‘Kom ons bak ‘n ding’ is die strydkreet waarmee Sanet Eigelaar haar plek as die land se top-drie amateurbakker verdien het in Koekedoor, kykNET se werklikheidsreeks wat ‘n bakrewolusie ontketen het.
Met ‘n reputasie as smaak-avonturier en haar speelse, plesierige styl was die uitnodiging om ‘n koek te skep vir Versnit se eerste verjaarsdag so in haar kraal. Die jong koek-entrepreneur se Cup of Cake-handelsmerk en koffiewinkel in Saldanha trap reeds diep spore met sy babaskoene.
Haar man Andre en haar twee jong spruite Derik (5) en Henkie (1) is ook aan die gelukkige ontvangkant van haar kreatiewe gebak.
Met sy eerste verjaarsdag-kolwyntjie nog vars in die geheue word Henkie uitgevat met ‘n strikdas en partytjiehoed uit koerantpapier, vir die onthulling van die Versnit-verjaarsdagkoek.
Die koek dra duidelik haar eie ‘Sanna van Saldanha’-stempel, eerder as om net te herhaal wat op Instagram of Pinterest te sien is.
Dit bring elemente soos vonkelwyn, soet en sout bymekaar; ook springmielies – ‘n simbool van kinderpartytjies, wat hier vriende maak met grootmenssmake soos roosmaryn en soutvlokkies.
Die gesoute karamel wat sy deur die springmielies roer en kwistig oor die vonkelwynkoek spat is meer as net mode.
“Dit vertel iets van Weskus-seelug en Velddrif se sout. Die roosmarynsmaak van die springmielies maak dit ook meer volwasse, en ‘n ongewone nuwigheid om aan te peusel saam met ‘n glas vonkelwyn.”
In pas met die ontblote voorkoms en haar informele sjiekstyl pleister sy die kante net liggies met roomkaasversiersel. Die kleiner koekpanne skep ‘n nouer koektoring, op ‘n omgekeerde koekpan geplaas; die pan se rand versier met letters vryhand uit Versnit-koerantpapier geknip.
Sy stapel die taai springmielies ongëerg bo-op die koek, en laat dié wat aftuimel lê waar dit val. ‘n Groot hout-kaasbord word die koekstaander.
Pleks van die gebruiklike kerse steek Sanet twee vonkstokkies aan. “Een vir die jaar wat verby is, en een vir die jaar wat voorlê.”
SANET SE VERSNIT-VONKELKOEK MET WESKUS-KARAMEL EN ROOSMARYNSPRINGMIELIES
Vonkelwynkoek
250g botter
2 ¼ k suiker
4 eiers
250ml suurroom
5ml vanillageursel
3½ k koekmeel
5ml koeksoda
2,5ml bakpoeier
5ml sout
250ml vonkelwyn
Voorverhit oond tot 180°C.Voer 4 X 15cm koekpanne met bakpapier of smeer met botter, strooi liggies met meel.
Room botter en suiker tot romerig en liggeel in ‘n mengbak met die spaanhegstuk.
Voeg eiers een op ‘n slag by en meng goed na elke byvoeging. Voeg suurroom en vanilla by en meng goed.
Sif meel, koeksoda, bakpoeier en sout in ‘n apart bak.
Voeg gesifte bestanddele in 3 dele by die mengsel, afwisselend met die vonkelwyn (begin en eindig met die droë bestanddele). Verdeel beslag tussen die 4 voorbereide panne. Bak vir 45 minute tot gaar en laat afkoel vir 10 minute en keer uit op ‘n afkoelrak.
Roomkaasversiersel:
250g botter
250g roomkaas
2 k versiersuiker
5ml vanillageursel
Klits botter tot romerig en sag, Voeg roomkaas by en klits tot gemeng.
Voeg versiersuiker by, klits tot goed gemeng en roer vanilla by.
Gesoute Weskuskaramel:
1 k suiker
90 g botter
125ml room
5ml soutvlokkies
Verhit suiker in ‘n medium pot oor matige hitte, roer aanhoudend. Die suiker maak klonte en begin verkleur.
As al die suiker opgelos hét, voeg die botter by en roer tot al die botter gesmelt is. Voeg room stadig by terwyl jy roer en kook vir 1 minuut. Haal sous van die hitte af en roer sout by. Laat afkoel.
Roosmaryn-karamel springmielies
½ k springmielies
30ml olie
⅔ k suiker
½ k donker bruinsuiker
¼ k melasse
⅓ k vonkelwyn
5ml seesoutvlokkies
30 g botter
30ml vars gekapte roosmaryn
Springmielies
Verhit olie in groot pot oor mediumhitte en voeg springmieliepitte by.
Plaas deksel op pot tot al die mielies gespring is.
Haal van hitte af en gooi springmielies in ‘n groot skottel
Karamel
Voer 2 bakplate met bakpapier.
Kook suikers, melasse, vonkelwyn en sout in ‘n medium pot op hoë hitte sonder deksel
Moenie roer nie.
Gee die pan n effense skud om alles te meng en kook tot 140°C op suikertermometer. Haal van hitte af en roer botter en roosmaryn in.
Gooi karamel oor springmielies en roer met houtlepel sodat elke pit met karamel bedruip is
Plaas springmielies op uitgevoerde bakplate en koel effe af.
Breek springmielies los van mekaar.
Saamstel van koek
Sny die koeke se bokant af sodat al die koeklae ewe dik is. Smeer of spuit versiersel tussen die lae en plaas lae op mekaar. Smeer versiersel aan die kante met paletmes en skraap dit weer effens af. Spuit horinkies bo-op koek met ronde punt.
Bedruip koek met karamelsous en versier met springmielies, vars roosmaryn en seesoutvlokkies.
– Cup of Cake, Hoofweg 37, Saldanha. Oop Dinsdae tot Vrydae 9:00 – 17:00 en Saterdae 9:00 – 13:00
– Sanet doen praatjies, demonstrasies en spanbou-cupcake-versiersessies. Kontak die besprekings agentskap Talentspens by info@edtpr.co.za
Spesiale Dankie aan Cathrienke van den Bergh, Sanet se suster vir die warm ontvangs by Cup of Cake.
Foto’s: Ian du Toit
Stilering: Errieda du Toit en Sanet Eigelaar
Die blogskrywe is aangepas uit my rubriek ‘Aan Tafel’ in Die Burger Versnit wat Woensdae verskyn.
Wat ‘n treffer!