Gister toe Herman Lensing se debuut-kookboek VOORSKOOT bekendgestel is in Franschhoek is ek in Prins Albert, net te ver om Kaap toe te ry om die groot oomblik saam met hom te vier. Maar ek het die boek ingepak vir my maand-lange besoek aan die Karoo-dorpie, en toe ek Vrydag my weeklikse radiopraatjie moes doen is dit VOORSKOOT wat ek nader getrek het.
Die naam VOORSKOOT spreek boekdele van hierdie vars, energieke Sarie-kosredakteur wat in ‘n ommesientjie deel geword het van hoe ons kook – en graag wil kook. Nie ‘n deftige, sjefferige titel om by sy uitstekende sjefskwalifikasie te pas nie. Nee, Herman oorrompel ons koshart met ‘n voorskoot aan. Ons kan onsself in so ‘n voorskoot sien, want Herman verstaan die tuiskok en die stokperdjiekok. Hy wys ons dat kosmaak lekker is, en nie harde werk hoef te wees soos vir diegene wat met sjefsbaadjies aan moet kook nie.
Agter sy voorskoot loer daar ‘n harlekyn uit wat kosmaak vermaaklik maak. Hy verskuif sy eie grense, soos om ‘n deftige dasspeld eerder op sy baadjiekraag te dra; reuse groot rose vind plek op sy lapel. Hy roer in my die lus om ‘n mooi baba-kopkool op my bors te dra! Die Herman wat ek in my kreatiewe skryfkuns-klas by die Institute of Culinary Arts leer ken het, het toe al as jong student emosies oor kos losgeskryf. Hy het my toe al in trane gehad met die manier waarop hy uitdrukking kon gee aan die dieper betekenis van kos, kook en saameet. Hy is ‘n wunderkund en terseldertyd ‘n wyse, ou siel.
Ek het hom verder sien grootword by SARIE, die student het ‘n stylvolle jong metro-man geword, my protégé blink gepoets is deur die Sarie-span en deur die stadslewe. Maar steeds, met elke resep van Herman, en elke kosoptrede onthou ek die langbeenknaap in die student-sjefsbaadjie wat sy hartland – Upington se wêreld – soos ‘n borsspeld op sy lapel vasgesteek het.
Maar eers ‘n resep uit VOORSKOOT, dan praat ons verder.
Witsjokoladewafels met roomys (uit Voorskoot)
genoeg vir 6 persone
Herman sê: “Die meeste elektroniese winkels en groot supermarkte hou wafelmasjiene in voorraad. Dis ’n moet-hê vir enige kombuis! Die pan wat ek gebruik is vierkantig, soos die Belge hulle wafels maak.”
375 ml (210 g) koekmeel
5 ml sout
50 g (60 ml) strooisuiker
15 ml bakpoeier
2 eiers
250 ml melk
20 g (20 ml) gesmelte botter
1 x 100 g-plak witsjokolade, fyngekap
1 liter roomys vir voorsit
175 g vars bessies van jou keuse
Sif die koekmeel, sout, suiker en bakpoeier saam. Voeg die eiers, melk en botter by. Roer met ’n draadklitser tot ’n gladde mengsel. Voeg die sjokolade by en meng deur. Verhit ’n wafelpan en spuit dit goed met kleefwerende kossproei. Skep lepels vol van die beslag in die pan en braai tot goudbruin en gaar, sowat 5 minute. Plaas die warm wafels op ’n opdienbord en skep ’n bal roomys daarop. Gooi bessies oor en sit voor.
Wenk: Verhit jou oond tot 100 °C en plaas die wafels wat klaar gebak het direk op die oond se rak om warm te bly terwyl jy die res bak.
{EK, VOORSKOOT EN DIE VOORWOORD}
Om die voorwoord vir VOORSKOOT te kon skryf, was sekerlik die grootste eer vir my as sy vriendin, kos-ma en sy grootste bewonderaar. Hier’s ‘n uittreksel:
“My groot voorskootversameling het een groot gemis gehad: ‘n Voorskoot soos syne met magiese kragte om die alledaagse te omskep in die beste tyd van die dag. ’n Voorskoot wat binne ’n halfuur goddelike geure deur die huis sal laat walm en almal aan tafel gaan laat glimlag. Een vir alle seisoene; wat herfs se hartsgeheime ken en in lente saam met die eerste bloeisels sal begin blom. Hy weet ons almal kort ‘n ‘little black dress’ vir fênsie kuiers, alfresco etes en afshow. ’n Als-in-een nommertjie vir boekklub-kuiers, voor-die-TV-kuiers, verjaarsdagvierings, ’n kosreis na Frankryk, Mexico, Italië en Indië. Een wat ons kan aantrek wanneer die lus vir bistro-kos, kafeekos, padkos en liefdeskos groot is, maar die tyd min.
Strik vas. Kom ons maak Herman se heerlike koolslaai. Soek dan die karsleutels en gaan skaf jou eie VOORSKOOT aan. Dis te koop by goeie boekwinkels. Of sit dit op jou Kerslysie. Dit sort ook die probleem uit van wat om vir iemand spesiaal as geskenk te koop.
Groenkool-en-appelslaai (uit Voorskoot)
genoeg vir 6 persone
Koolslaai was nog nooit so opgetof gewees nie! Gebruik baba-kool wat soeter in smaak is. As jy dit nie kan kry nie, kan jy groot koolkoppe in dun repies snipper.
250 ml goeiegehalte-mayonnaise
125 ml Griekse jogurt
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
4 groenappels, in dun skywe gesny
3 baba-groenkoolkoppe, in kwarte gesny
1 x 200 g-sakkie rosyntjies
1 x 100 g-sakkie pekanneute, grofgekap
Meng die mayonnaise, jogurt, en sap en skil van die suurlemoene saam. Geur goed met sout en swartpeper. Pak die appels en kool op ’n mooi opdienbord. Sprinkel rosyntjies en pekanneute oor. Skep die slaaisous oor en sit voor.
Wenk: Appels word gou bruin ná jy dit gesny het. As jy weet jy gaan die slaai nie onmiddellik voorsit nie, kan jy die appelskywe met suurlemoensap bedruip. Die slaaisous bevat ook suurlemoensap wat sal help om verbruining te voorkom.
FOTO’S: Die foto’s vir Voorskoot is deur Donna Lewis geneem. Die uitgewer is Human & Rousseau en die opdraggewende redakteur is Daleen van der Merwe.
Hierdie gesonde koolslaai vra om berei en ge-eet te word.
Dis beslis so, ek het dit al ‘n paar keer gemaak.
Hierdie wafels is “flippen lekker”, soos my kinders gister tussen die smul deur, in ‘n koor geantwoord het.
Ek stem saam; dis heerlik. Ek sal jou kompliment aan Herman oordra.
Dankie Errieda! Mooi week verder!