Daar’s nie klarigheid by my wat presies dit is wat ‘n eenvoudige vermenging van lensies, rys en gekarameliseerde uie so ‘skep weer’ maak nie. Is dit die speserye? Die lensies se effense byt onder die tande saam met die sagtheid van die rys? Die soet van die kaneel en die gebraaide uie wat soos ‘n mahonie-koepel oor die gereg kom lê?
Deel van die bekoring is die misterie van die naam mejadra op die Westerse tong; vreemd genoeg ook bekend asof ek daarop grootgemaak is. Of dit met stadig-gekookte lamsblad of skenkels bedien word; met tamatiebredie of met Woolies se wegneem-spithoender; of net so op ‘n vleislose Maandagaand, dit ‘n Arabiese basaar na my voorstedelike tafel toe.
Daar’s ‘n 1 001 maniere om die gemengde lensiegereg te maak en net soveel maniere om dit te spel: mejadra, mujaddara, mujadaraj, moujadara, mudardara en selfs megadarra. Maar gelukkig bring al die variasies jou uit by dieselfde moedergereg wat van Jericho tot aan die Jordaanrivier die hongeres, armes en lekkerbekkiges gevoed het. Dis goedvoelkos waarvoor jy, as jy dit een keer geproe het, altyd ‘n kolletjie op jou tafel sal los.
Anderdag toe ek vir die hoeveelste keer lamsblad in die oond bak onder ‘n kombers van tiemie en komyn kry ek lus om hierdie antieke gereg aanmekaar te slaan. Ek laat my ook nie afsit deur die feit dat die basmatirys waarmee dit tradisioneel gemaak word op is nie. Pastarys (orzo) is net so lekker, dan kan jy dit moutzendra noem soos die Cipriote. Die lensies sal ook in vrede leef met bulgur, stampkoring, ‘n mengsel van bruin- en wilderys of gort (pearl barley).
Maar die een ding waarsonder jy nie kan nie, is die soet, gekarameliseerde uie. Daarsonder is die lensies, wel, net lensies, die Arabiese klanke stil en die Midde-Ooste maar net weer die noordelike voorstede duskant Tygervallei.
LENSIE-, ORZO- EN GOUDBRUIN UIE MET GEROOSTERDE DENNEPITTE
Uit watter van my horde resepteboeke dit eens gekom het, weet ek nie. Die resep is ‘n skadu van sy ou self en en die Midde-Oosterlinge en Cipriote sal seker ‘n oorval kry, maar dit werk vir my. Sien dit as ‘n riglyn eerder as presiese aanwysings na die Jordaanrivier. Die hemele gaan ook nie intuimel as jy nie dennepitte het nie; span amandelvlokkies in en gaan skryf dennepitte op jou inkopielys vir volgende keer.
2 bruin uie, in dun ringetjies gesny (probeer dit eweredig dun sny – ‘n mandolien werk goed)
olyfolie vir braai
1 koppie bruin lensies
¾ koppie orzo (pastarys)
1 rooi ui, fyngesnipper
7 saffraandrade of ½ teelepel borrie
1 t wonderpeper
1 ½ t kaneel
Opsioneel: ½ t elk komyn en koljander
Sout en peper
50 g dennepitte, gerooster
Vars marjolein of origanum
Metode
Maak die gekarameliseerde uie: Verhit 2 eetlepels olyfolie in ‘n pan en voeg die ringe bruin-uie by, verlaag die hitte en soteer sowat 30 minute tot sag en goudbruin terwyl jy nou en dan ‘n roer gee. Dit kan maar effe bruin word op plekke, maar nie te swart nie anders proe dit bitter. (Sien ook Moro se metode onderaan). Geur met sout en peper.
Plaas die lensies in ‘n medium kastrol met genoeg water om dit goed te bedek en kook sowat 15 minute tot amper sag (indien dit droog kook, gooi nog water by). Gooi orzo by en kook saam vir verdere 10 minute of tot net sag. Braai fyngesnipperde rooi uie in ‘n pan met olyfolie, voeg die kaneel, borrie (of saffraan) en wonderpeper by, braai nog ‘n paar minute en voeg die lensie- en pastarysmengsel by. Braai 2 minute saam. Roer die geroosterde dennepitte deur, reserveer ‘n paar dennepitte vir garnering. Geur goed met sout en peper.
Skep in opdienbak, strooi vars gekapte origanum of marjolein oor en rond af met die gekarameliseerde uie en nog van die dennepitte. En as jy net pietersielie in die huis het, net so goed.
{Variasies}
*Vir ‘n ekstra Griekse geur, voeg feta by – in blokkies of opgebreek. Bedien dan met suurlemoenwiggies.
*Maak soos die Lebanese en bedien dit met ‘n bakkie jogurt, ongegeur of met gerasperde komkommer.
*Vervang die orzo met gaar basmatirys; dis tradisioneel om dan ‘n bietjie suiker by te voeg. Ottolenghi-volgelinge kan kyk hoe mejadra in Jerusalem, sy nuutste boek, met basmatirys gemaak word.
*Los die rooi uie uit en meng dan die helfte van die gekarameliseerde bruin uie deur die lensie- en rysmengsel en die ander helfte as garnering.
*Spaans: Vervang die kaneel met paprika. Skep individuele porsies en bedien met gebakte eier bo-op, verkieslik met die eiergeel nog loperig.
*Gee dit ‘n Italiaanse geur met vars basielkruid en rasper parmesaan of grana padano oor.
*Gee dit ‘n Indiese kinkel deur kerriepoeier saam met die uie te braai en die dennepitte met geroosterde amandels te vervang.
*Gee dit ‘n boerekos-kinkel met blokkies gaar pampoen, geur met vars tiemie en strooi geroosterde pampoenpitte oor. Lekker saam met die kaneel en die soet van die uie.
{Brosgebraaide uie soos Moro maak}
Sam en Sam Clark van Moro se metode om die uie bros te braai is ‘n treffer, maar gebruik heelwat olie en moet liefs in twee sarsies gedoen word om te verseker dat die uie bros en krakerig braai. Dis egter lekker afwisseling en gee die lensiegereg selfs meer woema.
Om 2 groot uie te karameliseer, verhit 300 ml sonneblomolie in ‘n groot braaipan of kastrol. Sodra goed warm, gooi die helfte van die fyngesnyde uie in die pan, en braai oor medium hitte tot mahoniebruin. Skep met gaatjieslepel uit, plaas op kombuispapier om te dreineer en herhaal die proses. Die orige olie kan herwin word, maar onthou dat dit nou sterk na uie smaak.
Dit is beslis op my spyskaart saam met Lamsboud Paas Vrydag
Goeie keuse. Dis perfekte vir die geleentheid.
Ek boer op die Internet en kosblogs, maar lanklaas het iets my so geinspireer soos hierdie resep. Dit lyk gasmarories!! Dankie!
Sally, laat weet wanneer jy dit gemaak het. Gasmarories – like daai woord!
Sjoe dit klink heerlik. Ek is ontsaglik lief vir lensies (selfs verslaaf) en kan heeltemal verstaan hoekom Esau sy geboortereg geruil het vir ‘n pot lensiesop ;o)
jou verslawing gaan hierna nuwe hoogtes bereik!
Og! So min tyd en soveel wonderlike, nuwe geregte om uit te probeer. Ek swymel alweer.
Ai vriendin Errieda, jy het a magiese talent met woorde….. pragtige geskryf en pragtig gekook!!
Nina, dis lekker dat ons mekaar kan inspireer.