Tag Archives: ontbyt

Ezo se bruidsop: rooilensiesop

25 Apr

5F68E38E-96D7-4627-A768-24EB6AD618D8.jpeg
Ezo se Bruidsop van rooilensies

Sop vir ontbyt is deesdae ‘n groot ding. In lande soos Turkeye, Viëtnam, Korea tot en Columbië is dit al ‘n eeue-oue gebruik. Pho, ramen, om ‘n paar te noem. My ontdekking is ‘n Turkse sop met die mooiste storie.

Ezogelin, ‘n verleidend-lekker rooilensiesop, vernoem na ‘n jong Persiese bruid Ezo, ‘n pragtige vrou wat nou al ‘n legende in Turkeye geword het. Die man op wie sy verlief was het haar gevfa om te trou, maar met een voorwaarde – sy moes eers sy ma ontmoet … en Skoonma was maar ‘n baie moeilike mens. Sy het hierdie rooilensiesop gemaak om in haar goeie boekies te kom. Wel, sy en haar man het later 9 kinders gehad, so Skoonma was sekerlik baie beïndruk.

Die sop, wat uit die suid-oostelike deel van Anatolië kom, word nou oral in Turkeye geëet, veral vir ontbyt. Die rooi lensies kook baie vinnig en hoef glad nie vooraf geweek te word nie. Dit is voedsaam met hoë vlakke van minerale soos yster. Die smaak is subtiel en die lensie kook heeltemal sag. Die geure van die droë kruisement saam met lensies is ‘n heerlike nuwe ontdekking.

Die burgul is ‘n gestampte koring wat effens verwerk en halfgaar gemaak is. Rys kan ook gebruik word. Ment paai die senuwees en verskerp die sintuie.

Ezo se bruidsop

1 knoffelhuisie, fyn gekap
1 ui, fyn gekap
Bietjie Olie of botter vir braai
5 ml komyn
45 ml tamatiepasta
5 ml soet paprika
200 g (opgehoopte koppie) rooi lensies, afgespoel red lentils,
45 ml bulgur koring, afgespoel (opsioneel) of 125 ml rys
1.5 liter hoender- of groenteaftreksel
Sout en peper

Bediening:
15 ml droë kruisement, net so of gemeng met sagte botter.
rissievlokkies, suurlemoensap

Braai die knoffel en uie liggies tot sag en deurskynend, voeg die tamatiepasta, paprika en komyn by en kook 2 minute terwyl jy roer.
Voeg die lensies, burgulkoring (of rys) en aftreksel by. Bring tot kookpunt en prut dan sowat 30 minute terwyl jou nou en dan roer om te keer dat dit vassit. Sodra die lensies sag is blits die sop met ‘n handstaafmenger tot redelik glad. Proe en pas na smaak met sout en peper.

Skep in sopbakkies, sprinkel droë ment oor of bedien met ‘n klontjie botter, rissievlokkies as jy wil en ‘n drupsel suurlemoensap.

 

Bacon-en-eier-ontbytpoffers

4 Nov

My kosvriende is geesdriftige saampraters oor die nuutste eetplekke, wat gemaak word vir aandete, die groentetuin se oes, oggendmarkies en watter winskopies waar wag.

Ons kla selde oor kos, behalwe as dit kom by stygende pryse. Dan’s ons die hoenders in. Pas weer het ‘n vriend ‘n driftige gesprek aan die gang sit met die plasing op Facebook van ‘n voor-en-na-foto van ‘n bekende handelsmerk se ontbytspek. (Die 250g pak het gekrimp in nuwe verpakking tot 200g.)

spek-op-rakkie-close

“Ons word so gekul. Kleiner pak. Dieselfde prys. Lekkers ook. Blikkieskos, 2 liter roomys nou 1.8 liter.”

Dit maak ‘n sluis van verontwaardiging oop. Die ‘onding’ raak van ons ontbytgraan-blokkies tot ikoniese toffies. Sjokoladestawe ‘verloor gewig en so ook bloukaaswiggies wat krimp van  120g na 100g. Blikkies koeldrank is kleiner, die prys nie. Selfs hondekos byt die spit af. Die 10 kg sakke is nou ‘n veel ligter 7kg.  ‘Selfs my boks sneesdoekies het minder in’, ween een. Die ander kla oor die buisie tandepasta wat veel kleiner voel.

Meer sameswerings-teorieë is daardie dag geopper as met die Amerikaanse presidentsverkiesing. ‘n Uitgesproke vriendin noem die ding sommer by die naam. “Dis agterbaks, en buitendien befonkfaai hulle ons bestaande resepte.”

“Ek wou nou die dag yskas-kaaskoek maak,” kla Willie. “Die resep vra 200g tennisbeskuitjies. Toe ek van die winkel af kom, sien ek die pak is nou 150g en moes terug winkel toe.”

‘n Wyse stem laat hoor: “Verbruikers, wees paraat. Lees die etiket.”

Verbruikerswaghond Consumer Callie som dit kortom op. “Shrinkflation.” Ek is nie ‘n ekonoom nie, maar die woord klink genoegsaam onheilspellend om mens kombuis toe te jaag vir trooskos soos spek-en-eiers.

KRIMPFLASIE BACON-EN-EIERS BREKFIS YORKIES

As ‘krimpflasie’ aan jou kosbegroting knaag, span spek-en-eiers saam met pronkerige Yorkshire poffers in. Die groot gons op die tendensfront is juis dat ontbytgeregte soos hierdie nou ander tye van die dag ook geëet word.

. My manier om die ontbytspek in ‘n koue pan te begin gaarmaak, voorkom dat dit opkrul en krimp. Om die spek verder te ‘rek’ word dit eerder as garnering gebruik en die orige spek-panvette gebruik om die sampioene geur.

spek-en-eier-poffers-rs

Maak 6 poffers

  • 250 ml melk
  • 2 groot eiers vir beslag, plus 6 eiers vir opdiening
  • 15 ml botter, gesmelt
  • 250 ml koekmeel
  • Mespunt elk rooipeper en sout
  • 12 kersie- of rosatamaties, gehalveer
  • Olyfolie, vir sprinkel
  • 45 ml sonneblomolie, om muffinpan te smeer
  • 50 g (6 repe) swoerdlose bacon, gehalveer
  • 12 sampioene, opgesny
  • 6 eiers vir bediening
  • Vars kruie, vir garnering

Klits die meel, eiers, gesmelte botter, rooipeper en sout goed saam tot skuimerig. Laat staan die beslag terwyl jy die ander voorbereidings tref (sowat 15 minute).

Voorverhit intussen die oond tot 230°C. Terwyl die oond warm word, plaas die tamatiehelftes op ‘n kleinerige oondplaat, drup olyfolie oor, sprinkel ‘n bietjie sout en strooisuiker oor. Plaas tamaties in die oond.

Plaas spekrepe in ‘n koue pan, braai oor medium-lae hitte tot goudbruin en bros. Plaas op druprak. Braai sampioene in dieselfde pan, geur, haal uit en hou eenkant.

Vir poffers: giet 7,5 ml sonneblomolie in elke holte van ‘n 6-holte muffinpannetjie. Plaas die muffinpan (sonder beslag) in die oond vir 5 minute (baie warm olie is die geheim van goed-uitgepofte, bros Yorkshire poffers). Haal plaat met tamaties vinnig uit.

Klits die beslag vinnig goed deur, haal die muffinpan met warm olie versigtig uit die oond en verdeel beslag tussen die 6 holtes. Plaas terug in die oond en bak 15 minute tot goed uitgerys (moenie oonddeur oopmaak terwyl dit bak nie). Verlaag hitte na 180°C en bak nog 15 minute tot goudbruin en droog. Haal uit die oond en prik om die stoom uit te laat.

Nota: Bak of posjeer 6 eiers ‘n paar minute voor die poffers uit die oond kom. Plaas ‘n gaar eier, geroosterde tamatie en sampioene op elke poffertjie, rond af met 2 bros repe spek en strooi gekapte kruie oor. Bedien dadelik.spek-2

Die blogjoernaal is ‘n uittreksel uit my weeklikse kosrubriek wat Woensdae in die Burger Versnit verskyn.

Sluit aan by my Facebook blad Tuistafel vir daaglikse kosgeselsies, resepte en tafelstories oor my nuwe kookboek wat 29 November op die rak is. Of gesels saam op twitter @huiskok.

Fotos en stilering: Ian en Errieda du Toit

 

Spek en eierslaai met koffie-slaaisous vir ontbyt tot laataand

1 Oct

Koffiekoors. Ons diepgewortelde koffiekultuur van boeretroos, sakkiekoffie en koffiekapitaal hak in by die café society wat van koffiedrink ‘n leefwyse gemaak het. Nou gooi ons dit ook in ons kos.

edit-8740-rs

Koffie is een van die groot koswonders van die wêreld en een van my gunsteling kookbestanddele. Die geroosterde smake van koffiebone, die aangename bitter en titsel suur dra ‘n diep, ryk rokerigheid by tot sout en soet in my kombuis. Dis ook een van die beste maniere om iets eenvoudig na die volgende vlak te vat.

Kostendens: Ontbyt word herontdek en volgens trendkenners is dit die Maaltyd van die Jaar. Bakkie-kos, veral Buddha bowls, is net so hoog in die mode.

edit-8755-rs

Spek-en-eiers ontbytslaai met koffie-vinaigrette

‘n Koppie koffie se opkikker-kwaliteite is so onmisbaar aan my ontbyttafel as spek, eiers en roosterbrood. Om ‘n sláái raak te loop wat alles wat lekker is van ontbyt in  een bakkie aanbied is amper te goed om te glo. Die Saveur-slaai se x-faktor is beslis die koffie-vinaigrette wat jy in ‘n kits aanmaak

Vir 4

  •  180 g botter
  • 230 g gerookte varkspek (bacon) of kasslertjops, in blokkies
  • 230 g sampioene, in skywe
  • ½ plaasbrood (sowat 230 g), geskeur in groterige stukke
  • Sout en peper
  • 15 ml kitskoffiepoeier
  • 10 ml suiker
  • 30 ml rooiwynasyn
  • 90 ml olyfolie
  • 230 g fyn wilde rocketblare of frisee (‘n fyn slaaiblaar met aangename bitter noot)
  • 2 avokado’s, pit en skil verwyder, in dun skywe gesny
  • 4 groot saggekookte eiers, gehalveer

In ‘n groot pan, verhit 2 e botter oor matige hitte, voeg die bacon by en braai tot bros, roer nou en dan. Skep dit uit met gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.

Plaas pan weer op die plaat en smelt 4 t botter, voeg die sampioene by en geur met sout en peper. Braai tot goudbruin, sowat 6 minute, roer nou en dan. Skep sampioene uit.

Plaas die oorblywende botter in die pan en braai die broodbrokkies aan alle kante tot goudbruin en bros. Skep by die sampioene en geur met sout en peper.

In ‘n groot bak klits die asyn, koffiepoeier en suiker tot gemeng. Hou aan klits en voeg die olie geleidelik by en meng tot glad en verdik.

Giet die slaaisous oor die sampioene, brood en spek. Verdeel de rocketblare tussen 4 opdienborde. strooi die sampioene, brood en spek oor, werk liggies deur. Plaas avokado bo-op en dan twee helftes van die gekookte eier bo-op.  Bedien dadelik.

  • Foto en stilering: Errieda en Ian du Toit
  • Opdienbord: Diana Ferreira Ceramics
  • Keramieklepel: Wilandi Esterhuizen.

 

Koffiepere op piesangbrood-toast gesmeer met koffieroomkaas vir Moedersdag

6 May

‘Al wat ek op Moedersdag wil hê is my familie om die tafel; ek gee nie om om die kos self te maak nie.’ Só antwoord die meeste ma’s wat ek gepols het oor hul spesiale-dag begeertes.  Alhoewel uit-eet nie te versmaai word nie, is dit die gedagte aan ‘n lang tafel  met eie kinders, hul eie ma, skoonma, susters en skoonsusters wat moederharte bly maak.  Die wenslysie is maar kort, iemand om die tafel mooi te dek, en agterna af te dra en skottelgoed te was.

Pere in koffie en kardomom

Pere in koffie en kardomom

My wynmaker-vriendin Elzette Du Preez het een wens vir Moedersdag. “’Laatslaap of  ‘n middagslapie is die grootste Moedersdag-geskenk wat ek as ma van klein kindertjies kan kry,” skerts sy. Die kosskrywer Sonia Cabano droom van ontbyt in die bed, ‘n halfuur van opera luister met  ‘n groot vars bagel, dik gesmeer met roomkaas en gerookte salm, diepgebraaide bros kappertjiesaad en ‘n skeppie blitsgepiekelde rooi uie daarop. En espresso.

Op Moedersdag dink ek aan my pa wat vir Ma ‘n liefdesbriefie geskryf het omdat hy vergeet het van ‘n Moedersdag-geskenk of om planne te maak sodat sy nie hoef te kook nie. Ma het nooit iets verwag nie, solank sy haar kinders by haar kon hê was die saak reg. Vir haar maak ek koffie-gestoofde pere en bedien dit op geroosterde piesangbrood gesmeer met kofie- en heuninggegeurde roomkaas. As koningin van hierdie dag moet die bederf al vroegdag begin.

As jy self die ma is, laat hierdie ‘poeding-vir-ontbyt resep hierdie week in die huis rondlê. Ek hou saam met jou duim vas dat ons huismense Sondag hul soetste voertjie vir ons sal voorsit.

aa pere in koperbak

Hoekom pere vir Moedersdag:

Net soos ma’s kom pere in baie vorms: elegante ma’s met Audrey Hepburn nekke, soos die mooi geel-groen beurre bosc, of die eiervormige beurre hardy wat so lekker ruik, en meer dikvellig is. Packham met die onreëlmatige lyf en groen skil eet jy die oomblik wat die stingeltjie begin mee gee – teen die tyd wat sy geel is, is sy melerig, so moenie dat sy talm in die vrugtebak nie.

Bon chretien met die liggeel sproeteskil is ovaal van lyf. Al laat haar kort nekkie haar kort voor beeldskoon, is sy sag en vol sap …. ietwat van ‘n dienende Marta. Bruin Forelle is ook so ‘n spikkelpeer; op haar soetste wanneer sy ‘n blos op die wang het. Die lekkerse eetpeer vir my is die Comice –haar soet, sagte tekstuur maak op vir haar windverwaaide voorkoms. Dan is daar ook die Winter Saffraan, ‘n groterige peer met ‘n realtiewe lang, slanke nek – die eerste peer wat in Suid-Afrika geplant en gepluk is. Lees meer oor hierdie wonderlike herfenis-vrug en Trucape se herdenkingstuin.*

Pere en simboliek: Vir Homer was pere die gode se geskenk aan die mensdom.  ‘n Peerboom is dikwels in die middel van die sultan se tuin geplant – ‘n anker vir die res. Pere is ‘n simbool van ‘n geseënde lang huwelik, hul knoetsige stamme staan vir ‘n lang lewe. Daarom het die Duitsers glo ‘n peerboom geplant as ‘n dogtertjie gebore is om haar vrugbaar en sterk te maak; haar lewe lank te laat hou.

aa 4 collage pere vir blog

KOFFIE- EN KARDOMON PEER EN HEUNING ROOMKAAS OP GEROOSTERDE PIESANGBROOD

Pere met ‘n verskil. Roosterbrood met ‘n verskil. Elke element kan die vorige dag gemaak word. Die pere lê soos waaiers op die koekbrood met die lekkerste koffiestroop denkbaarbo-op.  Die piesangbrood se mengmetode is die maklikste ooit met ‘n fyn tekstuur wat die koffiestroop opslurp. Dit kan ook voorgesit word as poeding vir middagete (wat Ma waarskynlik self gekook het).  Jy kan ook geroosterde sesamsade by die beslag gooi en oorsprinkel voor jy dit bak, vir ekstra neuterigheid.  Jy kan ook gekoopte piesangbrood gebruik of die koekbrood afwissel met madeirakoek of ‘n gemmerbroodjie. Solank jy dit rooster!

Piesangbrood:

  • 100 g sagte botter
  • 175 g strooisuiker
  • 2 groot eiers
  • 2-3 ryp piesangs (fyngemaak)
  • 225 g bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 30 ml melk

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n broodpannetjie, voer uit met bakpapier en spuit weer. Meet al die bestanddele direk in die mengbak af en klits 2 minute tot goed gemeng. Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk en bak 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die beslag sal ‘n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is. Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak.

Pere in koffiesous

  • 1 ½ k (330 g) strooisuiker
  • 100 ml sterk espresso of 60 ml kitskoffie-korrels aangemaak met 10 ml kookwater
  • 6 ferm pere met stingels aan, (nie te ryp nie)
  • 4 kardomom peule, gekneus
  • 6 dik snye piesangbrood, gerooster

Plaas die suiker, koffie, kardomom en 1 liter water in ‘n kastrol en verhit oor matige hitte tot dit net saggies begin kook. Skil die pere af en verwyder die klokhuis versigtig om die stingel steeds te behou. Sny die pere in die lengte amper tot by die bokant. Prut vir sowat 30 minute of tot vurksag. Lig die pere versigtig uit die kookvloeistof met gaatjieslepel en hou eenkant om te dreineer. Gooi die kookstroop deur ‘n siffie om van enige los stukkies en die sade ontslae te raak en gooi terug in die kastrol. Laat die vloeistof  10-15 minute afkook tot die stroop verdik. Laat afkoel.

Heuning- en koffie roomkaas

  • 230 g Parmalat ‘plain’ roomkaas, kamertemperatuur
  • 30 ml van die koffiestroop

Opsioneel: die roomkaas kan ook met heuning na smaak versoet word.

Klop die koffiestroop by die roomkaas in tot goed gemeng.

Voorsit: Sny die piesangbrood in dik snye en rooster. Laat afkoel, plaas op koekbordjie en smeer ‘n dik laag roomkaas op. Rangskik die peer in waaiervorm op die brood en giet koffiestroop oor. Sit voor met ‘n koekvurkie.

aaa blou bord vir blog

Om die pluk van die eerste appels aan die Kaap op 17 April, 353 jaar gelede, te herdenk, het Tru-Cape Fruit Marketing’n Winter Saffraan-peer in sy erfenis-boord op die Oak Valley-landgoed in Grabouw herplant.

By die plant van die boom in die erfenis-tuin het Buks Nel, Tru-Cape se variëteitskenner en mede-skrywer saam met Griessel van Early Apples At The Cape (Vroeë Appels aan die Kaap), ’n boek oor die erfenis-variëteite, gesê die Winter Saffraan is die oudste peerboom suid van die Sahara en leef steeds voort in die die Kompanjiestuin in Kaapstad na 350 jaar.

“Danksy die joernale van mense soos François Valentjn, wat die Kaap in 1685 besoek het en weer in 1714, weet ons die Winter Saffraan-peer het floreer. In 1855 is die boom weer beskryf, hierdie keer deur ’n Russiese besoeker.” Nel, wat die boom wat Tru-Cape geplant het, gekweek het van ’n steggie van die oorspronklike boom, sê die Winter Saffraan is ’n groterige peer met ’n relatiewe lang, slanke nek. Hoewel Van Riebeeck die boom saam met hom van Nederland af gebring het, lys rekords uit 1485 die peer as afkomstig uit Italië na Frankryk.

Tru-Cape bemark meer as 1 376 470 875 appels en pere elke jaar, gelyk aan 224 Jumbo Jets of 950 blouwalvisse. Besoek www.Tru-Cape.co.za, volg @TruCapeFruit en besoek www.Facebook.com/TruCape vir meer inligting. Die boek Apples In The Early Apples At The Cape is beskikbaar by Tru-Cape se kantore of by www.Tru-Cape.co.za teen R250 per eksemplaar, afleweringskoste uitgesluit. 

 Belange verklaar: Ek is betrokke by die bekendstelling van Parmalat se nuwe reeks roomkase. Dis ‘n produk wat ek in my persoonlike hoedanigheid ook aanbeveel.

 

Dutch baby – ‘n pronkerige pofpannekoek vir somerweer

25 Nov
Dutch baby met die pofkraag en 'n nes vir somerbessies. Foto: Ian du Toit.

Dutch baby met die pofkraag en ‘n nes vir somerbessies. Foto: Ian du Toit.

Die pannekoek waaraan ek jou nou gaan bekendstel is nie een vir winter of gure weer nie. Dis ‘n pofpannekoek met ‘n somerrok aan.

Ontmoet die Dutch baby. Maar moenie dat die naam jou mislei nie – dis nie Hollands nie en dis ook nie ‘n baba nie. Hierdie spoggerige ontbytgereg is eerder die  liefdeskind van ‘n adelike pof-omelet en ‘n vryerige werkersklas-pannekoek. Die oondgebakte pannekoek is so groot soos ‘n ‘hub cap’ wat met ‘n swierige rolkraag uit die oond kom en dan platval in die middel. Hierdie krater, omring met die bros, bruingebakte kraag, bied lêplek vir vars bessies, suurlemoensap en ‘n sifsel versiersuiker – die tradisionele manier om dit te eet.

Dutch babies het nie ‘n Hollandse oorsprong nie, maar wel Germaans. Dit was Duitse immigrante na Amerika wat hulle in plekke soos Pennsylvania gevestig het en dit gewild gemaak het. So het die verdraaiing van Deutsch na Dutch gebeur. In Amerikaanse stede soos Portland en Seattle het die Dutch baby ‘n instelling geword waar dit met gekarameliseerde appels bedien word.

Met hierdie gereg sit ek my huidige obsessie met pofgeregte voort. Al wat jy nodig het om kuiermense hierdie vakansie te laat ooh en aah is ‘n goedgeklitse dun beslag van melk, meel en eiers, sissende botter, ‘n gietyster- of oondvaste swaarboompan …. en ‘n baie warm oond. Die resultaat is die bymekaarkom van wetenskap en verwondering. Die vloeistof in die dun beslag word omskep in stoom, wat dit laat uitrys.

Dis ‘n dramatiese omskakeling, want een deel vloeistof word omskep in 1 600 dele stoom!  Soos die stoom gevorm word strek die eier-proteïene soos ‘n lugballon. Die dele teen die kant vorm ‘n pofkraag, terwyl die middel insak om ‘n heerlike vlaerige bodem te vorm. aa IMG_0772 Dutch baby DUTCH BABY PANNEKOEK

Die ideale gereg om vir ontbyt of nagereg aan mekaar te slaan. Ekonomies en beeldskoon.  Ek bedien dit met aarbeie, crème fraiche of suurroom, versiersuiker en suurlemoensap. ‘n Sprinkel varsgekraakte witpeper doen ook wondere.

Bedien 4

125 ml koekmeel

125 ml melk

3 groot eiers, liggies geklits

Knippie elk sout en neutmuskaat

60 ml botter

Vir opdiening: versiersuiker, opgesnyde aarbeie of ander bessies, suurlemoenwiggies, Griekse jogurt of crème fraiche of suurroom.

Voorverhit oond tot 220°C. Plaas ‘n oondvaste swaarboom of gietyster-pan van 24 cm op ‘n laer rak in die oond vir sowat 8 minute om baie warm te word.

In ‘n medium-grootte mengbak klits die meel, melk, eiers, neutmuskaat en sout saam tot net gemeng OF blits die bestanddele vinnig in ‘n versapper of voedselverwerker saam tot skuimerig (moenie oormeng nie).

Smelt die botter versigtig in die warm pan, kantel om die bodem goed te bedek en giet die beslag in. Bak in die oond tot die opgepofte kante lekker goed bruin is en die middel goudbruin (18 – 25 minute). Moet glad nie die oond oopmaak gedurende die baktyd nie. Haal uit die oond, druk bietjie suurlemoensap oor, skep die bessies in en sif versiersuiker oor. Sny in wiggies.

  • Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger van Kokkedoor en Koekedoor, en bied Woensdagoggende om 9h30 as RSG Huiskok die rubriek ‘Die kos wat ons ken’ aan.

Kedgeree, kitsery en verlang na Zanzibar

13 Aug

Doedelsakspelende troepe uit Skotland. Downton Abbey. My ma se kombuis. Britse kolonies. Die Raj se kitchiri. ‘n Speserywoud in Zanzibar en ‘n kleurvolle mark in Stonetown.  Kedgeree. Kitsery en kerrie-eiers. Kokkedoor.  Haddock. Eikehout-gerookte stokvis uit ons eie waters. Basmati-rys.

Hoe op aarde kom al hierdie inspirasies op een aand in my skottel?

Dubbeldoor van onthou: die kedgeree EN die kerrie-eiers van my ma met 'n groot skeut Zanzibar-kosreis-herinneringe. Die Ardmore kleibak met sy vissie-dekorasie is 'n verdere band met Afrika.

Dubbeldoor van onthou: die kedgeree EN die kerrie-eiers van my ma met ‘n groot skeut Zanzibar-kosreis-herinneringe. Die Ardmore kleibak met sy vissie-dekorasie is ‘n verdere band met Afrika.

Ek het onlangs ‘n lewens-veranderende kosreis na Zanzibar kon meemaak saam met twee Kokkedore, Marius Uys van Discover Zanzibar en Johnny Hamman, Kinkelkok-wenner. Van die goed wat my bybly is die vars borrie, kokosneute en al wat spesery is wat oral op die markte te sien is.  Ek het ook ‘n speserywoud besoek wat my koorsig gelaat het van opwinding. Onvermydelik sou hierdie sins-bedwelmende ervaring sy invloed op my kosmaak laat.  Vandaar dat my weergawe van kedgeree (kitsery, ook khichari of kitcherie) wat ek al vir jare maak na Zanzibar met ‘n wavrag meer smaak bedeel word.

Rys, speserye, vis. Saam maak dit 'n gereg wat my aan kinderdae laat dink.

Hier is my ‘standaard’-kedgeree voor my Discover Zanzibar-kosreis.

Die reis van kedgeree, kedjeree, kitsery tot in ons koskultuur, en tot my Ma se kombuis, is ‘n interessante een; sy ware herkoms nie sonder misterie nie. Dit word algemeen aanvaar dat die gereg in Victoriaanse tye van Indië na die Britse ontbyttafels gebring is deur kolonialiste wat terug huis toe is. Dit het vermoedelik sy wortels in khichri, ‘n gereg van speserygegeurde lensies (of boontjies) en rys wat al sedert die 13de eeu in Indië gemaak word. Hierdie oer-ouer van kitsery was sonder vis en sonder eiers. Dis die Britte wat hierdie byvoegings gemaak het.

As jy die periode-televisiereeks Downton Abbey met ‘n valkoog dopgehou het soos ek, sou jy ook die oomblik wat die kok Mrs Patmore die skottel met kedgeree vir die lakei oorhandig (om op te neem na Lord en Lady Grantham en die jong dames), as ‘n wow-moment vir die ontbytgereg beskou. Oh, so British. As ‘n ontbytgereg het dit in die era voor verkoeling baie sin gemaak. Vis en rys wat oorgebly het van die vorige aand se ete is vindingryk omskep in ‘n ontbytgereg wat – terloops – ook as ‘n goeie babalaas-kuur beskou word.

Doedelsak in die pot

Daar’s egter ‘n ander teorie dat kedgeree eintlik oorspronklik ‘n Skotse gereg is wat deur Skotse troepe Indië toe geneem is tydens die Britse Raj-era. Daar is dit kwansuis aangepas deur  Indiese kokke wat dit meer woema gegee het, want die Skotse weergawe was maar valerig. Interessant, toe ek  Kook en Geniet van SJA De Villiers se kedgeree/kitsery-resep bekyk, is dit asof die Skotte self die resep verskaf het voor hulle voet aan wal in Indië gesit het, want daar is nie  ‘n greintjie kerrie of borrie nie:  net gestoomde vis, gaar rys, bietjie botter, hardgekookte eiers en sout en peper.

‘n Beskrywing uit die Woordeboek van die Afrikaanse taal lui: “Gereg van gekookte vis en rys dikw. oorskietvis en -rys, gebind met eiers, gew. piramidevormig opgestapel i/d skottel en opgedien met blatjangsous of ander geurmiddels.”  Dit verklap nie die ware sjarme van die ‘koloniaal-Victoriaanse’  lig-gekerriede weergawe nie., alhoewel die piramidevorm klink asof dit bedien kon word in Agatha Christie se Death on the Nile!

Die kleure en parfuum van borrie, Cartwright se kerriepoeier, gemmer en mosterdsade wat opwalm uit ‘n keurige kedgeree is genoeg om as ontbytgereg die dag op baie goeie voet te begin. As aandkos verdien dit ook ‘high praise, old chap.”

Kedgeree vir die Queen en die First Lady 

Gekerriede kedgeree loop ook sy pad met ons Kaapse kookkuns.  ‘n Knipsel uit die Pittsburgh Press (1977) verskaf ‘n  resep vir kreef kedgeree en beskryf dit as ‘A South African Kedgeree to put before your own king or queen”.  Gemaak met rys, uie, bietjie room, kerriepoeier en hardgekookte eier, is daar ook kreefstert bygevoeg. Die artikel verduidelik die Kaap se bande met die VOC en hoe speseryhandelaars Oos-Indiese resepte na die Kaap gebring het – en dat die Kapenaars kedgeree gemaak het met enige vis of seekos wat beskikbaar was.  Waar in Merry Olde England kedgeree dikwels met oorskietvis gemaak is, het ons hier aan die Kaap kreef en snoek ingespan, wat in die vroeër jare beide volop was.  Die gewildheid van rys en vis in ons skottels word bevestig met geregte soos smoorsnoek op rys en natuurlik ook breyanis.  Dis natuurlik ook nou al allemans-kennis dat Michelle Obama met haar besoek aan die Kaap gesmul het aan kedgeree by The Kitchen in Woodstock.

Outyds raak weer sexy

Het so ‘n uit-die-mode-gereg moderne bestaansreg? Ek dink so – en selfs dat dit ‘n sexy gereg is. Die voorbereiding daarvan het my in vervoering. Daar’s die sagte prut van die vis en die vlok daarvan, met ‘n subtiele rokerigheid wat jou uidaag. Daar’s die gaarmaak van die geurige  basmatirys, die braai van die uie en die afmeet van die kerrie.  Ek geniet selfs die afdop van die eiers, terwyl ek wonder of ek dit nie dalk te kort (of te lank) gekook het nie.  Maar die lekkerste is die oomblik wat die gevlokte vis versoen word met die geurige rys – dan maak dit nie saak of ek ‘n doedelsak, God Save the Queen, Downton Abbey se temamusiek of ‘n konsertina in die agtergrond hoor nie – al wat saak maak is dat die geurige gereg  sy pad na my kombuis toe gevind het.

Hier het ek die speserye en gestoeerde uie deur die gaar rys geroer, maar maak ook soms 'n kerriesous vir die eiers en skep dit bo-op vir 'n twee-in-een onthougereg.

Voor-Zanzibar.  Die gaar rys en gevlokte vis word ingeroer by uie wat met speserye gebraai is.

Soveel variasies

Eke huis het sy variasie – lensies kan by die rys gevoeg word, so ook sultanas. Snoek, pleks van skelvis,  is besonder lekker en eg-Kaaps.  Ek bly weg van die neon-oranje kamma-skelvis wat eintlik niks anders as  kunsmatig-gekleurde stokvis is nie. Maar vars gerookte stokvis is heerlik, soos die van Ocean Jewels in die Kaap.

Nog dinge is opsioneel – sommige kokke voeg room by kedgeree. Daar is selfs ‘Wet kedgeree” wat met witsous gemaak word.  Jy kan tamatie bysit. Pietersielie. Brandrissie. Jy kan die rys  met die vis se posjeervloeistof kook. Soms bedien ek dit met ‘n jogurt-bysousie en koljanderblare, ander kere daarsonder. Die een ding waarsonder ‘n kedgeree kaal gaan voel is die gekookte eier. Jy besluit self of jy dit in kwarte of ringe sny, dit fyn kap of deur ‘n sif druk. Jy kan selfs ewe modieus die eier loperig sag kook of posjeer.

'Kerrie-eier kedgeree'. Bak deur Ardmore Ceramics.

‘Kerrie-eier kedgeree’. Bak deur Ardmore Ceramics.

HUISKOK KEDGEREE MET ‘N KLAP VAN ZANZIBAR

Smake en kleure van my Zanzibar-trippie helder die kitsery wat ek by my ma leer maak het verder op. In Zanzibar het ek vars borrie van die plant af in ‘n speserywoud kon ervaar. Dit lyk soos piepklein gemmerwortel, maar vlek anders as gemmer mens se hande goudgeel! Die vars borrie word baie in hul kookkuns gebruik, so ook klappermelk. Ek het ook grootgeword met kerrie-eiers en daarom is hierdie gereg eintlik ‘n dubbeldoor van 2 onthougeregte bekinkel. Doen moeite en rook jou eie stokvis as jy dit nie klaargerook in die hande kan kry nie. 

3 eiers

Vir rys: 2 koppies basmati rys  (Ek gebruik Spekko); 2 kardomompeule; 5 ml borrie; 15 ml botter; 40 ml sultanas

600g vis – gerookte, ongekleurde stokvis of gerookte snoek ook gebruik

Genoeg melk of water om vis te kan bedek

1 ui, fyngekap

Botter of olie vir braai

25 ml matige kerriepoeier, soos Cartwrights of Raja

1 t vars gerasperde gemmer

5 ml fyn komyn

10 ml mosterdsaad

80 ml klapperroom of 125 ml klappermelk

Skil en sap van 1 suurlemoen of lemmetjie

Garnering:  2 tamaties, pitte verwyder en fyngekap; Vars koljander (of pietersielie indien verkies), gekap

Metode:

  • Kook die eiers vir 8 minute, koel dit af en laat eenkant.
  • Kook die vis liggies in genoeg melk of water om dit te bedek. Sowat 8 minute. Laat afkoel en vlok die vis. Verwyder vel en grate.
  • Kook die rys in soutwater waarby borrie, kardomom en botter gevoeg is.
  • In ‘n groot braaipan, braai die uie en gemmer vir sowat 5 minute tot dit begin verbruin en voeg dan die kerriepoeier, komyn en mosterdsade sade  by.  Kook sowat 2 minute. Voe die klapperroom by, die orige melk waarin die vis geprut het, skil en sap van die suurlemoen en prut tot dit verdik, sowat 7 minute.  Skep sous uit.
  • Skil eiers en sny in kwarte. Gooi die kerriesous oor die eiers.
  • Sit dit rys, visvlokkies en fyngekapte tamatie in die pan, en roer saggies deur. Laat goed warm word. Skep rys met die gevlokte vis en tamatie in opskepskottel, rangskik eiers in kerriesous bo-op. Rond of met vars koljander. Bedien warm.

    Kos-ervaring. Kook op die strand. Zanzibar.

    Kos-ervaring. Kook op die strand. Zanzibar.

Marius Uys bied pasgemaakte pakette vir kosentoesiaste na Zanzibar. Besoek Discover Zanzibar by www.discoverzanzibar.co.za 

Julie van Ocean Jewels

Julie van Ocean Jewels

  • ‘n Spesiale dankie aan Julie Carter van Ocean Jewels Fresh Fish & Seafood www.oceanjewels.co.za vir die gerookte stokvismootjies. My kosvriende het my van haar vertel en dit was so ‘n plesier om haar gister te kon ontmoet. Julie is toegewyd tot die varsste seekos en volhoubare praktyke. Hulle lewer ook af in die Kaapse skiereiland. Kyk uit vir die Ocean Jewels Deli in Woodstock en by die Neighbourgoods Market. Kontak Julie by 083 582 0829 of oceanjewelsfish@gmail.com

 

 

 

 

Pofomelet uit Prins Albert en Appelkoospoffertjies uit my onthouspens

25 Jan

Dennhof collage met pofomelet

{WONDERWOLK VAN ‘N OMELET}

Ek het tot ‘n paar dae gelede gedink ek kan ‘n omelet maak – ‘n redelike goeie een – tot ek met die moeder van alle omelette kennis gemaak het by ‘n gastehuis in die hartjie van die Karoo. Dit was tydens ‘n kosbesoek aan Prins Albert en ons by Dennehof Karoo Gastehuis oorgeslaap het.

Die vorige aand al het Mark en Paul, reisgenote, vertel dat ek nie moet uitmis op brekfis nie, want die omelet is glo legendaries. Toe die kelner trots die pofomelet voor my neersit het ek eers in oooo’s en aaaaa’s uitgebars voor ek aan die eet kon kom.  Dis nie ‘n omelet nie, eerder ‘n wonderwolk. ‘n Geelbruin jas wat uit sy nate uit bars van die wolk wat uit hom uitbeur.

Die Karoo-mense deel mos graag en sommer in die stap terug kar toe vertel Ria Steyn, eienaar-kok, hoe om die wonderwolk aan mekaar te slaan. Die eerste oggend terug by die huis moes ek dit net probeer: en het weer verstom gestaan vir die manjifiekheid van my vroegoggend-skepping. Maar dis spog met ‘n ander man se kalwers. Dankie Dennehof dat julle my omelet-horison verbreed het.

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk' soos ek dit gedoop het

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk’ soos ek dit gedoop het

DENNEHOF SE POFOMELET

Ek doop hierdie omelet ‘Dennehof se Wonderwolk’. 

Skei twee eiers, klits die eierwit goed styf, klits die eiergeel (ek gooi  1 eetlepel kraanwater by). Geur eiergeel met sout en peper. Smelt botter in die pan, gooi die geklitste eierwit in die pan en giet dan die geklitste eiergeel bo-oor. Net dit – jy roer nie, jy staan net in verwondering hoe die eiergeel sy lê kry onder die wolk van eierwit in. Bak dit tot goudbruin onder en die eierwit gestol maar nog wolkerig. Gooi jou omelet-vulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan tot op jou mooiste brekfis bordjie.

{POFFERTJIES UIT MY ONTHOUSPENS}

Die laaste ryp appelkose het my so uitdagend gelê en loer: “Maak iets lekkers met ons.”  Ek het die somer reeds ‘n Midde-Oosterse jogurt- en appelkooskoek gemaak, maar het nie veel bestanddele in die huis gehad vir fency goed nie.  Dis toe wat ek dink aan my ma wat altyd so woeps-waps vrugtepoffertjies aanmekaar kon slaan al was daar net ‘n appel of piesang in die die vrugtebak oor.

appelkose op hul eie

My ryp appelkose is in my ma se poffertjie-beslag gedoop en goudbruin gebraai – en omdat die hart van die poffertjies so soetsuur van die appelkose was, het ek nie net die kaneelsuiker nader getrek nie, maar ook esdoringstroop wat ek met ‘n paar druppels lemoenbloeiselwater gegeur het….. net om die surigheid te tem.

poffertjies mooi

 Appelkose hou ook van spesery soos kardomom en word baie gevlei deur amandelgeure. Marsepein en appelkose klink vir my na ‘n forever-after paartjie; nie iets wat my ma saam met haar vrugtepoffertjies sal bedien nie, maar sy het ‘n avontuurlike dogter grootgemaak.

 VRUGTEPOFFERTJIES

Die beslag kan gebruik word om stukkies vrugte in te doop. Bedien dit tradisioneel of maak ‘n eksotiese stropie.

120 g  (250 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

Knippie sout

25 ml suiker

1 eier, geklits

75 ml melk of bietjie meer

12,5 ml gesmelte botter

Vrugte van jou keuse: soos appel, appelkoos, perske, pynappel, piesang,

Metode:

Sny die vrugte van jou keuse in gerieflike stukke gesny. Sprinkel suurlemoensap oor vrugtestukke wat kan verkleur, soos appel en piesang) – ek het appelkose in kwarte gesny.

Sif droë bestanddele saam en maak met die eier, melk en botter tot ‘n glad beslag aan.

Voeg nog ‘n bietjie melk by as dit te styf is. Moenie te slap maak nie, anders sal die poffertjies nie fatsoen hou nie.

Verhit olie in kastrol. Gebruik ‘n vurk en doop voorbereide vrugtestukke in doopbeslag, dreineer effe. Braai in warm olie (170°C) tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Strooi kaneelsuiker of strooisuiker oor. Loperige heuning of esdoringstroop, gegeur met ‘n paar druppels lemoenwater is ook lekker, veral met ‘n surerige vrug.

Kontakdetails: Dennehof Karoo Gastehuis

Tel 023 5411 227

http://www.dennehof.co.za

Nooi ‘n Croque Madame vir ontbyt

7 Oct

Nooi ‘n Franse gas vir laatontbyt. Croque Madame en Croque Monsieur is van daai ikoniese bistro-geregte wat al so ver terug as 1910 op kafee-spyskaarte in Parys verskyn – en was eintlik die kitskos van daai era.

Een van die derduisende foto's van 'n croque madame op die internet. Lyk my almal wat die dame in in Paryse straatkafee bestel neem 'n foto en 'post' dit. Hierdie is van ene 'images CAZZHU7U. Sodra ek weer croque madame maak sal ek my eie foto's neem en hier post.

Croque Monsieur is ‘n luukse geroosterde ham en kaas toebroodjie, maar wanneer dit met ‘n geposjeerde of gebakte eier bo-op bedien word, word dit croque madame* genoem. En deesdae is daar sommer ook croquet mademoiselles wat verwys na laer-kalorie broodjies. Terloop, die woorde croque kom van die Franse werkwoord croquer ‘om iets saam te pers’.

*[Croque Madame herinner jou dalk aan die Hollandse uitsmitjer , maar is nie heeltemal dieselfde ding nie.]

Die bestanddele is al klaar genoeg om die eetlus te prikkel. Die mooi foto kom van 'newfinmysoup' blogspot. Ek vermoed daar gaan ook mornaise sous (soos 'n kaas-witsous) gemaak word waarin brandewyn en worcestersous gaan kom.

Opgedolliede weergawes is daar wel, maar vir ‘n klassieke resep soek ek nie verder as Glanskok Francois Ferreira se nuwe kookboek Okkasies nie.

Maak so ‘n Croque Madame vir 2 mense:
Klits 1 eier en 15 ml melk liggies saam in ‘n plat bak en geur met sout en peper.
Smeer 4 snye brood met botter – Twee van die snye smeer jy dan met Dijon mosterd en sit ‘n sny beleë kaas soos cheddar, gruyere of edam bo-op, ‘n sny ham, nog ‘n sny kaas en bedek met ‘n gebotterde sny brood. Vat nou ‘n groot braaipan (Francois beveel ‘n kleefvrye pan aan), verhit sowat 20 ml botter en 10 ml kookolie daarin.

Intussen doop jy die 1 toebroodjie in die eier en melkmengsel en maak seker dis goed met die eier bedek.

Sodra die botter in die pan skroeiwarm is sit jy die broodjie in en braai dit so 1 en ‘n halwe minuut aan die een kant terwyl jy dit ferm druk met ‘n eierspaan – dis dié drukkery wat die Franse croquer noem.

Braai die ander kant – skuif die broodjie na die kant van die pan om warm te bly en braai die eier in dieselfde pan ‘sunny-side up’ – sit dit bo-op die gaar broodjie en laat gly dit versigtig op ‘n bord. Nou doen jy dieselfde met jou volgende broodjie – maar voeg nog olie en botter in die pan soos nodig. Dit moet dadelik voorgesit word.

DIT laat nou my mond water. (Foto 'imagescahnehh')

Huiskok se wenke:

As ek ‘n hele paar moet maak span ek sommer 2 panne in.

Dis vullend en ryk, maar ek bedien ook gewoonlik rocketblare daarmee saam wat ek net liggies klam maak met vinaigrette. Of jy kan net vars gekapte pietersielie daaroor gooi.

My wenke is dat jy dun skyfies ham moet gebruik – die ham en die kaas moet ook liefs nie oor die kante hang nie.

%d bloggers like this: