Tag Archives: lamsvleis

Asynribbetjie met bros kruie- en botter gegeurde braaiaartappels

21 Dec

Drie lekker dinge op die bord is al wat jy nodig het vir ‘n feesmaal. Ek is baie lief vir my oond en as Beurtkrag my genadig is looi ek dit met die beste asynribbetjie in die wêreld, botter-braaiaartappels (die tweede lekkerste braaiaartappels ter wêreld …. Ma Inez s’n was die lekkerste) en daarby ‘n kraakslaai van rou beet, kool en vars pynappel wat ek bedien met suurroom- jogurt sous.

Die ribbetjie kry ook net 3 geurgoed: geskroeide koljander, sjerrieasyn en sout.

Bros-bros Braai-aartappels (gegeur met tiemie-, roosmaryn en knoffelbotter)

Die kors is ekstra-bros en soutig, die wolksagte binnekant is deurtrek met kruie en knoffelgeure Huiskok-Kombuis. Die bietjie koeksoda in die aartappel se kookwater dra by tot die kors se bros-bak.

2 kg aartappels, geskil

Paar takkies vars tiemie

2 takkies roosmaryn

90 g botter

3 vet knoffelhuisies, geskil en grofgekap

60 ml olyfolie

5 ml koeksoda

15 ml sout

Gemaalde peper

Voorverhit oond na 200°C.

* Sny geskilde aartappel in bonkige stukke, min of meer ewe groot.

* Bedek aartappelstukke in ‘n groot kastrol behoorlik met koue water, voeg koeksoda en sout by. Kook sowat 30 minute oor hoë hitte tot die aartappel redelik sag is maar nog hulle vorm behou.

* Maak intussen die gegeurde botter: Voeg die kruie saam met die knoffel, botter en olyfolie in ‘n kastrolletjie en verhit 2-3 minute oor matige hitte. Die knoffel moenie verbruin nie. Laat dit staan vir geure om te ontwikkel.

* Dreineer die gekookte aartappels in ‘n vergiettes en gee dit ‘n goeie skud. Laat afkoel vir 15 minute.

* Bak vir 30 minute en draai om. Bak nog 30-40 minute tot die aartappels goed bros en goudbruin is. Bedien dadelik. Wenk: jy kan dit ook by kamertemperatuur laat staan vir ‘n paar uur en weer goed opwarm … nie dat dit heeltemal dieselfde is nie!

* Bedek aartappels oral oor met die gegeurde botter, sommer direk in die oondskottel. (Moenie knoffelstukke en kruie in die pan sit nie – dit brand swart).

NIC SE ASYNRIBBETJIE

Eenvoudig hemels. Ek maak heel ribbetjie op geen ander manier nie.

1 heel lamsrib

15 -20 ml goeie asyn, plus ekstra vir bediening

sap van 1 suurlemoen

15 ml heel koljander, geskroei en fyn gestamp

seesout en peper na smaak

Voorverhit oond tot 230°C . Besprinkel die lamsrib met asyn, suurlemoen, koljander, sout en peper. Rooster 20-30 minute, draai die oond laer na 180°C en bak nog 20 minute tot brosbruin en sissend. Sprinkel nog asyn oor en sny die ribbes los in die oondbak, sodat die pansouse en die asyn kan vermeng.

Wenk: Maak vooraf halfgaar in die oond en rond af oor braaikole. Onthou die asyn.

Foto’s Ian Du Toit

Drie goeie goed op die bord.

Lamskenkels, lemoen en donkersjokolade- lekker tot op die been.

3 Apr

As jy ooit ‘n lisensie gesoek het om jou vingers af te lek, is jy op die regte plek.

Dis ‘n lekkerte om lamskenkel te maak vir feesviering, want dis of elke gas ‘n klein lamsboudjie van hul eie het.

Paastyd is ‘n goeie tyd om die kosboek The Supper of the Lamb, deur die teoloog-kok Robert Farrar Capon te lees. Hy herinner die kosliefhebber dat eet ‘n sakrament is waarmee ons daagliks die wonderwerk van die lewe kan vier. Vandag is lamsvleis te duur vir die alledaagse, maar ons kan dit steeds feestelik eet en die uitsonderlike soos die Opstanding vier met ‘n lamsboud of blad. Om die simboliek daarvan te verstaan laat mens net ietwat met nadenkend eet.

Lamsvleis en sjokolade – wat dalk klink na ongewone bedmaats – is eintlik ‘n glorieryke smaakkombinasie. Ek gebruik 85% sjokolade wat nie soet is nie, en voeg dit reg aan die einde by om die sous te verryk, diep, donker en blink te maak. Enigiets bo 70% sal werk, net 2 blokkies maak die verskil.

LAMSKENKELS MET LEMOEN, DONKERSJOKOLADE EN PÊRELUITJIES

Lekker tot op die been

Jy kan die slagter vra om die skenkels te ‘french’ (afwerk en skoon skraap van die been) vir ‘n deftige voorkoms.

2 wortels, grofgekap

1 selderystingel

1 bossie tiemie

30 ml olyfolie

45 ml koekmeel

4 lamskenkels, beentjies skoongemaak (‘French’)

6 medium uie of 12 pêreluitjies, geskil met wortel kant nog aan

4 vet knoffelhuisies, gekneus

3 lourierblare

15 ml tamatiepasta

250 ml rooiwyn

500 ml hoenderaftreksel

Sap en skil van 1 lemoen

20 g goeie donkersjokolade, minstens 70%, gebreek * 

50 g gesoute botter, opgesny

30 ml dragon, gekap  (opsioneel) plus ekstra takkie viropdiening

15 ml bruinasyn

Voorverhit oond na 150 °C.

Maak die wortels, seldery en tiemie fyn in ‘n voedselverwerker (of kap baie fyn) en hou eenkant.

Verhit die olie in ‘n groot vuurvasteoondbak met ‘n deksel oor matige hitte. Braai die skenkels goudbruin aan alle kante, haal uit en hou eenkant.

Voeg die uie en knoffel in die pan en braai sowat 4 minute. Voeg die wortelmengsel en lourierblare by en kook tot sag, sowat 4 minute. Roer die tamatiepasta by tot goed gemeng. Roer nou die meel by en kook ‘n minuut.

Voeg die rooiwyn, aftreksel en vars lemoensap by, skraap die bodem met ‘n houtlepel.

Draai hitte laer, plaas die skenkels terug in die pot, sit die deksel op en plaas in die oond en bak tot sag, sowat 1 ½ ure. Haal die skenkels uit en hou eers eenkant, kook die sous met die helfte af. Roer die sjokolade, botter, asyn en dragon (indien gebruik) by. Geur na smaak. Plaas skenkels terug in die warm sous. Skep uit in opdienbank, strooi gerasperde lemoenskil oor.

Foto’s en stilering Ian en Errieda Du Toit

Lamsrak en moderne kroonbraad – koninklik genoeg vir Prins Harry en sy Meghan

28 Nov

Met ons skop-die-skoene-uit kuiermaniere sit ons selde aan vir ‘n uithangete, maar vandag dek ek tafel vir ’n adellike gas. My beplanning vir ‘n kristal-ete begin by ‘n spesiale gesprek met my slagter. “Twee agt-been lamsrakke, ge-french asseblief.”

Met hierdie swierige lamssnit kan ek die rigting gaan van Kroonbraad, die grande dame van die pronkmaal met ribbene wat vorstelik na buite krul soos ‘n koningskroon. Net so dramaties is die Erewag met ribbe wat na binnetoe ‘n boog inmekaar gevleg soos gekruiste swaarde.

Ek verkies iets met minder ‘pomp and ceremony’. Minder klassiek + meer modern. ‘n Kroon vir ‘n meer moderne koninklike minder klassiek en meer modern. Of wat van iets pikant, taaivinger-lekker, klewerig gebak met smake uit die Ooste?

MODERNE LAMSKROON

Hierdie lamsbraad vir ‘n moderne monarg word in ‘n Bundt-pan gerooster, ‘n idee van Alton Brown.  As kroonjuwele vul ek die holte met braaiaartappels, goudgebraai in lamsvet.  Die ribbene buig elegant na binne toe, maar as jy ‘n tradisionele kroonbraad verkies wat na buite buig, bind die lamsrakke vas met die vetkant na binne.

Jy het nodig:

  • 2 lamsrakke, 8-rib elk, ewe groot , so 750g elk (boonste punte skoongemaak)
  • 15 ml olyfolie
  • 5 ml sout
  • 2,5 ml swartpeper
  • 6 knoffelhuisies, gemaal
  • 20 ml fyngekapte vars tiemie
  • 7,5 ml koljander, fyngestamp
  • 20 ml sjerrieasyn
  • 5 ml gladde Dijon mosterd
  • 5 ml vars roosmaryn, gekap
  • Vulsel van jou keuse (ek het dit met braaiaartappels gevul)

Maak so:

  1. Voorverhit die oond tot 190°C, oondrak in die middel. Buig elke lamsrak in ‘n halfsirkel met die vleiskant na binne, vetkant na buite. Knoop die ente aanmekaar vas met kombuistou. Verstewig dit reg rondom met nog tou.
  2. Vryf die vleis in met olie. In ‘n bakkie, meng die sout, peper, knoffel, tiemie en koljander, druk die mengsel aan die vleis vas. 
  3. Plaas die vleis in ‘n Bundt-pan met die twee lamsrakke om die tuit. Giet ‘n lepel olyfolie onder in die pan. Rooster die vleis 40-45 minute in die oond (ongeveer 30 min per kg. ) Wenk: as die vleis se vetkant nie vinnig genoeg na jou sin verbruin nie, verplaas die vleis van die Bundpan af oor na ‘n vlak emaljebord en druk gefrommelde foelie of ‘n blikbeker in die holte dat die vleis sy vorm behou. 
  4. Haal die vleis uit die oond, bedek liggies met foelie of ‘n omgekeerde bak, laat rus vir 20 minute.
  5. Meng intussen die asyn, mosterd , roosmaryn en pansappe, geur na smaak.
  6. Bediening: plaas vulsel van jou keuse in die holte, knip die tou af en bedien met asyn-mosterdsousie.

SO LYK DIE LAMSRAK-EREWAG

Vir die Erewag (‘guards of honour) word die lamsrakke teenmekaar geplaas, vetkant na buite met die bene wat inhak soos gekruiste swaarde.


Die ribbene word skoongemaak (‘frenched’) sodat dit makliker inhak, en vasgebind met kombuistou.  Om dit gaar te maak rooster dit by 180°C vir 25 minute, plus 25 minute ekstra per 450 g.

Volgens etiket word die tou  eers aan tafel geknip. Sny ‘n Erewag beide kante met een sny deur.

PIKANTE HEUNING- EN KNOFFEL LAMSRAK

Hierdie lamsrak met sy aangename byt is kos vir ‘n koning, maar sonder die vertoon.

Jy het nodig:

  • 1 lamsrak (6 of 8 been)
  • 10 ml vinkelsade, fyngemaak
  • Sout en peper na smaak
  • 30ml olie

Smeerlaag:

  • 5 ml bruinsuiker
  • 5 ml suurlemoensap
  • 15 ml Dijon mosterd
  • 45 ml heuning
  • 30 ml sojasous
  • 15 ml ryswynasyn of appelasyn
  • 15 ml vars gemmer, gerasper
  • 15 ml Srirarcha of vervang met tamatiesous en knippie rooipeper
  • 10 ml droë rissievlokkies
  • 5 knoffelhuisies, gemaal
  • Swartpeper na smaak

Maak so:

  1. Voorverhit die oond na 200°C. Klad die lamsrak droog met kombuispapier.
  2. Kook die smeerlaag-bestanddele saam in ‘n medium kastrol oor matige hitte tot effe afgekook en verdik, sowat 7 minute.
  3. Intussen plaas die lamsrak op ‘n kapbord met die vetkant na bo. Sny kepies in ‘n diamantpatroon deur die vetlaag. Vryf goed in met sout en peper.
  4. Verhit die olie oor matige hitte in ‘n oondvaste pan. Voeg die fyngemaalde vinkel in die olie en kantel die pan terwyl dit sis. Verbruin die lamsrak aan alle kante tot goudbruin. Haal van die plaat af en bestryk alle kante met die smeerlaag.  Drup ook die orige olie in die pan oor.
  5. Plaas in oondpan en rooster soos volg: 20 min vir rou (rare); 25 min vir medium-rou; 30 min vir medium; 35 min vir goedgaar. Laat rus vir 10 minute en bedien.

Goed om te weet: Kroonbraad van lamsrak word nie met ‘n vulsel in gebak soos met kroonbraad van varkvleis nie, anders sal dit te lank neem om gaar te word. As jy dit nie in die Bundt-pan wil bak nie, druk gefrommelde foelie in die holte.

 

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

Lamsnek in die stowepot

31 May

Ek probeer die reëngode lok met hartlike winterkos.

IMG_0951

Net vir ingeval hulle uitgeëet is aan Kaapse bredies, word die kasserolbakke uitgehaal vir twee Franse stowegeregte. Ek gee die reënmakers ‘n omkoopkeuse tussen:

(a) lamsnek navarin, ‘n ligter stowepot van jong, babasoet groente, altyd rape (‘navare’),  altyd witwyn.

IMG_0944

EN

(b) lamsnek bourguignon, donker en dramaties van al die rooiwyn, bruin sampioene en blokkies gerookte varkspek.

Sulke stowepotte is maklik om te maak, met die bedwelmende aromas van stowevleisvleis, vars groente en kruie (eerders as speserye) om die hardnekkigste reënmaker uit sy wegkruipplek te lok.

, wat die Franse die kraag of nek noem (‘collet’ of collier) is ‘n gesogte snit vir stowegeregte. Julia Child prys die gelatien in die nek om diepte aan die sous te gee, terwyl Raymond Blanc ‘n voorstander is om vleis op die been, soos skywe lamsnek gaar te maak om rykheid aan ‘n ongekompliseerde gereg te gee.

Ek het beginsels uit die twee legendariese kenners van die Franse kookkuns se navarin-resepte geneem vir my Kaaps-Franse weergawe van die delikate lamstowegereg met jong wortels, rape, radyse, jong aartappeltjies en ertjies, gewoonlik ook groenbone.

Dit word tradisioneel, veral in skaapwei-streke soos Normandië, in lamseisoen gemaak wanneer die lentegroente nog piepklein was. Met ons tusseninweer, is dit heerlik lig, maar tog vullend as die kwik  sak.

IMG_0942

Vir die bourguignon het ek Julia Child se metode uit Mastering the Art of French Cooking net gevluglees, want ‘n drie-bladsy-resep is selfs vir my wat nie omgee vir tydrowende geregte nie, net te pedanties!

My weergawe is aansienlik vereenvoudig, met baie goeie resultate. Ons sal maar moet sien of die reëngode saamstem.

LAMSNEK NAVARIN

Met witwyn en jong groente vir die tussenin dae wat die winter soos lente voel.

Maak 6 – 8 porsies

  • 2 lamsnekke, in lengte gehalveer, en elke helfte in 2 stukke te sny (of  ‘n mengsel van lamsnitte soos kortribbetjies, opgesnyde skenkels of bladtjops)
  • Olyfolie of varkvet
  • Sout
  • 2 uie, gekap
  • 2 medium geelwortels, in blokkies
  • 1 selderystingel, opgekap
  • 4 knoffelhuisies, gekneus
  • 250 ml witwyn (soos ‘n droë Chardonnay)
  • 6 peperkorrels
  • 1 kruieruikertjie (2 lourierblare, 5 takke pietersielietakke, 1 tak roosmaryn, 4 tiemietakkies)
  • 2 ryp tamaties, in blokkies
  • 6 jong rape, geskil en in helfte gesny
  • 6 radyse, gewas, behou stukkie stingel en stertjie
  • 12 jong wortels, met stukkies groen stam, hou heel
  • 12 jong aartappeltjies, ongeskil
  • 4-6 babavinkel, gehalveer (opsioneel)
  • 250 ml bevrore ertjies
  • Klont sagte botter

Metode:

Voorverhit die oond na 160°. Druk die vleis droog en sout goed.

Verhit die olie in ‘n groot, hittebestande kasserolbak en verbruin  die nekstukke. Skep uit.

In dieselfde bak, soteer die uie, knoffel, wortelblokkies en seldery. Roer tamatie by en braai ‘n minuut of so.

Plaas die vleis terug in die pan met die kruieruikertjie en peperkorrels. Gooi die wyn by en bedek met genoeg koue water om die vleis te bedek. Laat dit net liggies opkook en skep die skuim af van die oppervlakte.

Plaas deksel op, plaas in die oond en bak sowat 90 minute. Intussen, berei die jong groente voor en vroeg by (behalwe ertjies). Bak tot die vleis loskom van die bene en die groente vurksag. Gooi ertjies by.

Verwyder die kruieruikertjie. Geur met sout en peper na smaak, roer die sagte botter by.

Plaas die oondbak op die tafel en skep uit in diep borde. Sit voor met Franse brood of ‘n sourdough-tipe brood.

Nou die ander keuse:

LAMSNEK BOURGUIGNON 

Bedien 4

  • 1,2 kg lamsnek, in skywe gesny (of  ‘n mengsel van lamsnitte soos kortribbetjies, opgesnyde skenkels of bladtjops)
  • 12 pereluitjies, geskil
  • 60 ml koekmeel
  • 15 ml olyfolie
  • 20 g botter
  • 6 stroke ontbytspek sonder swoerd, opgesny
  • 250 g sampioene
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • Kruieruikertjie (1 lourierblaar, 2 pietersielietakke, 1 roosmaryntak vasgebind met kombuistou)
  • 250 ml rooiwyn
  • 250 ml goeie beesvleisaftreksel
  • 15 ml ligte bruinsuiker
  • 30 ml tamatiesmeer

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Skil die uitjies.

Maak ‘n snit deur die vetstrook van die vleis, wat keer dat die vleis opkrul. Geur die vleis goed met sout en bestrooi liggies met die meel.

Verhit die olie in ‘n kasserolbak en verbruin die vleis aan albei kante. Verwyder en hou eenkant.

Smelt die botter in dieselfde bak, voeg die uie, sampioene en spek by. Laat liggies braai tot goudbruin terwyl jy roer. Roer die tamatiesmeer en bruinsuiker by. Plaas die vleis terug in die bak saam met die kruieruiker. Giet die wyn en aftreksel oor.

Bak met die deksel op vir 90 minute, haal die deksel af en bak nog sowat 30 minute tot die vleis sag is. Plaas kasserolbak op die tafel en bedien met Franse brood, of kapokaartappel, heerbone of gort.

Notas:

Gebruik ‘n mengsel van lamsnitte soos kortribbetjies, opgesnyde skenkels of bladtjops.

Die smaak is op sy beste die volgende dag.

Vir ‘n amber sous, strooi ‘n bietjie suiker oor die vleis, braai en roer 3 minute oor hoë hitte tot die suiker gekaramelliseer het.

Wissel die navarin-groente af met enige gaar bone of lensies (voeg in die laaste 30 minute van die kooktyd by).

  • Deli-Co het die lamsnekke vir die geregte verskaf. Die plaasstyl-slagters lewer by sentrale punte af in die Noordelike Voorstede. Besoek www.delico.co.za of loer in by Deli-Co se vleis-en plaasstal by Potbelly in Klapmuts.
  • Die kos en stilering is gedoen deur Errieda du Toit en die foto’s deur Ian du Toit.

Paaslam en pashka

22 Mar

Paastyd is ‘n goeie tyd om die kosboek The Supper of the Lamb, deur die teoloog-kok Robert Farrar Capon te lees. Hy herinner die kosliefhebber dat eet ‘n sakrament is waarmee ons daagliks die wonderwerk van die lewe kan vier. Vandag is lamsvleis te duur vir die alledaagse, maar ons kan dit steeds feestelik eet en die uitsonderlike soos die Opstanding vier met ‘n lamsboud of blad. Om die simboliek daarvan te verstaan laat mens net ietwat met nadenkend eet.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

 Simboliek en die Paastafel:

Kostradisies word oor eeue heen gevestig, maar dikwels vervaag die oorsprong en die simboliese waarde word in moderne tye oor die hoof gesien. Lamsvleis is ‘n welkome gesig op Paas-Sondag as feeskos vir die siel.

Hoekom lamsvleis verbind word met Paasfees:

Die diepgewortelde assosiasie van die Paaslam met Jesus as die Goeie Herder, Agnus Dei, die lam van God, laat die betekenis van tradisiekos soos skaapboud op Paas-Sondag voortleef.

Lamsvleis se diep verbintenis met die Pase gaan baie ver terug, voor die geboorte van Christus, toe die Jode in Egipte die deurkosyn gemerk het met die bloed van die geofferde lam, om hul eerste gebore seuns te spaar. Ons lees hiervan in Eksodus. Jode wat tot die Christendom bekeer is, het met die tradisie om lamsvleis op Paassondag voor te sit aangegaan.

Paaslam in ander vorme:

Die simboliek van die Paaslam word nie beperk tot die vleisbord nie. In Poland word botter op die feestafel gesit, gevorm om soos ‘n lammetjie te lyk. Die Franse agneau pascal  (spreek uit anjo) en die Duitse osterlamm is geliefde Paaskoeke wat in spesiale ‘lammetjie’-vormpanne  gebak word, en met strooisuiker of meringue versier word wat soos lamswol lyk. So word kinders aan die Paassimbool bekendgestel.

Viering van Paasfees met lamsvleis aan die Griekse tafel:

Ek sou op Paas-Sondag graag ‘n gas aan ‘n Griekse tafel wou wees, waar geloofsgebruike steeds ‘n baie sterk invloed op die kos het. Eers word die vas gebreek met gevlegte Paasbrood en rooi-gekleurde hardgekookte eiers wat simbolies van lyding. Daarna word die Paaslam van snoet tot stert gevier – die grootste deel daarvan op die spit gebraai. Magiritsa, ‘n suurlemoen-gegeurde Paastyd-sop en kokoretsi  gemaak van die hart, lewer en niertjies (soos ons lewer in netvet oor die kole gebraai) vier ook die opstanding.

Raad met oorskiet-lamsvleis:

Maak só met oorskietvleis wat oorbly na Paas-Sondag. Druk dik snye plaasbrood in sirkels uit met ‘n medium-grootte koekiedrukker. Bestryk die brood liggies met olyfolie en bak dit in die oond tot bros en goudbruin. Smeer die bokant met ‘n jogurt-okkerneutdoopsous of skordalia, sit ‘n stukkie beet, spinasieblaartjie en happie gaar lamsvleis bo-op.

Ander geliefde Paasfeeskos aan my Huiskok-tafel:

My allergunsteling is natuurlik piekelvis, waaroor ek al geskryf het. Pashka, my ander gunsteling kom uit Rusland wat ek met rosyntjiebroodbrioche eet. Ek vind die tradisie en rituele rondom pashka baie besonders.

Pashka, Russies vir Paas, word gemaak van ‘n vars kaas, amper soos maaskaas,  wat versoet word en in ‘n vorm geset word. Die tradisie is om die kaasmengsel te giet in ‘n piramied-houtvorm, simbolies van Christus se graftombe. Die Ortodokse tradisie is steeds om die letters XB op die sykante van die pashka uit te pak met neute en versuikerde skil. Die letters beeld uit ‘Christos voskres’ – Christus het opgestaan. Die gebruik is om die pashka op die Donderdag en Vrydag voor Paassondag kerk toe te neem om geseën te word deur die priester.

Tradisioneel word dit ge-eet met Kulich, ‘n koek-brood, deurspek met rosyne, amandels en speserye. Volgens gebruik word die kulich bedek met wit versiersuiker, afgerond met ‘n wit roos wat dan ook deur ‘n priester geseën word. Die gees van ‘n Russiese Paasfees kan geniet word met ‘n kortpad deur die kombuis. Ek vervang kulich met my rosyntjiebrood-brioche. Paasbolletjies is ook geskik.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

ERRIEDA DU TOIT (HUISKOK) SE LAMSBOUD IN JOGURT

‘n Eenvoudige manier om ‘n feestelike lamsboud op Paassondag te maak. Dit het ‘n Griekse oorsprong. Die resep is opgeneem in my en Francois se boek Huiskok Glanskok.

Maak 6 porsies

  • 1 lamsboud van ongeveer 1.2 kg, ontbeen en gevlek
  • 500 ml dubbelroom (Griekse) jogurt
  • 4 knoffelhuisies fyngekap
  • 60 ml vars origanum, gekap
  • 5 ml fyn komyn
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Meng die jogurt, knoffel, origanum, komyn, sout en peper saam. Marineer lamsboud in mengsel vir ongeveer ‘n uur. Voorverhit die oond tot 240ºC. Haal lamsboud uit marinade en plaas in oondpan. Bedek met tinfoelie en bak vir 20 minute by 240ºC, draai dan die hitte laer na 180ºC en bak nog 30 minute. Haal uit oond en laat vir 10 minute rus. Sny vleis in skywe.

ERRIEDA SE OONDGEBAKTE ARNI

Arni is Grieks vir skaapvleis. Die eg-landelike oondgebakte skaapdis is in Griekeland ‘n simbool van herontmoetings, wat veral op Sondae voorgesit word. Die aartappels absorbeer die olyfolie en kruiegeure. Die resep is een van my gewildste resepte uit Huiskok Glanskok-boek.

Maak 4 porsies

  • 2 heel knoffelbolle, huisies geskil
  • 1.5 kg lam- of skaapboud
  • 2 uie, grof gekap
  • 60 ml olyfolie
  • sout en peper
  • 2 suurlemoene
  • takkie elk tiemie, roosmaryn en lourierblaar
  • 1.5 kg aartappels, geskil en ‘n groot stukke gesny
  • 2 groot tamaties, in kwarte gesny
  • 30 ml botter (opsioneel)

Voorverhit oond tot 180⁰C. Maak kepies in die vleis en druk ‘n knoffelhuisie in elke snytjie. Plaas uie op die boom van ‘n oondpan en besprinkel met olyfolie. Geur vleis met sout en peper, plaas dit bo-op die uie, bedruip met sap van 1 suurlemoen en gooi kruie by. Gooi 20 ml olyfolie en 200 ml water oor. Bak in oond vir sowat 40 minute. Plaas die gesnyde aartappel in ‘n bak met die oorblywende olyfolie en suurlemoensap, meng deur en voeg by die vleis saam met nog 200 ml water. Bak nog 20 minute. Pak tamaties in die oondpan en stip met botter. Bak tot vleis gaar is en die aartappels sag is.

Pashka is 'n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

Pashka is ‘n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

PASHKA RESEP – iets simbolies om saam met rosyntjiebrood of paasbolletjies te eet.

Gebruik ‘n meelsif as vorm, of ‘n terracotta blompot vir ‘n meer tradisionele vorm. Ek het die resep oorspronklik gebruik van Letitia Prinsloo, hoof van die ICA.

  • 150ml vars room, geklop tot sagte punte vorm
  • 2 houers Parmalat gladde maaskaas of Simonsberg roomkaas
  • 150 g strooisuiker
  • Gerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 5 mℓ suurlemoensap
  • 60g versuikerde lemoenskil, fyngekap
  • 60g versuikerde gemengde skil
  • 30g geroosterde amandels, gekap
  • Vir afwisseling kan gedroogde appelkosies, dadels of goue sultanas ook bygevoeg word.

Voer ‘n meelsif uit met kaasdoek. Klop room tot sagte punte vorm. Plaas in yskas. Kombineer roomkaas, neute, versuikerde skil, strooisuiker, suurlemoenskil en sap.  (As die roomkaas te dik is, verdun met ‘n bietjie lemoensap). Vou room in. Skep in die voorbereide vorm. Verkoel vir 8 ure.  Haal uit die vorm en bedien verkieslik teen kamertemperatuur saam met tradisionele paasgebak.

Wenk: Jy kan ook maaskaas of ricottakaas gebruik, pleks van die roomkaas. Die vars room kan met suurroom vervang word, maar los dan die suurlemoensap uit die resep.

 

SOSATIES MET BOEREMEISIES

29 Nov

Dis maklik om jou te verbeel jy hoor die knetterende kole en die sis van die vetjies en sousie wat afdrup op die vuur…

Ons land het geen einde as dit by kreatiewe idees kom nie – so is dit met RSG wat met die idee vorendag gekom het om ‘n kunstefees op die lug te hou, en so die kunste na die luisteraars te bring. Vir hierdie heerlike nuutjie het ek en Francois, my Huiskok Glanskok-kookmaat, op lug ‘n heerlike sosatie-kosstalletjie bedryf.

Sosaties (foto: Kokkedoor Kookboek, Human & Rousseau

Sosaties (foto: Kokkedoor Kookboek, Human & Rousseau

Om vleis op ‘n stokkie te ryg is dalk nie veel van ‘n kuns nie, maar om ‘n regte, egte sosatie te maak vat jare se ondervinding; of jy kan dit vir jou maklik maak en ‘n ekspert die kuns afvra …. Familieresepte is gewoonlik ‘n goeie begin, want sosaties kom al baie geslagte lank met ons.

Weet waar ons vandaan kom…

Hoewel daar nie duidelikheid is oor presies waar die term “sosatie” oorspronklik vandaan kom nie, onderskei die soet, gekookte kerriemarinade van sosaties dit van Indonesiese satay. Dit is moontlik afgelei van die Maleise woord “sesatie” (vleis-op-’n-stokkie), of ’n aanpassing van die Indonesiese term vir maalvleis, “sasati”.

Die pikante soeterige sous van ons tradisionele sosatie het dalk ook ’n voorouer in die Persiese kebab, wat die Arabiere aan die Midde-Ooste en Noord-Afrika bekendgestel het voor dit destyds in Europa en ook Holland gewild geraak het. Sosaties was natuurlik ook ideaal vir trekkers per ossewa, want die sous het die vleis in ’n mate gepreserveer.

Die resep wat ek kies vir my RSG stalletjie kom uit die Kokkedoor Kookboek waarop ek baie trots is. Dankie Rendil Pietersen en Trudie Niehaus dat ek met julle kalwers kan ploeg.

Sosaties met boeremeisies

Maak 14 – 16 sosaties

Met hierdie tradisionele resep, Rendil se gunsteling, skop hy die bal netjies oor die pale en wen saam met Trudie die wedstryd. Die boeremeisies (perskes in brandewyn) sorg vir nostalgie en skop.

Marinade

4 uie, in ringe gesny
30 ml (2 e) kerriepoeier
10 ml (2 t) fyn gemmer
60 ml (¼ k) borrie
5 ml (1 t) fyn kardemom
2 steranys
8 suurlemoen- of lourierblare
125 ml (½ k) bruinsuiker
750 ml (3 k) asyn
440 ml appelkooskonfyt
250 ml (1 k) water

Vleis
1 kg lamsboud, in blokkies van 3 cm gesny
1 kg varkboud, in blokkies van 3 cm gesny
14–16 sosatiestokkies, in water geweek

Boeremeisies
500 ml (2 k) suiker
500 ml (2 k) water
750 ml (3 k) brandewyn
2 stukkies pypkaneel
400 g gedroogde perskes

Marinade
Kook al die bestanddele vir die marinade 45 minute lank saam en giet dit oor die vleis in ’n glas-, erde- of emaljebak. (Moenie die vleis in ’n metaalbak pak nie want die metaal kan met die asyn reageer en die smaak beïnvloed.) Laat oornag staan om te marineer. (Huiskok-wenk: ek laat staan my sosaties 2 dae en keer dit net gereeld om).

Boeremeisies
Kook al die bestanddele vir die boeremeisies, behalwe die perskes, 15 minute lank saam. Giet die sous oor die perskes en laat oornag staan.

Samestelling:

Ryg die lamsvleisblokkies, varkvleisblokkies en perskes om die beurt op die sosatiestokkies. Braai die sosaties oor matige kole tot gaar en bruin.

Eet lensie- orzo en goudbruin uie met geroosterde dennepitte langs die Jordaanrivier

30 Jan

Daar’s nie klarigheid by my wat presies dit is wat ‘n eenvoudige vermenging van lensies, rys en gekarameliseerde uie so ‘skep weer’ maak nie. Is dit die speserye? Die lensies se effense byt onder die tande saam met die sagtheid van die rys? Die soet van die kaneel en die gebraaide uie wat soos ‘n mahonie-koepel oor die gereg kom lê?

bak orzo lensies dennepitte en stadiggebraaide uie IMG_1954 Resized

Deel van die bekoring  is die misterie van die naam mejadra op die Westerse tong; vreemd genoeg ook bekend asof ek daarop grootgemaak is. Of dit met stadig-gekookte lamsblad of skenkels bedien word; met tamatiebredie of met Woolies se wegneem-spithoender; of net so op ‘n vleislose Maandagaand, dit ‘n Arabiese basaar na my voorstedelike tafel toe.

lamsblad opgeskep resize

Daar’s ‘n 1 001 maniere om die gemengde lensiegereg te maak en net soveel maniere om dit te spel: mejadra, mujaddara, mujadaraj, moujadara, mudardara en selfs megadarra.  Maar gelukkig bring al die variasies jou uit by dieselfde moedergereg wat van Jericho tot aan die Jordaanrivier die hongeres, armes en lekkerbekkiges gevoed het. Dis goedvoelkos waarvoor jy, as jy dit een keer geproe het, altyd ‘n kolletjie op jou tafel sal los.

aa orzo en lensies met dennepitte en gekarameliseerde uie RESIZE bestanddele IMG_1940

Anderdag toe ek vir die hoeveelste keer lamsblad in die oond bak onder ‘n kombers van tiemie en komyn kry ek lus om hierdie antieke gereg aanmekaar te slaan. Ek laat my ook nie afsit deur die feit dat die basmatirys waarmee dit tradisioneel gemaak word op is nie. Pastarys (orzo) is net so lekker, dan kan jy dit moutzendra noem soos die Cipriote. Die lensies sal ook in vrede leef met bulgur, stampkoring, ‘n mengsel van bruin- en wilderys of gort (pearl barley).

bakkie gekarameliseerde uie met saffraan IMG_1945 RESIZE

Maar die een ding waarsonder jy nie kan nie, is die soet, gekarameliseerde uie. Daarsonder is die lensies, wel, net lensies, die Arabiese klanke stil en die Midde-Ooste maar net weer die noordelike voorstede duskant Tygervallei.

LENSIE-, ORZO- EN GOUDBRUIN UIE MET GEROOSTERDE DENNEPITTE

Uit watter van my horde resepteboeke dit eens gekom het, weet ek nie. Die resep is ‘n skadu van sy ou self en en die Midde-Oosterlinge en Cipriote sal seker ‘n oorval kry, maar dit werk vir my. Sien dit as ‘n riglyn eerder as presiese aanwysings na die Jordaanrivier. Die hemele gaan ook nie intuimel as jy nie dennepitte het nie; span amandelvlokkies in en gaan skryf dennepitte op jou inkopielys vir volgende keer.  

2 bruin uie, in dun ringetjies gesny (probeer dit eweredig dun sny – ‘n mandolien werk goed)

olyfolie vir braai

1 koppie bruin lensies

¾ koppie orzo (pastarys)

1 rooi ui, fyngesnipper

7 saffraandrade of ½ teelepel borrie

1 t wonderpeper

1 ½ t kaneel

Opsioneel: ½ t elk komyn en koljander

Sout en peper

50 g dennepitte, gerooster

Vars marjolein of origanum

Metode

Maak die gekarameliseerde uie: Verhit 2 eetlepels olyfolie in ‘n pan en voeg die ringe bruin-uie by, verlaag die hitte en soteer sowat 30 minute tot sag en goudbruin terwyl jy nou en dan ‘n roer gee. Dit kan maar effe bruin word op plekke, maar nie te swart nie anders proe dit bitter. (Sien ook Moro se metode onderaan). Geur met sout en peper.

Plaas die lensies in ‘n medium kastrol met genoeg water om dit goed te bedek en kook sowat 15 minute tot amper sag (indien dit droog kook, gooi nog water by). Gooi orzo by en kook saam vir verdere 10 minute of tot net sag. Braai fyngesnipperde rooi uie in ‘n pan met olyfolie, voeg die kaneel, borrie (of saffraan) en wonderpeper by, braai nog ‘n paar minute en voeg  die lensie- en pastarysmengsel by. Braai 2 minute saam. Roer die geroosterde dennepitte deur, reserveer ‘n paar dennepitte vir garnering. Geur goed met sout en peper.

Skep in opdienbak, strooi vars gekapte origanum of marjolein oor en rond af met die gekarameliseerde uie en nog van die dennepitte. En as jy net pietersielie in die huis het, net so goed.

close up IMG_1964 resize

{Variasies}

*Vir ‘n ekstra Griekse geur, voeg feta by – in blokkies of opgebreek. Bedien dan met suurlemoenwiggies.

*Maak soos die Lebanese en bedien dit met ‘n bakkie jogurt, ongegeur of met gerasperde komkommer.

*Vervang die orzo met gaar basmatirys; dis tradisioneel om dan ‘n bietjie suiker by te voeg. Ottolenghi-volgelinge kan kyk hoe mejadra in Jerusalem, sy nuutste boek, met basmatirys gemaak word.

*Los die rooi uie uit en meng dan die helfte van die gekarameliseerde bruin uie deur die lensie- en rysmengsel en die ander helfte as garnering.

*Spaans: Vervang die kaneel met paprika. Skep individuele porsies en bedien met  gebakte eier bo-op, verkieslik met die eiergeel nog loperig.

*Gee dit ‘n Italiaanse geur  met vars basielkruid en rasper parmesaan of grana padano oor.

*Gee dit ‘n Indiese kinkel deur kerriepoeier saam met die uie te braai en die dennepitte met geroosterde amandels te vervang.

*Gee dit ‘n boerekos-kinkel met blokkies gaar pampoen, geur met vars tiemie en strooi geroosterde pampoenpitte oor. Lekker saam met die kaneel en die soet van die uie.

{Brosgebraaide uie soos Moro maak}

Sam en Sam Clark van Moro se metode om die uie bros te braai is ‘n treffer, maar gebruik heelwat olie en moet liefs in twee sarsies gedoen word om te verseker dat die uie bros en krakerig braai. Dis egter lekker afwisseling en gee die lensiegereg selfs meer woema.

Om 2 groot uie te karameliseer, verhit 300 ml sonneblomolie in ‘n groot braaipan of kastrol. Sodra goed warm, gooi die helfte van die fyngesnyde uie in die pan, en braai oor medium hitte tot mahoniebruin. Skep met gaatjieslepel uit, plaas op kombuispapier om te dreineer en herhaal die proses. Die orige olie kan herwin word, maar onthou dat dit nou sterk na uie smaak.

%d bloggers like this: