Tag Archives: verjaarsdagkoek

Sanet se vonkelwyn koek met soutkaramel en roosmarynspringmielies

3 Aug

‘Kom ons bak ‘n ding’ is die strydkreet waarmee Sanet Eigelaar haar plek as die land se top-drie amateurbakker verdien het in Koekedoor, kykNET se werklikheidsreeks wat ‘n bakrewolusie ontketen het.

image

Met ‘n reputasie as smaak-avonturier en haar speelse, plesierige styl was die uitnodiging om ‘n koek te skep vir Versnit se eerste verjaarsdag so in haar kraal. Die jong koek-entrepreneur se Cup of Cake-handelsmerk en koffiewinkel in Saldanha trap reeds diep spore met sy babaskoene.

Haar man Andre en haar twee jong spruite Derik (5) en Henkie (1) is ook aan die gelukkige ontvangkant van haar kreatiewe gebak.

image

Met sy eerste verjaarsdag-kolwyntjie nog vars in die geheue word Henkie uitgevat met ‘n strikdas en partytjiehoed uit koerantpapier, vir die onthulling van die Versnit-verjaarsdagkoek.

Die koek dra duidelik haar eie ‘Sanna van Saldanha’-stempel, eerder as om net te herhaal wat op Instagram of Pinterest te sien is.

Dit bring elemente soos vonkelwyn, soet en sout bymekaar; ook springmielies – ‘n simbool van kinderpartytjies, wat hier vriende maak met grootmenssmake soos roosmaryn en soutvlokkies.

Die gesoute karamel wat sy deur die springmielies roer en kwistig oor die vonkelwynkoek spat is meer as net mode.

image

image

“Dit vertel iets van Weskus-seelug en Velddrif se sout. Die roosmarynsmaak van die springmielies maak dit ook meer volwasse, en ‘n ongewone nuwigheid om aan te peusel saam met ‘n glas vonkelwyn.”

In pas met die ontblote voorkoms en haar informele sjiekstyl pleister sy die kante net liggies met roomkaasversiersel. Die kleiner koekpanne skep ‘n nouer koektoring, op ‘n omgekeerde koekpan geplaas; die pan se rand versier met letters  vryhand uit Versnit-koerantpapier geknip.

Sy stapel die taai springmielies ongëerg bo-op die koek, en laat dié wat aftuimel lê waar dit val. ‘n Groot hout-kaasbord word die koekstaander. 

Pleks van die gebruiklike kerse steek Sanet twee vonkstokkies aan. “Een vir die jaar wat verby is, en een vir die jaar wat voorlê.”

image

SANET SE VERSNIT-VONKELKOEK MET WESKUS-KARAMEL EN ROOSMARYNSPRINGMIELIES

Vonkelwynkoek

250g botter
2 ¼ k suiker
4 eiers
250ml suurroom
5ml vanillageursel
3½ k koekmeel
5ml koeksoda
2,5ml bakpoeier
5ml sout
250ml vonkelwyn

Voorverhit oond tot 180°C.Voer 4 X 15cm koekpanne met bakpapier of smeer met botter, strooi liggies met meel.
Room botter en suiker tot romerig en liggeel in ‘n mengbak met die spaanhegstuk.
Voeg eiers een op ‘n slag by en meng goed na elke byvoeging. Voeg suurroom en vanilla by en meng goed.
Sif meel, koeksoda, bakpoeier en sout in ‘n apart bak.
Voeg gesifte bestanddele in 3 dele by die mengsel, afwisselend met die vonkelwyn (begin en eindig met die droë bestanddele). Verdeel beslag tussen die 4 voorbereide panne. Bak vir 45 minute tot gaar en laat afkoel vir 10 minute en keer uit op ‘n afkoelrak.

Roomkaasversiersel:

250g botter
250g roomkaas
2 k versiersuiker
5ml vanillageursel

Klits botter tot romerig en sag, Voeg roomkaas by en klits tot gemeng.
Voeg versiersuiker by, klits tot goed gemeng en roer vanilla by.

Gesoute Weskuskaramel:

1 k suiker
90 g botter
125ml room
5ml soutvlokkies

Verhit suiker in ‘n medium pot oor matige hitte, roer aanhoudend. Die suiker maak klonte en begin verkleur.
As al die suiker opgelos hét, voeg die botter by en roer tot al die botter gesmelt is. Voeg room stadig by terwyl jy roer en kook vir 1 minuut. Haal sous van die hitte af en roer sout by. Laat afkoel.

Roosmaryn-karamel springmielies

½ k springmielies
30ml olie
⅔ k suiker
½ k donker bruinsuiker
¼ k melasse
⅓ k vonkelwyn
5ml seesoutvlokkies
30 g botter
30ml vars gekapte roosmaryn

Springmielies

Verhit olie in groot pot oor mediumhitte en voeg springmieliepitte by.
Plaas deksel op pot tot al die mielies gespring is.
Haal van hitte af en gooi springmielies in ‘n groot skottel

Karamel

Voer 2 bakplate met bakpapier.
Kook suikers, melasse, vonkelwyn en sout in ‘n medium pot op hoë hitte sonder deksel
Moenie roer nie.
Gee die pan n effense skud om alles te meng en kook tot 140°C op suikertermometer. Haal van hitte af en roer botter en roosmaryn in.
Gooi karamel oor springmielies en roer met houtlepel sodat elke pit met karamel bedruip is
Plaas springmielies op uitgevoerde bakplate en koel effe af.
Breek springmielies los van mekaar.

Saamstel van koek
Sny die koeke se bokant af sodat al die koeklae ewe dik is. Smeer of spuit versiersel tussen die lae en plaas lae op mekaar. Smeer versiersel aan die kante met paletmes en skraap dit weer effens af. Spuit horinkies bo-op koek met ronde punt.
Bedruip koek met karamelsous en versier met springmielies, vars roosmaryn en seesoutvlokkies.

image– Cup of Cake, Hoofweg 37, Saldanha. Oop Dinsdae tot Vrydae 9:00 – 17:00 en Saterdae 9:00 – 13:00

– Sanet doen praatjies, demonstrasies en spanbou-cupcake-versiersessies. Kontak die besprekings agentskap Talentspens by info@edtpr.co.za

Spesiale Dankie aan Cathrienke van den Bergh, Sanet se suster vir die warm ontvangs by Cup of Cake.

image

Foto’s: Ian du Toit

Stilering: Errieda du Toit en Sanet Eigelaar

Die blogskrywe is aangepas uit my rubriek ‘Aan Tafel’ in Die Burger Versnit wat Woensdae verskyn.

Pikgitswart-sjokoladekoek met Shiraz-glasuur en brame

31 Jan

Ek kon die blink, diepdonkerbessies nie weerstaan nie. Dis soos verdere goeie verjaarsdagwense vir my man: …. “Mag jou sjokoladekoek vanjaar oorloop van rooiwyn-sjokoladeversiersel en blink brame.” 

A dark as night choc cake with shiraz glaze and black berries

 

Dit het al ‘n instelling geword dat ek ‘n spesiale verjaarsdagkoek vir my man Ian maak – iets met sjokolade, sy gunsteling smaak. Verlede jaar het dinge nie uitgewerk nie, want ek was platgetrek deur ‘n maagvirus op sy verjaarsdag …. toe wys ek maar vir hom ‘n foto uit die boek van die formidabele koek wat ek vir hom SOU bak. Vanjaar moes ek opmaak.

Almal wat vir Ian goed ken, weet dat hy dol is oor goeie sjokolade, en spesifiek donker sjokolade. Al vries ek die sjokolade om dit van hom weg te hou, sal hy dit uitsnuffel (en net so koud daaraan knibbel). Hy hou dit in sy lessenaar laai en dit word duidelik gemaak dat dit SY rantsoene is. slice dark as night choc cakeshiraz glaze and black berries Cropped IMG_2535 Small Hierdie donker-soos-die-nag koek kry die heerlikste, selfs ‘n dieper-dieper donker sjokolade glasuur oor wat rooiwyn inkry.  Die koek en  glasuur ingereken kom daar VIER plakke sjokolade in. Weelderig. Duur ja, maar tuisgemaak is ‘n weelderige koek steeds goedkoper as ‘n winkelkoek.  En Ian het die mengbak en die klitser kon aflek: die lekkerste deel van sy geskenk.

aa Ian lek sjokoladeklitser af

IAN SE VERJAARSDAGKOEK

Sjokoladekoek

1 koppie (115 g) ongesoute botter, in blokkie

1/3  koppie koekmeel

250 g donker sjokolade

1 koppie suiker

4 eiers

¾ t sout

Voorverhit die oond tot 165 C. Smeer ‘n 23 cm losboom-koekpan liggies met botter en bestrooi met meel. Verhit die sjokolade, suiker en botter in ‘n bak bo-oor ‘n kastrol liggies kokende water sonder dat die book van die bak aan die water raak. Roer dit die sjokolade so te sê gesmelt is, ommenby 3 minute. Haal van die plaat af en hou aan roer tot die sjokolade gesmelt is. Laat die mengsel heeltemal afkoel (ek sit die bak  in ‘n wasbak met koue water).

Met ‘n elektriese klitser (medium spoed), voeg die eiers een vir een by – klits na elke byvoeging net goed om om dit deur te meng. Sodra al die eiers bygemeng is, klits tot die mengsel soos ‘n mousse is. Klits stadiger en voeg die sout en die 1/3 koppie meel by. Meng dit net goed deur. Skep die deeg in die gesmeerde pan.  Bak tot die bokant ferm is en die rante so begin donker raak. Dit vat so tussen 55 tot 60 minute. Plaas op afkoelrak en laat heeltemal koud word voor jy dit uitkeer.

Rooiwyn-sjokolade glasuur

250 g donker sjokolade

¼ k ongesoute botter

½ t sout

½ k strooisuiker

½ k rooiwyn

Vir afronding (opsioneel): donker bessies soos brame of moerbeie

Smelt die sjokolade, botter en sout in ‘n bak bo-oor kastrol lig-kokende water, roer aanhoudend tot dit gesmelt is en klits die strooisuiker by. Intussen, verhit  die wyn in ‘n kastrolletjie (moenie kook nie).   Haal sjokolademengsel van die plaat af en klits die wyn by. Laat die mengsel ‘n paar minute afkoel tot dit verdik.

Om te glasuur: Plaas die koek op die afkoelrakkie bo-op ‘n oondplaat of skinkbord om enige afloop glasuur op te vang. Smeer die glasuur oor die koek se bokant en laat dit toe om effe oor die kant te drup. As die glasuur te dik is, voeg ‘n paar druppels wyn by.  Laat dit vir 2 ure staan sodat die mooi blink glasuur kan stol.  Versier met brame net voor opdiening.

Jy kan die koek tot 2 dae voor die tyd maak . Verkoel dit, maar bedien dit teen kamertemperatuur en nie koud nie.

%d bloggers like this: