Tag Archives: omelette

Pofomelet uit Prins Albert en Appelkoospoffertjies uit my onthouspens

25 Jan

Dennhof collage met pofomelet

{WONDERWOLK VAN ‘N OMELET}

Ek het tot ‘n paar dae gelede gedink ek kan ‘n omelet maak – ‘n redelike goeie een – tot ek met die moeder van alle omelette kennis gemaak het by ‘n gastehuis in die hartjie van die Karoo. Dit was tydens ‘n kosbesoek aan Prins Albert en ons by Dennehof Karoo Gastehuis oorgeslaap het.

Die vorige aand al het Mark en Paul, reisgenote, vertel dat ek nie moet uitmis op brekfis nie, want die omelet is glo legendaries. Toe die kelner trots die pofomelet voor my neersit het ek eers in oooo’s en aaaaa’s uitgebars voor ek aan die eet kon kom.  Dis nie ‘n omelet nie, eerder ‘n wonderwolk. ‘n Geelbruin jas wat uit sy nate uit bars van die wolk wat uit hom uitbeur.

Die Karoo-mense deel mos graag en sommer in die stap terug kar toe vertel Ria Steyn, eienaar-kok, hoe om die wonderwolk aan mekaar te slaan. Die eerste oggend terug by die huis moes ek dit net probeer: en het weer verstom gestaan vir die manjifiekheid van my vroegoggend-skepping. Maar dis spog met ‘n ander man se kalwers. Dankie Dennehof dat julle my omelet-horison verbreed het.

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk' soos ek dit gedoop het

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk’ soos ek dit gedoop het

DENNEHOF SE POFOMELET

Ek doop hierdie omelet ‘Dennehof se Wonderwolk’. 

Skei twee eiers, klits die eierwit goed styf, klits die eiergeel (ek gooi  1 eetlepel kraanwater by). Geur eiergeel met sout en peper. Smelt botter in die pan, gooi die geklitste eierwit in die pan en giet dan die geklitste eiergeel bo-oor. Net dit – jy roer nie, jy staan net in verwondering hoe die eiergeel sy lê kry onder die wolk van eierwit in. Bak dit tot goudbruin onder en die eierwit gestol maar nog wolkerig. Gooi jou omelet-vulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan tot op jou mooiste brekfis bordjie.

{POFFERTJIES UIT MY ONTHOUSPENS}

Die laaste ryp appelkose het my so uitdagend gelê en loer: “Maak iets lekkers met ons.”  Ek het die somer reeds ‘n Midde-Oosterse jogurt- en appelkooskoek gemaak, maar het nie veel bestanddele in die huis gehad vir fency goed nie.  Dis toe wat ek dink aan my ma wat altyd so woeps-waps vrugtepoffertjies aanmekaar kon slaan al was daar net ‘n appel of piesang in die die vrugtebak oor.

appelkose op hul eie

My ryp appelkose is in my ma se poffertjie-beslag gedoop en goudbruin gebraai – en omdat die hart van die poffertjies so soetsuur van die appelkose was, het ek nie net die kaneelsuiker nader getrek nie, maar ook esdoringstroop wat ek met ‘n paar druppels lemoenbloeiselwater gegeur het….. net om die surigheid te tem.

poffertjies mooi

 Appelkose hou ook van spesery soos kardomom en word baie gevlei deur amandelgeure. Marsepein en appelkose klink vir my na ‘n forever-after paartjie; nie iets wat my ma saam met haar vrugtepoffertjies sal bedien nie, maar sy het ‘n avontuurlike dogter grootgemaak.

 VRUGTEPOFFERTJIES

Die beslag kan gebruik word om stukkies vrugte in te doop. Bedien dit tradisioneel of maak ‘n eksotiese stropie.

120 g  (250 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

Knippie sout

25 ml suiker

1 eier, geklits

75 ml melk of bietjie meer

12,5 ml gesmelte botter

Vrugte van jou keuse: soos appel, appelkoos, perske, pynappel, piesang,

Metode:

Sny die vrugte van jou keuse in gerieflike stukke gesny. Sprinkel suurlemoensap oor vrugtestukke wat kan verkleur, soos appel en piesang) – ek het appelkose in kwarte gesny.

Sif droë bestanddele saam en maak met die eier, melk en botter tot ‘n glad beslag aan.

Voeg nog ‘n bietjie melk by as dit te styf is. Moenie te slap maak nie, anders sal die poffertjies nie fatsoen hou nie.

Verhit olie in kastrol. Gebruik ‘n vurk en doop voorbereide vrugtestukke in doopbeslag, dreineer effe. Braai in warm olie (170°C) tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Strooi kaneelsuiker of strooisuiker oor. Loperige heuning of esdoringstroop, gegeur met ‘n paar druppels lemoenwater is ook lekker, veral met ‘n surerige vrug.

Kontakdetails: Dennehof Karoo Gastehuis

Tel 023 5411 227

http://www.dennehof.co.za

Omelet vir Colette met karamelappels en gekookte kondensmelk

12 Oct

Colette, wie en wat jy ookal was; waar in die wêreld jy gebly het en watter Franse sjef  jy so bekoor het, weet ek nie. Maar dat hy vir jou lief was is gewis, want die soet ontbytomelet wat jou naam dra is die lekkerste ooit.

Dalk het hy hierdie omelet  as liefdesbrief aan jou voorgelê:  die  konfituur de lait (hy sou nie dulce de leche  of gekookte kondensmelk gebruik het nie) soos stroopsoet liefdeswoorde in ‘n geurige omelet-koevert versteek,  die romerige effe suur crème fraiche ‘n teken van sy melancholie en verlange omdat julle nie openlik bymekaar kan wees nie. Die appels het hy dalk self in die boord gaan pluk, en die appelskyfies sag geprut in ‘n karamelsous van bruinsuiker en egte botter  as ‘n verwysing na gesteelde ure saam in daai appelboord. Die eiers het hy vroegdag nog warm onder die hoenders gaan uithaal.

Vandat ek hierdie resep jare gelede Omelette Pomme Colette in  die gevierde Gourmet tydskrif opgespoor het het ek gewonder wie sy is. Die resep is net ingelei met die woorde: ‘A jar of confiture de lait, a French caramel-like sauce made from whole milk and sugar, and fresh apples inspired this omelette.’ Geen verwysing na Colette se herkoms nie.

As jy nou wonder hoekom ek ‘n liefdesroman van ‘n omeletresep wil maak, maak dit self, deel dit met jou geliefde, ervaar die glimlag vol belofte, dan sal jy weet: Colette was nie sy dierbare ouma nie. Eerder die rooiwang dogter van die kwaai hoteleienaar of bistro.

Omelette Pomme Colette maak ek om iets te vier: vandag omdat dit Internasionale Eierdag is, ja, maar ook om sommer net  ‘n liefdesoomblik te herdenk.   Ek maak dit op ‘n sonskynoggend na ‘n week van triestige weer of wanner die verlange na Buenos Aires waar ek dulde de leche die eerste keer geproe het, die oorhand kry.

Maar die beste verskoning om Colette se omelet te maak is as jy dit geniet om ‘n blikkie gekookte kondensmelk oop te maak (ons ma’s en oumas moes dit vir ure kook; ons trek net die blik se deksel oop). Na die omelet se maak bly daar nog bietjie karamelkondensmelk in die blik oor. Dit verdwyn so bietjie bietjie soos wat almal wat verby die yskas loop eers ‘n lepeltjie deurtrek.

Net ietsie oor die bestanddele:

Eiers: gebruik vars eiers. Dit hoef nie teen kamertemperatuur te wees nie, want die eierwit word nie vir hierdie omelet styfgeklits nie. Vir ‘n pofomelet sou jy wel die eiers vooraf uit die yskas moes haal.

Vir jou Colette oomblik is die ware jakob confiture au lait natuurlik die naaste aan die oorspronklike liefdesbrief. ‘n Tweede, en baie dekadente plaasvervanger dulce de leche sal jou ook die weelde gee wat jy soek. Maar dit gaan jou kos: jy sal dit uit  die land van tango moet aanvlieg, of ten duurste ‘n flessie by Hemelhuijs aanskaf (R90 ‘n flessie uit die hemel). Daarom koop ek myne maar in ‘n blik in die supermark: jy ken die soort. Nestle of Carnation maak dit.

Ek was gelukkig om ‘n boks vol appels van alle soorte, kleure, geure en grade van soet en ‘tartness’ te kry van Tru-Cape. Ek het ‘n soeter  rooi appel gebruik.  Jy kan werklik enige appel gebruik.

Bewonderaars van ons labrador Tjoklit sal hierdie ene geniet: Met die fotonemery trek ons agter die beste lig aan – wat hier Tjoklit se gunsteling uitkykpunt op ons stoep is. Hy pas dan die kos goed op sodat die katte nie ‘n hap kom vat nie. Hy weet vir sy eie gehoorsaamheid kry hy later ‘n bederf uit die kombuis.

Omelet vir Colette

30 ml botter, verkieslik ongesout (beslis nie margarien nie)

10 ml suiker

1 appel (myne was van Tru-Cape), geskil, pitte verwyder en in dun skyfies gesny (6 mm as jy ‘n presiese mens is)

3 groot eiers

30 ml crème fraiche (vervang met mascarpone of suurroom – jy soek bietjie surigheid om deur die soet te breek)

30 m dulce de leche of karamel-kondensmelk

Opsioneel: versiersuiker vir oorsif

Smelt die botter in ‘n 30 cm (12 duim) kleefvrye pan oor matige hitte. Sodra die skuimerigheid afneem gooi die suiker by, roer tot opgelos vir sowat ‘n minuut. Voeg die appelsnye by, kook sowat 6 tot 8 minute tot die appel sag en goudbruin is – draai een keer tydens die kookproses om.

Klits die eiers met ‘n knippie sout. Gooi oor die appels en kook oor redelike lae hitte terwyl jy liggies die rand van die omelette oplig sodat die rou eier ondertoe kan vloei. Gebruik ‘n hittebestande rubber spatula hiervoor. Die omelet moet net-net gestol aan die bokant wees, wat sowat 2 minute neem.

Skep lepeltjies vol van die crème fraiche en die gekookte kondensmelk in die middel af; vou  een-derde van die omelet oor die vulsel met ‘n hittebestande eierspaander. Nou laat jy die omelette versigtig afgly op die bord en kantel dit dat die omelet toevou. Hier is dit ‘n storie as jou pan – soos myne – nie ‘n goeie kleefvrye pan is nie. Maar toe maar, dis ewe lekker as hy bietjie verkeerd uitgly. Druk net alles weer mooi toe!

Sif bietjie versiersuiker oor as jy wil, sny in die helfte en verdeel tussen twee borde. Speel Franse kafee-musiek en verbeel jou Colette en haar kosminnaar iewers op ‘n straatplein knibbel in die vroegoggend aan ‘n soet ontbyt-omelet.

*Volg my gerus op Twitter by @huiskok dan deel ons kospraatjies uit. 

%d bloggers like this: