Somer-fling tussen Alida se bokmelk-uietertjies en Sauvignon Blanc

5 Oct

Trek saam met my strappy somersandale aan en sit ‘n sonhoed op, want dis witwynseisoen. Meer spesifiek die Seisoen van Sauvignon Blanc.

Ek soek ‘n somer-fling vir my gunsteling somerwyn, wat terloops ook een van die trendieste wyne ter wêreld is – en as dit by kos-en wynparing kom is Sauvignon Blanc ‘n elegante vryer saam met salm tot sashimi. Mossels, ja. Soesji, ja. Perlemoen en garnale, beslis. In piekniekmandjies, met antipasti en Mediterreense styl alfresco-etes, en soos ek al uitgevind het selfs saam met Italiaanse vinkel-wors met druiwe gestowe.

As dit by hierdie wyn kom het die pot beslis nie net een deksel nie. En dis wat ons vanjaar vier by die Durbanville wynvallei se Seisoen van Sauvignon. Ek het egter wyer as my eie kontrei gaan soek vir die ideale, terterige kosmaat.

Ek het ‘n hele boek vol keuses, want uit Pretoria kom die pragtige kookboek Heerlik & Maklik: Hartskos van die ewe pragtige Alida Ryder. Alida se blog Simply Delish SA is ‘n wegholsukses en ek glo die boek gaan ook wees. Lieflike foto’s, verbeeldingryke kos. En bowenal maklik: ek wil immers nie in die somer sukkel met komplekse geregte en magdom bestanddele nie.

Toe ek tot by die resep blaai vir veerligte, goudbruin gebakte skilferkorstertjies gevul met gekarameliseerde uie, bokmelkkaas en tiemie, toe weet ek: hier’s die perfekte somerromanse vir my glas Sauvignon Blanc.

Maar kom ons gesels eers oor Alida: hierdie besige ma van ‘n tweeling is ook kosstilis en fotograaf. Sy’s van Pretoria en het by my kom kuier met haar Kaapse besoek vir die vrystelling van haar boek. Ons het tee gedrink en appeltert geeët. Om ‘n tafel – selfs ‘n teetafel – leer jy ‘n mens goed ken.

Alida Ryder – blink nuwe ster op die SA kosskryf-toneel

Alles wat ek van hierdie nuwe ster op ons kostoneel ervaar het, is ook in haar boek te beleef. Vol geesdrif, kreatief, passievol, eerlik en sonder aansit.  Mensig, en sy is mooi. Smeulend mooi met warm bruin oë, ‘n blink bos swart hare en kurwes wat Nigella in die skadu laat. Daarby ‘n hart van goud.

Haar boek is net so ‘n welkome gas in my boekrak. Dit word deur Penguin uitgee, dieselfde uitgewer as Jamie Oliver se boeke, vertel sy my oor die stuk appeltert: “dit was nog altyd my droom om eendag ‘n boek uit te gee deur dieselfde mense as een van my koshelde.”

By haar ma Ronel het sy haar avontuurlustigheid gekry; haar invloed geur vandag steeds Alida se kombuisskeppings. Haar ouma het ook help vorm aan haar kossiel. Van kleinsaf het sy en haar ouma wie se naam sy dra, saam gebak en gebrou: net soos Alida vandag doen met haar tweeling Aidan en Abigail.

En as ek enigsins nog sou wonder of my eerste indrukke van Alida – en ons tydjie saam oor koek en tee – dieselfde Alida is wat op die blaaie van haar pragboek saamgevat is, hoef ek net die voorwoord van my kosheldin, die formidabele Sam Woolidge, te lees. (Sam het net soos ek aanvanklik vir Alida deur haar kosblog leer ken; en later eers persoonlik ontmoet).

“Ek het nog altyd van Alida se passie vir kos gehou, haar gulhartigheid en oorspronklike benadering,” skryf sy. “Noudat ek haar ontmoet het, is ek mal oor haar geesdrif vir die lewe, die vreugde wat sy uitstraal en haar dankbaarheid vir goeie dinge wat met haar gebeur.

Sela, Sam! Viva, Alida!

Net na ek Alida ontmoet het – en haar boek onder oog gekry het – vertel ‘n ander kosgeesgenoot (wat onder die skuilnaam Big Big Joe sulke wonderlike artikels vir Rapport geskryf het) ook hoe eerlik en heerlik hy haar boek gevind het. En vertel kwylbekkend van die oondgeroosterde hoender met suurlemoen wat hy uit die boek gemaak het. Dit maak ek die oomblik as ek gaste oornooi.

As dinge soos kos uit die hart vir jou, my liewe bloglees-vriendin en vriend, ook waarde het, skaf gerus Alida se boek aan wat vol daarvan is. Jy sal soos ek weer besef hoe heerlik en sielsbevrediging eenvoudige kos kan wees wat met ‘n ruimhartige gees berei en met baie liefde voorgesit word.

Terug by die somervryery tussen kos en wyn wat hopelik tot ‘ouers vra’ sal lei:

My Sauvignon Blanc keuse is een van die wyne op die FNB Top 10 Sauvignon Blanc lys – die MM Louw 2011 van Diemersdal, ‘n ware fynproewersdroom wat 9 maande verouder is in eikevate. Dis ryk en vol met note van nartjie, spesery, heuning en selfs vanielje. Dis ‘n intense sauvignon blanc – nie ‘n skaam wyn nie. ‘n Wyn vir grootleef in die somer.

Hier is enkele voorbeelde van somer-vryers vir witwyn uit Heerlik en Maklik: Hartskos –

  • Pasta met oondgeroosterde kersietamaties, pesto en ricotta (beslis my ‘go-to’ pasta gereg hierdie somer)
  •  Gerookte salmballetjies met roomkaas (fabulous vir ‘n partytjie of skemeruur-happie)
  • Cajun steurgarnaalslaai met aioli
  • Somergroente pasta met geposjeerde eier (die aspersies gaan Sauvignon Blanc laat sing)
  • Gebakte seekos met rys (haar  weergawe van paella, met mossels,steurgarnale en calamari)
  • Gekruide risotto met bros calamari en ook die steurgarnaal en ertjierisotto
  • Sout en peper inkvis (hierdie Griekse gereg is ‘n ode aan Alida se ma wat so lief was vir Griekse kos)
  • Baguette met geroosterde groente en chevin (hou jou lyf Fransman die somer. Pragtig. Maklik. Gesond. En die chevin is Sauvignon blanc se hartstogtelikste kaasminnares).

ALIDA SE SKILFERKORSTERTJIES MET GEKARAMELISEERDE UIE EN BOKMELKKAAS

 Die resep bevat net 3 hoofbestanddele en daarom beveel Alida aan dat jy net die beste aanskaf – goeie skilferkosdeeg en goeie bokmelkkaas (ook bekend as ‘chevin’). Sit dit voor met ‘n eenvoudige slaai van roket, bronkors, avokadopeer en ‘n suurlemoenslaaisous. Alida geniet dit met chenin blanc – ook ‘n somerwyn wat al hoe meer opspraak maak.

2 rooi uie, in fyn skywe gesny

1 E balsemasyn

2 E suiker

1 rol gekoopte skilferkorsdeeg

100 g chevin kaasrolletjie, in 4 dik sirkels gesny

Vars tiemie

1 eiergeel, geklits

Maak so:

Voorverhit die oond tot 180C. Soteer die uie in ‘n braaipan tot sag en deurskynend. Voeg die asyn en suiker by en karameliseer 5 minute. Verwyder van hitte en hou eenkant.

Rol die deeg effens dunner en sny 8 sirkels met ‘n deursnee van 10 cm elk uit die deeg. Plaas 4 van die sirkels op ‘n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Sny nou sirkels van omtrent 8 cm uit die oorblywende 4 deegsirkels, sodat jy 4 deegringe kry. Bestryk die rande van die deegsirkels op die bakplaat met eiergeel en sit een deegring op elke deegsirkel om ‘n rand te vorm. Skep ‘n eetlepel van die die gekarameliseerde uie in elke holte en sit ‘n dik sny kaas op die uie. Bestryk die deeg weer met eiergeel, sit tiemietakkie op elke tertjie.

Bak vir ongeveer 10 minute tot goudbruin en die kaas effens versag het.

Koel komkommer – bietjie meer oor die Durbanville Wynvallei

 – Alhoewel die Durbanville Wynvallei se rooi wyne toenemend naam maak, het die  area sy uitstekende sauvignon-reputasie opgebou as gevolg van die terroir wat ideaal is vir hierdie klassieke koel-klimaat variëteit.

– Die Durbanville Wynvallei is een van die koelste streke in die wynlande, omdat dit so naby die koel Atlantiese Oseaan is (die gebied is minder as 15km weg van die see en baie plase het ’n uitsig op die Oseaan) en as gevolg van die hoogte van die heuwels. Die wingerde kry blootstelling aan misnewels en die somer se suidooster waai weer van Valsbaai aan die Indiese Oseaan-kant in.

– Die heuwels sorg ook vir ’n reeks warmer en koeler klimaat-eienskappe wat sorg vir verskillende wynstyle van dieselfde variëteit terwyl almal terselfdertyd ook ’n sekere mate van vrugtigheid en elegansie in gemeen het.

– Die grond in die gebied is ideaal: baie ou, leiklipagtige diep grond wat goed gedreineerd is, maar ook goed vog terughou wanneer dit droog raak. Voeg daarby  wynmakers en wingerdgroeiers wat die grond se potensiaal ten volle benut.

(Bron Durbanville Wynvallei Assosiasie)

Die Seisoen van Sauvignon word van 6 en 7 Oktober op 11 plase in die vallei gehou. Besoek www.durbanvillewines.co.za vir die program.

Nota: Ek doen skakelwerk vir die Durbanville Wynvallei Assosiasie. My entoesiasme en liefde vir die streek kom egter oor jare – want ek het grootgeword in die omgewing en bly 15 jaar al op die soom van die wynlande. Ek ervaar daagliks die opregtheid, gasvryheid en passie van die wynmakers en die streek se kokke. Dis wat ek ken en daarom skryf ek daaroor.

Gesels saam:

Kwetter saam op Twitter: met my @huiskok en met Alida @SimplyDelishSA ; Martelize @MartelizeBrink en Francois is @Glanskok

Luister gerus ook Vrydag-oggende op RSG na my en Francois Ferreira se kospraatjies Huiskok Glanskok saam met Martelize Brink.

13 Responses to “Somer-fling tussen Alida se bokmelk-uietertjies en Sauvignon Blanc”

  1. Ethne Christie October 15, 2012 at 2:36 pm #

    Hi Errieda

    Jy en Francois het een oggend op RSG die interessantste praatjie oor “canapes” (kaas en geskikte bykomstighede) gehad bv. watter kaas pas by watter vrugte of groente. Waar kan ek dit in die hande kry? Help asb!1

  2. Alida Ryder October 5, 2012 at 2:56 pm #

    Ai Errieda. Met jou in die rondte kan mens nie ‘n slegte dag beleef nie. Jou woorde sit vas in my kop en ek is so dankbaar dat ek ‘n lui-lekker middag saam met jou in jou pragtige huis kon deurbring. Dankie vir die pragtige resensie.

    • huiskok October 5, 2012 at 3:06 pm #

      Jou boek pendel tussen my bedkassie en my kombuis – so jy’s ook in my kop! Hoop ons kan weer saamkuier.

  3. Louise October 5, 2012 at 10:43 am #

    More Errieda en weereens kry jy dit reg om my Vrydag in te kleur met smaak en geur.As daar nou een ding is wat ek nie kan weerstaan dan is dit n southappie met blaardeeg,maar dan moet daai blaardeeg wakker lyk! Ek het my na n dierbare grootmoeder Stienie gewend sodat sy my kon leer om my eie blaardeeg te maak en was dit vir my soos om n medalje te ontvang toe ek dit regkry en melktert en hoenderpastei daarmee maak.Ek is nie mal oor die gekoopte blaardeeg wat mens by jou naaste supermark kan koop want dit het nie dit wat ek wil sien in tuisgemaakte deeg se voorkoms,dis nou as jy aan aan ordentlike blaardeeg bekendgestel is.Ook is die tyd nie altyd daar vir eie deeg maak,so ek moet seker uitvind wie se blaardeeg is beste om te gebruik.Dankie vir hierdie somer lig-eet tertjie en beslis wat ek sal probeer nog in die naweek.Dankie dat jy my inspireer met goeie lekr bak en kook.My vriendinne se eks nou n granne vrou met jou op lyn!

    Louise

    • huiskok October 5, 2012 at 10:46 am #

      Hi Louise, en jy begeester my met jou heerlike kosgeselsies. Dankie dat jy dit met my deel,

  4. lifeisazoobiscuit October 5, 2012 at 10:10 am #

    Errieda dit is n pragtige artikel

    • huiskok October 5, 2012 at 10:17 am #

      dankie Anel. ek ploeg bietjie met Alida se kalwers.

  5. Dirkie October 5, 2012 at 9:36 am #

    Nou is ek in ‘n toestand … netjies gedoen die gevry en dit sonder komplikasies van doeke … overgesetseinde ..Welgedaan.

    • huiskok October 5, 2012 at 10:18 am #

      kook voort suster

      • Dirkie October 5, 2012 at 10:25 am #

        Ek kook nie… ek sal slegs in toesighoudende hoedanigheid optree… my potte het net woorde in!

      • huiskok October 5, 2012 at 10:47 am #

        Cute

  6. Sam Woulidge October 5, 2012 at 9:21 am #

    Errieda!
    Aan jou woorde lees ek so lekker soos wat ek aan Alida se kos smul. ‘n Pragtige resensie geskryf deur, en vir ,’n pragtige mens. x

    • huiskok October 5, 2012 at 10:19 am #

      komende van jy as Woordkok is ek in my noppies.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: