Nooi ‘n Franse gas vir laatontbyt. Croque Madame en Croque Monsieur is van daai ikoniese bistro-geregte wat al so ver terug as 1910 op kafee-spyskaarte in Parys verskyn – en was eintlik die kitskos van daai era.

Een van die derduisende foto's van 'n croque madame op die internet. Lyk my almal wat die dame in in Paryse straatkafee bestel neem 'n foto en 'post' dit. Hierdie is van ene 'images CAZZHU7U. Sodra ek weer croque madame maak sal ek my eie foto's neem en hier post.
Croque Monsieur is ‘n luukse geroosterde ham en kaas toebroodjie, maar wanneer dit met ‘n geposjeerde of gebakte eier bo-op bedien word, word dit croque madame* genoem. En deesdae is daar sommer ook croquet mademoiselles wat verwys na laer-kalorie broodjies. Terloop, die woorde croque kom van die Franse werkwoord croquer ‘om iets saam te pers’.
*[Croque Madame herinner jou dalk aan die Hollandse uitsmitjer , maar is nie heeltemal dieselfde ding nie.]

Die bestanddele is al klaar genoeg om die eetlus te prikkel. Die mooi foto kom van 'newfinmysoup' blogspot. Ek vermoed daar gaan ook mornaise sous (soos 'n kaas-witsous) gemaak word waarin brandewyn en worcestersous gaan kom.
Opgedolliede weergawes is daar wel, maar vir ‘n klassieke resep soek ek nie verder as Glanskok Francois Ferreira se nuwe kookboek Okkasies nie.
Maak so ‘n Croque Madame vir 2 mense:
Klits 1 eier en 15 ml melk liggies saam in ‘n plat bak en geur met sout en peper.
Smeer 4 snye brood met botter – Twee van die snye smeer jy dan met Dijon mosterd en sit ‘n sny beleë kaas soos cheddar, gruyere of edam bo-op, ‘n sny ham, nog ‘n sny kaas en bedek met ‘n gebotterde sny brood. Vat nou ‘n groot braaipan (Francois beveel ‘n kleefvrye pan aan), verhit sowat 20 ml botter en 10 ml kookolie daarin.
Intussen doop jy die 1 toebroodjie in die eier en melkmengsel en maak seker dis goed met die eier bedek.
Sodra die botter in die pan skroeiwarm is sit jy die broodjie in en braai dit so 1 en ‘n halwe minuut aan die een kant terwyl jy dit ferm druk met ‘n eierspaan – dis dié drukkery wat die Franse croquer noem.
Braai die ander kant – skuif die broodjie na die kant van die pan om warm te bly en braai die eier in dieselfde pan ‘sunny-side up’ – sit dit bo-op die gaar broodjie en laat gly dit versigtig op ‘n bord. Nou doen jy dieselfde met jou volgende broodjie – maar voeg nog olie en botter in die pan soos nodig. Dit moet dadelik voorgesit word.
Huiskok se wenke:
As ek ‘n hele paar moet maak span ek sommer 2 panne in.
Dis vullend en ryk, maar ek bedien ook gewoonlik rocketblare daarmee saam wat ek net liggies klam maak met vinaigrette. Of jy kan net vars gekapte pietersielie daaroor gooi.
My wenke is dat jy dun skyfies ham moet gebruik – die ham en die kaas moet ook liefs nie oor die kante hang nie.
Ongetwyfeld my gunsteling ontbyt, maar as gevolg van die kalorie ontploffings hou ons dit maar vir spesiale geleenthede, of okasies soos jy terug genoem het.
Heerlik!