Dis maklik om jou te verbeel jy hoor die knetterende kole en die sis van die vetjies en sousie wat afdrup op die vuur…
Ons land het geen einde as dit by kreatiewe idees kom nie – so is dit met RSG wat met die idee vorendag gekom het om ‘n kunstefees op die lug te hou, en so die kunste na die luisteraars te bring. Vir hierdie heerlike nuutjie het ek en Francois, my Huiskok Glanskok-kookmaat, op lug ‘n heerlike sosatie-kosstalletjie bedryf.
Om vleis op ‘n stokkie te ryg is dalk nie veel van ‘n kuns nie, maar om ‘n regte, egte sosatie te maak vat jare se ondervinding; of jy kan dit vir jou maklik maak en ‘n ekspert die kuns afvra …. Familieresepte is gewoonlik ‘n goeie begin, want sosaties kom al baie geslagte lank met ons.
Weet waar ons vandaan kom…
Hoewel daar nie duidelikheid is oor presies waar die term “sosatie” oorspronklik vandaan kom nie, onderskei die soet, gekookte kerriemarinade van sosaties dit van Indonesiese satay. Dit is moontlik afgelei van die Maleise woord “sesatie” (vleis-op-’n-stokkie), of ’n aanpassing van die Indonesiese term vir maalvleis, “sasati”.
Die pikante soeterige sous van ons tradisionele sosatie het dalk ook ’n voorouer in die Persiese kebab, wat die Arabiere aan die Midde-Ooste en Noord-Afrika bekendgestel het voor dit destyds in Europa en ook Holland gewild geraak het. Sosaties was natuurlik ook ideaal vir trekkers per ossewa, want die sous het die vleis in ’n mate gepreserveer.
Die resep wat ek kies vir my RSG stalletjie kom uit die Kokkedoor Kookboek waarop ek baie trots is. Dankie Rendil Pietersen en Trudie Niehaus dat ek met julle kalwers kan ploeg.
Sosaties met boeremeisies
Maak 14 – 16 sosaties
Met hierdie tradisionele resep, Rendil se gunsteling, skop hy die bal netjies oor die pale en wen saam met Trudie die wedstryd. Die boeremeisies (perskes in brandewyn) sorg vir nostalgie en skop.
Marinade
4 uie, in ringe gesny
30 ml (2 e) kerriepoeier
10 ml (2 t) fyn gemmer
60 ml (¼ k) borrie
5 ml (1 t) fyn kardemom
2 steranys
8 suurlemoen- of lourierblare
125 ml (½ k) bruinsuiker
750 ml (3 k) asyn
440 ml appelkooskonfyt
250 ml (1 k) water
Vleis
1 kg lamsboud, in blokkies van 3 cm gesny
1 kg varkboud, in blokkies van 3 cm gesny
14–16 sosatiestokkies, in water geweek
Boeremeisies
500 ml (2 k) suiker
500 ml (2 k) water
750 ml (3 k) brandewyn
2 stukkies pypkaneel
400 g gedroogde perskes
Marinade
Kook al die bestanddele vir die marinade 45 minute lank saam en giet dit oor die vleis in ’n glas-, erde- of emaljebak. (Moenie die vleis in ’n metaalbak pak nie want die metaal kan met die asyn reageer en die smaak beïnvloed.) Laat oornag staan om te marineer. (Huiskok-wenk: ek laat staan my sosaties 2 dae en keer dit net gereeld om).
Boeremeisies
Kook al die bestanddele vir die boeremeisies, behalwe die perskes, 15 minute lank saam. Giet die sous oor die perskes en laat oornag staan.
Samestelling:
Ryg die lamsvleisblokkies, varkvleisblokkies en perskes om die beurt op die sosatiestokkies. Braai die sosaties oor matige kole tot gaar en bruin.
Leave a Reply