Tag Archives: koesterkos

Melkkos troosterkos

15 Jul

‘Niks gee jong verhemeltes meer plesier as melkkos nie.’ Laurens van der Post

My melksnysels in 'n ou Willow patroon - sopbord. Lemoenskil en kaneelsuiker = hemels.

My melksnysels in ‘n ou Willow patroon – sopbord. Lemoenskil en kaneelsuiker = hemels.

As huisverlange jou beetpak of jy  ‘n warm druk in ‘n kosbakkie soek, sal melkkos instaan as sieketrooster en sakdoek. Jy kan die melkerige, kaneelgegeurde, botter-gedotte aandkos ook pleinweg agter die lekkerte aan eet. Jy hoef nie te wag vir ‘n reëndag of reëngemoed nie.

Eet dit met repies deeg in die melk (slinger-om-die-smoel) of met frummeltjies. Maak dit met vermicelli of sago en geur dit met kardemom, pypkaneel en rooswater vir Kaap-Maleise boeber.

Dine Van Zyl, een van ons land se groot beskermvroue van Boerekos, vertel dat Persiese vroue reeds sewe eeue voor Christus frummels gebruik het om sop of melk te verdik, terwyl deegsnysels teen 500 jaar n.C. gebruik is.  Volgens haar het die Hollanders in Van Riebeeck se tyd hierdie gereg geken, maar in die Kaap was  al die bestanddele, soos eiers nie altyd beskikbaar nie. Met die jare het verskeie variasies ontstaan, sommige met deegsnysels, ander met macaroni (soos Leipoldt).

Vanwaar die naam slinger-om-die-smoel? Melksnysels wat gemaak is met deeg wat opgerol is en dan in repies gesny is, was nogals dik en langer as fyner gekerfde snyseltjies, wat nie sommer maklik afgesluk is nie en met ‘n geslurp maag toe is.

In my nalees kom ek op melksop van Estlanders en Russe af, vir wie dit ook die super-trooster is. Daar word dit met noedels en selfs pastarys gemaak. Maar die groot leesverrassing wat dat Laurens van der Post se kinderdae geruik het na melksnysels.

“Die reuksin is ongetwyfeld die mees evokatiewe van al ons sintuie. Dit dring dieper as bewuste gedagte of georganiseerde herinnering en het ‘n wil van sy eie wat die gees dwing om aandag te gee.

Hy skryf verder: “Aangesien die reuk van pypkaneel die eerste is wat homself in my herinneringe aanmeld, was dit deel van my eerste samehangende herinnering van die drama van ons aandete –  die opdien van melksop  – iets wat veral in die winter voorgesit is.”

Hy het van kleindag geweet dat niks jong verhemeltes meer plesier gee as melksop nie. So beskryf hy die maak van die  melksop van sy herinneringe:

“Gemaak van die eenvoudigste bestanddele, het melksop bekend gestaan as snysels – in die geval snysels van tuisgemaakte paste met koringmeel gemeng met eier, so dun as moontlik uitgerol en dan in fyn repies gesny. Hierdie repies is in ‘n groot gietysterpop kookmelk gegooi, klaar versoet met suiker en ryklik bygewerk met stukke pypkaneel. Wanneer die repies pasta na die oppervlakte kom, halfdeursigtig maar nog ferm onder die tande, was dit reg. Dit sou die eetkamer binnegedra word in ‘n wolk aromatiese stoom wat die lug vul met die onvergeetlike reuk van pypkaneel…” (Vertaling deur Hennie Aucamp, uit African Cooking, 1970, Time-Life reeks).

image

Sean De Necker vertel my van snyseltjies wat sy oumagrootjie met ‘n Minora-skeermeslemmetjie gekerf het: “ek kon my verkyk hoe behendig sy die deeg uitrol, besprinkel met ‘flour’ ,  en die proses herhaal tot Dit presies reg was. Dan het sy Dit met die Minora blade in die fynste snysels denkbaar gekerf.  Ek het altyd my asem opgehou, maar sy het haar nooit raak gesny nie. Dan is die snysels  in die kokende, borrelende melk gegooi, lekker gaargekook en met ‘n lekker strooisel kaneelsuiker opgedien.

Na ete moes ek altyd Oumagrootjie se knieë goed insmeer met Wintergreen… Wat ‘n kombinasie: melkkos en Wintergreen.”

‘My common melkkos-resep’ (Retha Cronje, Bloemfontein)

Retha Cronje maak voorslag frummelmelkkos wat sy liggies afmaak as “ag wat, sommer ‘n common weergawe”. Tog, dis wat ons soek in huiskos; nie komplikasies, implikasies, dramas en stoornisse nie. Terloops Retha is ‘n groot gees in Bloemfontein se koskringe – ek het haar ontmoet toe sy voorsitter was van die Bloemfontein se Fynproewersgilde, die oudste gilde van sy soort in die land. Retha beskryf die frummel-resep as eenvoudig, maar mensvriendelik.

1 liter melk

180 ml meel

12 ml regte egte botter

3ml sout

Frummel botter en sout in meel. bring melk tot kookpunt, gooi bietjie-bietjie meel op kokende melk en klits goed in. Kook so 10 minute tot gaar en dik. Bedien met kaneelsuiker en ‘n klont botter .

MELKSNYSELS “BOERERESEP”

Melksnysels het ook my kinderverhemelte vertroos. Ek het voorheen geskryf van die ou vergeelde boekie ‘Voortrekkerresepte’ wat die brandstof-reus Shell in die 1940’s uitgegee het.  Soos vele van die ouer resepte aanvaar die boekie se skrywer dat jy ‘n ou hand is om dit te maak en die aanwysings help die melksnysel-groentjie nie veel nie. Maar hoe mooi is die aanwysings om die deeg te  sny “soos die oumense tabak gekerf het”.

 2 koppies Meelblom

1 Eier

Weinig sout

Melk om ‘n stywe deeg te vorm

Klits eier op en meng met meelblom, voeg melk by om ‘n stywe deeg te vorm en knie. Rol dun uit, strooi meel om te voorkom dat deeg aanmekaar vassit, rol deeg nou op, kerf soos die ou mense tabak gekerf het.

Om hierdie onthougereg op te jazz, volg ek Facebook-vriend Janneman Lee se raad. Hy bedien dit by ‘n winterbraai as poeding, met aparte strooisels  gekrummelde sjokolade honeycomb, Oreo koekies, sultanas of gestoofde vrugte. Gaste kies self wat hulle daarby wil eet.

Barbara Joubert se melksnysels (Sarie Kos)

Barbara Joubert se melksnysels (Sarie Kos)

BARBARA JOUBERT SE MELKSNYSELS

Sarie Kos se resepte is altyd ‘n sukses. Hier deel Barbara, kosredakteur, ‘n resep van die kinderdae-smaak.  ‘n Ietwat ander weergawe verskyn ook in die moet-koop spesiale uitgawe Sarie Karoo herinneringe, waar Barbara haar ouma se resep uit die hartjie van die Groot-Karoo deel. Vir daardie resep kook jy die melk met 2 kaneelstokke om dit ekstra-kanelerig te maak. In hierdie resep looi jy die opgeskepte bakkie met die kaneelsuiker.

(6 porsies)

240 g (430 ml) koekmeel

3 eiers, geklits

3 ml sout

2 liter melk

15 ml botter

Meng meel, eiers en sout in ‘n mengbak tot die mengsel ‘n stywe deeg vorm. Dit sal in die begin lyk of dit nie ‘n deeg wil vorm nie, maar keer dit op jou werkoppervlak uit en begin knie. Knie vir minstens 10 – 15 minute. Rol deeg baie dun uit en laat oop staan vir 10 minute. Sny deeg in dun repe van so 5 mm. Dit lyk soos tagliatelle-pasta. Verhit melk tot net by kookpunt. Gooi die snysels in die warm melk en verlaag hitte dat die melk net prut. Laat prut vir sowat 10 – 15 minute. Die snysels moet sag word. Wanneer sag, voeg die botter by. Skep in groot sopborde en sprinkel lekker baie kaneelsuiker oor.

Kaneelsuiker

200 g (250 ml) suiker

15 ml fyn kaneel

Meng goed.

DINE SE FRUMMEL-MELKKOS

Vinnig – die kitskos van sy dag, maar op baie vlakke soveel lekkerder.  Hierdie resep uit Dine van Zyl se Groot Boerekos-boek gee die tradisionele smaak wat ek ken so goed mee.

Hierdie kan ‘n groot huishouding kos gee.

2 l melk

250 ml meelblom

2,5 ml sout

15 ml sagte botter (BOTTER, nie margarien nie)

Kook die melk (hou oog daaroor dat dit nie oorkook nie) Sif die meel en sout saam. Vryf sagte botter met vingerpunte by die meel in tot dit frummels maak. Dit kan in in die voedselverwerker gedoen word (ek hou te veel van hierdie lekker stap om dit vir ‘n masjien te gee om te doen.) Voeg die frummels geleidelik by die kokende melk en roer aanhoudend. Verlaag die hitte en laat sag prut vir sowat 8 minute.

Bedien met kaneelsuiker.

 Kosvriende se herinneringe van hierdie troosterkos

  • Dit bring ‘n glimlag na my gesig en die warm gevoel van liefde na my hart. My sus se 2 seunskinders was mal daaroor as ek dit sommer vir ontbyt vir hulle gemaak het in die winter. Natuurlik is hul mal oor melktert ook! (Berna Van de Venter)
  • Die kommetjie melkkos wat my warm gehou het in die bittere koue Vrystaat. (Anel Potgieter)
  • Die kaneelgeur van melkkos het dit n warm gevoel gegee en my altyd laat dink ek word gekoester. (Sanette Henning)

Bronne:

Dine van Zyl oor melkkos, Sarie Kos, Oktober 2009.

Dine van Zyl, Die Groot Boerekosboek

Barbara Joubert, Sarie Kos,

Laurence van der Post, uit Hennie Aucamp se versamelde bundel: Borde, borde, boordensvol.

Voortrekker-resepte, uitgegee deur Shell. Herdruk 1949.

Melk in die sopbord

23 Aug

My kosstorie begin nie vandag by ‘n gereg nie, maar by ‘n katjie genaamd Kiri. Kiri was ‘n spesiale katjie met ‘n stompneusie en ‘n potsierlike ronde lyfie. ‘n Eksentrieke kat wat haar nie met ander katte opgehou het nie en eerder saam met ons honde gespeel en gaan stap het. Toe Kiri hierdie week oorlede is, was dit ‘n tranedal, maar sy was amper 20 jaar oud, ‘n diabeet en al ietwat seniel.

Trooskos. Ek maak trooskos met melk, want Kiri was ‘n katjie wat soggens vroeg by my man Ian geflikfooi het vir melk as hy tee maak. Slim, voor die ander huisdiere kom tou staan. Kiri het haar ook graag self uit die melkbeker gehelp.

kiri lek uit melkbeker 180-8055_IMG

Melkkos moet dit wees. Met kaneelsuiker en klontjie botter vir ekstra troos. Maar wat sal dit wees? Frummelmelkkos soos my ma dit gewoonlik gemaak het of melksnysels, of te wel slinger-om-die-smoel met sy deegrepies wat vir my altyd soos linte gelyk het?

a melkfrummels

Melkkos opgedra aan Kiri

My vriendin Ambalene uit Middelburg laat weet haar man praat van melkkos as “liquid pannekoeke”!

Resepte het ek hordes van: my ma het so ‘n vergeelde boekie  ‘Voortrekkerresepte’ wat Shell of een of ander brandstof-reus in 1949 uitgegee het (as kind het my boetie altyd vir my geterg –“kyk die boere het met hul ossewaens by petrolpompe gestop). Die boekie se eenvoudige resep vir melksnysels aanvaar dat jy ‘n ou hand is met die maak daarvan; kripties in sy aanwysings. Maar wat ek van hou uit die resep is die aanwysing om “die deeg te kerf soos die oumense tabak gekerf het”.

FRUMMEL-MELKKOS

Ma het melksnysels en frummelmelkkos uit haar kop uit gemaak. Ek sal volgende keer gaan dophou hoe sy dit maak en afskryf. Tot dan loer ek in by die versamelstuk Dine van Zyl se Groot Boerekos-boek.  

Dine se belofte dat dit 15 minute behoort te duur om dit van begin tot einde te maak. Ek moes eers kaneelsuiker aanmaak, langlewemelk in die spens gaan haal, so as dit my bietjie langer geneem het: Dine, dit was nie jou skuld nie!

(Ek het die resep halveer vir my lee-nes gesin, maar hierdie is Dine se afmetings)

2 l melk

250 ml meelblom

2,5 ml sout

15 ml sagte botter (BOTTER, nie margarien nie)

Kook die melk (hou oog daaroor dat dit nie oorkook nie) Sif die meel en sout saam. Vryf sagte botter met vingerpunte by die meel in tot dit frummels maak. Dit kan in in die voedselverwerker gedoen word (ek hou te veel van hierdie lekker stap om dit vir ‘n masjien te gee om te doen.) Voeg die frummels geleidelik by die kokende melk en roer aanhoudend. Verlaag die hitte en laat sag prut vir sowat 8 minute.

Bedien met kaneelsuiker.

NOTA:

Ek het hierdie e-briefie van Wiesie van der Poll gekry na  een van my radiopraatjies oor melkkos en melksnysels; Dit het ook ander  herinneringe losgewoel:

“Jou melkkosresep vanoggend laat my nou na my ma verlang – sy’t die lekkerste melkkos gemaak maar met spaghetti.  Macaroni en kaas met tamaties op en die vleisie by was wors, vleis en rys (sonder die gebruiklike aartappels by) – dan gooi ek klomp worcestersous oor. Ook droë soetkoekies met  korente in – met glas op skinkbord uitgedruk; en haar melktert was altyd ‘n treffer – sy het kaneel saam met die melk gekook.

Sy is al 6 jaar oorlede.  Die laaste kos wat sy gemaak het was skenkels.  Dis laaste wat ek lekker ge-eet het.  Kos is vandag net iets vir my wat jy moet eet om te oorleef en tyd om te kry.

Snaaks hoe mens sekere geregte vanself sprekend aanvaar.  My tannie (daai tyd 70) het eers sowat 10 jaar terug by my ma gehoor van macaroni en kaas.  Destyds toe my ma in hospitaal toe is met my geboorte, het my broer vir my ouma kapok aartappels gevra.  Sy het nie geweet wat dit is nie.

My ma was in Adelaide in ‘n huishoudkunde skool.  Ekt vandag nog haar skoolresepte boek (in haar handskrif) waaruit sy dikwels vir ons koekies gebak het.

Sit en tjank sommer hier.

Wiesie van der Poel.”

%d bloggers like this: