“Sweetly and subtly perfumed…so soft it is best eaten with a spoon, a tenderness more appealing to gourmets than to those who have to pick, ship, handle and store it in constant fear of ruinous spoilage.” (Waverley Root, oor die Comice peer)
Dis nie net madeleines wat Marcel Proust aan die verlang gehad het nie, maar ook poires Bourdaloue, ‘n klassieke peergereg met frangipani-room. Wel nie veel vir die oog nie, maar indrukwekkend op die tong. Renoir het weer ‘n swakte gehad vir Bourdelots et Doullins, ‘n nagereg van heel appels en pere, elkeen in ‘n jas van skilferkorsdeeg, omdat dit hom herinner het aan goeie tye met die huis vol vriende en jillende kinders.
{Ouma in ’n nartjie, my ma in ’n peer}
Soos alle vroue (en ma’s veral) kom pere in vele vorms. Daar’s die lang, dunnekkiges, soos die beurre bosc met ‘n geel-groen skil. Dan ook die eiervormige beurre hardy – bekend vir ‘n growwe skil en hoog-peerlike aroma as dit regryp is. Packham met die onreëlmatige lyf en groen kleur eet jy dieselfde dag wat die stingeltjie begin effe meegee. Geel moet sy nie word nie – dan raak sy melerig.
Bon chretien met die liggeel spikkelskil is ovaal van lyf. Al laat haar kort nekkie haar kort voor beeldskoon, is sy sag en sappig …. Ietwat van ‘n dienende Marta. Bruin Forelle is ook so ‘n spikkelpeer; op haar soetste wanneer sy ‘n blos op die wang het. Die lekkerse peer vir net so eet is die Comice – nou wel nie die mooiste peer in die boord nie, maar die soet, fluweelsagte tekstuur op die tong maak op vir haar windverwaaide voorkoms.
Pere maak van kosmense artieste, soos Lannice Snyman wat in Fruit Art pere saam met appelliefies en bocconcini (mondjievol mozzarella-bolletjies) op stokkies ryg en met ‘n hitsige stropie bedek het. Vir ‘n kunssinnige slaai het sy pere, avokadopeer en papaja bedruip met ‘n sous van jogurt, heuning, gekrummelde bloukaas, olie en ‘n titsel asyn.
In Vin de Constance, uitgegee deur Lannice, wikkel Michel Roux Jr soet ryp pere saam met roquefort in skilferkors toe – om met ‘n kelkie van die ikoniese soetwyn te geniet. In Food Gurus bedien Margot Janse sjampanje-geposjeerde pere met ‘drop’ panna cotta en vanielje puree.
Vir Homer was pere die gode se geskenk aan die mensdom. Is dit nie wat ma’s vir ontbyt verdien op Moedersdag nie – net gestoom en besprinkel met geroosterde hawermout en sesamsade; jogurt en streepsels heuning.
Pere hou ook van appels en appelkosies, van kersies, bosbessies, sjokolade, dennepitte, okkerneute, suurlemoenskil, kaneel, gemmer, naeltjies en vanielje. Die wintervrug maak moeiteloos maats met roquefort, roket, port, parmesaan, pinotage, pancetta en prosciutto.
As jy steeds wonder oor wat om vir ma maak op Moedersdag, wat dalk van bokmelkkaas en peer crostata? Laat snytjies pere bo-op skilferkorsdeeg lepellê met skyfies bokmelkkaa. Bak dit goudbruin en bestryk met rooirissie- en lemmetjiestroop vir ‘n poeding-en-kaasgang in een.
Dit hou nie daar op nie: die gastronauts in die kombuis kan regstaan met gestoomde pere, opgedien in ‘n wit porseleinkoppie saam met mossels in ‘n romerige sous gegeur met piekelgemmer en Thaise groenkerrie – met erkenning aan Taste.
Op Moedersdag dink ek ook aan my pa wat altyd op hierdie dag vir Ma ‘n liefdesbriefie geskryf het omdat hy vergeet het van ‘n geskenkvir Ma of om planne te maak sodat sy nie hoef te kook nie. Vir Ma en Pa saam sou ek beesstertbredie wou maak, dit smoor in witwyn met koljander en bedien met gestoomde pere en vinkel – ‘n resep wat ek juis destyds uitgeknip het vir ‘n spesiale herinneringsmaal.
Maar Pa is nou net hier in swart- en wit foto’s en sy sakdoekies. Ma is met min tevrede. Solank sy by my, haar enigste meisiekind is op Moedersdag, dan’s die saak reg. Vir haar maak ek gebakte pere. Sy dink dis hemel op aarde.
Pere in die oond gebak vir Ma Inez
Kyk uit vir ryp pere, regte egte esdoringstroop en Häagen-Dazs vanielje-roomys. Jou ma (en jou skoonma) is dit werd.
6 ryp pere (geskil, ontpit en halveer)
1 koppie port
2e bruinsuiker
1/2 koppie sultanas of rosyne
Handvol dennepitte
1t kaneel
Esdoringstroop (maple syrup) – Woollies het die ‘real macoy’
Verhit oond tot 180°C. Plaas die peerhelftes in ‘n diep oondskottel. Strooi die dennepitte, bruinsuiker, kaneel en sultanas of rosyne oor. Drup bietjie esdoringstroop oor. Gooi port oor en bedek deeglik met foelie om die vog binne te hou. Bak 45 minute of tot die pere sag is. Sit voor met roomys en esdoringstroop.
Leave a Reply