‘Niks gee jong verhemeltes meer plesier as melkkos nie.’ Laurens van der Post
As huisverlange jou beetpak of jy ‘n warm druk in ‘n kosbakkie soek, sal melkkos instaan as sieketrooster en sakdoek. Jy kan die melkerige, kaneelgegeurde, botter-gedotte aandkos ook pleinweg agter die lekkerte aan eet. Jy hoef nie te wag vir ‘n reëndag of reëngemoed nie.
Eet dit met repies deeg in die melk (slinger-om-die-smoel) of met frummeltjies. Maak dit met vermicelli of sago en geur dit met kardemom, pypkaneel en rooswater vir Kaap-Maleise boeber.
Dine Van Zyl, een van ons land se groot beskermvroue van Boerekos, vertel dat Persiese vroue reeds sewe eeue voor Christus frummels gebruik het om sop of melk te verdik, terwyl deegsnysels teen 500 jaar n.C. gebruik is. Volgens haar het die Hollanders in Van Riebeeck se tyd hierdie gereg geken, maar in die Kaap was al die bestanddele, soos eiers nie altyd beskikbaar nie. Met die jare het verskeie variasies ontstaan, sommige met deegsnysels, ander met macaroni (soos Leipoldt).
Vanwaar die naam slinger-om-die-smoel? Melksnysels wat gemaak is met deeg wat opgerol is en dan in repies gesny is, was nogals dik en langer as fyner gekerfde snyseltjies, wat nie sommer maklik afgesluk is nie en met ‘n geslurp maag toe is.
In my nalees kom ek op melksop van Estlanders en Russe af, vir wie dit ook die super-trooster is. Daar word dit met noedels en selfs pastarys gemaak. Maar die groot leesverrassing wat dat Laurens van der Post se kinderdae geruik het na melksnysels.
“Die reuksin is ongetwyfeld die mees evokatiewe van al ons sintuie. Dit dring dieper as bewuste gedagte of georganiseerde herinnering en het ‘n wil van sy eie wat die gees dwing om aandag te gee.
Hy skryf verder: “Aangesien die reuk van pypkaneel die eerste is wat homself in my herinneringe aanmeld, was dit deel van my eerste samehangende herinnering van die drama van ons aandete – die opdien van melksop – iets wat veral in die winter voorgesit is.”
Hy het van kleindag geweet dat niks jong verhemeltes meer plesier gee as melksop nie. So beskryf hy die maak van die melksop van sy herinneringe:
“Gemaak van die eenvoudigste bestanddele, het melksop bekend gestaan as snysels – in die geval snysels van tuisgemaakte paste met koringmeel gemeng met eier, so dun as moontlik uitgerol en dan in fyn repies gesny. Hierdie repies is in ‘n groot gietysterpop kookmelk gegooi, klaar versoet met suiker en ryklik bygewerk met stukke pypkaneel. Wanneer die repies pasta na die oppervlakte kom, halfdeursigtig maar nog ferm onder die tande, was dit reg. Dit sou die eetkamer binnegedra word in ‘n wolk aromatiese stoom wat die lug vul met die onvergeetlike reuk van pypkaneel…” (Vertaling deur Hennie Aucamp, uit African Cooking, 1970, Time-Life reeks).
Sean De Necker vertel my van snyseltjies wat sy oumagrootjie met ‘n Minora-skeermeslemmetjie gekerf het: “ek kon my verkyk hoe behendig sy die deeg uitrol, besprinkel met ‘flour’ , en die proses herhaal tot Dit presies reg was. Dan het sy Dit met die Minora blade in die fynste snysels denkbaar gekerf. Ek het altyd my asem opgehou, maar sy het haar nooit raak gesny nie. Dan is die snysels in die kokende, borrelende melk gegooi, lekker gaargekook en met ‘n lekker strooisel kaneelsuiker opgedien.
Na ete moes ek altyd Oumagrootjie se knieë goed insmeer met Wintergreen… Wat ‘n kombinasie: melkkos en Wintergreen.”
‘My common melkkos-resep’ (Retha Cronje, Bloemfontein)
Retha Cronje maak voorslag frummelmelkkos wat sy liggies afmaak as “ag wat, sommer ‘n common weergawe”. Tog, dis wat ons soek in huiskos; nie komplikasies, implikasies, dramas en stoornisse nie. Terloops Retha is ‘n groot gees in Bloemfontein se koskringe – ek het haar ontmoet toe sy voorsitter was van die Bloemfontein se Fynproewersgilde, die oudste gilde van sy soort in die land. Retha beskryf die frummel-resep as eenvoudig, maar mensvriendelik.
1 liter melk
180 ml meel
12 ml regte egte botter
3ml sout
Frummel botter en sout in meel. bring melk tot kookpunt, gooi bietjie-bietjie meel op kokende melk en klits goed in. Kook so 10 minute tot gaar en dik. Bedien met kaneelsuiker en ‘n klont botter .
MELKSNYSELS “BOERERESEP”
Melksnysels het ook my kinderverhemelte vertroos. Ek het voorheen geskryf van die ou vergeelde boekie ‘Voortrekkerresepte’ wat die brandstof-reus Shell in die 1940’s uitgegee het. Soos vele van die ouer resepte aanvaar die boekie se skrywer dat jy ‘n ou hand is om dit te maak en die aanwysings help die melksnysel-groentjie nie veel nie. Maar hoe mooi is die aanwysings om die deeg te sny “soos die oumense tabak gekerf het”.
2 koppies Meelblom
1 Eier
Weinig sout
Melk om ‘n stywe deeg te vorm
Klits eier op en meng met meelblom, voeg melk by om ‘n stywe deeg te vorm en knie. Rol dun uit, strooi meel om te voorkom dat deeg aanmekaar vassit, rol deeg nou op, kerf soos die ou mense tabak gekerf het.
Om hierdie onthougereg op te jazz, volg ek Facebook-vriend Janneman Lee se raad. Hy bedien dit by ‘n winterbraai as poeding, met aparte strooisels gekrummelde sjokolade honeycomb, Oreo koekies, sultanas of gestoofde vrugte. Gaste kies self wat hulle daarby wil eet.
BARBARA JOUBERT SE MELKSNYSELS
Sarie Kos se resepte is altyd ‘n sukses. Hier deel Barbara, kosredakteur, ‘n resep van die kinderdae-smaak. ‘n Ietwat ander weergawe verskyn ook in die moet-koop spesiale uitgawe Sarie Karoo herinneringe, waar Barbara haar ouma se resep uit die hartjie van die Groot-Karoo deel. Vir daardie resep kook jy die melk met 2 kaneelstokke om dit ekstra-kanelerig te maak. In hierdie resep looi jy die opgeskepte bakkie met die kaneelsuiker.
(6 porsies)
240 g (430 ml) koekmeel
3 eiers, geklits
3 ml sout
2 liter melk
15 ml botter
Meng meel, eiers en sout in ‘n mengbak tot die mengsel ‘n stywe deeg vorm. Dit sal in die begin lyk of dit nie ‘n deeg wil vorm nie, maar keer dit op jou werkoppervlak uit en begin knie. Knie vir minstens 10 – 15 minute. Rol deeg baie dun uit en laat oop staan vir 10 minute. Sny deeg in dun repe van so 5 mm. Dit lyk soos tagliatelle-pasta. Verhit melk tot net by kookpunt. Gooi die snysels in die warm melk en verlaag hitte dat die melk net prut. Laat prut vir sowat 10 – 15 minute. Die snysels moet sag word. Wanneer sag, voeg die botter by. Skep in groot sopborde en sprinkel lekker baie kaneelsuiker oor.
Kaneelsuiker
200 g (250 ml) suiker
15 ml fyn kaneel
Meng goed.
DINE SE FRUMMEL-MELKKOS
Vinnig – die kitskos van sy dag, maar op baie vlakke soveel lekkerder. Hierdie resep uit Dine van Zyl se Groot Boerekos-boek gee die tradisionele smaak wat ek ken so goed mee.
Hierdie kan ‘n groot huishouding kos gee.
2 l melk
250 ml meelblom
2,5 ml sout
15 ml sagte botter (BOTTER, nie margarien nie)
Kook die melk (hou oog daaroor dat dit nie oorkook nie) Sif die meel en sout saam. Vryf sagte botter met vingerpunte by die meel in tot dit frummels maak. Dit kan in in die voedselverwerker gedoen word (ek hou te veel van hierdie lekker stap om dit vir ‘n masjien te gee om te doen.) Voeg die frummels geleidelik by die kokende melk en roer aanhoudend. Verlaag die hitte en laat sag prut vir sowat 8 minute.
Bedien met kaneelsuiker.
Kosvriende se herinneringe van hierdie troosterkos
- Dit bring ‘n glimlag na my gesig en die warm gevoel van liefde na my hart. My sus se 2 seunskinders was mal daaroor as ek dit sommer vir ontbyt vir hulle gemaak het in die winter. Natuurlik is hul mal oor melktert ook! (Berna Van de Venter)
- Die kommetjie melkkos wat my warm gehou het in die bittere koue Vrystaat. (Anel Potgieter)
- Die kaneelgeur van melkkos het dit n warm gevoel gegee en my altyd laat dink ek word gekoester. (Sanette Henning)
Bronne:
Dine van Zyl oor melkkos, Sarie Kos, Oktober 2009.
Dine van Zyl, Die Groot Boerekosboek
Barbara Joubert, Sarie Kos,
Laurence van der Post, uit Hennie Aucamp se versamelde bundel: Borde, borde, boordensvol.
Voortrekker-resepte, uitgegee deur Shell. Herdruk 1949.
Erida, jy lok my weer kombuis toe. Ek is (alweer) in my bed met ‘n senuwee wat in my rug vasknyp, maar sodra ek lank genoeg kan staan, is dit melkkos wat ek gaan maak. Soos my ma dit gemaak het, soos my kind dit maak, en soos jy dit maak!
Jammer om te hoor van jou rug, en hoop jy is gou op die been.