Geen nasie is so fanaties oor hul eiervla-terte soos Suid-Afrikaners nie. Wel, dalk die Portugese met hul klein handtertjies, maar dis steeds nie die smaak van ons hart nie. Ek sal geblinddoek ‘n egte, outydse melktert – gebak in die koelte voor die Afrika-son opkom – tussen honderde van die tert se uitlandse familie kan uitken. Dis geure wat herinneringe iewers in die onthousentrum van ons kollektiewe brein uit ‘n sluimering kry.
Dit is so dat ons nasionale soet ikoon lid is van ‘n internasionale famiglia eiervla-terte en nie ‘n inheemse skepping nie. Maar daarin lê die bekoring juis vir my. Ons melktert-geskiedenis is deel van die mensdom se geskiedenis. Elke element daarvan – die vlapap en die blaardeeg, die kaneel en die amandelgeursel, is karakters wat die gene van ‘’n moeder-melktert in hul ronddra.
{‘n Kykie terug}
Melktert se stamboomwortels strek terug tot by die Romeine, pioniers van die eiervla. In die Middeleeue moes vindingryke kokke maniere bekook om die streng kerkreëls wat suiwelprodukte op vasdae verbied het, te omseil. So het amandelpap, van amandelmelk, met gemmer en kaneel gegeur, ontwikkel. Lees gerus koshistorikus Hetta van Deventer-Terblanche se storie melktert wat ‘n ruk gelede in Sarie verskyn het.
Met verslapping van die vasreëls het eiervla weer sy buiging gemaak, hierdie keer in ‘n triomfantelike skilfer-of broskors. Selfs die tradisie om kaneel of kaneelsuiker oor te strooi, kom uit die era.
Niggies en nefies van ons melktert kan steeds geproe word in Portugese pastéis de nata, die Griekse galaktoboureko filo-vlatert, die Franse Basque vlatert, die Britte se custard tarts, Fillipynse vlagebak en Amiese vlapasteie in Noord-Amerika. Die Spanjaarde het flans, crema catalane en tot leche frita (gebraaide vla). Die Italianers is verlief op torta di nonna met dennepit-vla en pasta ciotti – amandelgegeurde hand-vlatertjies wat die ou Romeine se vaderskap van eiervla bewys sonder dat ‘n DNA-toets nodig is.
{Melktert as volksbesit – Weg! se Nasionale Melktertdag}
Weg!-Tydskrif verdien ‘n melktert-monument vir hul inisiatief om ‘n Nasionale Melktertdag te inisieer wat jaarliks op 27 Februarie gehou word. Dis veral hóé hulle dit doen wat my so beindruk. Hulle eer die baasbaksters en moedig die maak en eet van melktert aan, maar meer as dit – hulle moedig mense aan om ‘n melktert vir iemand anders te gee. Sophia van Taak en die ander Weg!-mense deel honderde melkterte uit by kinderhuise, kinderhospitale, ouetehuise en waar ook al die soet smake van vla en kaneel kan troos en blymaak.
Om bakfiks te raak vir Nasionale Melktertdag het ek ‘n paar foendies kombuis toe genooi – Martelize Brink van RSG, Elizabeth Cloete van Koekedoor en VLV-faam, Sophia van Taak, my mede-melktertdissipel – en vir Barbara Jooste, ‘n melktertlegende van die Skiereiland se Noordelike Voorstede. Hier is Barbara se melktert.
BARBARA JOOSTE SE MELKTERT
Huiskok Errieda du Toit het met die oog op Nasionale Melktertdag vir Barbara Jooste, ‘n melktert doyenne na haar kombuis genooi. Barbara bak al jare hierdie melktert vir die Durbanville Tuisnywerheid, ‘n geliefde inloopplek in Wellingtonstraat, Durbanville. Nasionale Melktertdag is ‘n inisiatief van Weg!-tydskrif.

Barbara Jooste se manjifieke melktert. Bak dit self of gaan koop dit by Durbanville Tuisnywerheid in Wellingtonstraat.
BARBARA JOOSTE SE MELKTERT
As jy nie die skilferkors self wil maak nie, gebruik gerus ‘n gekoopte deeg, die beste wat jy kan bekostig, maar maak hierdie melktertpap – dis so lekker jy sal dit sommer so uit die kastrol uit wil eet!
(Skilferkorsdeeg maak genoeg vir 12 terte; die melktertpap is genoeg vir 3 terte)
SKILFERKORSDEEG (maak 12 korse!)
Bestanddele
- 1,3 kg meelblom
- 3 ml sout
- 5 ml kremetart
- 250 g botter of margarine
- 4 eiers, geskei (slegs eiergeel word gebruik vir deeg)
- 30 ml suurlemoensap
- Yswater
- Smeerlaag: 375 g botter (of margarine
- Meelsprinkel: 500 ml meel en 5 ml kremetart saamgesif
Metode (vir deeg)
1. Sif die meelblom, sout en kremetart saam.
2. Vryf die botter of margarien in, tot die mengsel soos broodkrummels lyk.
3. Voeg die suurlemoensap by die eiergele en vul met yswater aan tot 600 ml. Klits goed saam.
4. Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en werk tot ‘n gladde deeg. Bêre in die yskas vir ± 20 minute.
5. Rol die deeg uit op ‘n meel-kremetart gestrooide werksarea. Smeer die botter oor (onthou om altyd weg van jou af te rol met kort, ligte bewegings – die geheim is om nie die deeg onnodig te rek nie). Vou die deeg, bedek met plastiek en bêre weer in yskas vir 20 minute. Herhaal die rol proses en vou. Bêre tot benodig.
Wenk: wanneer jy die deeg finaal uitrol om in die tertborde te sit, gooi bietjie mielieblom op die werksoppervlakte)
Melktertvulsel (genoeg vir 3 terte)
(Wenke: voer jou blikborde met uitgerolde deeg voor jy die pap begin maak, en plaas blikborde – bedek – terug in die yskas tot die pap klaar is. Voorverhit jou oond ook – want sodra die vlapap reg is, moet dit vuurwarm in die tertkors gegooi word en oond toe gaan).
Bestanddele
Vir stap 1:
- 300 ml meelblom
- 75 ml mielieblom
- 5 ml sout
- 180 ml suiker
Vir stap 2:
- 6 eiergele
- 1 ml “egg yellow” kleursel (of mespunt borrie) as eiergele te lig is
- 15 ml vanieljegeursel
- 2 druppels amandelgeursel
- 500 ml melk
Vir stap 3
- 1½ liter melk
- 1 kaneelstokkie
- 25 g botter
- 250 ml suiker
- 80 ml koue water
- Vir stap 4
- 6 eierwitte
- 120 ml suiker
- Kaneel of kaneelsuiker vir oorstrooi (opsioneel)
Metode vir vulsel
Stap 1: Sif die meelblom, mielieblom, sout en suiker saam. Hou eenkant.
Stap 2: In ‘n aparte mengbak, klits die eiergele, eiergeel kleursel, amandergeursel en 500 ml melk liggies saam. Hou eenkant.
Stap 3: Voeg die 1½ liter melk, kaneelstokkie, botter, suiker en koue water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt.
Stap 4: In ‘n aparte bak, klits die eierwitte en suiker saam tot punte vorm. Hou eenkant.
5. Voeg die eiermengsel van stap 2 by die meelmengsel van stap 1 om vla te vorm.
6. Voeg die warm melkmengsel van stap 3 by die vlamengsel (nie in die kastrol nie), meng vining en plaas terug in die kastrol.
7. Roer oor lae hitte tot verdik. Een “plop” van die mengsel is die aanduiding dat die vlappap reg is.
8 Gooi terug in die vlamengsel bak en vou die eierwitte van stap 4 in.
9. Giet van die vlamengsel in blikborde wat met skilferkors uitgevoer is en bak by 225ºC vir 10 minute. Draai hitte af na 200ºC en bak vir nog 5 minute. Roteer en draai die borde en bak vir nog 5 minute.
Nota: hierdie blogskrywe is in 2015 gedoen, nog voor Mari-Lous Guy en Callie Maritz se wonderlike boek Suid-Afrika se Melktert Versameling op die rak verskyn het. kyk uit vir hierdie pragboek.