Vetkoekdag 2017 is verby. Nuwe horisonne is verken, nuwe herinneringe gemaak en brûe oorgesteek van die bekende na die onverkende.
Iewers tussen die smaakavontuur het ek begin verlang na die bekende bakens.
Vetkoek met kerriemaalvleis is ‘n huis-toe-kom-smaak, ‘n herkoms-kos wat my herinner waar ek hoort. Dit hoef nie bekend gestel of verduidelik te word nie, dit ís net.
Ek deel dit met my vriende ver van hier, Karien Buter in Glasgow, Elmarie Kemp in Kanada, Fritz van Rensburg in Jeddah, Cariema Isaacs in Dubai, Alice Levy in die VSA en Hillé Kriek in Brittanje. Kerriemince-vetkoek wag vir julle aan my Tuistafel.
VETKOEK CURRY BUNNY
Ek sê dit nie ligtelik nie. Dis dié béste vetkoekdeeg óóit. Ek maak nóóit weer iets anders nie. Dankie aan Ciska Rossouw vir die resep.
Maak 15 vetkoeke
1kg broodmeel
20g sout
20g kitsgis
50g suiker
50g sagte botter
700g louwarm water (‘n slapper deeg gee ‘n pofferiger vetkoek)
Olie vir diepvetbraai, soos Olive Pride se gemengde saad- en ekstra suiwer olyfolie
Sif droë bestanddele saam in ‘n groot mengbak, voeg die water by en knie tot ‘n sagte deeg (Ek gebruik die staanmenger se deeghak). Knie sagte botter in. Ek het dit nog 8 minute geknie tot dit wegtrek van die kante. Dis ‘n slap deeg. Plaas in ‘n geoliede bak, smeer bietjie olie bo-oor en bedek lossies met kleefplastiek.
Vou toe in knus kombers en laat rys sowat 30 minute op ‘n warm plek. Knie af en laat weer rys.
Giet olie in groot kastrol, verhit oor matige hitte tot 170C, of toets met ‘n stukkie deeg wat vinnig moet begin dryf en goudbruin raak.
Terwyl die olie verhit, strooi oppervlakte met meel. Knyp nartjie-grootste stukke deeg af (smeer olie aan jou hande of gebruik meel). Vorm in bolletjies of langwerpig. Dompig in die warm olie, braai sowat 3-4 minute aan ‘n kant. Skep uit met gaatjieslepel op kombuispapier.
Laat effe afkoel, sny deur en vul met kerriemaalvleis of waarvoor jy lus is.
KERRIEMAALVLEIS
Kerriemaalvleis het eintlik nie ‘n resep nodig nie, Pas my manier aan met dit wat jou laat tuis voel.
Genoeg vir 8 vetkoeke
500 g maalvleis
30 ml olie
15 ml kerriepoeier (matig of sterk)
Sout, peper
1 brandrissie
2 uie, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 wortels, geskik, in blokkies
2 aartappels, geskil en in blokkies gesny.
Worcestersous
250 ml aftreksel of water
250 ml bevrore ertjies
30 ml blatjang
Verhit die olie, krummel die maalvleis daarin, braai sonder om te roer, sodat dit nie water trek nie en mooi verbruin. Voeg kerrie, sout en peper by, roer en braai nog sowat 3 min. Voeg uie en rissie by, braai 4 minute, roer dan knoffel, wortels en aartappel by.
Voeg die aftreksel of water by en geur na smaak met Worcestersous. Prut sowat 20 minute, voeg ertjies en blatjang by en prut nog ‘n bietjie. Vul vloeistof aan soos nodig.
Foto’s: Ian Du Toit
#Vetkoekday #TouchofPride
Hallo Errieda
Ek wil net seker maak oor die hoeveelhede van die bestanddele vir “die beste vetkoekdeeg ooit”?
Al die bestanddele, buiten die broodmeel se hoeveelhede word in gram aangedui. Ek twyfel nou of die hoeveelhede korrek is. Kort daar nie iewers ‘n teelepel of milliliter as maat aanduiding nie? Die sout, kitsgis en water se gram aanduidings laat my kopkrap.
Groete
Elsje van der Merwe
Hi Elsje, die mates is korrek so in g en kg. Ek het die resep by ‘n bakker gekry wat alles afweeg vir akkuraatheid gekry. 700 g water = 700 ml water.