Tag Archives: roomys

Gebakte sjokolade-koffiepoeding met sy eie sous

18 Jun

B4527C5A-3C87-48DB-A896-9B19C1AFBFF5
Het iemand iets gesê van morsig, modderig, sjokoladerig, koffierig, souserig, poedingrig én sjokoladekoekerig?

Gebakte sjokolade-koffiepoeding met sy eie sous
Bedien 6

250 ml (150 g) bruismeel
60 ml kakaopoeier (Nomu s’n baie lekker)
Goeie knippie sout
125 ml (100 g) strooisuiker
125 ml melk
1 eier
70 g botter, gesmelt + ekstra gesmelt om poedingbak te smeer
80 g (125 ml liggies gepak) bruinsuiker
375 ml kookwater
15 ml kitskoffie-korrels of –poeier
Vir bediening: geklopte room of vanielje-roomys

· Voorverhit oond na 180°C. Smeer 1.5 l oondvaste bak met gesmelte botter, plaas op ‘n bakplaat vir ingeval dit poeding oorloop.
· Sif die meel, 30 ml kakao en sout saam in ‘n bak. Roer die strooisuiker by.
· Klop die melk, eier en gesmelte botter in beker tot goed gemeng. Voeg dit by die meelmengsel en roer met ‘n houtlepel tot glad. Skep dit uit in die gesmeerde oondbak. Maak die oppervlakte gelyk met die agterkant van ‘n lepel.
· Plaas die bruinsuiker in ‘n bak, sif die oorblywende kakao oor die suiker en meng saam. Sprinkel die kakao-suikermengsel eweredig oor die poeding .
· Meng die kookwater en koffie in ‘n beker en giet dit geleidelik oor die agterkant van ‘n groot lepel oor die poeding (die lepel verhoed dat die vloeistof ‘n gaatjie in die deeg maak as jy dit ingooi).
· Bak 40 minute of tot die bokant soos koek begin lyk en ‘n toetspen wat halfpad in die middel ingedruk is, skoon uitkom. (Moenie tot onder indruk nie, anders sal die sous aan die pen kleef).
· Laat staan 5 minute sodat die sous onder die koeklaag effe kan verdik. Bedien warm, sodat die koek nie te veel van die sous absorbeer van lank staan nie.

Bedien met room of roomys. (Resepbron: Taste Australia)

 

Beesstertbredie met mieliemeelkors; pikdonker sjokoladepiesangbroodjie met grondboontjiebotter roomys vir Vadersdag

13 Jun

Die Amerikaner Sonora Smart Dodd se naam is dalk onbekend, maar haar nagedagtes leef voort in elke viering van Vadersdag.

Sonora, die dogter van ‘n wewenaar wat sy ses kinders alleen grootgemaak het, het in 1909 tydens ‘n kerkdiens op Moedersdag die idee gekry om haar pa te eer vir die toewyding tot sy kinders. Sy het ‘n petisie opgestel dat Spokane, haar geboortestad, ‘n bepaalde Sondag elke Junie aan vaders wy: ‘n eenvoudige maar treffende gebaar waar dogters in die kerkdiens ‘n rooi roos vr hul pa’s gee; of wit rose dra vir pa’s wat nie meer daar is nie.

In die Du Toit-huishouding kry Ian nie rooi rose nie, maar wel sjokolade. Ian is MAL oor sjokolade, hoe donkerder hoe beter. Hier is ‘n sout en soet manier om sjokolade te gebruik – ‘n Spaanse beesstertbredie en ‘n pikdonker sjokolade piesangbroodjie wat met volgraanmeel gemaak word.

BEESSTERT BREDIE MET MIELIEMEELKORS

Hierdie resep is ‘n ou gunsteling uit my en Francois se kookboek Huiskok Glanskok. Die Spanjaarde gebruik al donkiejare sjokolade in hul kos. Die bietjie donkersjokolade in die sous verryk die sous, sonder om dit soet te maak. Ek voeg graag lemoenskil by wat ‘n goeie pasmaat is vir die speserye en sjokolade. Terwyl die pot stadig prut, kan jy aangaan met jou ander dinge, soos om die tafel mooi te dek.

Die resep klink dalk omslagtig, maar vir ’n spesiale bederf is dit absoluut die moeite werd. Moeilik is dit egter nie. En as jy nie die mieliemeelkors wil maak nie, is die vleis heerlik net so – moenie dan lol om die vleis van die bene te pluis nie en bedien dit soos ’n bredie.

Maak 6 – 8 porsies

30 ml olyfolie

  • 1 groot beesstert (2.5 kg). Vra jou slagter om dit in 3 cm stukke te saag
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 wortels, opgekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 7,5 ml fyn kaneel
  • knippie fyn naeltjies
  • skil en sap van 1 lemoen
  • 10 ml fyn komyn
  • 750 ml rooiwyn
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1.5 l beesaftreksel
  • 30 ml gerasperde donker sjokolade

Mieliemeelkors

  • 250 ml (125g) meelblom
  • 250 ml (150 g) fyn mieliemeel of polenta
  • 5 ml sout
  • 90 g botter, gevries
  • 60 – 70 ml yswater
  • 1 eier, liggies geklits met 10 ml water

Verhit olie in groot kastrol en verbruin beessterttukke sowart 4 minute aan elke kant. Haal uit en hou eenkant. Stel hitte laer en voeg uie en wortels by, kook vir 15 minute tot goudbruin. Voeg knoffel en speserye by en kook vir 1 minuut. Gooi wyn, aftreksel, tamatie, lemoensap en skil by. Sit vleis terug in die pot en bring tot kookpunt. Verminder hitte en stowe vir 4 1/2 ure, of tot vleis baie sag is.

Skep nou en dan die skuimerigheid af en enige oortollige vet. Skep die beesstert uit en laat afkoel. Laat intussen die sous in die kastrol oor ‘n hoër hitte kook tot dit dikker word, sowat 5 minute. Pluis al die vleis van die bene af en roer by die sous in. Geur en laat afkoel. (Die sjokolade word eers later bygeroer.)

Maak intussen die mieliemeelkors:

Voeg die meel, mieliemeel en sout in ‘n bak.  Rasper die bevrore botter bo-oor en vryf met die vingerpunte in tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Maak ‘n holte en gooi die meeste van die water in. Meng met ‘n platlemmes tot die deeg bolletjies vorm, voeg nog water by indien nodig. Vorm die deeg in ‘n plat bal. Dit sal effe klewerig wees, maar die klammigheid sal geabsorbeer word. Bedek met kleefplastiek en verkoel vir 1 uur.

Voorverhit die oond to 190⁰C. Roer die gerasperde sjokolade deur die vleismengsel en gooi uit in ‘n diep 2.5 l kapasiteit keramiek oondbak.

Rol die deeg uit tussen twee velle bakpapier tot 3 mm dik. Trek boonste papier af en plaas deeg bo-op die pasteivleis. Verwyder laaste vel papier. Druk deeg vas aan die kante sodat dit nie sal oplig wanneer dit bak nie. Sny die kante netjies. Smeer met geklitse eier. Prik die kors op ‘n paar plekke met ‘n skerp messie. Bak 1 uur. Die vulsel moet deurwarm wees en die kors goudbruin. Bedien met stampkoring of tiemiegegeurde polenta en vars slaai.

(Foto Samarie Smith, Huiskok Glanskok)

 

PIKDONKER ‘BLACKOUT’ SJOKOLADE-PIESANGBROODJIE

Saam met hierdie koekbroodjie van Bon Appetit brou jy vir Pa ‘n sterk pot Arabica-koffie. Dis donker en diepbehaaglik, nie te soet nie en met ‘n besondere tekstuur van die volgraanmeel. Ek gebruik enjgiets tussen 70% en 85% donkersjokolade hiervoor, maar gebruik gerus Bournville se donkersjokolade.

  • 190 ml koekmeel
  • 125 ml volgraanmeel
  • 90 ml kakaopoeier
  • 7 ml koeksoda
  • 4 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 5 groot baie ryp piesangs, verdeel
  • 280 ml ligbruin suiker
  • 80 ml botter, kamertemperatuur
  • 2 groot eiers
  • 90 ml suurroom
  • 5 ml vanielje-ekstrak
  • 110 g donkersjokolade, gekap
  • 15 ml donker bruinsuiker

Voorverhit oond na 180°C. Spuit ‘n 24 cm x 11 cm broodpannetjie uit met kleefvrye kossproei. Voer die bodem uit met bakpapier met ‘n ruim oorhang aan die lang kante.

Klits koekmeel, volgraanmeel, kakaopoeier, koeksoda, bakpoeier en sout in ‘n medium bak.

Maak 4 piesangs fyn met vurk of aartappeldrukker.

In ‘n groot mengbak klits die bruinsuiker en botter saam op matig-hoë spoed tot lig en donsig, sowat 4-5 minute. Klits die eiers een vir een by tot goed gemeng, terwyl jy dan en wan die kante skraap. Verminder die spoed en klits die suurroom, vanielje-ekstrak en piesangmoes by. Moenie skrik as die mengsel op hierdie stadium geskif lyk nie.

Verminder die spoed en meng die droë bestanddele geleidelik by tot net deurgemeng. As jy te veel meng sal die koek taai wees. Vou die sjokoladebrokkies in.

Skep die beslag in die voorbereide pan en maak bo-op gelyk. Sny die piesang in die lengte in 3 ewe dik snye. Plaas die piesangskywe bo-op met snykante na bo. Sprinkel die demararasuiker op die beslag, probeer die piesangs vermy.

Bak koekbroodjie sowat 65-75 minute tot ‘n toetspen wat jy in die middel druk, skoon uitkom; daar mag dalk gesmelte sjokolade vaskleef. Plaas die pan op ‘n draadrak en laat heeltemal afkoel voordat jy die piesangbrood aan die papieroorhang uitlig.

Die smaak ontwikkel as die koek oornag staan.

GRONDBOONTJIEBOTTER-ROOMYS        

Hierdie ongewone roomys van Mari-Louis Guy en Callie Maritz kan by die sjokolade-piesangbrood vir nagereg voorgesit word. As jy ekstra toegewyd is, maak die grondboontjiebotter self.

  • 500 mℓ volroommelk
  • 125 mℓ room
  • 5 mℓ vanielje-essens
  • 200 g strooisuiker
  • 90 mℓ grondboontjiebotter (gekoop of tuisgemaak volgens resep verskaf)

Meng die melk, room, vanielje-essens en suiker saam tot die suiker opgelos is. Voeg die grondboontjiebotter by en plaas in roomysmasjien en karring tot gestol. Bêre in vrieskas tot heeltemal gestol.

Tuisgemaakte Grondboontjiebotter

  • 1 ½ k ( 180 g) ongesoute, geroosterde grondboontjies
  • 1 E ( 15 ml) grondboontjie-olie

Meng albei bestanddele saam in ‘n voedselverwerker tot glad. (Jy gaan nie alles gebruik vir die roomys nie.)

Foto’s van sjokoladepiesangbroodjie: Ian Du Toit

Witsjokolade-wafels en ‘n heerlike groenkool-en appelslaai uit Herman se VOORSKOOT

20 Oct

Gister toe Herman Lensing se debuut-kookboek VOORSKOOT bekendgestel is in Franschhoek is ek in Prins Albert,  net te ver om Kaap toe te ry om die groot oomblik saam met hom te vier. Maar ek het die boek  ingepak vir my maand-lange besoek aan die Karoo-dorpie, en toe ek Vrydag my weeklikse radiopraatjie moes doen is dit VOORSKOOT wat ek nader getrek het.

Die naam VOORSKOOT spreek boekdele van hierdie vars, energieke Sarie-kosredakteur wat in ‘n ommesientjie deel geword het van hoe ons kook – en graag wil kook. Nie ‘n deftige, sjefferige titel om by sy uitstekende sjefskwalifikasie te pas nie. Nee, Herman oorrompel ons koshart met ‘n voorskoot aan. Ons kan onsself in so ‘n voorskoot sien, want Herman verstaan die tuiskok en die stokperdjiekok. Hy wys ons dat kosmaak lekker is, en nie harde werk hoef te wees soos vir diegene wat met sjefsbaadjies aan moet kook nie.

herman voorskoot voorblad reg en gecrop

Agter sy voorskoot loer daar ‘n harlekyn uit wat kosmaak vermaaklik maak. Hy verskuif sy eie grense, soos om ‘n deftige dasspeld eerder op sy baadjiekraag te dra; reuse groot rose vind plek op sy lapel. Hy roer in my die lus om ‘n mooi baba-kopkool op my bors te dra!  Die Herman wat ek in my kreatiewe skryfkuns-klas by die Institute of Culinary Arts leer ken het, het  toe al as jong student emosies oor kos losgeskryf. Hy het my toe al in trane gehad met die manier waarop hy uitdrukking kon gee aan die dieper betekenis van kos, kook en saameet. Hy is ‘n wunderkund en terseldertyd ‘n wyse, ou siel.

Ek het hom verder sien grootword by SARIE, die student het ‘n stylvolle jong metro-man geword, my protégé blink gepoets is deur die Sarie-span en deur die stadslewe. Maar steeds, met elke resep van Herman, en elke kosoptrede onthou ek die langbeenknaap in die student-sjefsbaadjie wat sy hartland – Upington se wêreld – soos ‘n borsspeld op sy lapel vasgesteek het.

Maar eers ‘n resep uit VOORSKOOT, dan praat ons verder.

Herman witsjokolade wafels esize

Witsjokoladewafels met roomys (uit Voorskoot)

genoeg vir 6 persone

Herman sê: “Die meeste elektroniese winkels en groot supermarkte hou wafelmasjiene in voorraad. Dis ’n moet-hê vir enige kombuis! Die pan wat ek gebruik is vierkantig, soos die Belge hulle wafels maak.”

375 ml (210 g) koekmeel

5 ml sout

50 g (60 ml) strooisuiker

15 ml bakpoeier

2 eiers

250 ml melk

20 g (20 ml) gesmelte botter

1 x 100 g-plak witsjokolade, fyngekap

1 liter roomys vir voorsit

175 g vars bessies van jou keuse

Sif die koekmeel, sout, suiker en bakpoeier saam. Voeg die eiers, melk en botter by. Roer met ’n draadklitser tot ’n gladde mengsel. Voeg die sjokolade by en meng deur. Verhit ’n wafelpan en spuit dit goed met kleefwerende kossproei. Skep lepels vol van die beslag in die pan en braai tot goudbruin en gaar, sowat 5 minute. Plaas die warm wafels op ’n opdienbord en skep ’n bal roomys daarop. Gooi bessies oor en sit voor.

Wenk: Verhit jou oond tot 100 °C en plaas die wafels wat klaar gebak het direk op die oond se rak om warm te bly terwyl jy die res bak.

{EK, VOORSKOOT EN DIE VOORWOORD}

Om die voorwoord vir VOORSKOOT te kon skryf, was sekerlik die grootste eer vir my as sy vriendin, kos-ma en sy grootste bewonderaar. Hier’s ‘n uittreksel:

“My groot voorskootversameling het een groot gemis gehad: ‘n Voorskoot soos syne met magiese kragte om die alledaagse te omskep in die beste tyd van die dag. ’n Voorskoot wat binne ’n halfuur goddelike geure deur die huis sal laat walm en almal aan tafel gaan laat glimlag. Een vir alle seisoene; wat herfs se hartsgeheime ken en in lente saam met die eerste bloeisels sal begin blom.  Hy weet ons almal kort ‘n ‘little black dress’ vir fênsie kuiers, alfresco etes en afshow.  ’n Als-in-een nommertjie vir boekklub-kuiers, voor-die-TV-kuiers, verjaarsdagvierings, ’n kosreis na Frankryk, Mexico, Italië en Indië. Een wat ons kan aantrek wanneer die lus vir bistro-kos, kafeekos, padkos en liefdeskos groot is, maar die tyd min.

Strik vas.  Kom ons maak Herman se heerlike koolslaai. Soek dan die karsleutels en gaan skaf jou eie VOORSKOOT aan. Dis te koop by goeie boekwinkels. Of sit dit op jou Kerslysie. Dit sort ook die probleem uit van wat om vir iemand spesiaal as geskenk te koop.

herman groenkool en appelslaai resize

Groenkool-en-appelslaai (uit Voorskoot)

genoeg vir 6 persone

Koolslaai was nog nooit so opgetof gewees nie! Gebruik baba-kool wat soeter in smaak is. As jy dit nie kan kry nie, kan jy groot koolkoppe in dun repies snipper.

250 ml goeiegehalte-mayonnaise

125 ml Griekse jogurt

sap en skil van 2 suurlemoene

sout en varsgemaalde swartpeper

4 groenappels, in dun skywe gesny

3 baba-groenkoolkoppe, in kwarte gesny

1 x 200 g-sakkie rosyntjies

1 x 100 g-sakkie pekanneute, grofgekap

Meng die mayonnaise, jogurt, en sap en skil van die suurlemoene saam. Geur goed met sout en swartpeper. Pak die appels en kool op ’n mooi opdienbord. Sprinkel rosyntjies en pekanneute oor. Skep die slaaisous oor en sit voor.

Wenk: Appels word gou bruin ná jy dit gesny het. As jy weet jy gaan die slaai nie onmiddellik voorsit nie, kan jy die appelskywe met suurlemoensap bedruip. Die slaaisous bevat ook suurlemoensap wat sal help om verbruining te voorkom.

FOTO’S: Die foto’s vir Voorskoot is deur Donna Lewis geneem. Die uitgewer is Human & Rousseau en die opdraggewende redakteur is Daleen van der Merwe.

Proust en die gebakte pere

10 May

“Sweetly and subtly perfumed…so soft it is best eaten with a spoon, a tenderness more appealing to gourmets than to those who have to pick, ship, handle and store it in constant fear of ruinous spoilage.” (Waverley Root, oor die Comice peer)

Stillewe met Pere. Vincent van Gogh. Parys. 1887-88

Dis nie net madeleines wat Marcel Proust aan die verlang gehad het nie, maar ook poires Bourdaloue, ‘n klassieke peergereg met frangipani-room. Wel nie veel vir die oog nie, maar indrukwekkend op die tong. Renoir het weer ‘n swakte gehad vir Bourdelots et Doullins, ‘n nagereg van heel appels en pere, elkeen in ‘n jas van skilferkorsdeeg, omdat dit hom herinner het aan goeie tye met die huis vol vriende en jillende kinders.

{Ouma in ’n nartjie, my ma in ’n peer}

Soos alle vroue (en ma’s veral) kom pere in vele vorms. Daar’s die lang, dunnekkiges, soos die beurre bosc met ‘n geel-groen skil. Dan ook die eiervormige beurre hardy – bekend vir ‘n growwe skil en hoog-peerlike  aroma as dit regryp is. Packham met die onreëlmatige lyf en groen kleur eet jy dieselfde dag wat die stingeltjie begin effe meegee. Geel moet sy nie word nie – dan raak sy melerig.

Bon chretien met die liggeel spikkelskil is ovaal van lyf. Al laat haar kort nekkie haar kort voor beeldskoon, is sy sag en sappig …. Ietwat van ‘n dienende Marta. Bruin Forelle is ook so ‘n spikkelpeer; op haar soetste wanneer sy ‘n blos op die wang het. Die lekkerse peer vir net so eet is die Comice – nou wel nie die mooiste peer in die boord nie, maar die soet, fluweelsagte tekstuur op die tong maak op vir haar windverwaaide voorkoms.

Pere maak van kosmense artieste, soos Lannice Snyman wat in Fruit Art pere saam met appelliefies en bocconcini (mondjievol mozzarella-bolletjies) op stokkies ryg en met ‘n hitsige stropie bedek het. Vir ‘n kunssinnige slaai het sy pere, avokadopeer en papaja bedruip met ‘n sous van jogurt, heuning, gekrummelde bloukaas, olie en ‘n titsel asyn.

In Vin de Constance, uitgegee deur Lannice, wikkel  Michel Roux Jr soet ryp pere saam met roquefort in skilferkors toe – om met ‘n kelkie van die ikoniese soetwyn te geniet. In Food Gurus bedien Margot Janse sjampanje-geposjeerde pere met ‘drop’ panna cotta en vanielje puree.

Vir Homer was pere die gode se geskenk aan die mensdom. Is dit nie wat ma’s vir ontbyt verdien op Moedersdag nie – net gestoom en besprinkel met geroosterde hawermout en sesamsade; jogurt en streepsels heuning.

Pere hou ook van appels en appelkosies, van kersies, bosbessies, sjokolade, dennepitte, okkerneute, suurlemoenskil, kaneel, gemmer, naeltjies en vanielje. Die wintervrug maak moeiteloos maats met roquefort, roket, port, parmesaan, pinotage, pancetta en prosciutto.

As jy steeds wonder oor wat om vir ma maak op Moedersdag, wat dalk van bokmelkkaas en peer crostata? Laat snytjies pere bo-op skilferkorsdeeg lepellê met skyfies bokmelkkaa. Bak dit goudbruin en bestryk met rooirissie- en lemmetjiestroop vir ‘n poeding-en-kaasgang in een.

Dit hou nie daar op nie: die gastronauts in die kombuis kan regstaan met gestoomde pere, opgedien in ‘n wit porseleinkoppie saam met mossels in ‘n romerige sous gegeur met piekelgemmer en Thaise groenkerrie – met erkenning aan Taste.

Op Moedersdag dink ek ook aan my pa wat altyd op hierdie dag vir Ma ‘n liefdesbriefie geskryf het omdat hy vergeet het van ‘n geskenkvir Ma of om planne te maak sodat sy nie hoef te kook nie. Vir Ma en Pa saam sou ek beesstertbredie wou maak, dit smoor in witwyn met koljander en bedien met gestoomde pere en vinkel – ‘n resep wat ek juis destyds uitgeknip het vir ‘n spesiale herinneringsmaal.

Maar Pa is nou net hier in swart- en wit foto’s en sy sakdoekies. Ma is met min tevrede. Solank sy by my, haar enigste meisiekind is op Moedersdag, dan’s die saak reg. Vir haar maak ek gebakte pere. Sy dink dis hemel op aarde.

Pere in die oond gebak vir Ma Inez   

Kyk uit vir ryp pere, regte egte esdoringstroop en Häagen-Dazs vanielje-roomys. Jou ma (en jou skoonma) is dit werd.

6 ryp pere (geskil, ontpit en halveer)

1 koppie port

2e bruinsuiker

1/2 koppie sultanas of rosyne

Handvol dennepitte

1t kaneel

Esdoringstroop (maple syrup) – Woollies het die ‘real macoy’

Verhit oond tot 180°C. Plaas die peerhelftes in ‘n diep oondskottel. Strooi die dennepitte, bruinsuiker, kaneel en sultanas of rosyne oor. Drup bietjie esdoringstroop oor. Gooi port oor en bedek deeglik met foelie om die vog binne te hou. Bak 45 minute of tot die pere sag is. Sit voor met roomys en esdoringstroop.

 

%d bloggers like this: