ishay Govender kan ook ‘n versoek kry vir ‘n  meesterklas in die Durban rotis van haar ouerhuis (handmade breads, soos haar pa dit genoem het. .

Intussen deel ek graag hierdie resep wat ‘n ‘rite of passage’ vir my was. Dit bring baie spesiale herinneringe terug van ‘n vakansie op Pangkor, ‘n idilliese eiland aan die Weskus van Maleisië.  Om duisende myle van die huis af roti te eet wat my so na die Kaap geproe het, het my baie tuis laat voel. (Dit was in die tyd van die Y2K-scare tydens die Millenium-frenzy.)collage van roti se konsertina proses en spiraalHuiskok se Maandagaand roti

Ek het Maandagaand die roti saam met ‘n lensiegereg  ‘dhal’  voorgesit.  Met al die heerlike speserygeure en die vlokkige warm roti het ons die vleis nie eers gemis nie.  ‘n Bakkie volroom jogurt, komkommer-sambal en fyngekerfde rooi uie is goeie byspelers.

Bestanddele

  • 500 ml broodmeel  (ek het  2/3 witbroodmeel gebruik en 1/3 volgraanmeel gebruik)
  • 5 ml sout of na smaak
  • Water, net genoeg om ‘n deeg te vorm (sowat 3/4 koppie)
  • Sowat 30 ml olie of gesmelte botter of ghee* om oor die deeg te smeer + vir panbraai

(Opsioneel:  speserymengsel van jou keuse , fyn komyn;  fyn koljander, masala. Selfs sumac vir ‘n Midde-Oosterse  smakie)

Metode

1. Die deeg-aanmaak: Voeg die  sout by die meel in ‘n wye mengbak met net genoeg  water om ‘n gladde deeg te vorm:  nie te slap en nie te styf nie en nie klewerig nie. Bedek die mengbak met ‘n skoon klam doek doek en laat 30 minute staan.

2. Verdeel deeg in 3 tot 6 bolletjies afhangende hoe groot jy die rotis wil hê.  Plaas die bolletjies terug in die bak (jy kan hulle met olie smeer as jy wil, en bedek die bak sodat die bolletjies nie uitdroog nie.

3. Uitrol: Volg die volgende proses met elke bolletjie :-

Rol die bolletjie deeg op ‘n meelbestrooide oppervlakte dun uit om ‘n sirkel te vorm.

Skilder olie oor en besprinkel met ‘n bietjie meel. (sien opsioneel: ek het op hierdie punt fyn komyn ook oorgesprinkel vir  my eie stempel).

4. Plooi dit:  Vou nou die deegsirkel van die een kant na die anderkant in smal konsertinaplooie op.  (hoe meer plooie, hoe meer vlokkerig sal die roti wees). Nou het jy ‘n lang geplooide deegwors. Swaai die deegwors liggies om dit te strek.

5. Plaas dit op ‘n meelbestrooide oppervlak en rol dit in ‘n spiraal op net soos ‘n stuk boerewors.  Vou die oorblywende punt  goed in en druk die spiraal effe plat met jou hand.

6. Rol nou die deegspiraal  met ‘n ligte hand uit – sowat 6 mm.  Die spiraalstrepe moet steeds  steeds sigbaar is. Strooi liggies met meel indien nodig vir die uitrol. Herhaal met die ander bolletjies.

7. Nou vir die gaarmaak: tradisioneel word ‘n  roosterplaat (‘tava’) gebruik –  ‘n groot swaarboompan werk ook goed.  Verhit  pan oor matige hitte en plaas die uitgerolde roti daarop. Sodra dit begin blasies maak, keer dit om en braai die anderkant. Skilder die gebakte kant met olie (of botter of ghee) – draai nog ‘n keer om en wanneer die kolle mooi bruin sproete aan beide kant gemaak het is dit reg.  Wenk: Moet liefs nie meer as 3 keer omdraai nie, dit kan die roti swaar en droog maak).

8. Haal uit die pan en frommel dit liggies om die rante met die hande, dit laat die lagies meer afskilfer.  Herhaal die proses met al die bolletjies en stapel in lae opmekaar.

My eerste paar rotis - die pan was te warm, maar kyk net daai spiraallagies van die konsertinaproses en bottersmeerdery! As dit warm oor 'n omgekeerde bak gesit word 'flair' die plooie mooi uit. Spog-triek voor ek nog enigsins roti-maak onder die knie het!

My eerste paar rotis – die pan was te warm, maar kyk net daai spiraallagies van die konsertinaproses en bottersmeerdery! As dit warm oor ‘n omgekeerde bak gesit word ‘flair’ die plooie mooi uit. Spog-triek voor ek nog enigsins roti-maak onder die knie het!

Op my boekrak:

  • Alhoewel nie ‘n vereiste is nie, word ghee  allerweë geprys vir vlok en briljansie van ‘n meesterlike roti. Koop dit of maak dit self:  Braai  botter tot helder, skep voortdurend die skuim af. Gooi die uitgebraaide botter deur ‘n moeseliendoek. Sy laat dit so maklik klink, die Mevrou Rood. (Bron: Betsie Rood, Maleier Kookkuns, Tafelberg 1977)

    Kleure, geure, spirale, rotis en nuwe kombuis-ontdekkings kicker die blou Maandag op - sonder 'n greintjie vleis.

    Kleure, geure, spirale, rotis en nuwe kombuis-ontdekkings kicker die blou Maandag op – sonder ‘n greintjie vleis.

  • In Nazeeha Abrahams se boek “Meer as Samoesas’ gee sy ‘n alternatief: ‘In plaas van die ghee, verhit 125 ml olie en 250 g botter oor matige hitte tot die botter smelt is. Laat staan tot koel en giet in ‘n fles met ‘n styfpassende deksel. Die mengsel sal tot ‘n maand hou by kamertemperatuur.’
  • In die pragboek ‘Bo-Kaap Kitchen’, uitgegee deur Quivertree, word ‘n resep vir rotis verskaf wat gemaak word met 2 koppies meel, 1 teelepel sout, ½ teelepel bakpoeier, 1 koppie warm water, 125g sagte botter en kookolie.Die deeg word in ‘n driehoek gerol, met botter gesmeer en van dielangste kant af opgerol soos ‘n wors. Dit word in 4cm    stukke gesny, elke stuk word stadig gerek, en dan word elke stuk lossies geknoop. Na dit ‘n uur gerus word dit uitgerol dat dit lyk soos pannekoek. Dit word in ‘n warm pan met ‘n bietjie olie gebraai tot goud en vlokkerig. Dit word dan in die middel gefrommel soos ‘n stuk papier. Bedien warm.
  • Ek het ‘Maleier-Kookkuns’ van Betsie Rood gekoop ‘n week na ons troue – Maart 1984. Hier is ons in Maart 2015 – en die boek is weer op my bedkassie as leesmateriaal saam met ‘n verskeidenheid ander boeke soos Cass Abrahams se ikoniese werk. Wat ek leer oor roti is die tradisionele gebruik van malai, die dik romerigheid wat op gekookte melk vorm.  ‘n Resep vir Indiese roti van Mev Sharifa Najaar gebruik 25 ml van die malai en meng dit saam met 200ml kookwater by 550 ml meelblom, verder word 12,5 ml ghee en ‘n knypie sout vir die sagte deeg gebruik.  Dit word ook dun uitgerol soos ‘n pannekoek, gesmeer met ghee, met meel gesprinkel en in die helfte gevou. Die boonste gedeelte word weer gesmeer, meel gesprinkel en weer gevou. Dan word dit weer uitgerol en in die pan gerooster … en weer met botter gesmeer – tot ligbruin gespikkel. Hierdie boek is in 1977 geskryf om die tipies Kaaps-Maleise geregte op te teken sodat die kookerfenis behoue kan bly.  Die hoofstuk oor Roti bevat 4 verskillende resepte vir roti, onder meer Indiese roti en Maleise roti.

In die voorwoord skryf Mev Rood van ‘n ouer Maleiervrou wat gekla het: “dis so jammer dat die jonger geslag hulle al meer op die blik en die bliksnyer verlaat. “

  • My kosvriendin Ishay Govender wat in Durban grootgeword het, skryf op haar blog Food & the Fabulous van haar wedervaringe om haar eie horisonne te verken met ‘n roti-resep anders as haar ma s’n. Lees dit hier:  http://www.foodandthefabulous.com/recipes/mothers-meat-free-thursday/
  • In ‘India’s Vegetable Cooking – a regional guide’, skryf Monisha Bharadwaj dat roti – ook chapatti genoem – , die mees algemene brood in Indië is. Meisies so jonk as 7 begin in die kombuis hul ma’s te help deur rotis te maak.

“Rotis are flaky and bland and makes a wonderful accompaniment to all the spice and herb flavours of the main dish. The art of making rotis is in getting the dough right and in the rolling out of perfectly round discs that are easy to roast.”

Wrap 'n slag met tuisgemaakte roti.

Wrap ‘n slag met tuisgemaakte roti.

Lekker wrap op ons erfenis-manier.

Kedgeree, kitsery en verlang na Zanzibar

13 Aug

Doedelsakspelende troepe uit Skotland. Downton Abbey. My ma se kombuis. Britse kolonies. Die Raj se kitchiri. ‘n Speserywoud in Zanzibar en ‘n kleurvolle mark in Stonetown.  Kedgeree. Kitsery en kerrie-eiers. Kokkedoor.  Haddock. Eikehout-gerookte stokvis uit ons eie waters. Basmati-rys.

Hoe op aarde kom al hierdie inspirasies op een aand in my skottel?

Dubbeldoor van onthou: die kedgeree EN die kerrie-eiers van my ma met 'n groot skeut Zanzibar-kosreis-herinneringe. Die Ardmore kleibak met sy vissie-dekorasie is 'n verdere band met Afrika.

Dubbeldoor van onthou: die kedgeree EN die kerrie-eiers van my ma met ‘n groot skeut Zanzibar-kosreis-herinneringe. Die Ardmore kleibak met sy vissie-dekorasie is ‘n verdere band met Afrika.

Ek het onlangs ‘n lewens-veranderende kosreis na Zanzibar kon meemaak saam met twee Kokkedore, Marius Uys van Discover Zanzibar en Johnny Hamman, Kinkelkok-wenner. Van die goed wat my bybly is die vars borrie, kokosneute en al wat spesery is wat oral op die markte te sien is.  Ek het ook ‘n speserywoud besoek wat my koorsig gelaat het van opwinding. Onvermydelik sou hierdie sins-bedwelmende ervaring sy invloed op my kosmaak laat.  Vandaar dat my weergawe van kedgeree (kitsery, ook khichari of kitcherie) wat ek al vir jare maak na Zanzibar met ‘n wavrag meer smaak bedeel word.

Rys, speserye, vis. Saam maak dit 'n gereg wat my aan kinderdae laat dink.

Hier is my ‘standaard’-kedgeree voor my Discover Zanzibar-kosreis.

Die reis van kedgeree, kedjeree, kitsery tot in ons koskultuur, en tot my Ma se kombuis, is ‘n interessante een; sy ware herkoms nie sonder misterie nie. Dit word algemeen aanvaar dat die gereg in Victoriaanse tye van Indië na die Britse ontbyttafels gebring is deur kolonialiste wat terug huis toe is. Dit het vermoedelik sy wortels in khichri, ‘n gereg van speserygegeurde lensies (of boontjies) en rys wat al sedert die 13de eeu in Indië gemaak word. Hierdie oer-ouer van kitsery was sonder vis en sonder eiers. Dis die Britte wat hierdie byvoegings gemaak het.

As jy die periode-televisiereeks Downton Abbey met ‘n valkoog dopgehou het soos ek, sou jy ook die oomblik wat die kok Mrs Patmore die skottel met kedgeree vir die lakei oorhandig (om op te neem na Lord en Lady Grantham en die jong dames), as ‘n wow-moment vir die ontbytgereg beskou. Oh, so British. As ‘n ontbytgereg het dit in die era voor verkoeling baie sin gemaak. Vis en rys wat oorgebly het van die vorige aand se ete is vindingryk omskep in ‘n ontbytgereg wat – terloops – ook as ‘n goeie babalaas-kuur beskou word.

Doedelsak in die pot

Daar’s egter ‘n ander teorie dat kedgeree eintlik oorspronklik ‘n Skotse gereg is wat deur Skotse troepe Indië toe geneem is tydens die Britse Raj-era. Daar is dit kwansuis aangepas deur  Indiese kokke wat dit meer woema gegee het, want die Skotse weergawe was maar valerig. Interessant, toe ek  Kook en Geniet van SJA De Villiers se kedgeree/kitsery-resep bekyk, is dit asof die Skotte self die resep verskaf het voor hulle voet aan wal in Indië gesit het, want daar is nie  ‘n greintjie kerrie of borrie nie:  net gestoomde vis, gaar rys, bietjie botter, hardgekookte eiers en sout en peper.

‘n Beskrywing uit die Woordeboek van die Afrikaanse taal lui: “Gereg van gekookte vis en rys dikw. oorskietvis en -rys, gebind met eiers, gew. piramidevormig opgestapel i/d skottel en opgedien met blatjangsous of ander geurmiddels.”  Dit verklap nie die ware sjarme van die ‘koloniaal-Victoriaanse’  lig-gekerriede weergawe nie., alhoewel die piramidevorm klink asof dit bedien kon word in Agatha Christie se Death on the Nile!

Die kleure en parfuum van borrie, Cartwright se kerriepoeier, gemmer en mosterdsade wat opwalm uit ‘n keurige kedgeree is genoeg om as ontbytgereg die dag op baie goeie voet te begin. As aandkos verdien dit ook ‘high praise, old chap.”

Kedgeree vir die Queen en die First Lady 

Gekerriede kedgeree loop ook sy pad met ons Kaapse kookkuns.  ‘n Knipsel uit die Pittsburgh Press (1977) verskaf ‘n  resep vir kreef kedgeree en beskryf dit as ‘A South African Kedgeree to put before your own king or queen”.  Gemaak met rys, uie, bietjie room, kerriepoeier en hardgekookte eier, is daar ook kreefstert bygevoeg. Die artikel verduidelik die Kaap se bande met die VOC en hoe speseryhandelaars Oos-Indiese resepte na die Kaap gebring het – en dat die Kapenaars kedgeree gemaak het met enige vis of seekos wat beskikbaar was.  Waar in Merry Olde England kedgeree dikwels met oorskietvis gemaak is, het ons hier aan die Kaap kreef en snoek ingespan, wat in die vroeër jare beide volop was.  Die gewildheid van rys en vis in ons skottels word bevestig met geregte soos smoorsnoek op rys en natuurlik ook breyanis.  Dis natuurlik ook nou al allemans-kennis dat Michelle Obama met haar besoek aan die Kaap gesmul het aan kedgeree by The Kitchen in Woodstock.

Outyds raak weer sexy

Het so ‘n uit-die-mode-gereg moderne bestaansreg? Ek dink so – en selfs dat dit ‘n sexy gereg is. Die voorbereiding daarvan het my in vervoering. Daar’s die sagte prut van die vis en die vlok daarvan, met ‘n subtiele rokerigheid wat jou uidaag. Daar’s die gaarmaak van die geurige  basmatirys, die braai van die uie en die afmeet van die kerrie.  Ek geniet selfs die afdop van die eiers, terwyl ek wonder of ek dit nie dalk te kort (of te lank) gekook het nie.  Maar die lekkerste is die oomblik wat die gevlokte vis versoen word met die geurige rys – dan maak dit nie saak of ek ‘n doedelsak, God Save the Queen, Downton Abbey se temamusiek of ‘n konsertina in die agtergrond hoor nie – al wat saak maak is dat die geurige gereg  sy pad na my kombuis toe gevind het.

Hier het ek die speserye en gestoeerde uie deur die gaar rys geroer, maar maak ook soms 'n kerriesous vir die eiers en skep dit bo-op vir 'n twee-in-een onthougereg.

Voor-Zanzibar.  Die gaar rys en gevlokte vis word ingeroer by uie wat met speserye gebraai is.

Soveel variasies

Eke huis het sy variasie – lensies kan by die rys gevoeg word, so ook sultanas. Snoek, pleks van skelvis,  is besonder lekker en eg-Kaaps.  Ek bly weg van die neon-oranje kamma-skelvis wat eintlik niks anders as  kunsmatig-gekleurde stokvis is nie. Maar vars gerookte stokvis is heerlik, soos die van Ocean Jewels in die Kaap.

Nog dinge is opsioneel – sommige kokke voeg room by kedgeree. Daar is selfs ‘Wet kedgeree” wat met witsous gemaak word.  Jy kan tamatie bysit. Pietersielie. Brandrissie. Jy kan die rys  met die vis se posjeervloeistof kook. Soms bedien ek dit met ‘n jogurt-bysousie en koljanderblare, ander kere daarsonder. Die een ding waarsonder ‘n kedgeree kaal gaan voel is die gekookte eier. Jy besluit self of jy dit in kwarte of ringe sny, dit fyn kap of deur ‘n sif druk. Jy kan selfs ewe modieus die eier loperig sag kook of posjeer.

'Kerrie-eier kedgeree'. Bak deur Ardmore Ceramics.

‘Kerrie-eier kedgeree’. Bak deur Ardmore Ceramics.

HUISKOK KEDGEREE MET ‘N KLAP VAN ZANZIBAR

Smake en kleure van my Zanzibar-trippie helder die kitsery wat ek by my ma leer maak het verder op. In Zanzibar het ek vars borrie van die plant af in ‘n speserywoud kon ervaar. Dit lyk soos piepklein gemmerwortel, maar vlek anders as gemmer mens se hande goudgeel! Die vars borrie word baie in hul kookkuns gebruik, so ook klappermelk. Ek het ook grootgeword met kerrie-eiers en daarom is hierdie gereg eintlik ‘n dubbeldoor van 2 onthougeregte bekinkel. Doen moeite en rook jou eie stokvis as jy dit nie klaargerook in die hande kan kry nie. 

3 eiers

Vir rys: 2 koppies basmati rys  (Ek gebruik Spekko); 2 kardomompeule; 5 ml borrie; 15 ml botter; 40 ml sultanas

600g vis – gerookte, ongekleurde stokvis of gerookte snoek ook gebruik

Genoeg melk of water om vis te kan bedek

1 ui, fyngekap

Botter of olie vir braai

25 ml matige kerriepoeier, soos Cartwrights of Raja

1 t vars gerasperde gemmer

5 ml fyn komyn

10 ml mosterdsaad

80 ml klapperroom of 125 ml klappermelk

Skil en sap van 1 suurlemoen of lemmetjie

Garnering:  2 tamaties, pitte verwyder en fyngekap; Vars koljander (of pietersielie indien verkies), gekap

Metode:

  • Kook die eiers vir 8 minute, koel dit af en laat eenkant.
  • Kook die vis liggies in genoeg melk of water om dit te bedek. Sowat 8 minute. Laat afkoel en vlok die vis. Verwyder vel en grate.
  • Kook die rys in soutwater waarby borrie, kardomom en botter gevoeg is.
  • In ‘n groot braaipan, braai die uie en gemmer vir sowat 5 minute tot dit begin verbruin en voeg dan die kerriepoeier, komyn en mosterdsade sade  by.  Kook sowat 2 minute. Voe die klapperroom by, die orige melk waarin die vis geprut het, skil en sap van die suurlemoen en prut tot dit verdik, sowat 7 minute.  Skep sous uit.
  • Skil eiers en sny in kwarte. Gooi die kerriesous oor die eiers.
  • Sit dit rys, visvlokkies en fyngekapte tamatie in die pan, en roer saggies deur. Laat goed warm word. Skep rys met die gevlokte vis en tamatie in opskepskottel, rangskik eiers in kerriesous bo-op. Rond of met vars koljander. Bedien warm.

    Kos-ervaring. Kook op die strand. Zanzibar.

    Kos-ervaring. Kook op die strand. Zanzibar.

Marius Uys bied pasgemaakte pakette vir kosentoesiaste na Zanzibar. Besoek Discover Zanzibar by www.discoverzanzibar.co.za 

Julie van Ocean Jewels

Julie van Ocean Jewels

  • ‘n Spesiale dankie aan Julie Carter van Ocean Jewels Fresh Fish & Seafood www.oceanjewels.co.za vir die gerookte stokvismootjies. My kosvriende het my van haar vertel en dit was so ‘n plesier om haar gister te kon ontmoet. Julie is toegewyd tot die varsste seekos en volhoubare praktyke. Hulle lewer ook af in die Kaapse skiereiland. Kyk uit vir die Ocean Jewels Deli in Woodstock en by die Neighbourgoods Market. Kontak Julie by 083 582 0829 of oceanjewelsfish@gmail.com

 

 

 

 

Lamskerrie uit ‘n Karoo Kombuis – van een huiskok aan ‘n ander

6 Aug
Sydda en haar ma het deur 'n resep deur smake en geure ook deel van my kombuis geword.

Sydda en haar ma het met hul familieresep deel van my kombuis geword.

Die Karoo is ‘n mitiese plek. Vir baie mense is dit ‘n groot uitspansel van ‘n plat aarde, hier en daar ‘n koppie en verder net Karoobossies waardeur gereis  (gejaag) word van Johannesburg na Kaapstad. Jy stop vir petrol by een van die groot vulstasies, eet ‘n Wimpy-ontbyt of ‘n wegneem-garagepastei.

Reisigers wat oorslaap – iewers op Colesberg of Beaufort-West dalk – ervaar meer van die mense, die natuurskoon en die kos. Vir ander is die Groot Karoo hul tuiste. Dis ‘n heimat met ‘n droë, dors hart. Dis ‘n streek waar mense van oral hul vingerafdrukke laat op die kos en gebruike: nasate van die inheemse Khoisan, Xhosamense, Nederlanders, Britse en Franse Setlaars, slawe uit die Ooste, Grieke, Portugese, Indiërs en Jode het oor ‘n tydperk van 200 jaar hier ‘n lewe moes uitkalwe. Die een het by die ander geleer: van boer tot werker, boervrou tot bediende, bediende tot boervrou. Dis hierdie uitruiling van kos en gebruike tussen kultuurgroepe wat Sydda Essop op ‘n maande-lange ontdekkingsreis geneem het deur die streek waar sy grootgeword het. Van Britstown tot Beaufort-Wes. Van Carnavon tot Graaff-Reinet, Van Leeu-Gamka tot Loxton. Sutherland. Victoria-Wes. Hopetown. Klaarstroom.

“Kos bind ons. Dit is iets wat ons saamsnoer en aan die res van Afrika blootstel, iets wat ons toelaat om dit wat ons die beste ken uit te leef: Ubuntu”

So skryf Sydda in Karoo Kombuis, die boek waarin die onthoukos en onvertelde verhale uit die hartland aangeteken is. Wat sy ons deur die boek gee is nie soseer ‘n resepteboek as ‘n meelewende kultuurdokument nie. Ons leer ken vir Lena Oktober en haar gebakte rissel (ystervarkvel), kerriesult en rooikat. Anna Vermeulen van Victoria-Wes se outydse soetkoekies, karringmelkbeskuit en turksvystroop. Van ander se patattert, vaalvleissop en askoek, kaiings en Karoo-oesters, konynbredie en wildspastei. Francina se kombotiebier en vaalafval met dombeling (soortgelyk aan stoomkluitjies) is ook aangeteken. Ook Karel Benade van Graaff-Reinet se kambrokonfyt.

My vertlolking van Karoo-lamskerrie. Foto: Ian du Toit

My vertolking van Amina Essop van Beaufort-Wes se Karoo-lamskerrie. Foto: Ian du Toit

Ons leer ook van kneidlac (matsobolletjies) en hoendersop van Debbie Anstey van die Nelspoort distrik; en Griekse oondgeroosterde lamsboud van Elpida Lakovidis van Beaufort-Wes. Ook Horiay Mohamed se anjera (Somaliese pannekoek) en Somaliese lamslewer.

Die mededeelsaamheid van die gees van die Karoo en sy mense word veral gesien in hoe maklik mense met mekaar resepte deel en uitruil. Sydda laat ons besef dat as ‘n gemeenskaplike kosidentiteit kan ontwikkel in ‘n gebied soos die Karoo, ander verskille en skeidings ook oorbrug kan word. 

Ek het Sydda die eerste keer ontmoet by die Proe Mosselbaai-fees toe ek met haar ‘n ‘Ontmoet die Skrywer’-gespreksvoering gelei het. Haar sagte vertelling kon nie haar hartstog verdoesel vir die hartsland waar sy grootgeword het nie. Haar opofferings om haar navorsing moontlik te maak is my inspirasie om ook iets van waarde te doen om dinge aan te teken voor dit verlore gaan.

Toe ek die kans kry om Sydda weer te sien, en haar na die RSG-ateljee te nooi vir ‘n kospraatjie vir my rubriek ‘Die Kos wat ons Ken’, het ek weer haar boek Karoo Kombuis deurgelees. Die resep waarop ek besluit het om te maak as een wat Sydda na aan die hart sal lê: haar ma Amina Essop se Karoo-lamskerrie. Haar ma was ‘n 18-jarige bruid uit ‘n klein dorpie in Gujarat, Indië, toe sy met ‘n stoomskip in Durban aangekom het, die trein na Beaufort-Wes geneem het en nuwe wortels moes skiet. Hier het sy en haar man Solly hul entrepeneursgees uitgeleef en deur die realiteite van die politieke bestel ‘n lewe kon maak.

My lamskerrie volgens Amina Essop se aanwysings. Die eiervrug-jogurt is nie so mooi wit soos hare nie, want ek het nagelaat om die eiervrug te skil voor ek dit gaargemaak het.

My lamskerrie volgens Amina Essop se aanwysings. Die eiervrug-jogurt is nie so mooi wit soos hare nie, want ek het nagelaat om die eiervrug te skil voor ek dit gaargemaak het.

Dit was vir my ‘n voorreg om Amina se resep woord vir woord, spesery vir speserye te volg – om lamskerrie deur ‘n ander oog te ervaar. Die ooreenkomste tussen my ma se Kaapse kerrie was daar – die verskille ook.  Ma verbruin haar vleis; Amina nie. Ma gebruik matige Raja kerriepoeier,  borrie, ‘n paar naeltjies en lourierblare. Geelwortel ook. Vir  ‘n soetsurigheidjie bietjie asyn, ‘n paar appelkosies of appelkoosblatjang. Nooit vars koljander of brandrissie nie. Amina span meer speserye in om ‘n sluier van sagte geure oor die Kerrie te trek. Ek leer by haar om die ryp tamaties te rasper en later eers in die kookproses by te gooi tot dit weggekook is en die sous se borriegeel na warm bruin verander. Ek leer ook om ‘n skeppie garam masala by te gooi sowat 10 minute voor die laaste prut: Dit laat net weer die geure regop sit.

Die eindresultaat is een van die lekkerste kerries wat ek nog gemaak het; die bekendheid van my ma se subtiele Kerrie en saggekookte aartappeltjies, en die sjarme van Amina se speserye-hand. Dis nou my kerrie, en Sydda se kerrie, en Amina se kerrie. En as jy dit maak, raak dit ook jou kerrie. Maak gerus die eiervrug-jogurt en die komkommerslaai daarby.

KAROOLAMSKERRIE – Syda Essop

Onthou dis ‘n kuns om Kerrie te   maak – moenie van die stoof wegbeweeg nie! Hierdie Kerrie is baie lekker met komkommerslaai en fyngemaakte eiervrug-en-joghurt. Bron: Karoo Kombuis, uitgegee deur Quivertree.

Bestanddele

5 E sonneblomolie

2 uie, in dun ringe gesny

1 t sout

1 t vars knoffel, fyngemaak

1 t vars gemmerwortel, fyngekap

1 t vars of droë rooirissies (na smaak)

½ t borrie

1½ t fyn koljander

1 t fyn komyn

1 kg vars lamsvleis, deeglik afgewas in koue water (verkieslik ‘n mengsel van rib, dikrib en boudtjops met lekker murgbene)

3 K kookwater

2 rooiryp tamaties, fyngerasper

6 klein aartappels (of meer)

½ t Garam Masala

3 E vars koljanderblare. Fyngekap

Metode

Verhit olie in ‘n groot kastrol en braai die ui tot goudbruin. Gooi die sout, vars knoffel, gemmer en rissies en al die droë speserye (behalwe die garam masala) by.

Meng dit deeglik en braai die speserye vir omtrent 2 minute voor jy die vleis en een koppie water bygooi. Roer die mengsel goed, sit die deksel op en laat dit stadig prut totdat die vleis amper sag is.

Gooi die tamaties by en laat die Kerrie verder prut tot die tamaties amper nie meer sigbaar is nie. Proe vir sout. Gooi nou nog 2 koppies water en die aartappels by en laat kook tot die aartappels gaar is. Roer die garam masala en vars koljanderblare by en laat dit vir nog 10 minute prut.

As van die Kerrie in die olie bo begin dryf, is dit reg.

Die eiervrug-joghurt  was vir my 'n heerlike nuwe ontdekking; baie lekker saam met die Kerrie - en ook enige mezzebord, platbrood of sosaties. (Foto: Ek en my nuwe iPad wat 'Niggietjie' gedoop is).

Die eiervrug-joghurt was vir my ‘n heerlike nuwe ontdekking; baie lekker saam met die Kerrie – en ook enige mezzebord, platbrood of sosaties. (Foto: Ek en my nuwe iPad wat ‘Niggietjie’ gedoop is).

Eiervrug-en-joghurt

Bestanddele

2 groot eiervrugte, afgeskil en in 8 stukke elk gesny

½ t swartpeper

½ t sout (of na smaak)

½ t fyn komyn

½ t vars knoffel, fyngekap

2 K gewone joghurt

10 vars mentblare

5-6 takkies vars koljanderblare, fyngekap

1 groen brandrissie, fyngekap

Metode

Spoel die stukke eiervrug in koue water af. Gooi ‘n koppie kookwater in ‘n kastrol, sit die eiervrug  in en kook tot sag. Gooi die water af en sit die eiervrug in ‘n sif sodat dit kan droog drup.

Gooi die eiervrug in ‘n diep bak en druk dit met ‘n aartappeldrukker fyn. Meng die peper, sout, komyn en knoffel met die joghurt en roer die mengsel by die eiervrug in.

Meng dan die fyngekapte ment, koljander en rissie deur en hou dit in die yskas.

Komkommerslaai

 Bestanddele

1 komkommer afgeskil

¼ koppie witasyn

3 E suiker

½ t fyn komyn

Sout na smaak

¼ t swartpeper

¼ koppie water

Metode

Sny die komkommer in dun skywe. Meng al die bestanddele saam, gooi dit by die komkommer, meng dit goed, gooi dit in ‘n fles en hou dit in die yskas

Bron: Karoo Kombuis, Sydda Essop. Quivertree Uitgewers.

Kerrie, bhel poori en lensies laat die raj in genotsfloute

8 Jun

My ma maak kerkbasaar-kerrie … van daai met die bekende kerriepoeier wat uit die geel boksies kom: baie lekker maar bietjie te lig in die broek vir vandag se Kaapse koue. Jammer, Ma!

Bhel Poori bykos vir Korma

My kosvriend Francois weet dit nie, maar vanaand as hy kom kuier maak ek vir hom ‘n gereg uit sy eie repertoire – Korma en Bel Poori.

Ek kan my altyd verkyk aan hom as hy kerrie maak: hoe hy sy speserye, stamper en vysel nader trek en deur die wasigheid van stomende potte en sissende panne die verhaal skets van kos uit Indië se Imperiale kombuise en straatstalletjies. Hy’t my ook geleer van dhal en biryani, Punjabi tandooris en kormas uit Kashmir, selfs om my eie garam masala te maak wat my eie stempel dra.

Terloops: die woord kerrie is afgelei van die Tamil kari wat sous of groentegereg beteken.

O genade, wat maak ek vanaand?! Stapel boeke op my bedkassie gisteraand ge-Instagram.

Daar’s ‘n kerrie vir elke dag van die jaar, maar vanaand maak ek  Francois-korma uit ons eie boek Huiskok Glanskok.  Hy ken die  kuns om kerrie te maak met laag-op-laag geure.

Francois aan die korma kook vir ons boek Huiskok Glanskok

BIEF KORMA

Maak 4 porsies

800 g stowebeesvleis in blokkies gesny

150 ml natuurlike jogurt

15 ml gemaalde komyn

2,5 ml borrie

5 ml poppiesaad

5 ml rissiepoeier

2,5 ml gemaalde naeltjies

2,5 ml kardomom

15 ml gerasperde vars gemmer

3 knoffelhuisies fyngekap

Sout en peper

500 g uie in ringe gesny

60 ml olie

Plaas die beesvleis saam met al die bestanddele behalwe die uie en die olie in ‘n bak. Meng goed deur en plaas vir ten minste 3 ure in die yskas. Verhit die olie in ‘n pot en braai die uie tot sag, roer die vleismengsel by en verhit tot kookpunt. Plaas ‘n deksel op en prut vir 2 ure  tot die vleis murgsag is. Bedien met basmati rys (sien resep vir suurlemoenrys) en/of bhel poori.  Maak ‘n eenvoudige sambals.

BHEL POORI

Hierdie lekker aartappel bykos is ook altyd op die tafel as Francois kerrie maak. Dis ‘n gewilde straatkos in Moembaai waar dit as vulsel vir die Indiese brood poori gebruik word.  Blatjang is ‘n moet-bykossie.

Maak 4 porsies

1 kg aartappels, gekook en in groterige blokkies gesny

500g uie, gesny

30 ml olie

3 tamaties, vel afgetrek en grof gekap

200 ml jogurt

15 ml gemaalde komyn

5 ml borrie

2 knoffelhuisies, fyn gekap

30 ml gerasperde vars gemmer

1 groen brandrissie, ontpit en fyngekap

Sout en peper na smaak

Braai die uie in die olie en voeg die komyn, borrie, knoffel, gemmer en rissie by. Braai vir ‘n paar minute terwyl dit heeltyd geroer word. Voeg die tamaties by en prut vir 3-5 minute. Voeg die aartappels by en verhit saam met die res van die bestanddele. Verwyder van die stoof. Voeg die jogurt by, roer goed deur en laat afkoel tot kamer- temperatuur. Skep in klein bakkies. Bedien met poppadums of poori en twee soorte blatjang.

{Interessant}

Die Portugese het tamaties, aartappels en brandrissie aan Indië bekend gestel. Selfs die beroemde vuurwarm Indiese vindaloo het ‘n Portugese invloed.  “Ferreira” is hoeka Portugees, so Francois se voorsate het bygedra dat ons nou so lekker aan Indiense kerries smul.

Eiervrug dhal. Die dag wat ons hierdie foto vir Huiskok Glanskok geneem het, het Francois een van sy mooiste ou adellike borde uitgehaal. (Foto: Samarie Smith)

EIERVRUG- EN LENSIEKERRIE VIR MEATLESS MONDAY

Lensies, kos vir armes en koninklikes, word hier deel van eiervrug met sy adellike pers kleed.  Francois se dhal is so lekker dat ‘n raj hoogs tevrede sal wees.

Maak 4 porsies

100 g rooi lensies

150 g bruin lensies

60 ml olie

1 groot ui, in skywe gesny

15 ml garam masala

5 ml borrie

50 g grondboontjies, grof gekap

25 g droë klapper

30 ml blatjang

800 ml aftreksel

2 groot eiervrugte in blokkies gesny met die skil aan

15 ml suurlemoensap

Sout en peper

Plaas die lensies in ‘n kastrol en bedek met koue water. Verhit tot kookpunt en kook stadig vir 10 minute. Dreineer. Verhit die olie in ‘n braaipan en braai die uie tot sag.

Voeg die garam masala en borrie by. Kook vir 2 – 3 minute en roer aanhoudend. Voeg die eiervrug by en braai totdat die eiervrug begin kleur aanneem.  Voeg die lensies, grondboontjies, klapper, blatjang, suurlemoensap en aftreksel by. Verhit tot kookpunt en roer. Sit die deksel op en prut stadig vir 30 minute. Proe en voeg sout en peper by na smaak. Bedien warm met rys of roti.

{Interessant} Lensies, ook genoem dhal, en droë bone is so ‘n belangrike stapelvoedsel in Indië dat in die volksmonds gepraat word van ‘om jou dhal roti te verdien’ – soos ons sou praat van ‘om jou brood te verdien’.

SAMBALS

Geen kerrie-maaltyd is volledig sonder ten minste een tipe sambal nie, selfs al is dit net ‘n opgekapte rissie of vars ui.

Tamatie en uie Kachoomber

 Maak 6 porsies

3 groot tamaties in blokkies gesny

2 groot uie fyngekap

3 knoffelhuisies fyngekap

‘n handvol vars koljander (dhania) grof gekap

30 ml asyn

Sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele saam en bedien saam met kerrie.

{Huiskok Glanskok op radio en boek}

Ons boek Huiskok Glanskok vier my en Francois se dekade-lange kosvriendskap op RSG. Human & Rousseau is die uitgewers en Samarie Smith het die pragtige foto’s geneem. Daleen van der Merwe was ons redakteur.

Huiskok Glanskok word Vrydag-oggende op RSG uitgesaai. Ons gesels oor kos en kombuisdinge met Martelize Brink.

Kwetter gerus ook saam met my op Twitter @huiskok

heerlike pammerige poenerige kontreipiekel

2 Dec

Die filosoof Marthinus Versveld sou baie gelukkig gewees het met hierdie pampoenpiekel. Hy’t immers geskryf dat pampoen so ‘n mooi woord is – ‘dis so pammerig en poenerig! ‘

Die lekker pampoenpiekel is deel van die Durbanville Wynvallei se kontreigereg. Roxane het die foto geneem in Ladine Louw van Diemersdal se kombuis.

Pampoen was ook die deel van die inspirasie agter die Durbanville Wynvallei se nuwe inisiatief om die streek se terroir na die tafel te bring met ’n kontreigereg wat die unieke karakter van die streek weerspieël. Die gereg – lamsosaties met risotto-styl pampoen-stampkoring, komynsous en pampoenpiekel – is pas bekend gestel.

Die gereg is ’n geurige herinnering aan die feit dat hier al eeue lank geboer word, terwyl aromatiese kaneel, komyn en kerrie erkenning gee aan die verre verlede toe die Kaap van Goeie Hoop deel van die Speseryroete was.

Die pampoenpiekel herinner aan die dae toe Durbanville nog bekend was as Pampoenkraal –  ’n buitepos van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie was waar vars vleis en ander plaasprodukte met die plaaslike inwoners geruil is.   Pampoenkraal  is eers in 1836 hernoem na D’Urban, en in 1886 na Durbanville – om enige verwarring met die stad Durban uit te skakel.)

Pampoenpiekel

Die piekel word bedien as deel van die Durbanville Wynvallei se kontreigereg van lamsosaties, koringrisotto en komynsous. Die piekel is ook heerlik saam met enigiets, van braaivleis en Sondagboud tot koue vleise en kaas. En ook die Kersfeesham.

 Die piekel is dadelik reg om ge-eet te word, maar sal ook ‘n maand lank in die yskas hou.

Maak 1 groot fles of 2 kleiner flessies

800 g pampoen (botterskorsie kan ook gebruik word)

15 mℓ olie

2 medium uie, gekap

5 cm vars gemmer, geskil en gekap

1 brandrissie, gehalveer met sade behou

5 mℓ fyn koljander

5ml fyn komyn

10 mℓ bruin mosterdsade

1 steranys

2 kardemom peule

10 mℓ borrie

Groot knippie sout

25 mℓ mielieblom

250g strooisuiker

300 mℓ wit druiweasyn of appelasyn

Metode

Skil die pampoen en sny in 1,5 cm blokkies. Kook die blokkies in kokende water tot vurkgaar.   Dit moet steeds ferm wees om hul vorm te behou. Dreineer.

Braai die uie, rissie en gemmer tot sag en die uie glaserig is, maar nie bruin is nie. Gooi die fyn koljander, steranys, mosterdsade,  kardemom, borrie en sout by en braai 1 minuut.

Strooi die mielieblom oor, roer deur en voeg dan die suiker by. Roer die asyn geleidelik by. Laat stadig kook tot die sous verdik het (sowat 6 minute). Roer die gaar pampoenblokkies liggies by tot goed deurwarm.

Skep die piekel in warm, gesteriliseerde flesse en bedek. Laat afkoel en plaas in yskas.

Durbanville Wynvallei se eie kostaal 

Probeer gerus die Durbanville-wynvallei se spesialiteitsgereg by die volgende restaurante:

  • Eat @ Altydgedacht
  • Bon Amis Cafe & Deli by Bloemendal
  • Poplars-restaurant, D’Aria
  • Durbanville Hills Eatery, Durbanville Hills
  • Hillcrest-restaurant, Hillcrest-wynlandgoed
  • The Manor House-restaurant, Meerendal
  • Cassia-restaurant, Nitida-wynlandgoed
  • Tables @ Nitidia, Nitida-wynlandgoed

Die kontreigereg sal  op spyskaarte pryk teen R65 vir ’n voorgeregporsie en R120 vir ’n hoofgereg. (’n Groente-opsie sal ook beskikbaar wees vir vegetariërs).

Die kontreigereg sal ook by die Fees van die Druif en ander wynfeeste voorgesit word by al die plase wat lid is van die Durbanville Wynvereniging: Nitida, Meerendal, Hillcrest, Klein Roosboom, Groot Phesantekraal, Durbanville Hills, Diemersdal, De Grendel, D’Aria, Bloemendal en Altydgedacht.

Vir inligting besoek www.durbanvillewine.co.za of e-pos info@durbanvillewine.co.za

%d bloggers like this: